saterdaglaatmiddag

Kombuistafel versier met purper doek,

hy soek ‘n plekkie

om sy tupperwarebakkie neer te sit tussen

ou koerante en boeke van die kerk.

 

Hy druk sy vurk in die Tagliatelle.

Bloedrooi draai hy die tamatie bevlekte stringetjies

spiraal om sy vurk,

en hap.

 

Die potplant basilicum gee

geur aan die grondige ervaring

van die renerige

saterdaglaatmiddag.

 

Gebalde kieste staan hy

op en laat sak die arm,

naald val in die

donker are en draai,

 

draai, draai, draai,

verower klank, stilweees

is soms soet

 

Hy kyk op,

die ritme spat

‘n rooi druppel op sy hand, en smeer

dit oor sy lippe.

 

 

– Francois van Dijk.