Genesis 3: God wil weet… Wat antwoord jy?

Maandag 2 Junie 2014

 

God wil weet… wat antwoord jy?

 

Skriflesing: Gen 3:1-13

 

Een van die maniere waarop God vir jou se hoe hy dink hoe Hy voel oor ‘n situasie oor mense oor ‘n sonde, is deur middel van vrae te vrae. As Hy wil se dat Hy jou liefhet, dan vra Hy: Waarom tog wil jy sterwe? As Hy jou wil nadertrek en styf teen Hom vasdruk, dan vra Hy: Wat is jou naam? As Hy jou wil red uit ‘n dodelike situasie, dan vra Hy: Glo jy dat Ek kom? En as Hy wil he dat jy sal wees dit wat eintlik bedoel om te wees, dan vra Hy: Het jy die Heilige Gees ontvang?

 

Hierdie vrae het ‘n tweeledige doel: 1.) God openbaar ‘n noodtoestand. Hy wys die problem uit. Hy druk met sy vinger presies op die seerplek. 2.) Hierdie vrae se vir jou wat God wil he, hoe Hy wil he jy moet doen…

 

God se vrae is sielsondersoekende vrae, hartoopmaakvrae. Hierdie week gaan ons elke middag ‘n ander vraag neem.

 

Mag hierdie vrae in die lug bly hang, want: God wil ‘n antwoord he! God wil weet… wat antwoord jy? Antwoord jy maar weer soos al die kere in die verlede deur slim redenasies en verskonings… of… gaan jy hierdie week werklik toelaat dat God met jou praat en jy met Hom?

 

Soos met Adam en Eva. As Eva eerlik voor God wou wees sou sy se: 1.) Here, ek is skuldig. Ek het U uitdruklike gebod oortree. 2.) Here, ek het Satan toegelaat om twyfel in my hart te saai. 3.) Here, ek het boonop nog iemand anders saam met my laat sondig. Ek is skuldig!

 

Eva wys egter vir ons hoe ons gewoonlik maak. Deur slim argumente en verontskuldigings en beskuldigings onthef sy haarself van alle blaam.  Volgens haar is sy ‘n slagoffer van Satan, eintlik heeltemal onskuldig en daarmee uit en gedaan. Geen verdure gedagte meer oor haar sonde nie. Maar eintlik is sy vasgevang in ‘n toestand van verlorenheid, in ‘n lewenswyse waar daar nie plek is vir God se uitdruklike gebod nie.

 

Weet jy wanneer jy skuldig is? Weet jy nog wanneer jys sonde doen? Weet jy wat sonde is? Sonde is ongehoorsaamheid. Wanneer jy nie doen wat God vir jou se om te doen nie. Sonde is om God se seer aan t etas en Hom belaglik te maak!

 

Kom ons raak prakties. God wil he dat jy: eredienste bywoon, meelewend sal wees, eerlik sal wees, barmhartig sal wees, selfbeheersing aan die dag sal le, liefde sal gee, vriendelik, toeganklik sal wees. Kortom: Om te alle tye sy eer voorop te stel. Met ander woorde, God wil he dat jy ‘n lewenswyse sal aanleer, ‘n lewenswyse van oorwinning oor sonde, ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die sagte stem van die Heilige Gees!

 

God wil nie he dat jy geldgierig sal wees nie, twis soekerig sal wees nie, ongeduldig, onverdraagsaam, onvergenoegd. God wil nie he dat jy moord pleeg nie, dat jy egbreek pleeg en steel nie. Nie sal begeer en vol hebsug wees nie. Kortom: ongehoorsaam sal wees nie. Daarvoor is Hy vir jou te lief!

 

Daarom vra hy vir Eva: Wat het jy nou gedoen? Hy wys vir haar presies waarmee sy besig is. Hy roep haar tot stilstand. Wat het jy gedoen? Waarmee is jy besig? Hoe lyk jou lewe? Ek roep julle almal nader, party is baie ver en moet daar hard geroep word. Kom nader, kom luister. God wil ‘n vraag vir jou vra… Wat antwoord jy? Hy vra dit ook vir jou! Hy vestig die aandag op jou verhouding met Hom. En hy wag op ‘n antwoord!

 

Amen.

