gluhwein

Op die stoof

Naartjies, Naaltjies, en Kaneel.
Naartjies, Naaltjies, en Kaneel.

Die eindproduk

 

Vrydagaand net voor ‘n tuinkonsert besluit ek om die aand met Gluhwein, eerder as gewone rooiwyn, te geniet. Ek is toe dadelik Woolies toe om ‘n paar bottels daar te gaan koop, maar toe is al die Gluhwein in die hele Bloemfontein uitverkoop, by Preller en die Loch Logan se Woolies. En ‘n koue aand om vuurtjies met sal net beter wees as ek ‘n glas warm wyn in my hand kan vashou.

Ek besluit toe net daar en dan om my eie gluhwein te maak, want so afhanklik kan ek nie van Woolies wees as hulle nie die produkte kan lewer nie. Ek bel toe ‘n vriendin, kry haar resep en koop die bestandele. Vinnig vinnig is ek daar uit met twee bottels wyn, en die nodige bestandele om die wyn ‘n transformasie te laat ondergaan.

Dit was toe eintlik heel eenvoudig om dit self te maak en het selfs beter as Woolies s’n geproe, want ek kon die smaak na my kies en keur manipuleer.

Ok, hier is die bestandele met die resep wat volg; ‘n Bottel rooiwyn, enige rooiwyn sal doen en dit hoef nie baie duur wyn te wees nie. ‘n Pakkie naartjies. Kaneel stokkies. Naaltjies (Cloves). Suiker.

Wat jy doen is jy sit heel eerste ‘n pot op die stoof en draai die plaat sommer na max, tensy jy virewig daar wil staan. Gooi jou bottel wyn in die pot. Rasper ‘n naartjie se skil in die wyn in, en daarna sny jy dieselfde naartjie in skywe op en gooi dit ook in die wyn. Gooi dan twee kaneel stokkies by en so vier na ses naaltjies, na smaak. Om die ergste suur te breek het ek toe ook drie eetlepels suiker by die mengsel gegooi. Dit is alles wat jy gebruik op een bottel wyn. Jy roer dit goed deurmekaar en laat dit warm word tot dit begin borrel, laat dit dan borrel vir so 5minute. Na die 5minute kan jy dit van die plaat afhaal, ‘n sif uithaal en die mengsel daardeur gooi om al die stukkies uit die wyn te haal. Gooi dit dan in ‘n fles en daar het jy jou lekker warm wyn om langs ‘n vuurtjie, kaggel, of sommer terwyl jy ‘n boek lees te geniet.

Jy kan natuurlik meer naartjie skywe ingooi as jy ‘n meer sitrus smaak verlang, ek het gekies om dit redelik neutraal met ‘n effense soet smakie te maak.

So gaan voort en maak jou eie Gluhwein!