skemerstorieverteller

jy is die ambassadeur van drome
jy trap bospaadjies in my
gedagtes
deur ruig bosse na oop vlaktes
jy weeg jou woorde
dit is gevul met afwagting en misterie
nes die glimmer van die vuurvliegie se stertjie
en soos jy hierdie vuurvliegie loslaat in my vlaktes
droom ek steeds voort, van nuwe stories
wat jy my gaan vertel
van berge, bome, bessies, en besies

-Francois van Dijk

prioriteitswoordsom

‘n Menigte impulse, objekte, en emosies roer tans hier binne my. Soos ek lees van verskillende realiteite wat gevorm word deur jou persepsie van jou identiteit en invloede in daardie realiteit kom daar so dan en wan ‘n kitsboodskap deur wat maak dat my selfoon se middelste blokkie wit flikker, dit trek my aandag af.

En dwing my om my aandag te vestig op die swart lettertjies wat boodskap dra teen die agtergrond van die wit skerm. Eerstens, wie die sender is bepaal hoeveel aandag aan die boodskap geskenk sal word.

Hoe prioritiseer mens oor mense? En op watter gronde? En is dit reg? Veral as gevoelens betrokke is wat moontlik vulkaniese eienskappe dra.

Dit is deesdae vir my moeiliker om te skryf juis vanwee hierdie prioriteitsprobleem wat my in die oë staar, soos wat ek oggend na oggend in die spieel kyk terwyl ek my stoppelbaard verruil vir ‘n illusie van kompleksiteit. Wie? Waar? Wanneer? Hierdie is alles bepalende faktore in die prioriteitswoordsom.

Begeerte speel ook ‘n belangrike rol in hierdie woordsom. Tyd ook. Dalk grotendeels tyd, omdat tyd prioriteite vereis. As aanvaar word dat oomblikke, herinneringe, geskiedenis, nie bepaal word deur tyd nie, maar juis deur dit wat dit is, oomblikke, herinneringe, los van tyd.

So om te ontsnap vanuit die prioriteitsprobleem is dit nie nodig om ‘n woordsom op te los nie, maar eerder nodig om ‘n nuwe realiteit te skep waar tyd nie ‘n bepalende rol speel nie. Tyd is inherent aan priotiteite. Skakel tyd uit, en daar is geen nood vir prioriteite nie.

Maar nou is ek besig om my eie werklikheid te skep, ‘n droomwereld waar dit moontlik is om besluitloos deur die lewe te kan gaan sonder enige perke, want tyd impliseer perke. Dus vir wie tyd nie ‘n beduidende rol speel nie, gaan voort, gaan groot, en wees bly, want selfs die dood het nie ‘n greep op jou nie. Vir jou is geboorte die begin en dood die einde, maar jou timeline op Facebook is nie liniêr nie, maar in ‘n sirkelgang, ‘n labirint wat sirkel vanuit jou diepe wese.

saterdagaandrooiwyn 01

die maan het agter die wolke wegkruipertjie gespeel
die reën het gedrip drip
die windjie het gesny en gesteek
maar, die kameeldoringhoutvuur het geknetter

hakskoene het geklipklop
strikdassies het gepunt gestaan
woorde het gehardloop
bruin, groen, blou oë het geskitter

lekker ruik
lekker proe
lekker loperige
kase op soutbrosbeskuitjies

vlamme het geflikker
proppe was platgetrap
wyn het gevloei
glase het geklingel

daar was gestaan
daar was gesit
daar was gelag
en, daar was gesoen…

– Francois van Dijk