Johannes 12: Hoe lyk onvoorwaardelike liefde vir jou?

Kort tevore in Johannes 11 het Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek. Iets wat almal se hare laat ruis het en ore laat spits het. Soveel so dat terwyl die skares na Jesus gestroom het, was daar planne gemaak om Hom uit die weg te ruim (11:45-57). Dit was so ‘n groot storie dat daar selfs pogings was om Lasarus te vermoor (12:9-11).

 

Al meer en meer mense begin in Jesus belangstel as gevolg van die stories wat die rondte doen. Wie is hierdie Jesus? ‘n Groot skare wag Jesus in wanneer Hy Jerusalem binne ry. Hiervan hou die fariseërs gladnie! Deel van hierdie Paasfeesgangers was ‘n groepie Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het. Hulle wou ook vir Jesus ontmoet.

 

Hulle praat met Filippus, Filippus praat met Andreas en Andreas met Jesus. Wat hierdie interessant maak is dat beide Filippus en Andreas voorheen Grieke was voordat hulle mense van die weg geraak het wat vir Jesus volg.

 

Dan draai die storie skielik.

 

“Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Voor dit het Jesus gereeld gesê dat Sy tyd nog nie gekom het nie (7:30; 8:20).

 

7:30 “Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het iemand dit gedoen nie, omdat sy tydnog nie gekom het nie.”

 

8:20 “Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.”

 

Tyd is ‘n belangrike beginsel om mooi te verstaan. Die prediker praat ook baie van tyd. Dat daar ‘n tyd vir alles is, en hoe alles op die regte tyd sal plaasvind. So was dit ook met Jesus. Hy moes wag vir die regte tyd om Homself en Sy roeping te openbaar.

 

Groente kan nie sommer net enige tyd geplant word en dan gehoop word dat daar drie maande later iets te ete sal wees nie. Nee, dit is belangrik om te weet, wanneer om wat te doen. Tydsberekening is alles!

 

Die saad wat moet sterf voordat dit die groot oes kan inbring het nie veel verduideliking nodig nie. Ons kan vandag na die aartappel kyk. Jesus se dood word as so ‘n plant van ‘n moer gesien. Deur die plant van die moer (Jesus) sal die moer sterf en nuwe aartappels na vore bring. Jesus bring nuwe lewe.

 

Om Hom te volg is om saam met Hom te sterf, om Hom as ware selfs tot in die grond in te volg. Johannes beskryf belangrike sake met sterk woorde. Liefde teenoor haat.

 

In vers 25 word hierdie sterfbeeld in die grond die vereiste vir persoonlike wins. Jesus wat sterf, wat die ewige lewe moontlik maak, is wat ons as dissipels oproep om self te sterf en daardeur die ewige lewe binne te tree. Die deur staan oop. Sommige van ons leef ‘n drumpel bestaan, ons kan nie besluit waar ons wil wees nie. Mense wat in deurkosyne staan weet nie of hul kom of gaan nie. Waarheen is jou lewe oppad?

Soos Jesus vir ons gesterf het, moet ons ook bereid wees om te sterf om werklik, in die volheid, te kan lewe.

 

Kontras is ‘n tegniek wat fotograwe gebruik om besonderse foto’s te neem. Deur subtiel met kleur te speel kom die verskil sterk na vore. Die verrassende verskille help ons om alles beter te sien en te verstaan.

 

Die Johannesevangelie is ‘n grafiese evangelie, propvol kontras.

  • Jesus se hoogste strewe was om te sterf
  • Werklike lewe begin deur die dood
  • Die kruis ‘n simbool van redding word.

 

  1. Jesus se hoogste strewe was om te sterf

 

Ons lewe in ‘n tyd waar alles gedoen word om langer te lewe. Van Antoinette Pienaar en Oom Johannes se kankerbossie tot The Body Shop se nagroom, alles vir ‘n langer lewe. Dit is daarom nie vreemd dat so baie mense strewe om so lank as moontlik te leef nie. Jesus se antwoord op waarna Hy streef in die lewe, is om te sterf.

