Johannes 12: Hoe lyk onvoorwaardelike liefde vir jou?

Kort tevore in Johannes 11 het Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek. Iets wat almal se hare laat ruis het en ore laat spits het. Soveel so dat terwyl die skares na Jesus gestroom het, was daar planne gemaak om Hom uit die weg te ruim (11:45-57). Dit was so ‘n groot storie dat daar selfs pogings was om Lasarus te vermoor (12:9-11).

 

Al meer en meer mense begin in Jesus belangstel as gevolg van die stories wat die rondte doen. Wie is hierdie Jesus? ‘n Groot skare wag Jesus in wanneer Hy Jerusalem binne ry. Hiervan hou die fariseërs gladnie! Deel van hierdie Paasfeesgangers was ‘n groepie Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het. Hulle wou ook vir Jesus ontmoet.

 

Hulle praat met Filippus, Filippus praat met Andreas en Andreas met Jesus. Wat hierdie interessant maak is dat beide Filippus en Andreas voorheen Grieke was voordat hulle mense van die weg geraak het wat vir Jesus volg.

 

Dan draai die storie skielik.

 

“Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Voor dit het Jesus gereeld gesê dat Sy tyd nog nie gekom het nie (7:30; 8:20).

 

7:30 “Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het iemand dit gedoen nie, omdat sy tydnog nie gekom het nie.”

 

8:20 “Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.”

 

Tyd is ‘n belangrike beginsel om mooi te verstaan. Die prediker praat ook baie van tyd. Dat daar ‘n tyd vir alles is, en hoe alles op die regte tyd sal plaasvind. So was dit ook met Jesus. Hy moes wag vir die regte tyd om Homself en Sy roeping te openbaar.

 

Groente kan nie sommer net enige tyd geplant word en dan gehoop word dat daar drie maande later iets te ete sal wees nie. Nee, dit is belangrik om te weet, wanneer om wat te doen. Tydsberekening is alles!

 

Die saad wat moet sterf voordat dit die groot oes kan inbring het nie veel verduideliking nodig nie. Ons kan vandag na die aartappel kyk. Jesus se dood word as so ‘n plant van ‘n moer gesien. Deur die plant van die moer (Jesus) sal die moer sterf en nuwe aartappels na vore bring. Jesus bring nuwe lewe.

 

Om Hom te volg is om saam met Hom te sterf, om Hom as ware selfs tot in die grond in te volg. Johannes beskryf belangrike sake met sterk woorde. Liefde teenoor haat.

 

In vers 25 word hierdie sterfbeeld in die grond die vereiste vir persoonlike wins. Jesus wat sterf, wat die ewige lewe moontlik maak, is wat ons as dissipels oproep om self te sterf en daardeur die ewige lewe binne te tree. Die deur staan oop. Sommige van ons leef ‘n drumpel bestaan, ons kan nie besluit waar ons wil wees nie. Mense wat in deurkosyne staan weet nie of hul kom of gaan nie. Waarheen is jou lewe oppad?

Soos Jesus vir ons gesterf het, moet ons ook bereid wees om te sterf om werklik, in die volheid, te kan lewe.

 

Kontras is ‘n tegniek wat fotograwe gebruik om besonderse foto’s te neem. Deur subtiel met kleur te speel kom die verskil sterk na vore. Die verrassende verskille help ons om alles beter te sien en te verstaan.

 

Die Johannesevangelie is ‘n grafiese evangelie, propvol kontras.

  • Jesus se hoogste strewe was om te sterf
  • Werklike lewe begin deur die dood
  • Die kruis ‘n simbool van redding word.

 

  1. Jesus se hoogste strewe was om te sterf

 

Ons lewe in ‘n tyd waar alles gedoen word om langer te lewe. Van Antoinette Pienaar en Oom Johannes se kankerbossie tot The Body Shop se nagroom, alles vir ‘n langer lewe. Dit is daarom nie vreemd dat so baie mense strewe om so lank as moontlik te leef nie. Jesus se antwoord op waarna Hy streef in die lewe, is om te sterf.