Jesaja 32: Gee aandag, luister na my…

Dit is ‘n mooi somersdag, en sy stap deur die poorte die stad binne. Sy sien ouer mense rondsit en gesels, sy hoor die gelag van kinders in die strate, soos sy die stad verder binnestap. Sy stap verby ‘n groep mans wat besig is om ‘n tonnel te kap op pad na die markplein. Daar word feesgevier, mandjies vrugte, oral vrylik beskikbaar. Vol bekers wyn word geskink en geniet. Maar bo dit alles roep iemand kliphard, “Gee aandag, luister na my…”

 

Lees Jesaja 32:9-20

 

Die tyd waarin ons onsself vandag bevind is iewers tussen 836 en 715 v.C. Dit is voor die val van Jerusalem in 701 v.C. Ons is in Juda, die Suidelike ryk, en koning Hiskia is waarskynlik aan die regeer. Hiskia het bekend gestaan as die groot hervormer, maar ook as ‘n rebel.

Hiskia was die regmatige opvolger tot die troon na die dood van sy pa, Agas. Agas het toegelaat dat morele verval die land binnedring saam met die Baalse afgodsdiens, van sy vrou Isebel, wat hy toegelaat het. Hiskia was wel anders as sy pa, hy het die hoogtes en die tempel gereinig van alles wat nie behoort tot die Jodedom nie. Hiskia het die offerdiens in ere herstel, die diens van die leviete gereël, die Paasfees gevier, en selfs vir Israel, die Noordelike ryk, daarheen uitgenooi.

Met die geestelike hervorming was daar ook uiterlike welvaart. Die lande het goed gedra en die mense kon goeie oeste in. Hiskia het selfs aandag aan die stad se watertoevoer gegee deur ‘n tonnel van 600m te laat kap. Een span het aan die kant van die Gihonfontein begin kap en ‘n ander binne die stad. Hierdie watertonnel was inderdaad ‘n ingenieurs wonder. 50m onder die grond het twee spanne vir maande aaneen na mekaar toe gekap met die hoop om bymekaar uit te kom, en op ‘n dag gebeur dit toe. ‘n Tonnel van 600m lank, 50m diep, is voltooi en toe vloei die water van die fontein tot in die stad se dam.

Hierdie is alles dinge wat veroorsaak het dat die mense op hulle gemak begin raak het. Hulle het ‘n onbesorgde lewe gelei, hulle het gedink dat die lande wat hulle gesaai en geoes het, en die waterkanale wat hulle gekap het goed is en nog lank sal staan. Hulle was selfversekerd. Hulle was selfstandig.

—–

Hierteen roep die profeet: “Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe, luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!”

Die roep tot aandag deur Jesaja in vers 9, gaan die roep tot publieke rou in vers 11 voor, en as die profete gebruik maak van so ‘n sterk roep tot aandag is dit gewoonlik in tye van ‘n noodgeval. So ‘n roep het tipies drie elemente; opdragte om mense bymekaar te roep, dat genoem word wie bymekaar geroep word, en die rede waarom hulle bymekaar geroep word. Al drie hierdie elemente teenwoordig in verse 11-14. Die vroue word bymekaar geroep, daar word ook gesê dat hulle verskrik sal staan, hulle sal bewe, en dat hulle rouklere moet aantrek. Die rouklere het bestaan uit ‘n growwe sak, amper soos die sakke waarin ons ons tuinvullis uitsit. Hulle moes dit om hulle middel draai en kaal bolyf rondloop, dit was die algemene praktyk as mense gerou het. Die rede waarom hulle bymekaar geroep word is omdat nie net die lande nie, maar die stad ook in bedreiging is.

Nou moet verstaan word dat hierdie vroue in ‘n vreugdevolle bui is. Hulle vier fees oor die goeie oes wat hulle ingesamel het. Hulle is gelukkig. Nou staan daar ‘n man en roep hulle tot aandag. Hy sê vir hulle om op te hou waarmee hulle besig is, en rouklere aan te trek, want in min of meer ‘n jaar se tyd sal daar nie meer rede wees om fees te vier nie. Hulle sal nie wyn hê om te drink nie, of vrugte om te eet nie, hulle sal wel rede hê om te bewe. Hy sê vir hulle dat hulle eens vrugbare lande met dorings en dissel oortrek sal wees.

