1 Samuel 3:1-18

Ons skakel vanoggend in na kanaal 1792, en dit is tyd vir die nuus uit Israel. Ons verslaggewer staan gereed vir die nuutste gebeure vanuit die tempel.

V:         Eli, ons hoor dat jy vanoggend ‘n ontstellende profesie van jou mindere, Samuel die 13jarige seuntjie ontvang het. Hoe het jy gevoel toe jy die nuus ontvang het?
E:         Dit was maar ‘n ongemaklike situasie, want ek is gewoonlik die een wat die profesie vanaf die Here ontvang en nou het Samuel dit ontvang…
V:         Samuel, hoe het dit gevoel om vir Eli, wat heelwat ouer as jy is, hierdie slegte nuus te gaan vertel?
S:         Dit was ‘n ongemaklike situasie, Eli is gewoonlik die een wat vir my sê wat om te doen…
V:         Eli, hoe het dit vir jou gevoel om so ‘n profesie te kry van iemand wat jou mindere is?
E:         Ek was aanvanklik geskok gewees dat die jong seuntjie vir my sulke swaar en moeilike nuus kom vertel.
V:         Samuel, soos wat ek dit van die ooggetuies verstaan, kon jy aanvanklik nie die stem van die Here hoor nie. Hoe het Eli jou gehelp om te verstaan dat dit die Here is wat met jou praat?
S:         Eli het my deur die proses gementor en vir my uitgewys waarop ek attent moet wees wanneer die Here met my probeer praat. As dit nie vir Eli was nie, sou ek nie die stem van die Here herken het nie.

Iewers in ons lewens was ons almal al in Eli of Samuel se skoene. Eli het gereeld raad aan Samuel gegee oor hoe om ‘n goeie leier in die tempel te wees, oor hoe om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen. Eli het vir Samuel gementor in die weë van die Here. Samuel het weer op sy beurt mooi geluister na die raad wat Eli hom gegee het en dit getrou gevolg om sy werk na die beste van sy vermoë te doen.

Toe op ‘n dag besluit die Here om die rolle van mentor en mentee om te keer. Eli het al blinder en blinder geraak met die jare en Samuel moes hom meer en meer help met die daaglikse tempel take. Ons lees dat dit Samuel se werk was om die tempel se deure elke oggend oop te maak. Geleidelik het die twee mekaar al meer en meer begin vertrou in diens van die Here.

Dalk staan jy vandag in die skoene van Eli. Dalk is jy aan die stuur van ‘n groot besigheid, of het baie invloed onder mense of jy geniet ‘n senior posvlak as gevolg van al die jare se getroue diens… wat is die goed wat dit vir jou sal moeilik maak om die Here se stem te hoor by iemand wie jy as jou mindere beskou? Hoekom is jy versigtig om te luister na iemand met minder mag, ervaring, senioriteit of status as jy?

Hoekom luister ons so graag na die mans en vroue met die groot naam? Hoekom is ons geneig om die wat ons as ‘n mindere sien se opinie as ongeldig te ag?

Wanneer jy jouself vang die volgende woorde dink moet jy weet jy is op dun ys, woorde soos:
·      Jy is net ‘n laaitie, wat weet jy?
·      Jy het nog nie ervaar wat ek ervaar het nie…

Met hierdie tiepe gedagtes plaas ons onsself gewoonlik bo die ander, en net daar en dan besluit ons om nie verder te luister nie, want hy of sy weet tog nie regtig wat hy of sy sê nie.

Kom ons skuif die kollig vir ‘n oomblik na Samuel.

Samuel was waarskynlik 12/13 jaar oud toe hy die profesie van die Here ontvang. Hy het nie gevra vir die bonatuurlike insig nie. Die Here het dit aan hom geopenbaar en skielik weet hy iets wat Eli nie weet nie, skielik het hy in sy jeugdige ouderdom insig tot iets baie groter as hyself.

Hy besef die posisie waarin hy nou is. Hy wonder, hoekom het die Here nie direk aan Eli verskyn nie, hoekom aan Hom? Wat gaan hy nou hierdie nuwe insig maak? In effek het hy oor kennis beskik wat ‘n oorgang in mag aandui, hoe gaan hy nou hierdie oorgang maak?

Bly hy stil en laat Eli en sy familie doodgaan soos wat inelkgeval sou gebeur? Of gaan vertel hy aan Eli dat die Here besig is om met hom die pad as nuwe profeet van die tempel te stap en dat Eli se tyd besig is uit te loop?

