Filippense 2: Eensgesindheid

Paulus skryf die brief aan die die Filippense vanuit gevangenis. Die gemeente in Filippense was ook die eerste gemeente wat Paulus aan Europese bodem gestig het. Paulus was besorg oor eenheid in die gemeente aangesien daar onderlinge gevegte in die gemeente was. Paulus het ‘’n besonderse verhouding met die gemeente gehad. Die gemeente het grootliks uit Christene bestaan wat nuut was tot die geloofsgemeenskap en was klein en arm, maar vrygewig en hulpvaardig.

Paulus skryf aan die gemeente:

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing- maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.” – Filippense 2:1-4.

Om hierdie gedeelte in Afrikaans te vertaal kan ons sê: “Aangesien julle [dit] ervaar het, wees een, deur [so] te leef.”

So hier is drie dele aan hierdie vier verse in Filippense. Kom ons bespreek elke deel op sy eie en dan bind ons dit saam soos Paulus dit vir ons skryf.

Die eerste deel: Die ervaring.

Ons ervaar troos in Christus, die aansporing in liefde, die gemeenskap deur die Gees en innige meegevoel en meelewing. Hierdie klink na baie dinge en kan oorweldig as dit so op een slag gelees word.

Troos in Christus het te make met daardie bemoediging wat jy ervaar wanneer jy nie weet watter kant toe nie en jy besef jy kan jou probleme na die Here toe vat en Hy sal jou rustigheid gee. Of dit nou werk, verhoudings of finansies is waaroor jy bekommerd is. Vat dit na die Here toe en hy sal jou vertroos en rustigheid gee.

Die aansporing in liefde is wanneer jou man of vrou of vriend vir jou moeilike dinge kan sê sodat jy vorentoe kan beweeg. Dinge wat jy weet dalk moeilik gaan wees om te doen. Maar saam met iemand wat jou in liefde bystaan gaan moeilike dinge maklik. Dit is immers waarna ons as gemeente streef, om mekaar in liefde te ondersteun. Ons behoort ‘’n fontein van liefde te wees.

Gemeenskap deur die Gees is om lekker saam te kuier. ‘’n Braai, ‘’n uiteet, ‘’n koffie, dit is alles gemeenskap waartoe die Gees ons lei. Die Gees lei ons nie om alleen op ons eie deur die lewe te gaan nie, maar saam met ander. Saam met ander wat ons kan vertroos, saam met ander wat ons kan motiveer. Die Gees lei ons om saam met ander deur die lewe te gaan, nooit alleen nie.

Innige meegevoel en meelewing. Mee-gevoel. Met-gevoel. Om saam met iemand te voel. Dieselfde kan gesê word vir meelewing. Mee-leef. Met-leef. Om saam met iemand te leef. Om saam met iemand te voel en te leef is dinge wat die Filippense ervaar het en wat ons vandag nog ervaar.

Wat egter uitstaan in hierdie eerste gedeelte of vers 1, is dat niks van hierdie gevoelens of ervarings alleen gevoel of ervaar kan word nie. Alles gebeur in gemeenskap. Troos, aansporing, kuier, meegevoel, meelewing, dit alles is gevoelens wat in verhouding tot iemand anders ervaar word. Nie alleen nie.

Dan sê Paulus, omdat die Filippense dit ervaar sal hy graag wil sien dat hulle een sal wees. Een in liefde, een in hart en een in strewe. Dit bring ons by die tweede gedeelte. Of die middelste gedeelte. Of vers 2.

Hierdie gedeelte staan in die middel omdat die die belangrikste is van hierdie vier versies en daarom gaan ons dit eers oorslaan en later terugkom daarna.

Die derde gedeelte is die etiese gedeelte van die vier verse. Wat verskillende deugdes teenoor mekaar kontrasteer. Moet nie uit eersug lewe nie, maar in nederigheid. Moet nie selfsugtig wees nie, maar help mekaar. Hierdie etiese gedeelte word soos die eerste gedeelte genoem as rede oor hoe eenheid bekom kan word.

