‘n Moontlike NGK perspektief op Clem Sunter se vlaggies

Clem Sunter lig ‘n paar belangrike vlaggies uit om dop te hou vir die toekoms waaronder die volgende voorkom:

  1. Die Religie vlag: Dat die religieuse oorloë tussen Saudi Arabië en Iran dopgehou moet word.
  2. Die Rooi vlag: Dat lande soos Rusland, Sjiena en Noord Korea dopgehou moet word vir moontlike kommunistiese bewegings.
  3. Die Grys vlag: Dat lande soos Japan, die Verenigde Koninkryk en Sjiena dopgehou moet word vir hulle ouer wordende gemeenskap.
  4. Die Bewolkte vlag: Dat anti-establishment sentimente dopgehou moet word as gevolg van stygende ongelykhede in die samelewing.
  5. Die Groen vlag: Dat ekologiese kwessies aan die toeneem is en dopgehou moet word.
  6. Die Pandemie vlag: Dat hierdie vlag se scenario nou aan die uitspeel is met die COVID-19 virus.

Ek het gewonder wat sal gebeur as ons kortliks na hierdie 6 vlaggies kyk vanuit die perspektief van die NGK. Hoe sal die NGK reageer op hierdie vlaggies?

  1. Die Religie vlag: Religie in Suid-Afrika raak al meer pluralisties. Terwyl Suid-Afrika steeds statisties ‘n Christelike land is met 79.8% (2001, statistieke Suid-Afrika) van die bevolking wat meld dat hulle Christene is, wonder ek of hierdie die praktieserende geval is? Met sosiale media wat ‘n al groter rol speel in die gedagtegang van jongmense wonder ek regtig hoeveel Suid-Afrikaanse burger leef steeds Christelik en vertel ander mense van hulle Christelike oortuiging.
  2. Die Rooi vlag: Met Suid-Afrika wat besig is om hegter bande te smee met veral lande soos Sjiena en Rusland is die vraag daar oor wat die langtermyn gevolge daarvan gaan wees op die toekoms van die religie in die land.
  3. Die Grys vlag: Hierdie vlag is veral ‘n vlag om dop te hou in die NGK omdat ‘n beduidende deel van die NGK se lidmate bo 65jaar is. En wat hierdie vlag nog belangriker maak om dop te hou is dat hierdie ouderdomsgroep van die NGK se lidmate tradisioneel ook die gedeelte is wat getrou bydraes maak aan die sisteem. Jonger mense en NGK lidmate gee eerder hulle tyd en geld aan kleiner organisasies waar hulle die verskil kan sien en in kan deel as om ‘n dankoffer in ‘n groot put te gooi waaroor hulle nie eintlik ‘n sê het nie.
  4. Die Bewolkte vlag: Hierdie vlag is ook ‘n belangrike vlag om dop te hou in die lig van die reuse ongelykheid in die land. Waar gaan die NGK haar stem laat hoor en deelneem aan die regstellende aksie? Veral gegewe dat die NGK ‘n bydrae in die verlede gemaak het tot die ongelykhede van die land?
  5. Die Groen vlag: Ek vermoed ‘n groot deel van die ekonomie gaan onder die groen vlag staan in die toekoms. Hier kan die NGK nie net al haar geboue en bates ekologies bestuur nie, maar ook aktief ‘n ekologiese bewussyn kweek onder mense om in harmonie met die ekologie te leef.
  6. Die Pandemie vlag: Die COVID-19 pandemie het ‘n groot impak op die gesondheid van die NGK. Dit plaas ‘n vergrootglas op alle werksaamhede van die kerk. As daar nie goeie verhoudings was voor die pandemie is daardie verhoudings nou nog broser, waar sterk verhoudings gebou was, dra dit nou by tot sterker samewerking.

Ek plaas hierdie woorde vir myself om op ‘n gereelde basis terug te kom na hierdie vlaggies en dit te herbedink soos die omstandighede verander.