Hebreërs 3: ‘n Rustige hart oor die toekoms

Dit is ‘n nuwe jaar met nuwe dinge, ons is besig om ons Nuwejaarsvoorneme in die geheim te formuleer en saam te stel soos wat ons na die jaar se uitdagings kyk. Die meeste van ons gaan more amptelik terug werk toe, tog het die gedagte van werk al heelwat vroeër in ons agterkoppe kom lê. Dit en dat moet nog beplan word, dalk moet daar nog penne en potlode vir die nuwe skooljaar gekoop word. Boeke moet oorgetrek word. Skoene moet gepolitoer word. Hemde moet gestryk word. Gaan ons hierdie jaar probeer om te bid voor ons eet? Gaan ons dit dalk waag om te kyk of ons almal bymekaar kan kry vir huisgodsdiens om die etenstafel na aandete eerder as om so gou as moontlik te eet om die nuutste series te gaan kyk?

 

Dit is ‘n nuwe maar met nuwe dinge wat maar dieselfde is, die vraag is of ons dit dieselfde gaan hou en of ons iets daaromtrent gaan doen?

 

Die skrywer van die Hebreërs brief se doel is om gelowiges wat besig is om in die geloofstryd uit te sak, op te roep om in die geloof te volhard. Hy skryf aan tweede geslag Christene wat geestelike onvolwassenheid en verflouing in hulle geloof openbaar.

 

Met die jaar wat soos ‘n berg voor ons lê kan ons maklik vind dat die taak te groot is om die nuwe jaar anders as voorheen in te gaan. Dat die taak te groot gaan wees om nuwe gewoontes te kweek. Dat die taak te groot gaan wees buite myself ook nog na ander se welstand te kyk. Dat hierdie jaar eerder MY jaar moet wees as ONS jaar. Hierdie jaar kyk ek na myself.

 

Vandag skryf hierdie Hebreërs skrywer ook vir jou! Luister daarom na wat die Heilige Gees vir jou te sê het: Lees Hebreërs 3:7-19.

 

Vandag is hierdie gedeelte vir elkeen van ons net so gepas soos dit vir die Israeliete op trek was, soos vir die Jode in die Psalms, soos vir die vroeë Christene in die Hebreërs brief, so is dit gepas vir ons vandag. Ons moet daarom let op die geskiedenis, die verlede, sodat ons nie die foute van die wat voor ons was herhaal nie.

 

Daar is vandag ‘n oproep om na die stem van God te luister, oombliklik, en met oorgawe te luister.

Ons moet nie, soos ons voorvaders, hardkoppig wees nie. Daar lê ‘n stukkie hardkoppigheid in die meeste van ons, ons geskiedenis is vol daarvan. Wanneer ons nie met iemand saamstem nie, in plaas van verskil in vrede, plaas ons onsself teenoor die ander. Nie ryk en arm nie, maar eerder ryk of arm. Nie swart en wit nie, maar eerder swart of wit. Nie NGK en Shofar nie, maar eerder NGK of Shofar. Ons plaas onsself konstant teenoor mekaar oor klein verskille, vriendekringe breek op oor klein verskille.

 

Is jou finansiële status meer belangrik as die waardigheid en respek waarmee jy ander hanteer? Is dit reg dat jou velkleur die bepalende faktor raak in jou oordeel of jy aan ‘n toekoms in Suid Afrika gaan bou? Is daar slegs een manier om God te aanbid?

 

Of kan ons eerder met sagter harte mekaar ondersteun in finansiële moeilike tye, kan ons eerder met sagter harte, wat almal rooi bloed pomp, saam geweld beveg en bou aan die reënboog nasie, kan ons besef dat geloof in Christus die punt van samekoms is.

 

As Afrikaners is ons, is ek, ongelukkig baie hardkoppig. Ek kyk vas in werksgeleenthede wat weggeneem word, ek kyk vas in taalbeleide by Universiteite, ek kyk vas in erfenisterreine wat verwaarloos word. En dit maak my net meer hardkoppig om my eie te beskerm, om uit te sluit, om laer te trek en in my eie bubble te lewe. Maar is dit regtig ‘n lewe?

 

Wat my opval is dat hardkoppigheid in ons kop sit, en sodra ons afbeweeg na ons harte raak ons sagter. Wanneer ons afbeweeg en met sagte harte na ons wêreld kyk raak dit eers hartverskeurend, deels omdat dit so moeilik is om die werklikheid in die sig te staar en deels omdat daar so baie krake in ons potte is. En die krake is daar om die Lig deur te laat. Wanneer ons met sagte harte na die wêreld om ons kyk begin ons om eerlik met onsself en die om ons te wees.