As elkeen net vir sy eie eer gaan werk of leef, dan gaan daar glad nie eenheid in ‘’n gemeenskap wees nie, want die een gaan konstant beter as die ander probeer wees. Dit gaan die eenheid van die gemeenskap opdeel in alleenheid. Paulus stel voor dat die gemeenskap mekaar se belange op die hart dra en saam streef na ‘’n gemeenskap wie mekaar se belange belange belangriker ag as hul eie. Waar die geheel belangriker is as die individueel.

Wat my terugbring na die middelste gedeelte. Vers 2. “Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”

Die geestelike belewenis wat in vers 1 genoem word en die etiese riglyne van vers 3 dra by tot die dieper grond van eenheid of eensgesindheid. ‘’n Gemeenskap wat saam dieselfde geestelike belewenisse ervaar en saam eties optree staan saam. Iemand gaan baie sukkel om so ‘’n gemeenskap te breek.

 

So ‘’n gemeenskap is lief vir mekaar, so ‘’n gemeenskap deel dieselfde gevoelens as dit by hartsake kom en so ‘’n gemeenskap strewe na dieselfde doel. As die individu in so ‘’n gemeenskap ly, ly die hele gemeenskap en as een in die gemeenskap gelukkig is, is die hele gemeenskap gelukkig. So ‘’n gemeenskap breek baie moeilik.

[stokkie illustrasie]

As ons as gemeenskap wil sterk staan, sal ons een in liefde, een van hart en een in strewe moet wees. Ons sal slegs so ‘’n gemeenskap kan wees indien ons ander hoër ag as onsself en ook aan die belange van ander dink. As ons so ‘’n gemeenskap wil wees is daar nie plek vir arrogansie of selfsugtigheid nie. In so ‘’n gemeenskap is daar wel plek vir nederigheid, belangstelling, waardering, opregtheid, mededeelsaamheid en hulpvaardigheid.

Jy kan kies van watter gemeenskap jy lid wil wees.

Amen.

 

Rillers uit Rigters: Rigters 4, Jael en Sisera (en Jesus)

Rillers uit Rigters: Rigters 4, Jael en Sisera (en Jesus)
(lees Rigters 4 en Johannes 12:12-16)

Daar is verbysterende hoeveelheid ooreenkomste tussen die twee tekste wat ons so pas gelees het, want beide het met betrekking tot die genre dieselfde bedoeling. Kom ons kyk net eers weer na die twee verhale, eer die verhaal van Jael in Rigters 4 en dan die van Jesus in Johannes 12.

Indien ‘’n mens die boek Rigters van hoofstuk 1 tot en met 21 deur lees, klink dit vir jou soos ‘’n gekrapte CD. Dit is oor en oor dieselfde ou storie. Die Israeliete maak droog. Die Here gee hulle oor. ‘’n Rigter kom en help met die uitkoms. En kort daarna word alles weer van vooraf herhaal.

Wat is Rigters 4 gebeur, is dat koning Jabin se generaal, Sisera, die Israeliete vir twintig jaar lank verdruk. Hoe kry hy dit reg? Deur middel van tegnologie. Perde en strydwaens op die vlaktes was baie beter as Israeliete op donkies.

Met hierdie situasie in gedagte word die volgende rigter met die naam Debora aan ons voorgestel. Onthou Rigters 11 en Rigters 19? Is julle nie ook verras om nou ‘’n vrou in so ‘’n leiersposisie te sien nie? As rigter gee Debora dan ook raad. Sy sê vir Barak hy moet optrek teen Sisera en hy sal wen. Barak sê hy sal dit net doen as Debora saamgaan en sy stem toe in.