 

Deur die loop van die Johannes evangelie gebruik Jesus talle “Ek is” uitsprake gekoppel aan beelde om iets meer oor Homself te vertel:

 

  • Die brood van die lewe Johannes 6:22-59
  • Die lig van die wêreld Johannes 8:12-43
  • Die deur en die goeie herder Johannes 10:1-21
  • Die opstanding en die lewe Johannes 11:1-44
  • Die weg, die waarheid en die lewe Johannes 14:1-31
  • Die ware wynstok Johannes 15:1-27

 

Dit is van die begin af duidelik dat Jesus gekom het om ons te red van onsself en ons selfsugtige begeertes.

 

Wanneer ons oor die wêreld nadink, is daar ‘n skerp kontras tussen die twee beelde van die wêreld wat na vore kom.

 

Aan die een kant is die wêreld ‘n asemrowende toneel van skoonheid. Of dit die natuur of die glimlag van ‘n kind is, die wêreld is mooi. Dit is God se wêreld en Hy is tot die dood toe lief daarvoor. Johannes 3:16 beskryf die diepte van God se liefde vir die wêreld wat Hy gemaak het en steeds versorg.

 

Aan die ander kant is die wêreld ook ‘n plek waar die afgryslikste dinge gebeur. Mense onderdruk mekaar en die natuur word bedreig deur die hand van die mens. Paulus sê al in Romeine 8 dat die skepping kreun. Lank voor die bestaan van steenkoolkragsentrales of strooitjies. Die rede vir die pyn is in die stelsel wat deur die mens ontwerp is en in stand gehou word. Die stelsel wat sekere mense bevoordeel, dikwels ten koste van ander, en ongelykheid en ongelukkigheid in plek hou.

 

  1. Werklike lewe begin deur die dood

 

In ‘n eenversvergelyking word Jesus se verheerliking in landboutaal verduidelik. Op ‘n vreemde manier word die beeld van saad wat in die grond moet sterf en die oes wat daardeur moontlik word, die prentjie om Jesus se dood te verstaan. Sake word selfs nog ernstiger wanneer die vergelyking op die dissipels toegepas word.

 

Soos aartappels moet ons sag raak, en onsself laat sterf sodat ons werklike lewe kan voortbring. Vanuit ons dood vir die menslike begin ons werklike te lewe vir en in die Goddelike. In die voetspore van Jesus is dit ook nou vir ons bedoel. Johannes roep ons elkeen om te sterf aan ons eie belange. In skerp taal noem hy dat ons ‘n haat van die eie ek moet hê ter wille van die ewige lewe.

 

  1. Die kruis as simbool van redding

 

Die grootste kontras wat Johannes vir ons wys is die kruis. Terwyl die kruis as die gruwelikste teregstelling en straf beskou word, het Jesus die kruis as ‘n verhoogde platform gesien. Soos met die donderweer, waar net sekere die stem van die Vader gehoor het, sien net die wat met geloofsoë na die wêreld kyk die verhoging en verheerliking in plaas van die teregstelling en vernedering raak.

 

Deur hierdie handeling word ons almal saam uit die stof van die aarde opgetel. Ons word afgewas en aangebied om geur aan die lewe te gee. Om te lewe met, regtig te lewe, nie vir onsself nie, maar vir die verheerliking van Sy naam!

 

Name above all names, You are worthy of all praise, and my heart will sing, how great is our God!

 

Anders as die ander evangelies, sien Johannes Jesus se lyding en sterwe nie as ‘n laagtepunt nie, maar as ‘n hoogtepunt. Die kruis is nie ‘n vernedering nie, maar ‘n verhoging van Jesus. Die klimaks van Sy aardse bediening is die kruis.

 

As ons na die kruis kyk, kan ons met reg dink en sê: “Dit is hoe onvoorwaardelike liefde lyk!”

 

Vir wie, of vir wat, is jy bereid om jouself op te offer? Jesus het Homself geoffer vir jou! Hy het doodgegaan sodat ons elkeen voluit kan leef, sonder enige sonde vas ons wil vashou of verstrik. Hy het gesterf sodat ons sonder enige bande kan leef!

Jeremia 18: Ervaar jy dat die Here besig is om jou te vorm?

 

  1. Jeremia is gehoorsaam

 

Jeremia is in gesprek met God en wag op ‘n antwoord van die Here. Hy probeer vasstel wat die Here vir hom wil sê, maar hy kan nie hoor wat die Here vir hom sê nie. Hy sukkel om fyn ingestel te kom om te onderskei wat God vir hom wil sê.

