Filippense 2: Stephan-Wessel en Lynn-Marie

Filippense 2:1-4, vir Stephan-Wessel en Lynn-Marie.

 

Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk sal ons sien dat sommer hier aan die begin word die fondasie vir eenheid gelê. In hierdie geval eenheid in die gemeente, maar vandag ook net so van toepassing op eenheid tussen julle twee. Die eenheid tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar troos deur die krag van Jesus Christus. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar aanspoor deur die liefde van God. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons saam kuier, lag en gesels, deur die krag van die Heilige Gees. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons innige meegevoel en meelewing met mekaar het. Hierdie tiepe eenheid behoort die fondasie te wees tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Paulus se blydskap en ook ons blydskap sal gesien word wanneer ons eensgesind is in liefde, van harte of gedagte en in strewe.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken om saam lief vir die Here te wees. Hoe nader julle aan Hom beweeg, hoe nader sal julle aan mekaar beweeg. Hy behoort die hoeksteen in julle verhouding te wees. Sonder Sy insig en wysheid gaan julle verhouding nie wees wat dit kan wees nie. Om saam gereeld tyd te spandeer om in te check by mekaar of julle nog op die pad is wat die Here vir julle uitgesit het is belangrik.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken ook om vir mekaar lief te wees. Nou vandag mag dit dalk absurd klink om te sê julle moet vir mekaar lief wees, maar wag maar tot daai verhoudingsiklus se wiel begin te draai. Wanneer die wittebroodfase omskakel in die magstryd en in die oorlewingsfase gaan dit moeilik raak, dan gaan julle moet kan terug dink na vandag en onthou hoekom julle saam is en Wie julle saamgebring het. Onvoorwaardelik moet julle lief wees vir mekaar as julle julle eenheid tussen mekaar wil beskerm en behou. Sonder voorwaardes moet julle vir mekaar lief wees en bly.

 

Julle albei hou van goeie ontwerp so ek’t dit goedgedink om ook hierdie vir julle in ontwerp taal te verduidelik. Om een in liefde te wees kan vergelyk word deur te besluit, gaan julle Windows of Mac gebruik om julle lewe op te ontwerp? Elkeen met sy voor en nadele, maar julle moet besluit watter Operating System julle gaan gebruik, anders gaan die taal wat julle praat incompatible met mekaar wees en uiteindelik gaan julle afsonderlike lewens ontwerp.

 

Om een van hart te wees beteken dat julle saam dieselfde dinge sal oordink. In julle gees moet julle saam dieselfde dinge oordink om so saam tot ‘n besluit te kan kom eerder as wat een vir die ander sê hoe dinge nou gaan wees.

 

Hier kan ons sê julle moet nou besluit tussen InDesign, Photoshop of Illustrator. Julle gaan vanuit dieselfde program moet dink of ontwerp sodat julle saam tot ‘n nuwe of beter ontwerp kan kom. Eerder as wat een van julle sommer gou in Paint ‘n prentjie wil teken terwyl die ander groot ontwerp skuiwe in Photoshop wil maak.

 

Om een in strewe te wees beteken dat julle gedrewe sal wees deur dieselfde begeertes en daardeur julle gedagtes, woorde en dade op dieselfde mikpunte sal rig. Daarom is dit belangrik om op ‘n gereelde basis saam te droom oor julle toekoms. Om gereeld saam te dink oor waar wil julle volgende jaar wees, waar wil julle oor drie of vyf jaar wees? Hierdie is die tiepe dinge wat vorm gee aan julle lewe en daarom ook aan julle verhouding en as julle nie drome deel nie, gaan julle drome op die einde van die dag die eenheid tussen julle bedreig.

 

Dit waarna julle as couple of egpaar strewe gaan die belangrikste wees van julle lewe! Hierdie is waarskynlik die eerste vraag wat julle saam met mekaar sal moet deurpraat en beantwoord. Waarna strewe julle? Wil julle ‘n vir ‘n groot maatskappy vinyl billboards ontwerp of julle eerder websites design of wil julle dalk iets heeltemal anders doen waaraan niemand nog gedink het nie? Waar en hoe julle julle ontwerp vir julle lewe gaan uitlê of uitlewe bepaal watter programme en bedryfstelsels julle sal moet gebruik.