Ongemak sit ‘n mens gewoonlik in ‘n veg of vlug situasie, gaan jy jou ongemak tegemoet of vlug jy van dit wat jou ongemaklik maak?

As Eli en Samuel van hulle ongemak gevlug het, sou Saul nooit deur Samuel as koning gesalf gewees het nie, sou Salomo nie koning gewees het nie, sou Dawid nie koning gewees het nie. Dit kon alles moontlik gebeur het as Eli besluit het om nie na Samuel te luister nie, en hom laat doodmaak het omdat hy gedink het dat Samuel sy mag probeer oorneem met ‘n slim truuk.

Jou ego bepaal gewoonlik of jy gaan veg of vlug teen jou ongemak wanneer jou mindere betrokke is. Gaan jy toelaat dat jou ego jou beroof van wysheid of gaan jy jou ego opsy skuif en bereid wees om na jou mindere te luister?

Kom ons doen ‘n oefening:

1.     Dink aan iemand wat jou mindere is, waarmee jy in die laaste jaar kontak gehad het, wat dit regkry om voluit te lewe.
2.     Dink aan iets wat hy/sy doen wat jy bewonder, respekteer of ook sou wou doen. Wat kry hy/sy reg?
3.     Nou, vra jouself af, wat sou jy kon doen sodat hy/sy dit vir jou kan leer?

Om by mekaar te leer is daar brûe tussen ons nodig. Watter brûe bestaan reeds tussen jou en jou mindere? Watter brûe sal jy tussen julle moet versterk? Watter brûe sal jy tussen julle nog aan moet bou?

Eli en Samuel se brug was vertroue en respek vir mekaar, terwyl hulle hulle ego uit die tempel gehou het en dit het dit moontlik gemaak dat hulle saam voor die aangesig van God in Sy diens kon staan. Die oomblik wanneer ons besef dat ons lewe voor die aangesig van God verander ons houding en perspektief gewoonlik.

Om dit op ‘n eenvoudige manier uit te beeld, die oomblik wanneer die dominee in ‘n vertrek instap verander die woordeskat van die grappe dadelik. In die kerk probeer ons mekaar help, in die kerk maak ons vir mekaar plek, in die kerk… Wanneer besef ons dat God nie net in die kerk is nie, maar ook by die werk, ook by die braaivleis, ook by die huis? Wanneer besef ons dat ons lewe voor die aangesig van God?

Wat keer jou dat jy saam met die Samuel of Sarika in jou, voor die aangesig van God, kan diens doen?

Samuel het, al was hy bang, oop kaarte met Eli gespeel, hy het hom alles vertel en niks weggesteek nie. En Eli, met die besef dat hy onderdanig aan God is, vir Samuel gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.” Hy het Samuel nie verdink van een of ander slinkse planne nie, maar in vertroue en respek steeds eer aan die Here gegee. Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.

Is jy bereid om soos Eli na Samuel of Sarika, jou mindere, te luister?

Is jy bereid om soos Eli, met al jou mag, gesag, aansien en geld, jouself ondergeskik te stel aan die Woord van die Here?

Prediker 9:1-10

Ek het gewonder… As ek ‘n meisie sou ontmoet, sou sy mooi goue krulhare hê? Sou sy grappig saam met my ‘n staproete in die berge gaan doen? Sou ek vir haar koffie en ontbyt op ‘n vuurtjie kon maak? Sou ons verloof raak? Sou ons trou en die lewe saam geniet. En dan eendag oppad na haar werk verongeluk sy. Bring liefde regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek deel raak van die 5am club? Wat as ek vroeg opstaan, terwyl almal nog lê en slaap, en vooruit dink. Wat as ek vooruit dink, met die gaping wat ek in die mark gesien het, en my maatskappy kry daardie kontrak. Wat as ek deur daardie harde werk vir my vrou ‘n gemaklike lewe kan gee. Wat as ek deur my harde werk vir my kinders ‘n goeie geleerdheid kan gee? En een aand terwyl ek na-ure op kantoor steeds besig is kry ek die oproep van die onkoloog, die gewas is kwaadaardig, ek het kanker. Bring finansiële sekuriteit regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek terwyl ek jonk is ‘n huis in ‘n goeie woonbuurt koop en verhuur? Teen die tyd wat ek aftree is die huis afbetaal en baie werd. Ek sal goed geld gemaak het. Wat as ek dit regkry om my pension so te bestuur dat ek jaarliks oorsee by my kinders kan gaan kuier? En toe lees ek in die koerant dat die bank die rentekoers gaan verlaag, dat die rand weer gedegradeer gaan word, en dat my aandele nog minder werd is. Bring spaarsamigheid regtig geluk?