 

In vers 2 sê die Here aan Jeremia: “Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.” Sekere dinge sal ons nooit verstaan nie, voordat ons nie eers die dinge wat die Here van ons vra om te doen gehoorsaam het nie.

 

Daar kom tye wat ons eers die Here onvoorwaardelik moet gehoorsaam voordat ons in daardie posisie is waar Hy sy eintlike boodskap of droom vir ons lewe aan ons kan bekendmaak. Om afhanklik van die Here te leef vra totale gehoorsaamheid aan Hom.

 

Om na die pottebakker se huis te gaan het hom laat dink aan Israel en die Here se droom vir Israel en hoe die volk misluk het… soos stukkende potskerwe wat die wêreld vol lê… Die prentjie berei sy gedagtes voor vir dit wat die Here aan hom wil verduidelik. Dit bring insig, wat hy nie in sy normale dagprogram sou kry nie.

 

Soms is dit nodig om na die stukkende om jou te kyk om te kan sien hoe dinge kan wees. Dit is nodig om alle filters af te haal. Geen Lark, Juno, X-Pro II of Lo-Fi filters nie, net die waarheid. Dit is nodig om die harde werklikheid reguit in die oë te kyk om ook te besef dat die Here weer stukkende potte aanmekaarsit en heelmaak.

 

Jeremia moes eers kyk hoe die pottebakker die klei brei en voorberei om ‘n pot te vorm voordat hy besef die Here besig is om met hom te praat deur die pottebakker. Die Here laat dikwels dinge gebeur om ons gedagtes te laat fokus op wat Hy wil hê ons moet raaksien.

 

Ons moet diep nadink oor wat alles die naweek gebeur het. Die Here probeer met ons praat! Net dwase hou aan met die gejaag van die lewe sonder om stil te staan en te dink wanneer belangrike dinge gebeur. Weet dat die Here jou aandag probeer trek deur dinge wat jy die naweek beleef het en vorentoe ook deur die klein dingetjies… Die Here probeer vir jou iets wys. Moet dit nie mis nie!

 

 

 

Jeremia kom op die presiese oomblik by die pottebakker se huis aan toe hy ‘n vars klomp klei optel en begin voorberei. Dit is ‘n unieke proses om ‘n pot te maak, wat toe juis besig was om te gebeur. Hy staan en kyk in verwondering oor die geduld waarmee die pottebakker die klei begin vorm. Nie instapotte nie, maar met geduld gevorm. Uiteindelik sou die pottebakker iets met waarde van die klei maak. Word stil. Kyk. Luister. Neem waar… Die Here is besig om te praat!

 

  1. Die Pottebakker

 

Jeremia sien dat die pottebakker ‘n spesifieke intensie met die klei het. Hy werk doelgerig. Hy neem ‘n stuk rowwe klei en hy weet vooraf wat hy met daardie stuk klei wil doen. Hy gaan iets nuttig en kosbaar vorm. Wanneer hy daardie klei tot ‘n produk gevorm het, bewonder hy die produk. Dit gee hom satisfaksie en hy is trots op die produk. Die produk is voltooi en gemaak vir ‘n spesifieke doel!

 

So het die Here ook ‘n intensie met ons lewens. Die Here het ‘n plan met ons elkeen se lewe! Hy het ‘n baie spesifieke eindproduk ingedagte. Daarom, moenie jou tyd mors nie. Moenie ophou drome droom vir jou lewe nie! Waarvoor lewe jy? Waarvoor staan jy elke oggend op? Waaraan gaan jy vorm gee?

 

Hierdie pottebakker is absoluut in beheer. Ons moet ook beheer neem van ons lewens. Ons kan dit nie net los om maar te sien wat gebeur nie.

 

Die pottebakker gebruik verskillende instrumente om sy klei te bewerk. Daar is die draaitafel. Die instrument is ontwerp om die klei in die rondte te draai. Die blad van die draaitafel was van klip gemaak. Wanneer die klei op die draaitafel beland gebruik die pottebakker ‘n klein plankie of skrapertjie om onsuiwerhede uit die klei uit te haal.