 

Een in strewe vra baie van ‘n mens, van elkeen van julle! Dit vra opoffering, dit vra nederigheid, dit vra deursettingsvermoë, dit vra liefde, dit vra geduld, dit vra eerlikheid oor julle drome.

Daar is ook ‘n duidelike waarskuwing: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as hom of haarself. Niks moet gesê, gedink, of gedroom word uit selfsugtigheid nie.

 

Selfsugtigheid is nie die manier van doen van ‘n Christen nie. ‘n Selfsugtige ego soek self eer en aansien ten koste van die eenheid van die verhouding. Selfsugtigheid sal die eenheid van die verhouding altyd afbreek.

 

In nederigheid moet die een die ander hoër as hom of haarself ag. Nederigheid en ‘n gematigde opinie van jouself is die teenoorgestelde van iemand wat leef vir eie eer en aansien, en dit neem die ander in ag. Só ‘n nederige houding sal die eenheid van die verhouding bevorder, want dit bind gelowiges saam in respek en waardering.

 

Die vierde vers herhaal hoe gevaarlik selfsugtigheid in ‘n verhouding kan wees. Daarom, dink aan mekaar se behoeftes, help mekaar, kyk na mekaar deur dik en dun. Selfsugtigheid kyk net na die self, en waardeer nie mekaar nie, en is ook blind vir mekaar se behoeftes.

 

Nederigheid en liefde rig juis ons gedagtes op die behoeftes van mekaar. Om een in liefde, een van hart, en een in strewe te wees vra dat julle in julle huwelik:

 

  • Met mekaar sal praat oor die goeie sowel as die slegte. Dat julle julle vreugdes en bekommernisse met mekaar sal deel.
  • Saam sal dink oor dinge wat aan die gang is sodat julle nie verby mekaar lewe nie en maar net aanneem die een weet wat in die ander se kop aangaan nie.
  • En ook saam sal droom oor hoe julle toekoms gaan lyk, sodat julle julle kragte saam kan span om ‘n gedeelde toekoms ‘n werklikheid te skep.

 

Deur julle lewe te ontwerp met gedeelde liefde, gedeelde hart en gedagtes, en gedeelde strewe sal julle ontwerp dalk ietsie van die Bauhaus weerspieël, en verseker getuig van die Here se krag tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Formulier volg.

Filippense 2: Eensgesindheid

Paulus skryf die brief aan die die Filippense vanuit gevangenis. Die gemeente in Filippense was ook die eerste gemeente wat Paulus aan Europese bodem gestig het. Paulus was besorg oor eenheid in die gemeente aangesien daar onderlinge gevegte in die gemeente was. Paulus het ‘’n besonderse verhouding met die gemeente gehad. Die gemeente het grootliks uit Christene bestaan wat nuut was tot die geloofsgemeenskap en was klein en arm, maar vrygewig en hulpvaardig.

Paulus skryf aan die gemeente:

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing- maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.” – Filippense 2:1-4.

Om hierdie gedeelte in Afrikaans te vertaal kan ons sê: “Aangesien julle [dit] ervaar het, wees een, deur [so] te leef.”

So hier is drie dele aan hierdie vier verse in Filippense. Kom ons bespreek elke deel op sy eie en dan bind ons dit saam soos Paulus dit vir ons skryf.

Die eerste deel: Die ervaring.

Ons ervaar troos in Christus, die aansporing in liefde, die gemeenskap deur die Gees en innige meegevoel en meelewing. Hierdie klink na baie dinge en kan oorweldig as dit so op een slag gelees word.

Troos in Christus het te make met daardie bemoediging wat jy ervaar wanneer jy nie weet watter kant toe nie en jy besef jy kan jou probleme na die Here toe vat en Hy sal jou rustigheid gee. Of dit nou werk, verhoudings of finansies is waaroor jy bekommerd is. Vat dit na die Here toe en hy sal jou vertroos en rustigheid gee.