As ons so na ons lewens kyk, vorentoe vir ons wat jonk is, agtertoe vir die wat al gevorder het in jare, dan vra ons almal, is dit regtig die moeite werd om ’n goeie lewe te lei? Is dit regtig die moeite werd om wyse raad te volg?

Die Prediker het hierdie selfde eksistensiële vrae gevra iewers in die omgewing van 250vC. Die Prediker was waarskynlik deel van ‘n welgestelde gemeenskap wat hulle kinders na hom vir onderrig gestuur het. Daarom kan hy aan die kinders voorstel om mooi klere aan te trek en duur olies vir hul hare te gebruik, al kom dit tot niks.

In Prediker 9:1-6 word twee sake wat nou met mekaar verbind is, aan die orde gestel. Eerstens dat ‘n wyse man nie kan weet wat God weet nie, en dat dieselfde lot almal gaan tref. In vers 1 word verklaar dat God so oor die wyse regeer dat hy self nie weet wat hom gaan tref nie. God is in beheer van die tye en Hy sal sy plan sonder die medewerking van die mens laat realiseer.

Vers 2 en 3a beklemtoon weer dat dieselfde lot almal gaan tref. Ongeag regverdige of verkeerde optrede, gaan een en dieselfde lot almal tref.

Geen mens kan God se werke verstaan nie. Wat ons oor Hom sê, is altyd gebrekkig. Daarom kan ons die lewe, wat God se geskenk aan die mens is, nooit ten volle beskryf nie. Ons almal se bestaan word deur die eindigheid begrens. Hiermee moet ons vrede maak en saamleef.

In Prediker 9:3b lees ons van die mens se reaksie op die lot wat hom tref. Hy gee hom oor aan die boosheid en die kwaad. Dit maak nie eers meer saak hoe jy lewe nie, want ongeag jou lewenstyl, dieselfde lot tref almal.

In Prediker 9:4-6 gee die Prediker aandag aan sowel die lewe as die dood. Dit lyk of die Prediker in hierdie verse ‘n positiewe siening van die lewe voorstaan. Hy sê die lewendes het hoop. ‘n Hond wat lewe, is tog beter daaraan toe as ‘n dooie leeu; ‘n hondelewe is tog beter as geen lewe nie. Die Prediker sê dat die lewendes se voordeel bo die dooies is dat hulle weet hulle gaan sterf. (herhaal) So word die wat lewe se hoop, wanhoop.

Prediker 9:5-6 vertel van die lot van die dooies: Hulle weet van niks nie, daar wag geen beloning op hulle nie, niemand sal weer aan hulle dink nie en gelukkig vir hulle het hulle nie meer deel aan die smart hier op aarde nie.

In hierdie neerdrukkende omstandighede beveel die Prediker in vers 7 lewensvreugde as die hoogste goed vir hierdie lewe aan. Almal is na die sinlose dood op pad en daarom moet die lewe so lank as moontlik geniet word. Vir die Prediker kan die dood nie van die lewe losgemaak word nie, en niemand het ‘n sê daaroor nie. Die dood maak almal gelyk, of jy wys of dwaas is, almal sterf, sonder enige besittings. 6×6, dieselfde lot tref almal.

Spreuke sê:

Die lewe lê voor vir wie by die reg bly,
die dood wag vir wie aanhou kwaad doen. (11:19)
Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe
wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. (13:13)

Hierdie siening van die dood deel die Prediker nie, daarom hoor ons hom sê:
In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien:
‘n regverdige gaan onder al doen hy reg,
‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd (7:15)

Omdat die dood nie ontsnap kan word nie en ‘n plek is waar ‘n mens vergeet word en dit leeg en leweloos is, beveel hy vreugde aan: Geniet die lewe met al jou mag, want daar is slegs een lewe.

Nou mag jy dalk vra, nou maar hoe moet ek my lewe geniet as ek weet die dood wag vir my? Hier moet ons insien dat vers 7-10 ’n opdrag van die Prediker is. In hierdie laaste verse gee die Prediker as’t ware ’n opdrag vir die mens oor hoe om die lewe te geniet.