 

Jeremia hou dop hoe die pottebakker met groot omgee die klei vorm. Die Here is besig om ons elkeen met groot omgee en liefde te vorm. Hy gebruik verskillende ervarings en omstandighede om ons te vorm.

 

Die pottebakker se hand was ervare. Hy kon vooruit aanvoel as die klei nie reg is nie. Sy hand was altyd liggies op die klei. Wanneer hy sien die klei verander het hy vroegtydig die regte aanpassings gemaak om die klei ‘n effense anderse vorm te gee. Die Here se hande is liggies op ons elkeen… voel jy dit?

 

Die pottebakker het met groot geduld en fokus gewerk. Die Here is deur al die eeue op pad met sy kinders. Met groot geduld werk Hy oor die tyd heen. Nou is dit ons tyd. Ons beurt. Ons generasie moet nou ‘n verskil begin maak! Moenie die geleentheid wat die Here vir jou gee om deel te wees van Sy plan misloop nie!

 

  1. Watter tipe klei is jy?

 

‘n Belangrike eienskap van pottebakkersklei is dat dit die regte tekstuur moet hê sodat dit sag en aanpasbaar kan wees om gevorm te word, maar tog ook sterk kan wees, nadat dit in die oond gebak is.

 

Klei moet vry van onsuiwerhede wees. Jeremia let op hoe die pottebakker die klei deurwerk met sy hande. Die pottebakker haal elke stukkie onsuiwerheid uit. Elke klippie of stukkie gras word verwyder en weggegooi. Klei wat vol onsuiwerhede is, kan nie gebruik word nie. Klei wat onsuiwerhede bevat sal uiteindelik kraak, of die klippies wat daarin is sal maak dat die pot nie mooi afgewerk kan word nie.

 

‘n Lewe vol sonde, vol klippies, val uitmekaar uit. Die Heilige Gees sal nie tuis wees in so ‘n lewe nie, en dan sal die Here se krag ook nie daar wees nie. Pak jy jou lewe vol klippies?

Klei moet sag en vormbaar wees. Met droë harde klei kan die pottebakker niks maak nie. Daarom gooi die pottebakker bietjie water by die klei en brei die klei totdat dit sag en vormbaar is. Die pottebakker hou aan om die klei te brei totdat hy tevrede is met die tekstuur en daarna word die produk gevorm en in ‘n oond gebak. Dit word dan in uiters hoë temperature gebak.

 

So vorm en bak die Here ons. Met water en met vuur.

 

Die is Here is die pottebakker en ons die klei.

 

Doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

U, die Pottebakker, met my, die klei;

vorm my en maak my net soos u wil;

op U vertrou het, nederig en stil.

 

Watter tipe klei is jy? Ervaar jy dat die Here besig is om jou te vorm?

 

Amen.

Markus 1: Die nuwe lewe

Voordat daar slegs kinders oor was om te doop in die Christelike gemeenskap het die doop anders gewerk as wat ons dit vandag in die NGK ken.

 

Die doop was bedien aan volwassenes. Daar is ‘n kruis op die voorkop van elke kandidaat gemaak, en sout was bedien. Hierdie het gewoonlik op Aswoensdag plaasgevind en in die daaropvolgende 40dae. In hierdie 40dae was die kandidaat onderrig in die lewe van Christus en die kerk. Die priester het dan sy vinger natgemaak en die lippe van die kategeet aangeraak. Wanneer dit gebeur het, het die kategeet al sy klere uitgetrek en was die rug en bors met olie gesalf. Satan is dan afgesweer en ‘n eed is afgelê om Christus te volg. Die geloofsbelydenis (wat ons vandag nog saam opsê) is dan deur die kategeet opgesê. Na dit is water geseën en die kategeet is daarmee besprinkel en was dan nuut gebore. Met die hulp van hul ouers is die kategete dan in wit geklee. Weer is ‘n kruis deur die priester op hul voorkoppe gemaak en daarna mag hulle deelgeneem het aan die nagmaal.

 

Na die gebruik van die nagmaal was elkeen ‘n drankie gegee wat bestaan het uit heuning, water en melk. Hierdie drankie was ook in daardie tyd gegee aan pasgebore babas.

