Efesiërs 5:6-20

In hierdie tweede brief van Paulus aan die Efesiërs val die klem op die eenheid van die kerk. In die gedeelte wat ons vandag saamgelees het is Paulus besig om aan die Efesiërs te verduidelik wat die nuwe lewe behels met die doel vir ‘n oproep tot bewapening en oorwinning van die bose magte. Dink maar aan Efesiërs 6 se wapenrusting.

Paulus maak ‘n aantal persoonlike vermanings aan die Efesiërs deur hulle te vertel oor twee belangrike dinge:
• Hy vertel hulle oor die beginsels van die nuwe lewe.
• Hy vertel hulle oor die praktyk van die nuwe lewe.

Vandag gaan ons stilstaan by die praktyk van die nuwe lewe. Hoe die nuwe lewe in Christus prakties gelewe kan word en wat die impak daarvan sal wees.

Alles bou stelselmatig op mekaar. Paulus begin in hoofstuk 5 met die riglyne vir die nuwe lewe en gaan dan verder deur te noem dat ons moet lewe as mense van die lig. Nou hoe lewe ons as mense van die lig?

Hy begin deur in vers 6 te sê: Pasop vir enige praatjies wat jou weg van God neem, pasop vir leë woorde wat jou weglei van God se waarheid. Wanneer ons leë woorde met leë beloftes volg is ons nie op die pad van die Here nie, en gaan ons die straf van die Here op hierdie pad ontmoet.

Nou hoe lyk leë woorde, woorde wat met allerlei onwaarhede mislei? Dit is praatjies wat te goed klink om waar te wees. Die belofte van ‘n multimiljoenrand besigheid binne ‘n jaar, verloor 60 kilogram in 6 weke, of sagter gestel, “werk nog ‘n uur langer, jou gesin sal jou nie mis nie”, “nog net een glasie wyn dan kan jy ry”, of die uitklophou “ons kan nie sonder jou aangaan nie”.

Bly op die pad van die waarheid waarsku Paulus ons. Alles wat goed is vat baie tyd, pasop vir kitsoplossings, kitskos en kitsverhoudings. Die wêreld kan aangaan sonder jou, al wil jy nie so dink nie, dit is die waarheid. Pasop vir jouself! Wie vinnig lewe, gaan vinniger dood. Kom in ritme met God se tyd, sy Woord en sy bepalings vir hierdie wêreld is die wyse weg.

Bly weg van die wat dwaalspore loop en loop die reguit pad. Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Iemand wat dwaal gaan jou by sy of haar afdraaipaadjies intrek en kort voor lank staan jy voor die spieël en wonder hoe het jy hier gekom…

Leef as mense van die lig sê Paulus. Dit is net donker as daar nie lig is nie, daarom moet ons die lig wees sodat daar al minder en minder donkerte sal wees. Die lig simboliseer verligting, bevryding, nuwe lewe en ‘n verhouding met God. Die mooi van dit alles is, is wanneer ons besluit om die nuwe lewe te leef raak ons self lig, ons begin self skyn.
Wanneer ons die vertrek instap vlug die duisternis, want dit kan nie uithou met die lig nie. Die lig is altyd sterker as die donkerte, altyd.

Paulus sê ons moet as mense van die lig gaan leef. Wanneer ons leef as mense van die lig behoort daar uit ons alles wat goed, reg en waar is te kom. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, waar niemand jok om eerste in die ry te staan of om bo op iemand anders te trap om bo uit te kom nie. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, geen valse nuusberigte wat net die een na die ander click najaag om nog ‘n advertensie in jou oë in te forseer.

Lig word gekenmerk deur die vrug wat dit voortbring. Wanneer jy wonder of jy besig is met die regte ding, vra jouself gerus af of dit waarmee jy besig is vir die Here mooi is? Luister na daardie stemmetjie wat so met jou praat! Is jy besig met die regte dinge? Is jou lewe op die regte plek? Sien mense jou as ‘n ligtoring op ‘n rots?

Die lig bring vrug voort, die duisternis bring net onvrugbaarheid. Die duisternis wil wegsteek, toemaak, stilmaak en doodmaak. Moenie saamwerk aan die vrugtelose werke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.

