Hier volg die verhaal van Susan Smit.
Susan Smit was ‘’n vooruitstrewende professionele jong dame in ‘’n welgestelde voorstedelike woonbuurt van haar stad. Susan was deel van ‘’n gesin van vier, dit was sy, haar man Johan en twee seuntjies, Shaun en Johan junior. Saam was hulle… Susan het gestrewe na meer, sy wou net die beste vir hulle gesin gehad het en so het sy onsedelike, onreine, wellustige, slegte en gierige planne begin beraam oor hoe hulle by die huis kan aanbou, en op daardie oorsese vakansie kan gaan.
Susan het elke aand voor sy gaan slaap haar twee seuntjies, Shaun en Johan junior in die bed gaan sit, haar man Johan ‘’n soentjie gegee en op haar sy gedraai. Voor sy haar oë toemaak om te slaap, in die hoek van haar oog, op haar bedkassie, mooi bo-op die stapeltjie het haar Bybel gelê en met verlange terug na haar gestaar.
Die volgende oggend vroeg het Susan reeds teen half-ses van die vorige aand se kontak met haar Bybel vergeet. Sy gooi haar voete uit haar bed, drink ‘’n slukkie water soos sy op die rand van haar bed sit en in haar gedagtes deur alles gaan wat die dag moet gebeur. Sy sit die glas langs haar verlangende Bybel neer. Sy kyk, maar gaan aan deur die stort te krane oop te draai.
[lees Kolossense 3:5b-6]
Dit is nou ses-uur. Susan kom uit die badkamer, warm en wakker van haar stort se luukse masseer funksie, sy verdien dit. Sy swaai haar instap klerekas se deure oop, haal haar nuwe swart snyerspakkie uit om aan te trek.
[trek swart kleed aan]
Vandag is ‘’n belangrike dag. Vandag beklink sy daardie belangrike transaksie waaraan sy al maande werk. Soos gewoonte sit sy haar grimering aan, vandag ‘’n donkerder skakering maskara, “hulle moet my ernstig opneem” dink sy by haarself. Sy klim in haar swart hoë hakskoene en stap, klak-klak klak-klak op die blink teëlvloer af in die gang.
In die kombuis is manlief reeds besig om die seuns gereed te kry vir skool. Hulle is tog so kostelik. Sy dink by haarself “as sy nou hierdie transaksie kan beklink sal hulle ‘’n inslaap bediende kan bekostig, dan sal die kombuis sommer vinnig silwerskoon wees”. Sy sit haar travelmug onder die spuite van hulle duur Delongi koffiemasjien terwyl sy ‘’n piesang in haar handsak sit vir by die werk. Geen suiker, swart. Sy sit die proppie op en daar gaan sy. Sy groet vir Johan, Shaun en Johan junior so in die gang af net voor sy by die voordeur uitstap.
Met die druk van ‘’n knoppie gaan haar motorhuis deur oop. Dokumente waaraan sy die vorige aand gewerk het onder haar linker arm, handsak in hand en ‘geen suiker, swart koffie’ in haar travelmug in haar regterhand. Soos sy nader aan die motor kom sluit die Swart BMW self oop. Sy klim in, eerste sit sy haar koffie in sy gaatjie, handsak op die grond en dokumente op die passasiersitplek. Met die druk van nog ‘’n knoppie skakel die motor aan. Uit by die garage, op in die straat, vinnig, vandag is ‘’n belangrike dag. Vandag beklink sy daardie belangrike transaksie.
[lees Kolossense 3:7-9a]
Susan parkeer in die kelder van die gebou, op met die huisbak en soos die deure oopmaak groet sy haar kollegas. Hulle begin sommer dadelik gesels oor die risiko’s van die transaksie en hoe dit stilgehou moet word. Niemand mag weet van daardie omgewingstudie nie. Bo in die gebou se konferensie kamer ontmoet sy die beleggers. Sy trek haarself regop en stel haarself as Susan Smith voor. Sy vertel hulle van al die ekonomiese voordele wat hierdie projek vir hulle inhou sou hulle vandag die kontrak teken.
Susan Smith vertel vir hulle van hoe gesog die stukkie grond is en van die laaste wat nog vir besigheid gesoneer is. Dit is dus ‘’n spreekwoordelike goudmyn vir enige belegger. Wat sy hulle nie vertel nie, is dat die omgewingstudie wat hulle self gedoen het bepaal het dat daar ondergrondse ongeruimdhede is wat enige bouwerk in gevaar sou stel. Susan vermy daardie onderwerp en vertel net van al die moontlike geleenthede, asof sy niks weet van enige omgewingstudie nie.
Die beleggers is beïndruk deur Susan Smith. Hulle is so beïndruk dat hulle haar ‘’n dag uitstel vra sodat hulle die kontrak kan wysig en ‘’n ekstra kontrak byvoeg. Saam met die grond wat hulle wil koop, wil hulle ook vir Susan aanstel as hulle hoof van internasionale verhoudinge.
Die aand laat kom Susan tuis. Dit reën buite. Johan is reeds besig om die seuns in die bed te sit. Hulle het tamatiebredie vir aandete gehad. Haar bord is koud in die yskas. Soos sy haar bord tamatiebredie in die mikrogolf sit, staar sy net daarna terwyl dit in die rondte draai en draai en draai. Sy dink, met die nuwe werksaanbod kan hulle nou aanbou en oorsee met vakansie gaan. Maar ook is die werksaanbod gegrond op onvolledige inligting. Sy het nie die volle waarheid aan die beleggers vertel nie. Sy het waardevolle inligting wetend weerhou. Sy dink weer aan daardie wit strande, die son op haar bene, die binnebraai wat Johan so graag wil hê.