 

Veel korter vertel Markus van die doop en versoeking van Jesus. In die tyd toe Johannes besig was om te doop by die Jordaan kom Jesus daar aan uit Nasaret in Galilea en ondergaan die doop saam met die sondaars.

 

Waarom Hy, die sondelose, die doop van bekering en van vergifnis van sondes ondergaan het, verklaar Hy ten dele self deur te sê dat dit moes geskied om alle geregtigheid te vervul. Daarmee word bedoel dat dit God se wil was met Hom en daaraan moes Hy gehoorsaam wees.

 

Ook betuig Hy met die daad dat Hy bewus is van sy Messiasroeping. Hy het gekom om vir die sondes van die volk in te staan en het vir die doel een geword met hulle. Daarom ondergaan Hy die doop as teken dat Hy die oordeel en die dood wat die volk toekom, op Hom neem. Verder is sy daad ook ‘n erkenning van die profetiese roeping van Johannes die Doper.

 

Merkwaardig en vinnig speel die volgende gebeurtenisse by die doop af. Toe Jesus uit die water opstyg, het Hy die hemele sien oopgaan. In die gestalte van ‘n duif, die simbool van reinheid, onskuld en vrede, het die Heilige Gees op Hom neergedaal. Voorheen het die Gees wel in Hom gewoon, maar nou daal dit sigbaar neer om in Hom te bly as toerusting vir sy besondere amp en die bemiddelaar te wees van onbreekbare band met die Vader.

 

Die stem uit die hemel spreek Jesus direk aan. Die Vader noem Hom sy geliefde Seun en betuig sy welbehae in Hom. Dit was sy eerste openbare daad op die weg wat sou lei tot sy lyding en sterwe tot versoening van ons sonde.

 

Voortaan behoort Hy nie meer aan Homself nie. Hy staan onder die leiding van die Heilige Gees. Die Gees dryf Hom dadelik uit na die woeste, verlate streke waar Hy in die eensaamheid deur Satan versoek sou word. Vir 40 dae, net soos Moses en Elia, bly Hy sonder kos om in daardie tydperk met Satan die stryd te voer. Satan het Hom aangeval om die oprigting van die koninkryk van God te probeer verhinder, maar kon die Seun van God nie oorwin nie.

 

Jesus is wel versoek, maar bly die sondelose. As bewys daarvan verkeer Hy met die diere soos Adam in die paradys voor die sondeval. Aan die einde van die tydperk van stryd verskyn die engele om Hom met voedsel te bedien en sodoende eer van die Vader aan Hom te betuig.

 

Wanneer enige iemand ‘n oorgangsfase in hul lewe betree is daar gewoonlik drie fases wat die een na die ander afspeel:

  • afsondering
  • transformasie
  • integrasie

 

Hierdie drie fases is sigbaar wanneer belangrike tydperke in ons lewens van nader bekyk word. Dink maar aan ‘n oriënteringsweek op Hoërskool.

 

Die graad 8’s word afgesonder van die res van die skool deur verskeie tegnieke. Hulle moet anders aantrek, anderse dinge doen, fisies op ‘n ander plek wees. Hulle word afgesonder van die groter geheel om gereed te maak om die fase van transformasie binne te gaan.

 

Wanneer die fase van transformasie binne gegaan word vanuit die afsonderingsfase is dit makliker om dit wat anders is te identifiseer, dit ‘n naam te gee, en te besluit of dit deel van die lewe van Hoërskool gaan raak. In die aanloop na transformasie vanuit afsondering sien die graad 8 dat verhoudings anders werk in die Hoërskool as in die Laerskool. Ouderdomme meng, geslagte meng, en sien ook raak dat party ouens en meisies buite skooltyd alleen saam ‘n cappuccino geniet. Hierdie is alles deel van die transformasie fase.

 

Die fase van transformasie is seker een van die belangrikste fases in ons elkeen se lewens, want transformasie werk op ‘n vreemde manier. Laurie Ann Paul (professor in filosofie aan die universiteit van North Carolina) praat van die vampire-effect wanneer sy van transformasie praat.

 

Sy verduidelik dat wanneer ‘n mens werklike totale transformasie ondergaan kan daar nie terug gekeer word na die vorige lewe nie. Sy verduidelik dit aan die hand van ‘n vampier.