 

Met ‘n sagte hart kom nederigheid, nederigheid om saam te werk. Nederigheid om nie te staan op ‘n taal nie, maar saam te streef na nuwe kennis, nuwe maniere van doen vir oplossings tot ou probleme. ‘n Sagte hart omarm, sluit in, doen saam, en vind dit moeilik om uit te sluit. Met ‘n sagte hart kan jy, ek, ons, net wees, sonder om te dink, sonder om te veg of te vrees. Met ‘n sagte hart kan ons rus, kan ons saam die ewige rus ingaan.

Die Farao was hardkoppig en het daarvoor sy eersgebore seun verloor, asook al sy manskappe toe die Rooisee om hulle toemaak en hulle in die water vergaan. Hierdie gedeelte in Hebreërs 3 haal Psalm 95 aan wat weer op sy beurt verwys na Eksodus 17 waar die volk in opstand teenoor Moses gekom het.

 

Die volk was op trek deur die woestyn en raak toe onrustig, of eerder ongelowig, sonder vertroue dat die Here aan hulle sal voorsien. Hulle het vergeet van die Rooisee, hulle het vergeet van die Manna en Kwartels, hulle het vergeet van die Wolkkolom in die dag en die Vuurkolom in die nag. En in hulle vergeetagtigheid raak hulle onrustig en later ongelowig oor die krag van God en dat Hy aan hulle water sal voorsien. Moses slaan toe teen die rots met sy staf by Massa en Meriba en daar stroom water uit.

 

Omdat die volk teen die Here in opstand gekom het by Massa en Meriba en Moses die rots moes slaan laat die Here hulle nou vir 40 jaar deur die woestyn trek sodat daardie hele generasie in die woestyn kan sterf sodat hulle nie die beloofde land sal sien nie. Van min of meer 2miljoen mense (600 000 mans) sien slegs 2 die beloofde land as gevolg van hul geloof, Josua en Kaleb. ‘n Reis van min of meer drie weke (400km) raak ‘n reis van 40 jaar as gevolg van opstand teen die Here in ongeloof.

 

Die Israeliete was vir 40 jaar letterlik op ‘n dwaalspoor, omdat hulle innerlik van die Here afgedwaal het. Hulle het hulle innerlike kompas verloor. Hardkoppigheid kan ons maklik op ‘n dwaalspoor plaas, waar ons dink ons weet beter as die Here.

 

Vers 13 herhaal die “vandag” woordjie vir ‘n tweede keer en wys vir ons hoe ons onsself teen hardkoppigheid kan beskerm. Vandag, omdat ‘n Nuwejaarsvoorneme nie more of as die skole begin, begin moet word nie, maar vandag.

 

Solank daar nog ‘n vandag is moet ons mekaar aanspoor sodat niemand van ons in die misleiding van die sonde verhard nie.

 

 

Dit is tyd dat ons mekaar aanspoor. Dat ons nie toekyk hoe mense om ons verkeerde besluite maak nie, maar hulle reghelp. Dit is tyd dat ons saamstaan en verby ons verskille kyk en saam dink oor hoe ons dit wat ons het kan gebruik ten bate van almal. Ons moet dit vandag doen want so ‘n geleentheid kan in ‘n oomblik vir ewig verby gaan. Deur gedurige sonde, deur gedurig nie op die Here te vertrou nie, word die mens verhard en gaan boosheid oor in ongeloof. Ons moet mekaar nou aanspreek om hierdie hardkoppigheid te stop.

 

Vers 15 bevestig wat reeds gesê is: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

 

Ons moet volhard in die geloof. Die Israeliete het mooi begin en Moses met vreugde deur die Rooisee gevolg toe die waters oopmaak. Hulle het die Here geprys. Maar toe die water opraak het hulle vergeet van hoe die Here vir hulle in die verlede gesorg het en het hulle teen Hom in opstand gekom.

 

Dit is vandag die jaar 2018, dit is die nuwe jaar.

 

Die realiteit is die water is min. Die son brand warm. En die jaar lê nog voor. Laat hierdie gedeelte VANDAG vir jou bemoediging bring.

 

Hy het die volk deur die woestyn gely en hulle het die land van melk en heuning beleef.

 

Die Here belowe rus vir die met sagte harte. Die Here belowe rus vir die wat glo. En dit beteken ook ‘n rustige hart oor die toekoms.

 

Mag jy 2018 ingaan met ‘n sagte en rustige hart.

 

Amen.