Hy sê: Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly en vrolike hart. Geniet die kos wat jou tafel laat kreun. En onthou: God knik sy kop instemmend. Moenie rouklere dra nie, maar dra wit klere. Wit is die kleur van vrolikheid en vreugde. Gaan na die ontwerpers toe en laat hulle spesiaal vir jou mooi klere maak. Trek dit aan en geniet die lewe. Geniet die lewe met die man of vrou wat jy lief het. In die vreugde van die liefde word die lewe gevier.

Al kom die lewe tot niks, is dit God se geskenk aan jou. Vers 9 sê dat ons moet onthou dat hierdie lewe ‘n geskenk van God is.

Daar is amper ‘n teenstrydigheid by die Prediker. Aan die een kant sê hy die lewe is sinloos, maar aan die ander kant moet ons dit tog ernstig opneem. Eers word gesê alles kom tot niks en dan weer volg die oproep om die lewe te geniet.

Vir die Prediker het die absurde van die lewe in die onbeheerbare dinge gelê. In dinge soos om gebore te word, oorlog, siekte, teleurstelling, rampe en uiteindelik die dood. Hieroor het niemand beheer nie. Elke mens is hieraan uitgelewer. ‘n Goeie lewe kon die teenspoed nie keer nie. Dit is waarom die Prediker keer op keer gesê het dat alles in die lewe tot niks kom.

Elke mens het die een of ander beperking, siekte, ouderdom, ongeluk, geldtekort, die lysie gaan aan, en dit kan alle lewensvreugde demp. Dit kan ‘n mens selfs knak. Maar teen alle hoop in en omring van sinloosheid het die Prediker nogtans nie die lewe prysgegee nie. Hy wil hê dat mense skeppend en opwindend lewe. Hulle moet drome droom en dit najaag. Hulle moet elke nuwe dag gryp en iets daaruit haal. Hulle moet hulle nuwe lewensmoontlikhede ontdek en verwesenlik. Leef voluit en geniet die lewe.

In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ouerword; is daar met die wins ook die verlies; is daar geboorte en ook die uitgerekte sterfbed. Om alles te vererger tref die ellende nie almal gelyk nie.

In wanhoop is daar nog hoop. In klag is daar lof. Al ervaar iemand geweldige laagtepunte, kan hy God nog loof. Gelowiges se lof tydens swaarkry is soms meer eg en dieper as in hulle voorspoed.

By die Prediker is daar ‘n dringendheid. Die lewe gaan gou verby en dit kom gou ‘tot niks’. Vandag is die tyd van liefde en die lewe moet hier en nou geniet word. Gryp die dag en leef! Die Prediker se raad aan ons is: Jy moet lewe, elke sekonde, met oorgawe. Om wys te leef is om alles wat jy doen met oorgawe en geesdrif te doen. Volg hierdie raad.

Ons leer by die Prediker om sin te vind in die alledaagse dinge. As ‘n mens gestroop is, vind jy die sin in die byna vanselfsprekende. TT Cloete het die wyse gedagte in sy gedig Uitgedun verwoord, so ook het Koos du Plessis dit gedoen in ‘n ongetitelde gedig in sy bundel, Om jou verlaas te groet.

TT Cloete skryf:

Ek dank U dat ek Heer
soos van ouds vanoggend weer
my baard mag skeer.
Vroeër was ek gesteld
op geweld
en eer en geld.
Nou is ek goedkoop
gesteld op bloedsomloop
en brood en stroop.

Koos du Plessis dig:

Eenvoud is die vreugde van die lewe:
dis gee en neem net wat daar is;
dis dankbaar eet van elke skewe
snytjie brood wat liefde is.

Emmanuel Levinas sê dat ons die sin van die lewe in die ander vind. Liefde gee sin aan my lewe. Liefde wat sin aan my lewe gee, vra van my aandag vir die ander. Hierdie liefde beteken dat ek myself vir ander oopmaak. As die ander sien en ervaar, sien en ervaar ek dit ook. Vir Levinas is die ander ook ‘n gekwalifiseerde ander: die arme, die vreemdeling, die weeskind. Aan die ander moet ons gasvryheid toon.