Die aansporing in liefde is wanneer jou man of vrou of vriend vir jou moeilike dinge kan sê sodat jy vorentoe kan beweeg. Dinge wat jy weet dalk moeilik gaan wees om te doen. Maar saam met iemand wat jou in liefde bystaan gaan moeilike dinge maklik. Dit is immers waarna ons as gemeente streef, om mekaar in liefde te ondersteun. Ons behoort ‘’n fontein van liefde te wees.

Gemeenskap deur die Gees is om lekker saam te kuier. ‘’n Braai, ‘’n uiteet, ‘’n koffie, dit is alles gemeenskap waartoe die Gees ons lei. Die Gees lei ons nie om alleen op ons eie deur die lewe te gaan nie, maar saam met ander. Saam met ander wat ons kan vertroos, saam met ander wat ons kan motiveer. Die Gees lei ons om saam met ander deur die lewe te gaan, nooit alleen nie.

Innige meegevoel en meelewing. Mee-gevoel. Met-gevoel. Om saam met iemand te voel. Dieselfde kan gesê word vir meelewing. Mee-leef. Met-leef. Om saam met iemand te leef. Om saam met iemand te voel en te leef is dinge wat die Filippense ervaar het en wat ons vandag nog ervaar.

Wat egter uitstaan in hierdie eerste gedeelte of vers 1, is dat niks van hierdie gevoelens of ervarings alleen gevoel of ervaar kan word nie. Alles gebeur in gemeenskap. Troos, aansporing, kuier, meegevoel, meelewing, dit alles is gevoelens wat in verhouding tot iemand anders ervaar word. Nie alleen nie.

Dan sê Paulus, omdat die Filippense dit ervaar sal hy graag wil sien dat hulle een sal wees. Een in liefde, een in hart en een in strewe. Dit bring ons by die tweede gedeelte. Of die middelste gedeelte. Of vers 2.

Hierdie gedeelte staan in die middel omdat die die belangrikste is van hierdie vier versies en daarom gaan ons dit eers oorslaan en later terugkom daarna.

Die derde gedeelte is die etiese gedeelte van die vier verse. Wat verskillende deugdes teenoor mekaar kontrasteer. Moet nie uit eersug lewe nie, maar in nederigheid. Moet nie selfsugtig wees nie, maar help mekaar. Hierdie etiese gedeelte word soos die eerste gedeelte genoem as rede oor hoe eenheid bekom kan word.

As elkeen net vir sy eie eer gaan werk of leef, dan gaan daar glad nie eenheid in ‘’n gemeenskap wees nie, want die een gaan konstant beter as die ander probeer wees. Dit gaan die eenheid van die gemeenskap opdeel in alleenheid. Paulus stel voor dat die gemeenskap mekaar se belange op die hart dra en saam streef na ‘’n gemeenskap wie mekaar se belange belange belangriker ag as hul eie. Waar die geheel belangriker is as die individueel.

Wat my terugbring na die middelste gedeelte. Vers 2. “Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”

Die geestelike belewenis wat in vers 1 genoem word en die etiese riglyne van vers 3 dra by tot die dieper grond van eenheid of eensgesindheid. ‘’n Gemeenskap wat saam dieselfde geestelike belewenisse ervaar en saam eties optree staan saam. Iemand gaan baie sukkel om so ‘’n gemeenskap te breek.

 

So ‘’n gemeenskap is lief vir mekaar, so ‘’n gemeenskap deel dieselfde gevoelens as dit by hartsake kom en so ‘’n gemeenskap strewe na dieselfde doel. As die individu in so ‘’n gemeenskap ly, ly die hele gemeenskap en as een in die gemeenskap gelukkig is, is die hele gemeenskap gelukkig. So ‘’n gemeenskap breek baie moeilik.

[stokkie illustrasie]

As ons as gemeenskap wil sterk staan, sal ons een in liefde, een van hart en een in strewe moet wees. Ons sal slegs so ‘’n gemeenskap kan wees indien ons ander hoër ag as onsself en ook aan die belange van ander dink. As ons so ‘’n gemeenskap wil wees is daar nie plek vir arrogansie of selfsugtigheid nie. In so ‘’n gemeenskap is daar wel plek vir nederigheid, belangstelling, waardering, opregtheid, mededeelsaamheid en hulpvaardigheid.

Jy kan kies van watter gemeenskap jy lid wil wees.

Amen.