Sy is moeg. Sy dra swaer. Net daar in die kombuis skop sy haar swart hakskoene uit. Die mikrogolf ping. Warm tamatiebredie wat Johan spesiaal vir haar gemaak het. By die kombuistafel kom sit Johan by haar.
Hulle gesels.
In vers 5 lys Paulus ‘’n reeks sondes wat ongehoorsaamheid aan God wys. Paulus sê vir ons in vers 6 dat as ‘’n gelowige se lewe die genoemde sondes vertoon, soos Susan se lewe vertoon, leef ‘’n mens soos die kinders van die ongehoorsaamheid wat God se gesag en wil verwerp.
In vers 8 is daar egter ‘’n draai in die storie. Die woorde “maar nou” waarmee vers 8 begin, dui op ‘’n nuwe lewenswandel wat teenoor die oue gestel word. En die woord wat vir “laat staan” in die Grieks gebruik word, dui op dinge wat soos klere uitgetrek kan word.
Susan dra swaar aan haar “klere” die gewig van haar werk lê swaar op haar skouers en maak dat sy haarself en baie ander dinge moet prysgee sodat sy rykdom kan ervaar. Susan is bereid om vroeg op te staan, Susan is bereid om min tyd saam haar seuns te spandeer, Susan is bereid om inligting te verduister, Susan is bereid om bed-toe-gaan-tyd by die huis aan te kom, of is sy?
In vers 10 gaan Paulus verder en sê: “…en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” Die Griekse woord wat vir nuwe gebruik word, is gewoonlik ‘’n tydsaanduiding, maar hier het dit ook ‘’n kwalitatiewe inhoud. Hierdie vernuwe is nodig om weer ‘’n ware beelddraer van God te wees.
Van die nuwe lewenswyse sê Paulus: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.” Tussen gelowiges is daar ‘’n gemeenskap waar mense nie geskei word deur die skeidinge wat in die wêreld geld nie. Deur die geloof in Christus is die gelowiges saamgebind tot ‘’n eenheid wat die wêreld se onderskeidinge en skeidinge oorbrug.
In die nuwe lewe maak dinge van die ou lewe nie meer saak nie. Die nuwe lewe het ‘’n anderste waardestelsel as die oue. Nuwe waardes definieer nuwe mense.
Hoe die nuwe mens moet optree word in vers 12 beskryf: “…daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle ook mekaar vergewe.”
Hierdie is die eienskappe wat elke gelowige moet toon. As beelddraers van God moet ons gekenmerk word aan Goddelike eienskappe. As beelddraers van God sal ons ‘’n Goddelike lewe lei, ‘’n lewe sonder die laste van ‘’n lewe geskei van God.
Susan en Johan het om die kombuistafel gesels terwyl Susan vir Johan alles vertel het van wat by haar werk aan die gang is. Hoe sy graag soveel meer vir hulle wil hê. Van haar drome om aan te bou by die huis, van haar vakansie drome… Hoe sy nie alles vir die ontwikkelaars vertel het nie. En hoe sy moontlik ‘’n dissiplinêre verhoor daaroor gaan kry indien haar baas daarvan sou uitvind. Sy het hom alles vertel.
Sy het haar bord mes en vurk, in die wasbak gesit en saam met Johan, op haar sykouse in die gang afgestap.
Haar grimering afgewas en moeg in die spieël gekyk en gedink, “Susan, wie is jy?”.
In die bed geklim en vir Johan ‘’n piksoentjie gegee en op haar sy gedraai, weer in die hoek van haar oog, op haar bedkassie het haar Bybel met verlange terug na haar gekyk.
[trek swart kleed uit]
Die volgende môre toe haar wekker 05:30 afgaan en sy ‘’n slukkie water neem, kyk sy weer na haar bedkassie. Haar Bybel kyk terug met verlange. Sy sit haar glas neer, maak haar Bybel oop en lees Kolossense 3:5-17.
[lees Kolossense 3:5-17]
Saggies, met ‘’n ligte hart, sit sy haar Bybel terug op haar bedkassie. Sy gaan sit langs haar man, terwyl die helder sonstrale die kamer begin vul, en sê sy is jammer oor dit wat sy verkeerd gedoen het. Sy gaan vandag nuut begin. Kaalvoet stap Susan en gaan staan in die stort, draai die krane oop, gereed om koel skoon gewas te word…
[trek wit kleed aan]
Nadat sy ligte grimering aangesit het haal sy ‘’n spierwit rok uit haar kas, vandag leef sy nuut. Vandag is ‘’n belangrike dag. Vandag moet sy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Vandag moet sy geduldig met haar kollegas wees, vandag hoop sy haar kollegas kan haar vergewe vir wat sy publiek gaan maak.
Vandag gooi Susan alle laste af en begin lig te lewe, in die lig.
Vandag begin Susan ‘’n nuwe lewe, ‘’n nuwe lewe saam met die Here en ‘’n nuwe lewe saam met Johan en haar seuns.
As jou wekker môreoggend 06:00 afgaan, hoe gaan jy lewe?
Amen.