 

Terwyl jy wonder oor hoe dit is om ‘n vampier te wees kan jy baie boeke oor vampiere lees en flieks daaroor kyk, maar jy sal nooit ten volle weet hoe dit is om ‘n vampier te wees nie. Jy kan nie die ervaring van ‘n vampier hê sonder om jou menslikheid op te gee nie. En sodra jy jou menslikheid opgee om die ervaring van ‘n vampier te hê is dit ook onmoontlik om terug te keer na die menslike vorm omdat jy nou ‘n vampier is. Amper soos die wurm wat ‘n vlinder word, kan die vlinder nie terug verander na ‘n wurm nie.

 

Die doop werk dieselfde. Die doop is ‘n heilige oomblik in elkeen se lewe wat veronderstel is om elke persoon totaal te transformeer. Die doop behoort ons elkeen ‘n anderse uitkyk op die lewe te gee, ‘n nuwe bril.

 

Ons ervaring van water berei ons voor vir ons woestyn wat wag.

 

Jesus is direk na sy doop deur die Gees weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank sonder kos deur die Satan versoek en verlei is.

 

Hy is gevra om klippe in brood te verander. Maar, “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

 

Hy is gevra om van die hoogste punt van die tempel af te spring. Maar, “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

 

Hy is gevra om die Satan te aanbid. Maar, “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

 

Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

 

Die woestyn is ‘n plek van voorbereiding, van beproewing, van afsondering, van stilte, van uitdaging, van transformasie, van ontdekking en van ontmoeting.

 

Jesus se woestyn tydperk het Hom voorberei vir sy bediening van die evangelie wat gewag het. Sy woestyn tydperk het Hom gereed gemaak om anders as die wêreld op te tree.

 

Paulus sê vir ons dat die grootste vreugde te vinde is in die lyding soos Christus. “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Romeine 5:3-6)

 

Het ons dalk iets van hierdie vreugde vergeet? Probeer ons alle lyding ten alle koste te vermy sodat ons lewens so gemaklik moontlik kan voortgaan sonder enige beproewing of uitdaging? Hoe eg is ons geloof werklik? Die egtheid van jou geloof kom gewoonlik uit in tye van swaarkry, wanneer jy nie meer opsies het nie, wanneer jy vasgeloop is, dan kom die egtheid van jou geloof uit.

 

Drie maal het Christus die satan weerstaan. Sou jy die klippe in brode wou verander? Sou jy van die tempel af wou vlieg? Sou jy al die koninkryke wat jy kon sien wou hê?

 

Die Heilige Gees is saam met Christus die woestyn in, en só is Hy ook saam met jou vandag. As pasgebore baba (nuutgebore deur die doop) word Jesus die woestyn in gelei deur die Gees. Sal jy jou kind vandag alleen sonder gids in die woestyn in stuur? Sal jy sonder gids in die woestyn bly vir 40dae sonder kos?

 

Die Heilige Gees is lank terug uitgestort om ons elkeen te onderhou en te begelei in ons woestyn. Die woestyn wat ons sterk maak, die woestyn wat volharding kweek, die woestyn wat egtheid van geloof kweek. Ons is nie alleen in ons woestyn nie, ons het die Heilige Gees as gids wat ons onderhou en begelei deur alle beproewing sodat ons kan transformeer na ‘n nuwe mens.

 

Die Heilige Gees is met ons in hierdie lydingstyd sodat ons, ons vreugde in Jesus se lyding kan vind. Hoe Hy gely het vir ons. Laat ons dan in hierdie tyd van beproewing vir ons elkeen, hierdie droë tyd, hierdie tyd sonder water, onthou van ons water, lank lank gelede. Laat ons elkeen onthou van ons doop waar ons as nuwe mense uit die water saam met Christus opgestaan het as oorwinnaars. As oorwinnaars oor die droogte.

 

Laat ons hierdie transformerende, hierdie veranderingsoomblik, hierdie woestyn tyd,  deelmaak van ons lewe. Sodat ons sterker, met volharding, in die geloof kan vorentoe kyk en kan weet dat ons vreugde ook in lyding te vinde is.

 

Die vraag is egter of jy die les in jou lyding wil raaksien…

 

Amen.