Die Nihilisme: Die Dramaturgiese Gemeenskap

Die Middeleeuse Gemeenskap

As daar na die middeleeue gekyk word in verhouding met die (post)modernisme, is daar altyd die vraag waar kan dit met mekaar verbind word, ‘n ander belangrike vraag is ook, waar kan dit nie verbind word nie.

Gemeenskap was in die middeleeuse tyd ‘n sentrale en integrale deel van die lewe en die gemeenskap het hulle vertolk as ‘n ontmoeting tussen die immanente syndes en die transendente syn. Drie eienskappe hiervan is belangrik;

1) Gemeenskap was vir die middeleeue ‘n ontologiese saak. Gemeenskap is met ander woorde met die werklikheid geidentifiseer.

2) Gemeenskap was as ‘n hirargiese gemeenskap verstaan, waar die syn altyd voorkeur geniet bo die syndes, die eenheid bo die veelheid.

3) Die hirargiese aard van die gemeenskap moet egter nie met ‘n donker stemming verstaan word nie, daar bestaan steeds die skeppende moontlikheid via dialoog tussen die middeleeue en die dramatologie.

Hoe moeilik dit ookal is om vanuit die modernisme hierdie wederkerige verhouding te verstaan tussen syn en synde as ‘n dankbare verhouding eerder as iets wat met stemming en ressentiment aanskou word, moet daar besef word dat die dramatologie sentraal tot hierdie verhouding staan.

Modernisme en Postmodernisme

Hierbo is dit duidelik dat gemeenskap verstaan word vanuit ‘n dramaturgiese sin, maar wat gebeur nou as die akteurs hulself as outonoom ten opsigte van mekaar begin beskou? Hoe en watter impak het dit op die gemeenskap?

Die modernisme met sy dualistiese aard waar die akteur as outonoom beskou word, sowel as die postmodernisme wat verval in ‘n monisme waar die self en die ander hul selfstandigheid verloor in ‘n indifferensie, toon dat beide (modernisme en postmodernisme) ‘n onvermoe het om aan die gemeenskap te dink as komplekse deelnemende gebeure.

Die modernistiese dualisme slaan om in ‘n postmodernistiese monisme, met dieselfde nihilistiese implikasies vir gemeenskap as waartoe die modernistiese dualisme aanleiding gegee het.