Jakobus 4: Die eie ek, of ons?

In die film “The Devils Advocate” waarin Charlize Theron en Keanu Reeves die hoofrolle speel saam met Al Pacino speel die werklikheid van ons alledaagse lewe af. Kevin Lomax is ‘n jong opkomende prokureur wat nog nie een hofsaak verloor het nie. Hy word ‘n pos by ‘n groot en belangrike firma in die stad aangebied. Voordat hy die pos aanvaar vlieg die firma vir hom en sy vrou na die stad om te kom kyk na al die byvoordele wat hulle sal geniet mits Kevin die aanbod aanvaar.

 

‘n Luukse dubbelverdieping huis met ‘n Noord aansig in ‘n gegoede woonbuurt. Die helder sonlig stroom by die groot oopskuif vensters in terwyl hulle van die een na die ander kamer stap en verwonderd is. Van die beste skole is stapafstand van die huis. Behalwe die huis, die skole en ‘n reuse tjek elke maand gaan hulle in gegoede kringe beweeg, wat luukse partytjies verseker.

 

Hy het nog een saak om af te handel in die kleindorpie voordat hy die nuwe pos kan aanvaar in die stad. Terwyl hy homself verfris in die hof se badkamer terwyl die sitting pouse hou speel hierdie prentjies van die aanbod deur sy kop…

 

Jakobus vra waar kom stryd vandaan, waar kom die rusies onder mense vandaan?

 

En dan lig hy ‘n interessante punt uit, hy wonder of rusie, baklei en stry nie dalk uit selfsugtige begeertes vanuit onsself ontstaan nie?

 

Waar dink julle kom rusie, baklei en stry vandaan? Wanneer jy dit begin, is dit nie meestal omdat jy nie bereid is om die mindere te wees nie? Om nie geduldig te wag nie? Om nie ‘n kans te gee nie? Of wanneer jy aan die ontvang kant van rusie, stry en baklei is, het daardie persoon regtig opgetree soos wat Jesus sou optree?

 

Dinge soos die spoedgrens, soos oneerlike staatsamptenare, soos boemelaars, en nog meer is dinge wat ons gedurig in ons binneste ontstel. Want hierdie dinge keer soms dat ons nie ons eie begeertes, ons eie selfsugtige begeertes kan bevredig nie. Watter selfsugtige begeertes het jy? Dalk met ander woorde, wat begeer jy wat nie met ander mense wil deel nie? Of nog sagter gestel, wat het jy wat jy nie wil deel nie? Dít staan tussen jou en God.

Wat my ontstel is dat ons vandag al meer en meer in ‘n samelewing van “name-it-and-claim-it” leef. Bid en vra vir wat jy nodig het en die Here sal dit vir jou gee.

 

Jakobus en ek sê NEE!

 

As jy dink dat die Here ‘n feetjie of ‘n Genie is wat jou elke wens sal bewaarheid maak jy ‘n groot fout! Die Here God almagtig is dit nie!

 

Ja, bid, maar bid vir Sy wil, nie joune nie. Jou wil is gemaklik, Sy wil mag jou dalk juis ongemaklik maak. Jou wil vra na daardie nuwe bakkie, Sy wil vra dat jy jou bure moet help met hulle kinders se skoolfonds. Watter een van die twee sê “myne” en watter een sê “saam is ons beter”.

 

Julle kry nie wat julle begeer nie, want wat julle begeer is nie wat God wil nie. Daarom al vra julle hoe hard, al soek julle hoe ver, en al klop julle duike in die deur sal daar nie oopgemaak word nie. Want julle vra die verkeerde dinge, soek op die verkeerde plekke en klop aan die verkeerde deure. Daar waar die Here is sal daar wel geantwoord, gevind, en oopgemaak word.

 

Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God, so waar staan jy? Wie is jou vriende? Is jou DSTV aftrekking groter as jou maandelikse bydrae tot jou gemeente of gemeenskap?

