Markus 13:31-33

Terwyl Jesus op aarde was, het Hy met ‘n verskeidenheid mense oor geloof gepraat. Jesus het in die alledaagse dinge van die lewe ‘n aanknopingspunt gevind of ‘n waarheid met ‘n alledaagse item (soos sout, visvang of skape) en in vanoggend se geval mosterdsaad en suurdeeg en dit vergelyk met die lewe. Deur ‘n gelykenis te vertel of ‘n metafoor te gebruik het Jesus ruimte geskep dat die wat na Hom geluister het self oor die betekenis van die gelykenis of metafoor kon nadink en so by die gesprek ingetrek word.

Die gelykenis van die mosterdsaadjie en die suurdeeg is ‘n voorbeeld van hoe Jesus twee dinge wat vir die mense baie bekend was, gebruik het om vir hulle iets meer van God se koninkryk te vertel.

Albei hierdie vergelykings was verrassend, want die koninkryk werk anders as wat die mense verwag het. Die mense van Jesus se tyd het gedink die koninkryk van God sal met magsvertoon aanbreek. Die mosterdsaadjie is egter klein en nederig en groei mettertyd. Mense het gedink die koninkryk sal met ‘n groot skouspel aanbreek, maar die suurdeeg se invloed is onsigbaar hoewel kragtig.

Dit is hier ook duidelik dat Jesus ‘n skerp sin vir humor gehad het. Hy spot hier waarskynlik met Esegiël wat die koninkryk van God vergelyk het met ‘n magtige sederhout boom. Daar staan in Esegiël 17:23 “Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal ‘n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak.”

En hier kom vergelyk Jesus die koninkryk van die hemel met ‘n klein bossie-agtige mosterd plantjie. Glad nie wat hulle verwag het nie. Maar die mosterd bossie byt vas, hy word nie uitgeroei nie. Dit is soos onkruid onder plaveisel, eendag is eendag dan kraak die plaveisel en die plantjie steek sy kop uit.

Die Here se manier is stil, klein, stadig en nederig, tog aanhoudend sonder opgee. Die Here gee nie op nie.

As ons na die suurdeeg kyk mag dit dalk party dae lyk asof daar niks aangaan nie, maar stadig maar seker begin die hele spul deeg vol borreltjies te raak wat wys dat daar dinge aan die gang is wat ons nie altyd raaksien nie.

Die koninkryk van God is ‘n realiteit! Die vraag is waarna kyk ons? Soek ons magtige seders of soek ons die klein mosterd bossies wat nie laat los nie? Soek ons kits winkelbrood of gaan ons geduldig wag vir die stadige goed deursuurde regte egte varsgebakte tuisgemaakte brood?

Die skare soek gewoonlik vir tekens van mag en glorie en sien dan nie raak dat dit wat reeds binne-in hulle elkeen is nie, dat die eintlike mag en glorie nie van hierdie wêreld is nie.

Jesus roep ons elkeen om soos die koring te sterf aan onsself, sodat ons fyngemaal kan word, met water gemeng kan word en stadig kan gis sodat ons later heerlike brode kan wees. Maar as ons nie in onsself gaan sterf nie, gaan daar geen brood wees nie.

Oorweeg dit om hierdie week ‘n tydjie opsy te sit om na te dink oor elkeen van hierdie wonderlike beelde. Dink dan daarom om dalk jou eie gelykenis te skryf. Hoe jy dalk die sin sal voltooi: “Die koninkryk van die hemel is soos…”