Hierdie teks van Markus 2:1-12 is deel van ‘’n reeks genesings verhale wat voorkom in Markus. Die besetene word in Kapernaum genees van ‘’n onrein gees. Petrus se skoonmoeder word van haar koors genees. Die genesing van ‘’n melaatse man en ook die man met ‘’n gebreklike hand vorm deel van hierdie reeks genesings waarin Jesus die verlamde man genees.
Nadat Jesus ‘’n paar dae in die omgewing rondgegaan het, kom hulle so onopmerklik as moontlik terug na Kapernaum, maar dit duur nie lank nie en ‘’n groot skare vergader rondom die huis van Petrus.
Verbeel jou jy is deel van die skare wat uitvind dat Jesus in jou dorpie is, verbeel jou jy vind vandag uit dat Jesus by Pieter Grobler van Tulip laan 5 bly… Hoe gaan jy optree? Wat gaan jy maak? Gaan jy saam met ander mense buite Pieter se huis saamdrom om te sien hoe Jesus lyk, om te sien hoe hierdie wonderwerker lyk?
Terwyl Jesus besig was om die Woord te verkondig sien die skare toe ‘’n klompie mense aankom; hulle dra iemand, ‘’n verlamde man; daar is vier draers. Soos die mense nader kom word hulle meer en meer opgemerk. Aangesien die mense die ingang tot Petrus se huis toestaan besluit die vier manne om met die buitetrap op na die plat dak te gaan. Hulle is vasbeslote om die man op die draagbaar by Jesus uit te kry. Hulle breek Petrus se huis se dak stukkend, die stof en klei val orals in die huis, maar hulle moet die man by Jesus uitkry. Jesus steur Hom egter nie veel aan al die bourommel wat van bo, op hom en sy dissipels neer reën nie. Hulle wat waag om op die Here te vertrou word nie beskaam nie.
Jesus gaan voort om vir die man op die draagbaar te sê dat sy sondes vergewe is. Hier word nie eksplisiet gesê dat sonde gelyk aan siekte is nie, maar wat hier wel impliseer word, is dat indien jou siel rus vind in die vergifnis van jou sonde, sal jou gesondheidstoestand jou nie kwel nie. Hierdie uitspraak is skokkend vir die vrome Jode, omdat slegs God alleen die mag het om sondes te vergewe, daarby is geen versoeningsoffer deur die draers of die verlamde gemaak nie. Die optrede wek ontevredenheid by die skrifgeleerdes.
Nie almal hou van Jesus nie, vir party is Jesus te radikaal. Jesus vra van sy volgelinge om hulle kruise op te neem. Die koste van dissipelskap moet bereken word. Is ons volgelinge van Jesus? Followers? Of is ons net toeskouers? Fans?
Die skrifgeleerdes het moontlik vir Jesus as radikaal beleef omdat Hy nie ingepas het in hulle denke oor hoe daar opgetree behoort te word nie. Nie net vergewe Hyself iemand nie, maar vra Hy ook nie ‘’n offer inruil vir vergifnis nie. Die skrifgeleerdes was deel van die skare mense wat rondom Petrus se huis gesit en staan het en Jesus se elke beweging dopgehou het.
Wat is die verskil tussen om ‘’n toeskouer van Jesus en om ‘’n volgeling van Jesus te wees? As volgeling van Jesus sou jy waarskynlik intieme kennis van Jesus gehad het deur jou lewende verhouding met Hom en sou jy nie die pad na die huis se deur toegestaan het nie, maar eerder die pad oopgemaak het vir almal om Jesus persoonlik te ontmoet. Wanneer laas het jy iemand gelei om Jesus te ontmoet? Het jy al iemand gelei na Jesus toe? Dieselfde Jesus wat vir hierdie verlamde man, teen die gebruik van die dag gesê het: “Jou sonde is vergewe”.
Die prys om ‘’n volgeling van Jesus te wees is baie meer as die van ‘’n toeskouer. ‘’n Toeskouer gooi so elke nou en dan ‘’n geldjie in die sakkie, ‘’n toeskouer luister so elke nou en dan ‘’n Hillsong liedjie, ‘’n toeskouer is selfs elke aand in gesprek met God voor hy gaan slaap. Maar die prys om ‘’n volgeling van Jesus te wees is soveel meer. Om ‘’n volgeling van Jesus te wees vra alles. Om ‘’n volgeling van Jesus te wees vra ‘’n lewe in verhouding met Jesus, vra ‘’n lewe wat verander en ander verander as gevolg van ‘’n verhouding met Jesus. ‘’n Toeskouer staan die vensters en deure na Jesus toe, geniet dit vir homself, maar ‘’n volgeling sal alles in sy mag doen sodat die een wat nie vir Jesus ken nie Hom ontmoet. ‘’n Volgeling van Jesus sal alles doen om die vensters en deure na Jesus vir die vreemdeling oop te maak.
