In die eerste ses verse van hierdie hoofstuk fokus Paulus op die gelowige se verantwoordelikheid teenoor sy medemens – ons moet mekaar se laste dra. Om getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te doen aan ander mense. Dit mag nie net vir die gelowige oor goed lyk godsdiens gaan nie, maar dit moet oor daadwerklike toewyding aan God en ons medemens gaan. Ook hulle wat in die een of ander sonde verval het, moet in ‘n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Die manier waarop ons dit doen, is belangrik. Doen dit op so ‘n manier soos jy graag sou wou hê iemand jou met jou las moet help!
Baie keer dink ‘n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy self gaan gebuk onder ‘n swaar las. Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om iemand anders te help?
In hierdie opsig dink ek altyd terug aan my kinderdae toe ek ‘n swaar emmer water vir my pa moes aandra. Ek het skeef-skeef aangesukkel. Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors. Ek was ongebalanseerd. Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.
Al wat regtig gehelp het, was om nog ‘n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra. Op dié manier was jy meer gebalanseerd, het jy baie makliker geloop en niks water gemors nie.
In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.
Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.
Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ‘n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het verbygestap, maar ‘n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.
In verse sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan mede-gelowiges maar ook aan nie-gelowiges (vergelyk ook 1 Tes 5:15). Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en behoeftes van mekaar (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges geld (Rom 12:20; Gal 5:14).
Moderne navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het uitgevind dat kwessies soos armoede aangespreek is. Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse ongelykheid is sover as moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ‘n sisteem van ekonomiese onreg was!
Waar staan ons in terme van Paulus se vermaning om goed te doen en ander se laste te dra? Ek lees onlangs hoedat mense uit ‘n bepaalde gebied in een van ons groot stede weggetrek het. ‘n Nuwe bevolking het daar ingetrek. Drie tradisioneel Afrikaanse gemeentes het toegemaak. Van die kerkgeboue is verkoop en as Moslem tempels ingerig. Daar is agteruitgang. Sypaadjies lyk onversorg, daar is gate in die pad, straatkinders is oral te sien, daar is volop bedelaars, misdaad het toegeneem, ensovoorts.
Die interessante is dat te midde van hierdie negatiewe situasie daar ‘n bloeiende Baptiste gemeentetjie is. Hulle het aangepas by die veranderende omstandighede. Op hulle gronde is daar ‘n bouery. ‘n Splinternuwe saal waar straatkinders skoolonderrig ontvang, het tot stand gekom. Vrydagaande word daar byeenkomste gehou vir jongmense waar hulle kos vir hulle mae en siele kry. Besighede se beursies het begin oopgaan, want hierdie gelowiges het werklik ander mense se laste begin dra. Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!
Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.
Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie (sien ook 2 Tes 3:13; 2 Kor 4:1,16). Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Mat 25:31-46). Hierin gaan dit oor eenvoudige alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel. Miskien is dit die rede waarom Christus daarna verwys het.
Kom ons hou gevolglik aan om goed te doen. Dit is nie altyd maklik om ander se laste saam met jou eie te dra nie. Dit vra opoffering en is dikwels baie dreinerend, maar dit is wat Christus van ons vra. Terwyl ons nog tyd oor het, moet ons elke geleentheid aangryp om goed te doen aan almal wat ons pad kruis. Ons moet ons hart en ons hande vir almal oopmaak.