Kom ons praat nie net van die Zondo kommissie nie, maar ook van die stil stil agter die rug van ‘n vriendin praatjies, die wegkyk wanneer daar verkeerd gedoen word, die saampraat om die braaivleisvuur net sodat jy nie te positief is oor die land se toekoms saam met God nie. Wanneer ons stilbly oor die goeie, oor die moontlikhede van die waarheid, dit is dan wanneer die donkerte oor ons toesak. Vir die lig om te skyn moet ons aanhou die skakelaars aansit, die kerse aansteek, en ons woorde gebruik om die lig te laat skyn.

Die werke van die duisternis moet deur die lig van alle kante ontbloot word, sodat dit gesien kan word vir wat dit werklik is. Meestal leuens, sondige dade van ongehoorsame mense wat weier om te lewe volgens die wil van die Here.

“Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood, en Christus sal jou lewe verlig!”

Die nuwe lewe in Jesus Christus is ‘n lewe in die lig.

Steek aan daardie kersie binne jou sodat die donkerte kan vlug.

En kom ons lewe as mense van die lig.

Amen.

Psalm 19:8-12

“Vier jaar lyk dit só by ons. Vier jaar van elke dag voer, stof en droë, dooie bosse. Vier jaar wat jy soggens opstaan en die horison bekyk. Of daar nie dalk, asseblief, net êrens ‘n wolke wil uitsteek wat lyk na reën nie.”

“Vier jaar wat jy elke dag glo hierdie week sal dit reën. Vier jaar wat jy alles doen om nie moedeloos te raak n ie, nie moed op te gee nie, positief te bly en die mooi om jou raak te sien, die mense om jou te help en te bemoedig.”

“Maar nou is ons geliefde Karoo droog, swart en bitter. Die vreugde in die veld en ons harte is min. Die vrees bloei soos botter- en hongerblom in ‘n goeie jaar. Ek kan nie eens onthou wanneer laas ons ‘n paddatjie gesien of gehoor het nie.”

“Here, ons wil so graag weer dans in die reën. Ons wil so graag weer een keer skaap sien met bekke wat groen gevlek is van bosse se vars lote. Ons wil so graag weer onbevange lag en vrolik wees en nie ‘n oproep van die bankbestuurder vrees nie.”

“Ons kén van planne maak en rande rek, van stukkende bakkies spoeg en plak en pleit vir uitstel om ‘n rekening te betaal. Ons kén van spaar en sente omdraai. Ons ken van: Nee, my kind, daar is nie nou geld vir nuwe somersklere nie, al pas laas seisoen s’n lank nie meer. Ons probeer Here, ons probeer.”

“Ons wil so graag ons Vader loof en prys vir goeie reëns. Ons wil so graag ons grond, ons hele bestaan, behou. Ons wil só graag hier bly.”

“Help ons Here, asseblief. Ons wil só graag.”

“Iemand het nou die dag sy maer angorabokke, wat R1000 werd is, vir R30 stuk verkoop. Alles opgepak.”

“Toe ander boere sonpanele en skaap aan ons skenk, het ons aangebly.”

“Tot wanneer weet ons nie. Ons moes seker al lankal handdoek ingegooi het, maar ons wil hier bly en leef. Ons leef vir die Karoo, sy stilte, sy veiligheid, sy landelikheid.”

“Ons bedel nie Here, ons bid.”

“Amen.”

Ek wil vandag ‘n bietjie ernstig raak en julle ‘n paar vrae vra wat tot jou wese gaan binnedring. Maak ‘n nota op jou selfoon, skryf in jou boekie, maar dink hieroor, moet dit nie net laat verbygaan nie…

Wat gee vir jou lewe?
Wat gee vir jou wysheid?
Wat bring vir jou blydskap?
Wat bring vir jou insig?
Wat bring vir jou standvastigheid?
Wat bring vir jou regverdigheid?

Wat is vir jou kosbaarder as goud?
Wat is vir jou soeter as heuning?

Laat jy dat die dinge jou lewe beheer?

(gaan sit, gee tyd vir oordenking)

(lees Psalm 19:8-12)

Die Here se woord is volmaak, dit gee vir jou lewe.
Die Here se onderwysing is betroubaar, dit gee vir jou wysheid.
Die Here se bevele dui die regte koers aan, dit bring vir jou blydskap.
Die Here se gebooie is helder, dit bring vir jou insig.
Die Here se eise is goed, dit bring vir jou standvastigheid.
Die Here se bepalings is reg, dit bring vir jou regverdigheid.

Kosbaarder as goud.
Soeter as heuning.

Laat jy dat die Here jou lewe beheer?