Onthou, hierdie is ‘’n parodie. Hier is waar die mense om die kampvuur reeds begin lag. Die Israeliete gaan oorlog toe en ‘’n vrou gaan die eer kry. En daar hardloop die generaal met nege honderd ysterstrydwaens wat deur almal gevrees word die berge in. Kan jy jou indink hoe ‘’n Israelitiese pa hierdie storie aan sy kinders sit en oorvertel om die kampvuur. Nege honderd ysterstrydwaens word net so gelos en al die manskappe hardloop die berge in, hoekom, omdat daar ‘’n vrou met die naam Debore aankom. Snaaks.

Jael, ‘’n ander vrou, sien vir Sisera hardloop en nooi hom om in haar tent te kom skuil. En nog ironie kom na vore. Net soos Barak te min vertroue in ‘’n vrou gehad het, het Sisera teveel vertroue in ‘’n vrou geplaas en aanvaar daarom Jael se uitnodiging.

Wanneer Sisera vas slaap in Jael se tent, slaan sy met ‘’n hamer ‘’n tentpen teg deur sy slaap sodat sy hom in die grond vasslaan. Die vrou met die hamer en die tentpen in haar hand, die vrou wie se klere vol rooi bloed spatsels is, sy kry die eer vir die oorlog.

Gegewe die kultuur van die tyd, die plek, die rol van vroue en die krag van generaal Sisera, word koning Jabin en Sisera en sommer ook generaal Barak bietjie belaglik gemaak.

In hierdie hoofstuk word rolle van mag en geslag omgekeer.
o ‘’n Vrou, nie ‘’n man nie, kry die eer.
o ‘’n Onbekende boervrou wat nie eens regtig deel van Israel was nie, kry die eer.
o Die mense wat op bruin donkies ry, dit wil sê die swakker, onwaarskynliker groep, wen die oorlog; nie die mense met die negehonderd ysterstrydwaens nie.

Hierdie verhaal is grotendeels ‘’n soort parodie op die swak leierskap van die dag. En die kinders rondom die kampvuur lê op die grond soos hulle lag teen die tyd.

Jesus reis van Betanië af waar Hy by Marta, Maria en Lasarus gekuier het en Maria Hom met olie gesalf het, na Jerusalem vir die Paasfees. Jesus reis op ‘’n donkie. Die donkie is die teken van nederigheid en vrede.

Daar is verwag dat die Verlosser-Messias van Israel iemand sou wees wat op ‘’n perd sal ry en die Romeinse onderdrukkende juk kom afgooi. Maar nee, Jesus ry op ‘’n donkie en stel dit duidelik dat Hy nie kom om ‘’n gewelddadige opstand te lei nie. Nee, Hy is hier om die teenoorgestelde te doen.

Die eerste hoorders en lesers van die storie het geweet en besef dat Jesus wat op ‘’n donkie uit die Ooste kom ‘’n blatante parodie is op Pilatus wat op sy perd uit die Weste kom. Jesus is hier besig om ‘’n grap van die onderdrukkende heersers van die te maak. Jesus is die hofnar.

As ons Johannes 12 met Rigters 4 vergelyk, sien ons hoe die onwaarskynlike heldin wat die spyker inslaan, die eer kry. In Johannes is dit die onwaarskynlike held in wie se hande die spykers geslaan word, wat die eer kry. In Johannes skyn Jesus se glorie nie, nee, dit bloei. In beide hierdie verhale is dit die onwaarskynlike persoon wat die glorie of eer kry en is daardie eer terselfdertyd ‘’n ontbloting van die bestel waarin hulle hulself bevind.

Wat vir die wêreld na onsin lyk, is God se wysheid (1 Kor. 1).

Vir elke riller uit Rigters het ons drie letters gehad, eers B, (benoem, bewusmaking, besweer), toe L (luister, leierskap, liefde) en nou is dit J vir Jael, Jesus en Jy.

Ons onthou vir Jefta en sy dogter wat geoffer is en ons sê weer dat sulke vreeslike dinge benoem moet word, as dit gebeur. Ons sê dus dit het gebeur en werk dan met bewusmaking. En ons druk deur wanneer ons dit ook besweer. Nooit weer mag so iets gebeur nie.

