Prediker 4: Herman en Maria-Helena

Dominee Jan het beplan om ‘’n paartjie te trou aan die einde van die erediens. Na die dankoffer het Dominee Jan beplan om die paartjie vorentoe te roep vir ‘’n kort huwelik seremonie voor die hele gemeente. Omdat Dominee Jan al redelik oud was, kon Dominee Jan nie die name van die paartjie onthou wie hy nou wou trou nie. Dominee Jan sê toe: “Sal die wat wil trou asseblief vorentoe kom.” Onmiddellik het daar, 9 enkellopende dames, 3 weduwees, 4 wewenaars en 6 enkellopende mans na vore gekom.

Daarmee wil ek graag namens Herman en Maria-Helena, baie welkom sê aan elkeen wat vanmiddag hier saam met ons is om hierdie mooi geleentheid te vier!

Herman, Maria-Helena, ja hierdie is julle dag! Maria-Helena, jy lyk pragtig! Eks seker Herman is baie trots om jou aan sy sy te hê!

Kom ons bid saam.

Kom ons sing nou saam Amazing Grace soos aangedui op julle kaartjie. [staande]

Ek lees vir ons voor uit Prediker 4:9-12.

Die opskrif van hierdie gedeelte sê dadelik vir ons dat twee beter as een vaar. Al lyk hierdie soos algemene kennis vir ons, leef ons eintlik vandag presies die teenoorgestelde.

Ons dink ons kan alles self doen, as ek genoeg geld het, dan doen ek dit self. Ook, ek doen dinge self sodat ek in beheer van dinge kan wees. Ek doen dinge self sodat ek vir almal kan vertel, “kyk wat het ek gedoen…” So hierdie gedeelte is eintlik vandag teen die kultuur, waar al hoe minder mense voor die Here vir mekaar belowe dat hulle saam bymekaar sal staan, in die goeie sowel as die slegte.

Herman en Maria-Helena kon netsowel aangehou saambly het en gewoon aangegaan het met hul lewens, maar hulle het nie. Hulle het juis vandag gekies om voor die Here ‘’n belofte te maak dat hulle vir altyd saam met mekaar sal staan. Deur die goeie tye, sowel as die uitdagende tye.

Hierdie gedeelte begin deur vir ons te sê dat twee beter as as een vaar, en dit is waar. Die volgende sinnetjie sê “hulle inspanning kom tot iets” eintlik sê dit dat twee wat saam werk meer bereik, en dit makliker bereik, as een wat alleen alles moet doen.

Voorbeelde volg dan om vir ons beter te verduidelik hoekom twee beter as een vaar.

As die een val, kan die ander een hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom of haar op te help nie. Hy of sy gaan net daar bly lê waar geval is, seer. Soos die man wat aangeval was op sy donkie op pad na Jerusalem deur rowers ‘’n barmhartige Samaritaan nodig gehad het, so het Herman en Maria-Helena mekaar nodig, so het ons mekaar nodig wanneer die lewe ons omslaan.

As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Rut, die Moabitiese vrou het langs Boas gaan inkruip. Saam het hulle warm geslaap. Saam het hulle ‘’n nuwe lewe geskep en mekaar omhels in vreugde elke dag soos hulle al nader aan mekaar gegroei het soos die jare aangestap het.

Een kan alleen oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. Moses se opdrag om die volk uit Egipte te lei het hom oorweldig, hy het iemand gekort om hom daarmee te help. Toe gee die Here vir hom Josua. Saam was hulle nie oorweldig deur die groot taak om ‘’n nuwe bestaan in ‘’n onbekende land te gaan maak nie.

Nou moet ook onthou word, soos julle seker ook weet, is die meeste van die gedeeltes in die Ou Testament gerig op mense wat op trek is, mense wat heeltyd aan die gang is, mense op reis. Hierdie gedeelte dieselfde, dit is nie ‘n gedeelte vir mense wat stilsit nie, dit is bedoel vir reisgenote.

Ons almal wat vandag hier is weet dat Herman en Maria-Helena besig is om gereed te maak om na Windhoek te verhuis. Dit is ‘’n baie groot stap wat hulle saam neem. Dit is ‘’n stap wat saamgaan met moeilike Visums, police clearance en werkspermitte. Dit is ‘’n gespanne pad wat hulle aanpak.

Maria-Helena, Herman. Vandag wil ek vir julle gerusstel en sê dat in elke angstige situasie is die Here saam met julle. Onthou julle het mekaar om mekaar te ondersteun. Moet nie in die gespanne situasie vir mekaar kwaad raak as iets anders julle ontstel het nie. Dra mekaar se laste. Saam kan julle weerstand bied.

Help mekaar op soos die barmhartige Samaritaan, sonder om iets terug te verwag, gee aan mekaar in oorvloed. Hou mekaar warm en beskerm mekaar teen gevaar soos Boas en Rut saamgeleef het. Bied saam weerstand teen die moeilike wêreld en strewe saam na nuwe hoogtes in onbekende terrein soos Moses en Josua. Die Here was saam met al hierdie mense, so sal Hy ook saam met julle wees, oral waar julle gaan.

In hierdie saam reis is daar geen plek vir selfsugtigheid of selfgerigtheid nie. Werk saam. Wanneer julle saamry moet julle saam na die Kaart kyk, saam die Bybel lees, julle vreugdes en hartseer deel, en ook mekaar waarsku as die een dalk iets of iemand in die pad of agter ‘n bossie sien (soms met ‘’n blou en wit lig op die dak) wat dalk die reis kan belemmer.

Daar gaan vinnige afdraandes op hierdie pad wees, spoedhobbels, kronkelpaaie, ompaaie, stadige bulte, sirkels, reguit paaie, lang paaie, maar onthou deur dit alles, dat julle saam, met God, op pad is die toekoms in. Saam, met God, is julle toekoms.

Daarom, onthou, in die reis wat die lewe is, vaar twee beter as een, saam met God. ‘’n Driedubelle tou breek nie maklik nie.

Herman, as hoof van die huis moet jy vir Maria-Helena beskerm en altyd laat veilig en geliefd voel. Maria-Helena as vrou vir Herman moet jy hom liefhê met jou hele hart, maak julle huis ‘’n sagte omgewing waar julle saam mekaar kan geniet. En saam, moet julle, Herman en Maria-Helena, die Here in dankbaarheid dien.

Van vandag af, eet dus julle brood met vreugde, drink julle wyn met ‘’n blye gemoed, God het lankal reeds goedgekeur wat julle doen. Dra wit klere, geniet die lewe waarin die Here julle vir mekaar gegee het. En onthou, God is met julle waar julle ook al mag gaan.

Amen.

 

Huweliksbevestiging.

Seënbede