Die karaktereienskappe wat aan die woord gegee word is ook waar vir God. Deur die Psalmdigter se prys vir die woord is hy besig om vir God te prys. God wat Homself aan ons bekend maak in Sy woord. Die woord is die sigbare teken van sy wil in geskiedenis. In die Woord word die wil van God sigbaar gemaak om ons te leer en te red, en daarom is dit die basis van vertroue in God se liefdevolle omgee.

Dawid se persoonlike ervaring het hom geleer om die Woord van God te waardeer as die bron van ‘n ryk lewe: dit gee nuwe lewe aan die siel en wysheid aan die wat verkeerd trap; dit verlustig die hart en verlig die oë; dit het te make met die mees waardevolle eienskap wat ‘n Israeliet geken het, regverdigheid.

Dawid is hier baie bewus van sy eie feilbaarheid, dat hyself maklik in sy ou slegte maniere terugsak; hy is bewus van sy eie swakheid om so maklik in te gee tot versoekings, maar hy is ook bewus van die heilige genade van God wat die krag het om hom van sy sondes te vergewe en hom te weerhou daarvan om weer te sondig. Daarom bid hy vir die sondes wat hy onwetend doen in vers 13.

Meer werd as al die geld, soeter as die helderste heuningkoek, so is die Woord van God.

So indien jy sukkel om werklik te lewe, die woord van die Here is volmaak en het alles wat jy nodig het om te lewe. Dit sal jou die wysheid gee vir daardie moeilike besluit wat jy dalk hierdie week of maand moet neem, of dalk die rustigheid met die wete dat die besluit dalk nie so dringend hoef te gebeur soos wat jy dit vir jouself maak nie. Alles kan so ‘n bietjie wag.

Die woord van die Here dui vir ons die regte koers aan, die koers van blydskap! Kom jy dalk agter dat jy ‘n behoefte na ‘n lekker lag het? Wanneer laas het jy op die gras gesit met ‘n koppie tee en gekyk hoe die wind deur die bome waai? Die woord sal vir jou die pad aanwys om by daardie grasperk uit te kom.

Wanneer laas kon jy op ‘n vriend staatmaak? Wanneer laas het jy jou woord gehou al was jy nie so lus om na daardie partytjie of koffie te gaan na die lang dag wat jy gehad het nie? Ons maak vandag so maklik verskonings, deels omdat dit makliker geraak het om ‘n epos of WhatsApp te stuur sonder dat ons mekaar in die oë kyk, en deel omdat ons nie hou by die eise van die Woord nie. Die Here vra dat ons standvastig sal wees, in woord en daad. Hy belowe om altyd vir ons daar te wees, selfs al maak ons foute, selfs al staan ons nie altyd in sy diens nie, belowe Hy dat Hy altyd sal vas staan vir ons. Ons kan op Hom vertrou, Hy commit tot ons, hy los ons nie die oomblik wanneer daar ‘n beter opsie is nie.

En saam met die alles is sy bepalings regverdig. Elke bepaling, elke opdrag van die Here, presies reg soos dit vir ons elkeen uitgesit is. Soms moeiliker, soms makliker, maar altyd reg. Die Here weet wanneer en waarmee Hy ons met wat moet besig hou. Elkeen van sy bepalings is regverdig. Hoe tree jy regverdig op teenoor jou medemens?

Regverdigheid is nie net om almal dieselfde te behandel nie, maar ook om die een wat sukkel bietjie meer te help as die een wat al die geleenthede reeds het. Regverdig wees, is om die speelveld gelyk te maak. Hoe maak jy die speelveld gelyk vir jou medemens?

As jy jou deur hierdie dinge, die Woord van God, God self, laat lei sal jy besef dat die lewe saam met God baie kosbaarder as goeie bankbalans is en soeter as die helderste heuningkoek.

Wie dit alles onderhou, wie hom en haarself deur die Woord van God, deur God self, laat lei se beloning is groot. Prys die Here.

Amen.

2 Timoteus 3:14-17

Van al Paulus se medewerkers het Timoteus die langste en naaste saam met Paulus geleef, en in ‘n ware sin van die woord ‘n navolger van Paulus geword. Timoteus het begin dink en doen soos wat hy gesien het by Paulus.

Aan hierdie “ware” en “geliefde” kind (soos Paulus Timoteus genoem het) kon hy met ‘n geruste hard die voortsetting van sy eie werk toevertrou. Kan jy jou kind vertrou om in jou voetspore te volg? Wil jy hê jou kinders moet in jou voetspore volg? Ja, Nee, Hoekom? Watter voorbeeld stel jy vir jou kinders?

Timoteus het Paulus gevolg in:
• Leer: hy het die inhoud van Paulus se lewe geken en vir ander ook daarvan vertel.
• Lewenswandel: hy het die evangelie prakties uitgeleef en in alles Paulus se voorbeeld as gestuurde van Christus nagevolg.
• Lewensdoel: hy het dieselfde doel voor oë gehad as Paulus.

Soos Paulus, en ook soos Jesus, het Timoteus met geduld en vriendelikheid teenoor sy medemense opgetree, en in al sy handelinge die stem van die “liefde” vir God en die medemense gehoorsaam.

In Antiogië het die Jode vir Paulus en Barnabas gewelddadig uit die stad verdryf (Hand. 13:50). In Ikonium het die Jode ‘n beweging op tou gesit om die apostels te mishandel en te stenig, daarom moes hulle ook dáár vlug (Hand. 14:5-6). En in Listre is Paulus so met klippe gegooi dat die mense hom vir die dood aangesien het en uit die stad gesleep het (Hand. 14:19).

Op elkeen van hierdie plekke het vervolging en bitter lyding oor hom gekom, maar by elke plek het hy ook die beskerming van God en die wonder van sy redding ervaar. Daarom is hy verseker, en kan Timoteus net so verseker wees, dat God sy getroue dienaar nooit in die steek sal laat nie. Daarom kan hulle sonder vrees die wêreld ingaan met hulle Christus-getuienis.

Timoteus moet volhard op sy lewenspad wat Paulus hom geleer het. Hy kan volhard op sy lewenspad om dat daar vir sy lewe twee onwankelbare stutte is: die evangelie wat hy by Paulus geleer het, en die heilige geskrifte, wat hy van kleins af leer ken het.

Hier kom twee baie belangrike dinge vir ons na vore! Timoteus kan die golwe van die lewe weerstaan omdat iemand vir hom geleer het van Jesus en omdat hy die Bybel ken.

Nou wie het vir Timoteus al hierdie dinge geleer? In 2 Timoteus 1:5 lees ons dat sy ma en sy ouma dit vir hom geleer het, saam met Paulus.

Timoteus se ma en ouma het waarskynlik die grootste rol gespeel in sy geloofslewe! Onder die Jode was dit ‘n vaste reël dat kinders vanaf hulle vyf jaar oud is deur hul pa geleer word om die Bybel te lees. Timoteus se pa was ‘n Griek, daarom het sy ma en ouma hom toe geleer van die Bybel.

Sy ma en ouma! Ouers, Oumas en Oupas, wat leer julle julle kinders ne kleinders van die Bybel? Lees julle nog saam Bybelstories of is dit makliker om Ben Ten, Peppa Pig of Paw Patrol aan te sit? Ken julle kinders vir Abraham, vir Daniël, vir Debora, vir Simson, vir Elie, vir Jeremia, vir Job, vir Johannes, vir Jesus, vir Saggeus, vir Lasarus, Nikodemus, vir Paulus, vir Timoteus?

Wil jy graag hê hulle moet weet van die belangrikheid van familiebande, van dapperheid, van stilte, van wysheid, van beproewing, van liefde, van regverdigheid, van innerlike genesing, van ‘n goeie voorbeeld wees? Ek stel dan voor julle begin hulle aan hierdie karakters voorstel en nie net aan Ben, Peppa en Chase nie.

Die Bybel is vol wysheid en insig vir ‘n goeie lewe, naby aan God. Timoteus het daarvan by sy ma en ouma geleer en later by Paulus. Hy het dit nie by die Sinagoge geleer nie, en jammer om te sê maar die minderheid van julle kinders gaan dit hier by die kerk leer. Julle kinders gaan leer van die lewe by julle! By julle waarmee hulle elke dag saam spandeer, nie net dalk een uur per week nie.

Wat is julle gesin se wedstrydplan? Wat is jou wedstrydplan vir jou lewe?

Twee dinge het Timoteus gedra tot waar ons hom vandag ontmoet het, sy mense en sy kennis van die Bybel. Wat dra jou vandag? Wat is die pilare of tentpenne wat jou lewe staande hou?

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die mens wat in diens van God staan (ons almal behoort in diens van God te staan), volkome voorbereid en toegerus sal wees vir elke goeie werk!