Ons onthou ook die vlees wat in Rigters 19 woord geword het. Die opgesnyde lyf van die Leviet se byvrou. Ons sê dat ons weet ons moet praat, maar dat ons dit luisterend moet doen en seker moet maak dat ook die stil stemme saamgesels. Ons weet ook ons het goeie leierskap daarvoor nodig, wat die gesprek kan fasiliteer. En ons kan net praat indien ons dit in liefde doen.

Hier aan die einde van die Rillers uit Rigter reeks ontdek ons ‘’n hofnar, of eerder drie hofnarre: Daar was Jael, daar was Jesus en nou is dit die voortsetting van daardie verhale in vandag se tyd.

Soos Jael die mense met die ysterstrydwaens en perde verslaan en so die eer gekry het, so ry Jesus teenoor Pilatus in Jerusalem in op ‘’n donkie. Die onwaarskynlikes kry die eer.
• Jesus ontbloot die wêreld van geweld, mag en onderdrukkende strukture.
• Jael se optrede ontbloot ‘’n leierskap lose chaotiese situasie.
• En vandag in Suid-Afrika word Christene opgeroep om ook op donkies te klim, om teen die mag en geweld van vandag op ‘’n donkie agter Jesus aan te ry. Die kan is dat jy sodoende vir Pilatus op sy perd tegemoet kan tegemoet ry.

Wat beteken dit prakties om op donkies te klim ten opsigte van die tema “Christenskap en woede”?

Wanneer geweld deel van die kultuur van ‘’n nasie word, wanneer korrupsie endemies word en mense begin moedeloos word oor sake soos leierskap, is dit moeilik om in sulke tye nie deel van die kultuur van geweld en korrupsie te word nie. Dit is moeilik om nie oor sulke dinge stil te bly nie en jy mag dalk soms soos ‘’n nar voel. Maar wanneer jy gewoon nie saamgaan met die stroom nie, sit jy alreeds op ‘’n donkie wat reguit tussen ‘’n trop perde en strydwaens inry. Wanneer mense benoem en bewus maak en besweer en op ‘’n spesifieke wyse praat, dan gaan ons vir die wêreld soos narre lyk.

Jael se verhaal wys ons iets daarvan. Jesus stel dit voor. Deur die eeue heen was daar volgelinge van die Man op die donkie. Aan die einde van hierdie reeks oor die Rillers uit Rigters neem die parodie van Rigters 4 ons na ‘’n Man op ‘’n donkie wat binne ‘’n wrede wêreld vir ons kom sê: “Volg My!”.

Lukas 19: Jesus en Saggeus

Gedurende elkeen van die voorafgaande vier Sondae het ons aan die hand van verskillende gedeeltes uit die Bybel, bewus geword van Christus se diens deur vriende.  Ons het begin met ons verantwoordelikheid teenoor mense in ons omgewing, ons het gekyk hoe ons na ons vriende kan uitreik, ons het geleer dat gebed vir ons vriende belangrik is en verlede week het ons gesien dit is belangrik om in mekaar se lewens belang te stel. Vanoggend sluit ons die reeks af met ‘’n lekker gedeelte oor vriende wat mekaar besoek. Vanoggend kuier ons in Jerigo saam met Jesus in Saggeüs se huis.

(lees Lukas 19:1-10)

Ons kan terugsit en luister, in ons gedagtes soos toeskouers kyk na dié humoristiese toneeltjie wat daar in die strate van Jerigo afspeel. ‘n Kort mensie hardloop met koddige treetjies die straat af tot by die groot wildevyeboom. Daar sukkel hy uitasem om die naaste tak by te kom. As hy na ‘n paar keer se spring eindelik ‘n tak beetkry, trek hy homself in die boom op. Haastig klouter hy na die sterkste tak aan die straatkant. Blaas blaas stoot hy die dun takke en blare weg sodat hy ‘n goeie deel van die straat kan sien.