 

Vriendskap is ‘n resultaat van ‘n doelbewuste keuse! Met wie kies jy om vriende te wees? Hy wat ‘n vriend van die wêreld is raak ‘n vyand van God, nie omdat God hom haat nie, maar omdat hy met wil, doelbewus, teen God, die wêreld as vriend kies.

 

Ons sal uitgeken word aan ons vriende…

 

Die genade van God is egter steeds groter en sterker as ‘n wêreldse gees. God gee sy genade aan die nederiges, terwyl hy die weerstaan wat in trots of hoogmoed teen Hom opstaan. Vir Jakobus is dit duidelik dat die lewe gaan om die stryd tussen die goeie en die slegte, waar ons wat kies is egter in ons hande.

Hier word aan ons die goeie en die slegte blootgelê. Die slegte is ‘n lewe in opstand teen God, waar ons graag ons eie selfsugtige begeertes najaag en sukkel om dit te verwesenlik omdat ons alleen daardie rotresies hardloop. Die goeie is ‘n lewe van onderwerping aan God se wil, waar ons die wil van die Here nastreef in alles wat ons doen en bid. Hierdie tweede lewe, die goeie lewe, kom ook gemakliker na vore die oomblik wanneer ons besef en besluit dat ons nie meer in beheer van alles hoef te wees nie, maar dat God ‘n beter bestuurder van ons lewe is as onsself.

 

Die Jode het ‘n spreekwoord wat sê dat God nie in dieselfde wêreld as die trotse en arrogante kan leef nie. Hierdie spreekwoord, in die lig van vandag se teks hou ‘n belofte en ‘n waarskuwing in.

 

In vers 7 word daar van “onderwerping” gepraat. Onderwerping word gewoonlik gebruik ivm menslike gesag, jy sal jou onderwerp aan die landswette. Maar hier word dit gebruik itv God. Dat totale nederige onderwerping aan God, gemodelleer op die voorbeeld van Jesus Christus, belangrik is.

 

Trots staan in die pad van onderwerping. Beheer staan in die pad van onderwerping. Die eie ek staan in die pad van onderwerping. ‘n Trotse Christen is vir die duiwel baie meer bruikbaar as ‘n ateïs. Die trotse Christen het ‘n innerlike geveg aan die gang tussen homself, die wêreld en God. Die innerlike geveg is die moeilike geveg. Die geveg tussen wie is in beheer in jou binneste: weet jy die beste of weet God beter as jy? Om jou eie begeertes te oorkom en jouself te onderwerp aan God is die sleutel tot die goeie en gelukkige lewe.

 

Vers 8 is ‘n pragtige vers wat ek dink almal in hulle Bybels moet onderstreep. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Pragtige woorde wat soveel belofte en seën inhou. Die was van hande en reinig van harte het te make met die dinge wat ons doen (hande) en dink (harte), dit moet skoongemaak word in die nader tot God. Verootmoediging, of, jammer sê vir ons eie opstandigheid en trots, is die eerste stap tot God. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

 

Vers 10 herhaal hierdie gedagte: Onderwerp jule in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Rusie, stry en baklei se oorsprong is in onsself. Wanneer ons agterkom dat ons onrustig is oor iets of iemand moet ons onsself afvra of ons na ons eie wil soek, of na die Here sin.

 

Liefde vir die wêreld staan in opposisie teenoor liefde vir God. Jy kan nie vir al twee gelyktydig lief wees nie. Ons sal moet kante kies, gouer eerder as later.

 

Om die duiwel te kan teenstaan, om ons eie selfsugtige begeertes te kan oorkom, moet ons onsself onderwerp aan God. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader.

 

Kevin Lomax het ‘n moeilike besluit gehad om te neem: Gaan hy sy eie begeertes van roem en rykdom in die stad, met die groot huis en luukse partytjies, najaag. Of, gaan hy eerder voortgaan om in die klein dorpie die te verdedig wat nie hulself kan verdedig nie?

 

Wie is die belangrikste? Die eie ek, of die ons?

 

Amen.