Efesiërs 5:6-20

In hierdie tweede brief van Paulus aan die Efesiërs val die klem op die eenheid van die kerk. In die gedeelte wat ons vandag saamgelees het is Paulus besig om aan die Efesiërs te verduidelik wat die nuwe lewe behels met die doel vir ‘n oproep tot bewapening en oorwinning van die bose magte. Dink maar aan Efesiërs 6 se wapenrusting.

Paulus maak ‘n aantal persoonlike vermanings aan die Efesiërs deur hulle te vertel oor twee belangrike dinge:
• Hy vertel hulle oor die beginsels van die nuwe lewe.
• Hy vertel hulle oor die praktyk van die nuwe lewe.

Vandag gaan ons stilstaan by die praktyk van die nuwe lewe. Hoe die nuwe lewe in Christus prakties gelewe kan word en wat die impak daarvan sal wees.

Alles bou stelselmatig op mekaar. Paulus begin in hoofstuk 5 met die riglyne vir die nuwe lewe en gaan dan verder deur te noem dat ons moet lewe as mense van die lig. Nou hoe lewe ons as mense van die lig?

Hy begin deur in vers 6 te sê: Pasop vir enige praatjies wat jou weg van God neem, pasop vir leë woorde wat jou weglei van God se waarheid. Wanneer ons leë woorde met leë beloftes volg is ons nie op die pad van die Here nie, en gaan ons die straf van die Here op hierdie pad ontmoet.

Nou hoe lyk leë woorde, woorde wat met allerlei onwaarhede mislei? Dit is praatjies wat te goed klink om waar te wees. Die belofte van ‘n multimiljoenrand besigheid binne ‘n jaar, verloor 60 kilogram in 6 weke, of sagter gestel, “werk nog ‘n uur langer, jou gesin sal jou nie mis nie”, “nog net een glasie wyn dan kan jy ry”, of die uitklophou “ons kan nie sonder jou aangaan nie”.

Bly op die pad van die waarheid waarsku Paulus ons. Alles wat goed is vat baie tyd, pasop vir kitsoplossings, kitskos en kitsverhoudings. Die wêreld kan aangaan sonder jou, al wil jy nie so dink nie, dit is die waarheid. Pasop vir jouself! Wie vinnig lewe, gaan vinniger dood. Kom in ritme met God se tyd, sy Woord en sy bepalings vir hierdie wêreld is die wyse weg.

Bly weg van die wat dwaalspore loop en loop die reguit pad. Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Iemand wat dwaal gaan jou by sy of haar afdraaipaadjies intrek en kort voor lank staan jy voor die spieël en wonder hoe het jy hier gekom…

Leef as mense van die lig sê Paulus. Dit is net donker as daar nie lig is nie, daarom moet ons die lig wees sodat daar al minder en minder donkerte sal wees. Die lig simboliseer verligting, bevryding, nuwe lewe en ‘n verhouding met God. Die mooi van dit alles is, is wanneer ons besluit om die nuwe lewe te leef raak ons self lig, ons begin self skyn.
Wanneer ons die vertrek instap vlug die duisternis, want dit kan nie uithou met die lig nie. Die lig is altyd sterker as die donkerte, altyd.

Paulus sê ons moet as mense van die lig gaan leef. Wanneer ons leef as mense van die lig behoort daar uit ons alles wat goed, reg en waar is te kom. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, waar niemand jok om eerste in die ry te staan of om bo op iemand anders te trap om bo uit te kom nie. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, geen valse nuusberigte wat net die een na die ander click najaag om nog ‘n advertensie in jou oë in te forseer.

Lig word gekenmerk deur die vrug wat dit voortbring. Wanneer jy wonder of jy besig is met die regte ding, vra jouself gerus af of dit waarmee jy besig is vir die Here mooi is? Luister na daardie stemmetjie wat so met jou praat! Is jy besig met die regte dinge? Is jou lewe op die regte plek? Sien mense jou as ‘n ligtoring op ‘n rots?

Die lig bring vrug voort, die duisternis bring net onvrugbaarheid. Die duisternis wil wegsteek, toemaak, stilmaak en doodmaak. Moenie saamwerk aan die vrugtelose werke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.

Kom ons praat nie net van die Zondo kommissie nie, maar ook van die stil stil agter die rug van ‘n vriendin praatjies, die wegkyk wanneer daar verkeerd gedoen word, die saampraat om die braaivleisvuur net sodat jy nie te positief is oor die land se toekoms saam met God nie. Wanneer ons stilbly oor die goeie, oor die moontlikhede van die waarheid, dit is dan wanneer die donkerte oor ons toesak. Vir die lig om te skyn moet ons aanhou die skakelaars aansit, die kerse aansteek, en ons woorde gebruik om die lig te laat skyn.

Die werke van die duisternis moet deur die lig van alle kante ontbloot word, sodat dit gesien kan word vir wat dit werklik is. Meestal leuens, sondige dade van ongehoorsame mense wat weier om te lewe volgens die wil van die Here.

“Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood, en Christus sal jou lewe verlig!”

Die nuwe lewe in Jesus Christus is ‘n lewe in die lig.

Steek aan daardie kersie binne jou sodat die donkerte kan vlug.

En kom ons lewe as mense van die lig.

Amen.