Hoër op hoor hy die stemme van ‘n groep mense wat aankom in sy rigting. Hy het al ‘n ent terug saam met die klomp mense langs die straat probeer kyk hoe die Jesus lyk van wie daar so baie praatjies in die stad in omloop is. Hulle het juis vertel dat Jesus so pas weer ‘n blinde man, net hier buite die stad, gesond gemaak het sodat hy weer kan sien! Van dié wat dit sien gebeur het, kan nou nog nie ophou om daaroor te praat en God te prys nie. Al die verhale het hom laat besluit om self te sien hoe Jesus lyk en te hoor wat hy sê.  Maar tussen die mense kon hy egter niks sien nie.

Die langer mense is so ongeskik en het aanmekaar voor hom ingeskuif. Hy het dit ook weer aangevoel dat baie hom doelbewus probeer weghou het van ‘n goeie uitsig. Hy ken die vyandigheid van die gemeenskap maar al te goed. Gelukkig het hy onthou van hierdie boom verder af in die straat en daarom is hy nou hier. Opgewonde wag hierdie kort mannetjie met die mooi naam van Saggeüs, dit beteken ‘onskuldig’ en ‘skoon’, dat die optog moet naderkom.

Gelukkig sal hy goed kan sien sonder om self gesien te word.  Die meeste mense sal ook so na Jesus loop en kyk en met mekaar stry om beter te kan sien, dat seker min hom sal raaksien. Eintlik voel hy maar baie bewus daarvan dat juis hy wat hoof is van die tollenaars en by alles ‘n ryk en dus gesiene persoon, nou hier in die boom sit.  Hy kon maklik van sy mense gestuur het en Jesus na sy huis genooi het.  Die vooroordeel in die gemeenskap teen hom as hooftollenaar en ryk man is egter so erg dat hy dit liewer nie probeer het nie. Hy is ook nie seker of Jesus na hom toe sal wil kom nie. Wat ‘n verleentheid sal dit nie wees as Jesus die uitnodiging van die hand wys nie?

Maar wag, hier is hulle nou…

Ja, hy kan Jesus mooi sien. Wonderlik, Jesus gaan staan mooi regoor hom!  Fantasties! Perfek, dit kon nie beter nie. Vasgenael staar hy na Jesus. En dan kyk Jesus na hom. Hy noem Saggeüs op sy naam en beveel hom om gou af te kom want “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Saggeüs snak na sy asem. Hy kan nie glo wat hy hoor nie! Hy is buite homself van blydskap. Hy kan nie vinnig genoeg uit die boom kom om Jesus na sy huis te neem nie.

Terwyl hy en Jesus op pad is na sy huis, volg die skare al protesterende en skellende: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” Hulle neem Jesus erg kwalik dat Hy by hierdie gehate mens aan huis gaan. Is Hy dan nie ‘n profeet wat weet met wie Hy te doen het nie?

Wanneer Saggeüs egter met Jesus instap in die rykmanshuis met al die duursame en weelderige meubels en besittings, word hy skielik bewus van sy skuld en die beperkte waarde van aardse besittings. Dis asof sy lewe ‘n volledige omkeer maak. Wat vir hom absolute waarde het, dinge wat hy met al sy krag en met enige metode nagejaag het, lyk hier in die teenwoordigheid van Jesus skielik waardeloos en laat hom selfs skuldig voel.  En tog sê Jesus nie ‘n woord nie.

Maar sy teenwoordigheid laat Saggeüs alles in ‘n ander lig sien! En terwyl die mense nog buite raas en lelik skree, staan Saggeüs op om te praat. Hy kan nie langer stilbly nie. Hy moet dit sê!  Hy moet dit vir die Here sê! Hy het in die paar oomblikke ontdek dat hy voor die Here staan wat met Sy oë deur al die slim planne en skemas sien!