 

Deur die loop van die Johannes evangelie gebruik Jesus talle “Ek is” uitsprake gekoppel aan beelde om iets meer oor Homself te vertel:

 

  • Die brood van die lewe Johannes 6:22-59
  • Die lig van die wêreld Johannes 8:12-43
  • Die deur en die goeie herder Johannes 10:1-21
  • Die opstanding en die lewe Johannes 11:1-44
  • Die weg, die waarheid en die lewe Johannes 14:1-31
  • Die ware wynstok Johannes 15:1-27

 

Dit is van die begin af duidelik dat Jesus gekom het om ons te red van onsself en ons selfsugtige begeertes.

 

Wanneer ons oor die wêreld nadink, is daar ‘n skerp kontras tussen die twee beelde van die wêreld wat na vore kom.

 

Aan die een kant is die wêreld ‘n asemrowende toneel van skoonheid. Of dit die natuur of die glimlag van ‘n kind is, die wêreld is mooi. Dit is God se wêreld en Hy is tot die dood toe lief daarvoor. Johannes 3:16 beskryf die diepte van God se liefde vir die wêreld wat Hy gemaak het en steeds versorg.

 

Aan die ander kant is die wêreld ook ‘n plek waar die afgryslikste dinge gebeur. Mense onderdruk mekaar en die natuur word bedreig deur die hand van die mens. Paulus sê al in Romeine 8 dat die skepping kreun. Lank voor die bestaan van steenkoolkragsentrales of strooitjies. Die rede vir die pyn is in die stelsel wat deur die mens ontwerp is en in stand gehou word. Die stelsel wat sekere mense bevoordeel, dikwels ten koste van ander, en ongelykheid en ongelukkigheid in plek hou.

 

  1. Werklike lewe begin deur die dood

 

In ‘n eenversvergelyking word Jesus se verheerliking in landboutaal verduidelik. Op ‘n vreemde manier word die beeld van saad wat in die grond moet sterf en die oes wat daardeur moontlik word, die prentjie om Jesus se dood te verstaan. Sake word selfs nog ernstiger wanneer die vergelyking op die dissipels toegepas word.

 

Soos aartappels moet ons sag raak, en onsself laat sterf sodat ons werklike lewe kan voortbring. Vanuit ons dood vir die menslike begin ons werklike te lewe vir en in die Goddelike. In die voetspore van Jesus is dit ook nou vir ons bedoel. Johannes roep ons elkeen om te sterf aan ons eie belange. In skerp taal noem hy dat ons ‘n haat van die eie ek moet hê ter wille van die ewige lewe.

 

  1. Die kruis as simbool van redding

 

Die grootste kontras wat Johannes vir ons wys is die kruis. Terwyl die kruis as die gruwelikste teregstelling en straf beskou word, het Jesus die kruis as ‘n verhoogde platform gesien. Soos met die donderweer, waar net sekere die stem van die Vader gehoor het, sien net die wat met geloofsoë na die wêreld kyk die verhoging en verheerliking in plaas van die teregstelling en vernedering raak.

 

Deur hierdie handeling word ons almal saam uit die stof van die aarde opgetel. Ons word afgewas en aangebied om geur aan die lewe te gee. Om te lewe met, regtig te lewe, nie vir onsself nie, maar vir die verheerliking van Sy naam!

 

Name above all names, You are worthy of all praise, and my heart will sing, how great is our God!

 

Anders as die ander evangelies, sien Johannes Jesus se lyding en sterwe nie as ‘n laagtepunt nie, maar as ‘n hoogtepunt. Die kruis is nie ‘n vernedering nie, maar ‘n verhoging van Jesus. Die klimaks van Sy aardse bediening is die kruis.

 

As ons na die kruis kyk, kan ons met reg dink en sê: “Dit is hoe onvoorwaardelike liefde lyk!”

 

Vir wie, of vir wat, is jy bereid om jouself op te offer? Jesus het Homself geoffer vir jou! Hy het doodgegaan sodat ons elkeen voluit kan leef, sonder enige sonde vas ons wil vashou of verstrik. Hy het gesterf sodat ons sonder enige bande kan leef!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *