Ek kan nie meer presies onthou die wyn gesmaak het nie, maar ek sou nie n foto geneem het as dit nie lekker was nie. Die Odd Bins reeks is vir my n wonder. Om die nommers te onthou is die kuns. Dit is goeie wyne van bekende plase wat nie genoem wil word nie agv die oortollige voorraad wat hul het. Checkers koop dan die voorraad by hulle oor en plak die Odd Bin etiket daarop. Wen wen wen situasie, vir die keller, vir Checkers en vir my, die verbruiker.
gluhwein

Vrydagaand net voor ‘n tuinkonsert besluit ek om die aand met Gluhwein, eerder as gewone rooiwyn, te geniet. Ek is toe dadelik Woolies toe om ‘n paar bottels daar te gaan koop, maar toe is al die Gluhwein in die hele Bloemfontein uitverkoop, by Preller en die Loch Logan se Woolies. En ‘n koue aand om vuurtjies met sal net beter wees as ek ‘n glas warm wyn in my hand kan vashou.
Ek besluit toe net daar en dan om my eie gluhwein te maak, want so afhanklik kan ek nie van Woolies wees as hulle nie die produkte kan lewer nie. Ek bel toe ‘n vriendin, kry haar resep en koop die bestandele. Vinnig vinnig is ek daar uit met twee bottels wyn, en die nodige bestandele om die wyn ‘n transformasie te laat ondergaan.
Dit was toe eintlik heel eenvoudig om dit self te maak en het selfs beter as Woolies s’n geproe, want ek kon die smaak na my kies en keur manipuleer.
Ok, hier is die bestandele met die resep wat volg; ‘n Bottel rooiwyn, enige rooiwyn sal doen en dit hoef nie baie duur wyn te wees nie. ‘n Pakkie naartjies. Kaneel stokkies. Naaltjies (Cloves). Suiker.
Wat jy doen is jy sit heel eerste ‘n pot op die stoof en draai die plaat sommer na max, tensy jy virewig daar wil staan. Gooi jou bottel wyn in die pot. Rasper ‘n naartjie se skil in die wyn in, en daarna sny jy dieselfde naartjie in skywe op en gooi dit ook in die wyn. Gooi dan twee kaneel stokkies by en so vier na ses naaltjies, na smaak. Om die ergste suur te breek het ek toe ook drie eetlepels suiker by die mengsel gegooi. Dit is alles wat jy gebruik op een bottel wyn. Jy roer dit goed deurmekaar en laat dit warm word tot dit begin borrel, laat dit dan borrel vir so 5minute. Na die 5minute kan jy dit van die plaat afhaal, ‘n sif uithaal en die mengsel daardeur gooi om al die stukkies uit die wyn te haal. Gooi dit dan in ‘n fles en daar het jy jou lekker warm wyn om langs ‘n vuurtjie, kaggel, of sommer terwyl jy ‘n boek lees te geniet.
Jy kan natuurlik meer naartjie skywe ingooi as jy ‘n meer sitrus smaak verlang, ek het gekies om dit redelik neutraal met ‘n effense soet smakie te maak.
So gaan voort en maak jou eie Gluhwein!
suurdeeg broodjie
Vir die eerste keer in my lewe het ek ‘n Vrydag oggend opgestaan met die voorneme om ‘n suurdeeg broodjie te bak. Dit was heeltemal nuut tot my. Ek kon suurdeeg broodjies nog net uit die kombuiste van vriende waardeer. Die broodreuk terwyl dit stadig in die oond bak terwyl mens die huis in stap op ‘n koue nag het my nog elke keer gevang, so warm gevoel wat dit skep. Saam met brood, is ek nog altyd van die oortuiging moet rooiwyn geniet word. ‘n Tradisionele nagmaal in die kleine, vriende om ‘n broodjie met botter, konfyte, kasies, heuning, en rooiwyn.
Ek het die broodjie vanuit ‘n ou resepteboek gebak wat nog in ponde en fahrenheit werk. Geluk met my goeie assistent, Google, kon ek die mates redelik met gemak omskakel. Dit was ‘n basiese resep met niks snaakse dinge bygevoeg of tricks om te doen nie. Wat seker die moeilikste van die hele storie was, was om intuisie te gebruik om te weet wanneer om op te hou knie.
Suurdeeg is ‘n wonderlike medium met soveel veranderlikes wat die smaak en tekstuur van die broodjie sal verander namate dinge vinniger of stadiger gedoen word. En ja, suurdeegbroodjie bak is nie ‘n vinnige ding nie. Dit vat tyd. Jy moet kan wag vir die deeg om te reis, dit af te knie, dit weer te laat reis voordat jy eers aan die oond kan begin dink.
Broodjie bak is ‘n terapeutiese ding, en ‘n broodjie is ook nie ‘n broodjie as dit nie gedeel word nie. So begin ‘n broodjie te bak en voor jy weer sien sit jy met gesellige vriende om ‘n kombuistafel en breek broodjie saam ‘n donker glas rooiwyn.