‘’n Derde perspektief in hierdie verhaal is die van die man op die draagbaar self. Daar is dinge wat ons ook terughou en selfs weerhou van Jesus af. Dinge wat maak dat ons nie Jesus kan volg nie. Dit kan sonde in jou eie lewe wees of die gevolge van ander se sonde teenoor jou. Dit kan ook verskillende omstandighede of ervarings wees. Hierdie alles kan ons na Jesus toe bring. Soms het ons nodig om mense te vergewe vir die dinge wat hulle aan ons gedoen het. En soms het ons nodig om ander vir vergifnis te vra vir wat ons aan hulle gedoen het…
‘’n Laaste paar skoene waarin ons onsself kan sit, nadat ons in die skoene van die skare, die skrifgeleerdes en die verlamde was, is die skoene van een van die vier vriende wat die verlamde na Jesus bring.
Vir jou kan vandag gevra word, watter dinge lê by jou voete? Wat of wie sal jy vandag na Jesus toe wou dra? Jy weet van die dinge in jou lewe, in jou gesin, in daardie hoekie wat niemand van weet nie, wat genesing kort…
Dit is vier perspektiewe in een storie.
Waar staan jy vandag? Is jy, ‘’n toeskouer in die skare, ‘’n skrifgeleerde wat Jesus se optrede te vreemd vir die werklikheid vind, ‘’n verlamde wie se sonde maak dat hy nie kan beweeg nie, of is jy die persoon wie sy vriend na Jesus se voete bring?
In vers 10 praat Jesus met die skrifgeleerdes, maar Hy praat ook so dat almal daar kan hoor en sien. Hy sê: “Ek gaan nou vir julle die bewys dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Die man het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys, so iets het hulle nog nooit gesien nie.
Wat my weer en weer opval van die misterie van God en sy liefde is dat hierdie man op die draagbaar se sonde nie vergewe was omdat hy om vergifnis gevra het nie, of omdat sy geloof so sterk of groot was nie. Nee, die man op die draagbaar kon netsowel die stomme in plaas van die die verlamde man gewees het, want in hierdie storie praat die man op die draagbaar nie een keer nie. Hy praat nie.
Wat nog meer is, is dat sy vriende of die mense wat hom deur die dak laat sak ook nie praat nie, hulle is stil. Hulle vertel nie vir Jesus van al die mooi en goeie dinge wat hulle van Hom en van Sy koninkryk weet nie. Hulle bewys nie hulle geloof deur te spog oor al die goeie dade wat hulle doen nie. Hulle laat eenvoudig net hulle vriend by Jesus uitkom. Dit is genoeg.
Hulle het waarskynlik gevoel soos ek en jy baie dae voel, deur nie te weet wat om in elke situasie te sê nie. Maar dit het nie gemaak dat hulle nie hulle vriend na Jesus toe vat nie. Dit het nie gemaak dat hulle by die huis bly nie. Nee, al het hulle moontlik nie geweet wat om te sê nie het hulle geloof hulle gedwing, om maak nie saak wat nie, hulle vriend by Jesus uit te bring.
Hulle het niks gesê nie, die man op die draagbaar het niks gesê nie. Jesus is die eerste een wat praat in hierdie verhaal. Jesus is die een wat in ons stiltes begin praat. Jesus sal so ook die een wees wat in jou vriende se stiltes begin praat. Stiltes wat net stiller en stiller raak soos hulle lammer en lammer raak. Stiltes wat later deel van jou vriende se lewe raak soos die verlammende las deel van hulle lewe geraak het.
Mag jy dan die moed bymekaarskraap om in geloof die stil pad saam met jou lam vriend te stap en stil-stil jou vriend voor Jesus se voete te kom neerlê. Hy het volmag om alle sondes te vergewe. Julle hoef nie te praat nie. Jesus Christus ons Verlosser sal jou vrymaak van jou sonde. Hy sal jou en jou vriende genees.
Mag jy opstaan, jou draagbaar vat en jou vriende gaan soek en hulle na Jesus se voete toe bring!
Amen.