Hierdie twee belewenisse of tonele staan in skrille kontras met mekaar. Die een oomblik het hulle alles, die volgende oomblik word daar vir hulle gesê hulle sal niks hê nie. Wie wil nou in tye van feesvier herinner word dat daar slegte tye gaan wees?

En waar is God?

Hierdie mense, selfs onder die koningskap van Hiskia het meer en meer op hulself begin staatmaak. Hulle het hulle landerye goed versorg. Hulle het tonnels gegrou sodat water van ver vervoer kon word tot voor hul huise. Hulle het al hoe meer in gemak begin leef. En hoe meer hulle in gemak begin leef het, hoe minder het hulle aan God gedink. Aan hoe Hy hulle eens op ‘n tyd uit Egipte verlos het, aan hoe Hy nog deur al die jare by hulle is, aan hoe hulle oeste eintlik te danke aan die Here is en nie hulle eie handewerk nie, aan hoe die lewegewende water van God af kom.

Die profeet noem dat die paleis verlate sal wees, en die stad leeg. Dat selfs die wagtoring op Ofel, die wagtoring op die heuwel, leeg sal wees, daar sal wilde donkies lustig vreet en troppe vee vrylik wei. Nou verbeel jou Bloemfontein is leeg. Niemand stap in die Waterfront rond nie, daar ry nie motors in die strate nie, Woolies se deure hang skeef uit hulle skarniere, die rakke is leeg… Die kerkklok is stil… As dit aand word brand daar nêrens ‘n liggie nie, daar is nie eens selfoon sein nie, alles is verlate… Dít is wat die profeet vir hierdie mense voorspel.

—–

En tog gaan die profeet verder in vers 15, “So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word.” Ewe skielik ruk die profeet weer die mense tot aandag. So sal dit wees tot die Gees van Bo af op ons uitgestort word.

Die ‘van Bo af’ waarvan hier gepraat word verwys waarskynlik na die hemel as die plek van God. In hierdie situasie is die Gees wat van Bo af kom, die Gees wat van God af kom. Hierdie gedagte het ook via Joël 3.1 sy weg na die Nuwe Testament gevind met die Pinkster verhaal in Handelinge 2:1 en 2:15. Die Gees word intiem gekoppel aan die lewegewende aspekte van God, wat Sy wil en doel vir ons lewens insluit. Die uitstorting van die Heilige Gees is ‘n heilige krag wat deur niemand weerstaan kan word nie, en is karakteriserend van ‘n tydperk van verlossing. Die uitstorting van die Heilige Gees bring ‘n wonderlike lewenslus in die mens wat saamhang met ‘n gehoorsaamheid waarsonder verlossing nie kan wees nie.

Verse 16 tot 18 wil dit duidelik maak dat vrugbaarheid en geregtigheid met mekaar verband hou. Die mense wat hier aangespreek word sal eindelik in veiligheid en rus sonder sorge kan lewe, mits hulle regverdig handel. Die profeet maak dit duidelik; deur geregtigheid te laat geskied, word die land ‘n oord van vrede.

Hierdie vrugbaarheid word beklemtoon in die oorvloedigheid van vers 20. Die profeet maak weer gebruik van die landbou taal wanneer hy noem dat die saad langs baie waters gesaai sal word, en die vee vrylik sal kan rondloop, anders as wat hulle in stalle gevoer word vanweë droogte en onveiligheid.

—–

Nou wonder ons, wat het hierdie mense gedoen sodat die Here sy Gees oor hulle uitgestort het? Het hulle ooit hulle rouklere gaan aantrek? Het hulle op hul borste geslaan? Het hulle iets gedoen? Of het God alles gedoen?…

Aan die een kant het ons valse onbesorgdheid. Selfversekerdes wat hulle vertroue in hul oeste en ingenieursvernuf plaas. Vroue wat geroep word om berou te toon sodat hulle land en stad nie sal vergaan nie. ‘n Profeet wat verlatenheid voorspel. Velde waar dorings en dissels sal groei. Waar groot wagtorings was, sal daar nou wilde donkies wees. Mense wat op hulself probeer staatmaak.

En aan die ander kant die Heilige Gees. Waar ‘n woestyn in ‘n digte vrugteboord verander. Waar mense reg doen en ware vrede geniet. Waar die volk in ‘n veilige stad woon. Waar daar langs strome water gesaai word. Waar beeste en donkies sonder oppassers kan wei.

