Handelinge 1:1-11

Vandag herdenk ons die hemelvaart van Jesus wat ‘n hele paar jaar gelede gebeur het. Lukas vertel vir ons van hierdie gebeurtenis in die brief wat hy aan Teofilus skryf. Waar die Lukas evangelie oor die lewe van Jesus gegaan het, gaan die Handelinge van die apostels oor wat die dissipels nou gaan maak met alles wat hulle by Jesus geleer het.

Vandag se storie speel op die Olyfberg, so kilometer buite Jerusalem af. Jesus se dissipels vra Hom of dit nou die tyd is dat Hy die koninkryk van Israel gaan oprig. Hy antwoord hulle dat dit nie vir hulle is om te weet wanneer die tyd is nie. Wat hulle wel mag weet is dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en dat hulle Sy getuies moet wees. Nie net in Israel nie, maar tot in die uithoeke van die wêreld.

Nadat Hy dit gesê het vaar Hy toe op na die Hemel en die dissipels staar Hom agterna. Hulle kyk en hulle kyk, so soos ‘n groep mense by die see wat kyk hoe die son sak oor die water.

Hoekom staan hulle net daar en kyk hoe Jesus op die wolke verdwyn? Wat dink jy gaan deur hulle koppe terwyl hulle daar staan? Wat dink hulle? Hulle kon dalk gedink het dat Jesus weer, met groter heerlikheid, gaan terug kom uit die wolke soos in Lukas 9:28-36. Dalk was hulle baie hartseer en onseker oor hoe hulle nou op hulle eie moet aangaan? Of was hulle dalk net heeltemal deurmekaar oor wat alles voor hulle afspeel? Een oomblik kry hulle ‘n opdrag om getuies regoor die wêreld te wees en die volgende oomblik verdwyn Jesus, hoe gaan hulle dit sonder Hom regkry?

Vers 10 en 11 verhelder letterlik die dissipels se situasie. Skielik verskyn daar twee engele langs hulle. Die sê toe vir hulle: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk?” Die engele se vraag maak dit duidelik aan die dissipels dat hulle nie met groot oë na die hemel hoef te kyk nie. Hulle hoef nie dat hulle vrese en vraagtekens die oorhand oor hulle kry nie. Die Here het hulle nie bymekaargeroep om almal net die heeltyd daar op een plek te staan nie. In dieselfde asem kan hulle rustig en vol vertroue wees, dat die Here Jesus weer terugkom.

Met hierdie vraag en vertroosting van die engele kom die dissipels in beweging, en hulle begin die een voet voor die ander te sit om by Jerusalem uit te kom, om daar te gaan wag en te volhard in gebed.

Die dissipels het ‘n sekere verwagting gehad van wie Jesus vir Israel sou wees en wat Hy vir Israel sou doen. Hulle het gedink dat Hy die een sou wees wat op ‘n kragtige perd, vanuit die Ooste, die stad sou inry en alle magte sou verower soos Dawid van ouds. Toe gebeur die teendeel, hy kom op ‘n donkie die stad vanaf die Weste kant ingery en word gekruisig soos ‘n misdadiger.

Ons het dalk soms soos die dissipels sekere verwagtinge van wie Jesus is en wat Jesus vir ons behoort te wees. Ons dink dalk aan die Here as ‘n Kersvader wat net lekker en gemaklike dinge vir ons gee. Wanneer ons só dink, moet ons onthou dat Jesus ‘n moeilike opdrag aan sy dissipels gegee het nie. Dat Hy hulle gevra het om hulle lewe op te offer vir Sy Naam. Gemak was verseker nie deel van die pakkie nie.

Verlede week is ek op pad terug huis toe vanaf die skool toe val ek in die middel van ‘n gesprek op RSG in. Hulle is toe besig om oor ‘n kwaliteit lewe te gesels. ‘n Man bel in en vertel dat hy langs die pad vroue, al laggend, gesien hout bymekaar maak het. Seker vir die aand se vuurtjie. Hy wonder toe by homself, wat is beter, is ‘n gemaklike of ‘n gelukkige lewe?

Iets gebeur wat jou destabiliseer, wat jou ontwrig, gaan jy laat dit jou tot stilstand ruk, of gaan jy juis dit gebruik om jou in beweging te bring?

Die kerk leef vandag in die tyd tussen die hemelvaart en die belofte in vers 11 dat Jesus weer gaan terugkom. Dit is ‘n tyd vir die kerk om die opdrag van vers 8 uit te voer: “Om Sy getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Ons leef vandag met hierdie opdrag van God, om Sy getuies te wees orals waar ons gaan. Is ons Sy getuies? Leef ons soos ‘n getuie van Jesus Christus in alles wat ons doen?

Hoe lyk ‘n getuie van Jesus Christus?

‘n Getuie van Christus is iemand wat geregtigheid, justice, regverdigheid vir almal najaag. ‘n Getuie is iemand wat sy of haar vyande lief het. ‘n Getuie is iemand wat omgee vir die op die randte van die samelewing, die uitgeworpenes. ‘n Getuie van Christus is iemand wat nie daardie gewaagde epos aanstuur nie, is iemand wat besigheid op ‘n eerlike manier doen. ‘n Getuie van Jesus Christus is iemand wat alles in sy of haar mag doen om soos Jesus te leef.

Is jy ‘n getuie van Christus wat besig is om die hemel af te bring aarde toe, of staar jy nog na die wolke?

Die versoeking is baie keer daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik gereageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Ek doen dit baie. Ek lees my Bybel en leer by Jesus soos die dissipels, maar wanneer dit by die doen deel kom staan ek stil. Ek wil net nog ‘n bietjie lees en leer voordat ek gaan en doen. Ek wil net ‘n bietjie meer elke maand verdien voordat ek daardie EFT opstel vir my maandelikse dankoffer. Ek wil myself net bietjie meer bekwaam voordat ek op daardie uitreik gaan. Ek wil… Ek wil… Ek wil… Waar is God se wil? Waar is die ruimte vir die Heilige Gees as ek so in beheer wil wees die heeltyd?

Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of eers net daardie laaste dinge klaar te maak nie, maar juis om terug te keer na ons konteks, ons Jerusalem, ons huise, ons werke, ons vriende en ons families, om dáár en verder te gaan vertel van wie die Opgestane Jesus is.

Die troos in dit alles is dat ons dit nie alleen doen nie.

Nadat die engele met die dissipels in vers 11 gepraat het, reageer hulle en gehoorsaam Jesus se opdrag in vers 4, en gaan terug na Jerusalem, gehoorsaam aan die Here.

Ons moet mekaar se engele wees.

Ons moet mekaar herinner om nie net stil te staan en na die hemel te staar nie. Ons moet mekaar in beweging bring om uit te gaan en te vertel van Jesus, by die huis, by die werk, by die braaivleisvuur, oral waar ons gaan. Jesus moet op ons lippe wees.

Ons moet mekaar se engele wees, ons moet mekaar in beweging bring. Saam is ons beter, saam in beweging kan ons ‘n reuse verskil maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *