Lukas 2: Almal word getel…

Daar was ‘n man wat wou weet wat ‘n sensus is.

“Hulle tel al die mense.,.” was die antwoord.

“Hoekom?” wou hy verbaas weet, “is daar dan een weg?”

“God,” het Jesus in ‘n gelykenis gesê, “is soos ‘n herder wat sy skape tel. As een weg is, gaan hy dadelik op soek na die verlore skaap tot Hy hom kry. As hy hom kry, is daar ‘n fees.”

Kersfees is die moeder van daardie feeste wat gereeld in die hemel gevier word.

Want Kersfees het ook begin met ‘n tellery.

Maar nou sal iemand dalk lus voel om te protesteer: “Dit is mos nie God wat hier in die teks tel nie! Dit is ‘n heiden. Boonop ‘n heiden wat homself as god laat vereer het. Hy het nie getel om te red nie, hy het getel om wins te maak. Want sy tellery het om belasting gegaan. Omdat hy wou weet hoeveel mense daar is en hulle vir belastingdoeleindes laat opskryf. Byna asof hulle pionne op ‘n skaakbord is, wat maar na sy begeerte heen en weer geskuif kan word.”

Dit is nogal ‘n ervaring wat mense soms het. Baie mense in die wêreld het al deur die eeue die gevoel gehad dat daar oor hulle besluit word, dat die magte wat oor hulle gestel is – ja selfs die demokraties verkose magte – met hulle maak soos hulle luskry. Ons ken daardie gevoel. Ons brom dikwels oor die manier waarop dinge selfs in ons eie land gebeur.

Dit is waar. Maar op ‘n vreemde manier het Augustus se plan om mense te tel en die lastige bepaling dat almal na hulle geboortedorp moet gaan ‘n belofte in vervulling laat gaan wat God al lank te vore gemaak het. As jy so daaroor begin dink, wonder jy skielik wie die pion op die skaakbord is.

Maar God, anders as Augustus of die magte wat deur die eeue heen mense se lewens bederf het, se bedoeling is om mense se lewens te red. Hy wil hulle seën. Dit het hy reeds vir ou Vader Abraham duidelik gemaak.

Dit is om hulle te seën wat Hy sy Seun stuur. Onthou, Christus Jesus word as Verlosser gebore. Hy is besorg oor al die mense wat Augustus wil tel. Hy is besorg oor mense wie se statistiek ons oral in swart en wit in boeke het.

Vir interessantheid,

 

Region

Population

in millions

1990 1995

Affiliated

Christian Percentages

Total Prot Evang

AFRICA 480.8 557.9 48.1 20.2 13.2
ASIA 2,940.3 3,209.3 7.3 3.9 3.1
CARIBBEAN 35.3 37.8 69.2 16.5 11.1
EURASIA 280.6 290.5 45.8 1.1 0.9
EUROPE 507.9 514.8 77.2 18.3 2.8
LATIN AMERICA 412.7 455.8 90.9 12.1 11.1
MIDDLE EAST 330.8 378.1 4.6 0.6 0.4
NORTH AMERICA 276.6 284.8 70.7 40.6 27.9
PACIFIC 26.5 28.4 66.8 37.0 15.8
WORLD 5,291.7 5,757.3 30.1 9.2 5.7

Hierdie statistieke wys vir ons dat daar baie meer aan die gebeur is in die wereld as slegs di twat Christene besig is om te doen. Dit wat ongelowiges, of heidene soos in die Bybelse tyd genoem doen, is ook belangrik vir die wereld geskiedenis. Net so was dit met die sensus van goewerneur Sirenius ook belangrik wat heidene doen. Die Here het keiser Augustus gebruik, wat nie ‘n gelowige was nie, om Sy Godsplan te laat realiseer.

Daarom maak Hy nog steeds soos hy in Josef se dae gemaak het. Josef het eeue van te vore reeds gesien hoe God mense se bose bedoelings kan omdraai in heil vir daardie mense met die verkeerde bedoelings self. Vir die broers wat hom as slaaf verkoop het sê hy: “God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte (Gen 45:8).

Kersfees wil ons daaraan herinner dat God die verlossing van die mens laat gebeur. Kersfees wil ons oë oopmaak sodat ons dieper kyk as die wêreldgebeure. Kersfees wil ons laat verstaan dat die evangelie, die goeie nuus, nooit ‘n verlore saak in die wêreld is nie. Kersfees wil ons laat glo dat die onverstaanbare verloop van die wêreld ‘n dieper geheim het as wat die regeerders met hulle besluite weet.

Daarom kan ons ten spyte van die oorloë en die gerugte van oorloë saam sing aan die lied van die engelekoor: Daarom kan ons weet van mense in wie Hy ‘n welbehae het, al vertel al wat koerant is vir ons hoekom ons hulle as teëstanders moet beskou. Daarom kan ons sing van vrede en God prys.

Maar daarom kan ons ook nie maar net Kersfees vier asof ons eie verlossing en die heil van ons gesin die eindpunt van die evangelie is nie. Ons kan nie feesmaal eet sonder om te wonder oor ons taak ten opsigte van die mense wat nog nooit die liggaam en bloed van Jesus geëet het nie. Daarom kan ons nie vir mekaar duur geskenke koop, terwyl daar mense is wat honger het nie.

Want solank daar skape is wat gevind moet word, rus die Herder nie. Omdat Hy ‘n herder is, roep Hy herders om getuies te wees van sy Seun se evangelie, sy Seun se goeie nuus.

Anders as vandag waar net belangrike presidente en uitgesoekte gaste genooi word na uitsonderlike internasionale geleenthede word herders ook genooi na hierdie besonderse geleentheid van die Kindjie wat gebore is. Onthou, die Groot koning Dawid was ook eers ‘n herder gewees.

Hierdie groepie herders word baie persoonlik genooi na die prag geleentheid toe. Daar verskyn ‘n engel aan hulle om die goeie nuus te bring. Met dit verskyn daar nog ‘n menigte engele, en soos die herders daar staan en die nuus verwerk begin al hierdie menigte engele te sing. Dink net hoe dit moes gewees het, kore op kore engele wat gloei in lig in die hemel aan die sing oor die Kindjie wat pas gebore is en vrede op aarde sal bring vir die mense. Wow!

Die herders maak toe hulle skape in die kraaltjie toe en gaan haastig na Bethlehem om hierdie Jesus Kind te gaan ontmoet waar Hy in die krip le. Met die ster wat die wyse manne roep bo die stal, met die diere teen die een muur kom kniel hulle voor die krippie neer en bring hulle eer aan die Verlosser, pasgebore.

Verwonderd gaan die herders uit die stal, met die prentjie van die engele op die ope velde, hulle gesigte wat blink van die engele se helder glans, die ster bo die stal, en die Kindjie, die beloofde Verlosser wat nederig in die krippie le. Met hierdie wonderlike nuus gaan hulle uit die stal en loof die Here vir die wonderlike daad wat Hy gedoen het. Hulle loof die Here en vertel aan almal van die pasgebore Jesus kind.

En dit is net as herders wat opsoek is na vrede op aarde vir almal, wat ons by die krip kan kom kniel.