Ja, die Here sien in al sy rykdom die duisende mense wat te kort gedoen is, sommige wat dit nie eers kon bekostig nie, is gedwing om tolgeld te betaal of van hulle eiendom te verpand. Hoe wreed was hy nie in sy eise teenoor die arm weerloses nie!  Waar dit hom voorheen nooit soveel gepla het nie, hoor hy nou weer al daardie mense se gesoebat om hulle tog tegemoet te kom.

Ja, hy wat die naam ‘skoon’ en ‘onskuldig’ dra, is vuil en skuldig. Ja, skielik brand dit in sy gewete in dat Jesus hom daar by die boom op sy naam genoem het. Jesus was tog nie sarkasties toe Hy hom só genoem het nie?  Nou waarom pla sy eie naam hom nou?

Nee dit kan nie, nie voor die Here nie, maar ook nie voor die mense nie.  Al hierdie goed, eens op ‘’n tyd sy trots en begeerte, nou soveel beskuldigende vingers!  Skielik word sy huis met al die geriewe en beskerming waar hy hom kon terugtrek van die venynige kyke en hatige woorde van die samelewing, ‘n benoude en bedreigende vasgekeerdheid!  Dit word in hom ‘n oorweldigende wete wat soos ‘n vuur in sy binneste brand. Dit is sy uur van waarheid!  Hy moet sake nou, vandag, regstel.

En dan staan hierdie man op en hy praat, nie met die mense wat hom beskuldig en aan wie hy soveel skuld nie, maar met die Here: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Hy is tog seker nie ernstig nie! Nie net verklaar hy homself skuldig nie maar hy gaan ook baie verder as wat die wet (thora) voorskryf omtrent regstellende vergoeding. Waar het jy al ooit gehoor dat enige mens, laat staan nog ‘n ryk mens, bereid is om die helfte van sy goed vir die armes te gee? As hy dan wel so skuldig voel, waarom bly hy dan nie maar by die voorskrifte van die wet nie?

Maar Saggeüs is vry. Die dodelike greep wat geldgierigheid vir soveel jare op hom gehad het, is skielik gebreek. Hy is vry om te gee, om terug te gee. Nie te gee soos die wet vereis nie of omdat die wet dit eis nie, maar te gee omdat God se liefde hom vry gemaak het.  Hy is ook vry van wat mense van hom sê en dink.

Saggeüs se antwoord is nie ‘n grootwoord belydenis nie, maar ‘n plan van aksie! Dit sê wat hy gaan doen! Dit wat hy gaan doen, sal sigbaar uitspel wat hy glo!

Vir ‘n oomblik is dit stil in die ruim en deftige huis.

Wat gaan Jesus sê? Almal wonder. Dan praat Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” Vandag, van hierdie oomblik af, is hierdie huishouding ingesluit in God se reddende liefde. Nou is Saggeüs se naam nie meer ‘n aanklag teen hom nie, maar beskryf dit sy nuwe toestand. Hy is nou in waarheid ‘onskuldig en skoon’!  Hy is ‘’n kind van Abraham’, want hy is deel van die gemeenskap van mense wat uit die geloof lewe!

Wat ‘n aangrypende verhaal!  Dit eindig nie hier nie maar staan oop, want vir Saggeüs het ‘n nuwe lewe begin.

En weer praat Jesus.  Hy is nog nie klaar nie, nie met Saggeüs, sy gaste en huishouding nie en ook nie met ons wat vanoggend na hierdie verhaal geluister het nie. Jesus het nog ‘n belangrike aankondiging om te maak: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Dit is die kern van die Nuwe-Testamentiese evangelie!  Dit is die reël van die koninkryk van God.

Ja, daarom is Jesus deur Jerigo, daarom is Hy in Saggeüs se huis, daarom is Hy vanoggend hier in die erediens en om daardie rede gaan Hy saam met elkeen van ons na ons huis en kamer.

Jesus kyk reguit na my en jou en sê:  “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan!”

Amen.