Die ontmoeting met die ander is ‘n insny in die daaglikse gang van sake. Hierdeur word die ‘ware self’ wakker geroep. Om mens te wees, beteken om aan verhoudings met ander mense te bou. Die goeie lewe van ‘n mens is ‘n lewe tussen ander mense. Ons sien die plooie van tyd op die ander. Dit wek by ons deernis, vir onsself, en vir die ander. En in hierdie deernis vir die ander vind ons ruimte vir onsself en vir die ander. Dit alles maak die lewe sinvol.

En onthou wat die Prediker sê:

Eet jou brood met vreugde!
Drink jou wyn met ‘n blye gemoed!
Dra wit kleure!
Versorg jou hare met olie!
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet!
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen!

Lap oor kansel, broodplank, brood, wynglas, skink wyn…

Ek eet my brood, ek drink my wyn, ek dra my feestelike klere. Ek geniet die lewe saam met my vrou, ek doen alles wat my hand goed vind om te doen. Maar dit maak my nie gelukkig nie…

Voordat jy nie besef dat soos jy eet en drink jy nie jou eie lewe vier nie. Maar die Een vier wat lewe aan jou gegee het, jy die Een vier wat die graan vir die broodjie laat groei het, jy die Een vier wat die druif vir die wyn laat swel het. Voordat jy nie besef dat jy in jou vrolikheid, in jou liefde, in jou sekuriteit, in jou spaarsamigheid, jou Skepper behoort te vier nie, sal jy nie werklik gelukkig wees nie.

Gryp die lewe! Carpe Diem! Gryp die lewe met al twee hande aan, saam met die Here, want Hy is die een wat die vreugde in jou lewe sit!

Gryp die lewe, saam die Here!

Amen.

Handelinge 1:1-11

Vandag herdenk ons die hemelvaart van Jesus wat ‘n hele paar jaar gelede gebeur het. Lukas vertel vir ons van hierdie gebeurtenis in die brief wat hy aan Teofilus skryf. Waar die Lukas evangelie oor die lewe van Jesus gegaan het, gaan die Handelinge van die apostels oor wat die dissipels nou gaan maak met alles wat hulle by Jesus geleer het.

Vandag se storie speel op die Olyfberg, so kilometer buite Jerusalem af. Jesus se dissipels vra Hom of dit nou die tyd is dat Hy die koninkryk van Israel gaan oprig. Hy antwoord hulle dat dit nie vir hulle is om te weet wanneer die tyd is nie. Wat hulle wel mag weet is dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en dat hulle Sy getuies moet wees. Nie net in Israel nie, maar tot in die uithoeke van die wêreld.

Nadat Hy dit gesê het vaar Hy toe op na die Hemel en die dissipels staar Hom agterna. Hulle kyk en hulle kyk, so soos ‘n groep mense by die see wat kyk hoe die son sak oor die water.

Hoekom staan hulle net daar en kyk hoe Jesus op die wolke verdwyn? Wat dink jy gaan deur hulle koppe terwyl hulle daar staan? Wat dink hulle? Hulle kon dalk gedink het dat Jesus weer, met groter heerlikheid, gaan terug kom uit die wolke soos in Lukas 9:28-36. Dalk was hulle baie hartseer en onseker oor hoe hulle nou op hulle eie moet aangaan? Of was hulle dalk net heeltemal deurmekaar oor wat alles voor hulle afspeel? Een oomblik kry hulle ‘n opdrag om getuies regoor die wêreld te wees en die volgende oomblik verdwyn Jesus, hoe gaan hulle dit sonder Hom regkry?

Vers 10 en 11 verhelder letterlik die dissipels se situasie. Skielik verskyn daar twee engele langs hulle. Die sê toe vir hulle: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk?” Die engele se vraag maak dit duidelik aan die dissipels dat hulle nie met groot oë na die hemel hoef te kyk nie. Hulle hoef nie dat hulle vrese en vraagtekens die oorhand oor hulle kry nie. Die Here het hulle nie bymekaargeroep om almal net die heeltyd daar op een plek te staan nie. In dieselfde asem kan hulle rustig en vol vertroue wees, dat die Here Jesus weer terugkom.

Met hierdie vraag en vertroosting van die engele kom die dissipels in beweging, en hulle begin die een voet voor die ander te sit om by Jerusalem uit te kom, om daar te gaan wag en te volhard in gebed.