Dit staan direk teenoor mekaar. Hierdie mense het waarskynlik berou getoon, maar ons weet dit nie, dit staan nie in die teks nie. Wat in die teks staan is dat God sy Gees van Bo af uitgestort het. Hy het na die mens gekom. Sonder dat hulle dit verwag het, verskyn God in die vorm van die Heilige Gees en verander hulle lewens. Omdat Hy vir hulle lief was het Hy keer op keer sy hand na hulle uitgesteek en die beter lewe vir hulle aangebied. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie, met al hulle dade kon hulle dit nie verdien nie. Die beter lewe was ‘n geskenk aan hulle. Dit was genade van God.

So, op wie vertrou jy? Maak jy op jouself staat? Of maak jy op God staat?

Galasiërs 6: Die gelowige se verantwoordelikheid teenoor sy medemens

In die eerste ses verse van hierdie hoofstuk fokus Paulus op die gelowige se verantwoordelikheid teenoor sy medemens – ons moet mekaar se laste dra. Om getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te doen aan ander mense. Dit mag nie net vir die gelowige oor goed lyk godsdiens gaan nie, maar dit moet oor daadwerklike toewyding aan God en ons medemens gaan. Ook hulle wat in die een of ander sonde verval het, moet in ‘n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Die manier waarop ons dit doen, is belangrik. Doen dit op so ‘n manier soos jy graag sou wou hê iemand jou met jou las moet help!

Baie keer dink ‘n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy self gaan gebuk onder ‘n swaar las. Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om iemand anders te help?

In hierdie opsig dink ek altyd terug aan my kinderdae toe ek ‘n swaar emmer water vir my pa moes aandra. Ek het skeef-skeef aangesukkel. Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors. Ek was ongebalanseerd. Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.

Al wat regtig gehelp het, was om nog ‘n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra. Op dié manier was jy meer gebalanseerd, het jy baie makliker geloop en niks water gemors nie.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self  die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ‘n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het verbygestap, maar ‘n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan mede-gelowiges maar ook aan nie-gelowiges (vergelyk ook 1 Tes 5:15). Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en behoeftes van mekaar (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges geld (Rom 12:20; Gal 5:14).

Moderne navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het uitgevind dat kwessies soos armoede aangespreek is. Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse ongelykheid is sover as moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ‘n sisteem van ekonomiese onreg was!

Waar staan ons in terme van Paulus se vermaning om goed te doen en ander se laste te dra? Ek lees onlangs hoedat mense uit ‘n bepaalde gebied in een van ons groot stede weggetrek het. ‘n Nuwe bevolking het daar ingetrek. Drie tradisioneel Afrikaanse gemeentes het toegemaak. Van die kerkgeboue is verkoop en as Moslem tempels ingerig. Daar is agteruitgang. Sypaadjies lyk onversorg, daar is gate in die pad, straatkinders is oral te sien, daar is volop bedelaars, misdaad het toegeneem, ensovoorts.

Die interessante is dat te midde van hierdie negatiewe situasie daar ‘n bloeiende Baptiste gemeentetjie is. Hulle het aangepas by die veranderende omstandighede. Op hulle gronde is daar ‘n bouery. ‘n Splinternuwe saal waar straatkinders skoolonderrig ontvang, het tot stand gekom. Vrydagaande word daar byeenkomste gehou vir jongmense waar hulle kos vir hulle mae en siele kry. Besighede se beursies het begin oopgaan, want hierdie gelowiges het werklik ander mense se laste begin dra. Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie (sien ook 2 Tes 3:13; 2 Kor 4:1,16). Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Mat 25:31-46). Hierin gaan dit oor eenvoudige alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel. Miskien is dit die rede waarom Christus daarna verwys het.

Kom ons hou gevolglik aan om goed te doen. Dit is nie altyd maklik om ander se laste saam met jou eie te dra nie. Dit vra opoffering en is dikwels baie dreinerend, maar dit is wat Christus van ons vra. Terwyl ons nog tyd oor het, moet ons elke geleentheid aangryp om goed te doen aan almal wat ons pad kruis. Ons moet ons hart en ons hande vir almal oopmaak.