Die dissipels het ‘n sekere verwagting gehad van wie Jesus vir Israel sou wees en wat Hy vir Israel sou doen. Hulle het gedink dat Hy die een sou wees wat op ‘n kragtige perd, vanuit die Ooste, die stad sou inry en alle magte sou verower soos Dawid van ouds. Toe gebeur die teendeel, hy kom op ‘n donkie die stad vanaf die Weste kant ingery en word gekruisig soos ‘n misdadiger.

Ons het dalk soms soos die dissipels sekere verwagtinge van wie Jesus is en wat Jesus vir ons behoort te wees. Ons dink dalk aan die Here as ‘n Kersvader wat net lekker en gemaklike dinge vir ons gee. Wanneer ons só dink, moet ons onthou dat Jesus ‘n moeilike opdrag aan sy dissipels gegee het nie. Dat Hy hulle gevra het om hulle lewe op te offer vir Sy Naam. Gemak was verseker nie deel van die pakkie nie.

Verlede week is ek op pad terug huis toe vanaf die skool toe val ek in die middel van ‘n gesprek op RSG in. Hulle is toe besig om oor ‘n kwaliteit lewe te gesels. ‘n Man bel in en vertel dat hy langs die pad vroue, al laggend, gesien hout bymekaar maak het. Seker vir die aand se vuurtjie. Hy wonder toe by homself, wat is beter, is ‘n gemaklike of ‘n gelukkige lewe?

Iets gebeur wat jou destabiliseer, wat jou ontwrig, gaan jy laat dit jou tot stilstand ruk, of gaan jy juis dit gebruik om jou in beweging te bring?

Die kerk leef vandag in die tyd tussen die hemelvaart en die belofte in vers 11 dat Jesus weer gaan terugkom. Dit is ‘n tyd vir die kerk om die opdrag van vers 8 uit te voer: “Om Sy getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Ons leef vandag met hierdie opdrag van God, om Sy getuies te wees orals waar ons gaan. Is ons Sy getuies? Leef ons soos ‘n getuie van Jesus Christus in alles wat ons doen?

Hoe lyk ‘n getuie van Jesus Christus?

‘n Getuie van Christus is iemand wat geregtigheid, justice, regverdigheid vir almal najaag. ‘n Getuie is iemand wat sy of haar vyande lief het. ‘n Getuie is iemand wat omgee vir die op die randte van die samelewing, die uitgeworpenes. ‘n Getuie van Christus is iemand wat nie daardie gewaagde epos aanstuur nie, is iemand wat besigheid op ‘n eerlike manier doen. ‘n Getuie van Jesus Christus is iemand wat alles in sy of haar mag doen om soos Jesus te leef.

Is jy ‘n getuie van Christus wat besig is om die hemel af te bring aarde toe, of staar jy nog na die wolke?

Die versoeking is baie keer daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik gereageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Ek doen dit baie. Ek lees my Bybel en leer by Jesus soos die dissipels, maar wanneer dit by die doen deel kom staan ek stil. Ek wil net nog ‘n bietjie lees en leer voordat ek gaan en doen. Ek wil net ‘n bietjie meer elke maand verdien voordat ek daardie EFT opstel vir my maandelikse dankoffer. Ek wil myself net bietjie meer bekwaam voordat ek op daardie uitreik gaan. Ek wil… Ek wil… Ek wil… Waar is God se wil? Waar is die ruimte vir die Heilige Gees as ek so in beheer wil wees die heeltyd?

Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of eers net daardie laaste dinge klaar te maak nie, maar juis om terug te keer na ons konteks, ons Jerusalem, ons huise, ons werke, ons vriende en ons families, om dáár en verder te gaan vertel van wie die Opgestane Jesus is.

Die troos in dit alles is dat ons dit nie alleen doen nie.

Nadat die engele met die dissipels in vers 11 gepraat het, reageer hulle en gehoorsaam Jesus se opdrag in vers 4, en gaan terug na Jerusalem, gehoorsaam aan die Here.

Ons moet mekaar se engele wees.

Ons moet mekaar herinner om nie net stil te staan en na die hemel te staar nie. Ons moet mekaar in beweging bring om uit te gaan en te vertel van Jesus, by die huis, by die werk, by die braaivleisvuur, oral waar ons gaan. Jesus moet op ons lippe wees.

Ons moet mekaar se engele wees, ons moet mekaar in beweging bring. Saam is ons beter, saam in beweging kan ons ‘n reuse verskil maak.