Efesiërs 4: Wat is jou lewensleuse?

Die gedeelte wat ons nou uit Efesiërs 4 gaan lees, is deel van ‘’n groter brief wat as omsendbrief aan verskillende gemeentes in Klein-Asië, vandag Wes-Turkye, gerig is, waaronder Efese een van die gemeentes is. Efesiërs was die belangrikste van hierdie reeks gemeentes. Die sewe kerke waarvan Johannes in Openbaring 1:11 praat was min of meer in hierdie gebied, asook die kerk in Kolossense.

In hierdie brief word gewys op God se bedoeling… om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Jesus Christus. In die kerk van Christus is Jode en nie-Jode saamgebring as eenheid, ‘’n liggaam waarvan Christus die hoof is.

[lees Efesiërs 4:1-6]

Hierdie ses verse kan baie kort opgesom word: Die kerk is spiritueel een, daarom, laat dit spiritueel een wees! Hierdie mag dalk deurmekaar klink juis omdat ons mense vandag hierdie eenvoudige feit wil kompliseer. Wanneer daar oor spirituele eenheid gepraat word moet dit egter nie so verstaan word dat elke persoon maar net nog ‘’n ratjie in ‘’n groot masjien raak nie, nee. Wanneer daar oor spirituele eenheid gepraat word, is dit ‘’n baie persoonlike gesprek wat persoonlik met elkeen wil praat, elkeen met sy eie temperament, persoonlikheid en talente.

Spirituele eenheid word word verkondig van die een na die ander gemeente sodat hierdie gemeentes in hulle gemeentes en vir ander gemeentes ‘’n seën kan wees. So kan die kerk opgebou word en ‘’n seën vir die wêreld wees. Soos later in vers 12 staan is dit waar, daar is werk om te doen. Om hierdie doel te verkry moet gelowiges saamwerk, elkeen moet sy unieke bydrae tot die groei van God se koninkryk maak.

In vers een praat Paulus reguit met die Efesiërs en ook vandag reguit met ons: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Dit is asof Paulus vir hierdie mense sê: “As julle gelowiges is en julle wens is om as gelowiges geken te word, leef dan soos gelowiges!”

Sommer dadelik in die eerste vers oor die eenheid van die kerk in Hoofstuk vier is daar baie dinge wat dadelik uitspring. Paulus vra van ons dat ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees met dit wat ons van God ontvang het. En nie net sommer nog iets wat ons van God ontvang het nie, maar ons roeping. Nou dit is nie net dominees wat ‘’n roeping van God ontvang nie. Elke liewe een van ons het ‘’n spesifieke taak van die Here ontvang en dit is ons roeping.

Het jy al gedink oor jou roeping? Leef jy werklik God se plan vir jou lewe uit? Leef jy God se roeping vir jou lewe uit? Of lewe jy eerder in ooreenstemming met wat jy dink die beste vir jou is? Hoe ernstig, hoe diep, hoe stil, luister jy na die Here se plan, se opdrag vir jou lewe? Jy is nooit te oud om te begin om te luister na die stem van die Here nie. As jy op 16 begin luister na die stem van die Here, great! Maar, jy kan ook op 56, op 73 begin luister na die stem van die Here. En saam met Paulus vra ek julle vanoggend, laat jou lewe in ooreenstemming wees met wat God vir jou beplan!

Paulus volg dan deur die verskeie deugde aan die Christelike lewe toe te skryf en begin daarmee om beskeie te wees. Nadat soveel seëninge ontvang is dat die grootheid daarvan nie beskryf kan word nie, is dit die regte houding vir ‘’n Christen om in te neem deur beskeie te wees oor dit wat hy/sy het, omdat dit alles van God af is.

Volgende om mekaar in liefde te verdra is nie net gemik om die groepie onmiddellike mense rondom jou nie, maar ons moet almal rondom ons in liefde verdra, nie net die vriendelike mense nie, maar selfs daardie buffel by die werk wat net vir homself koffie maak…

Paulus voeg ook by dat hierdie verdraagsaamheid in liefde moet geskied. Kom ons kyk gou kortliks na hoe ons mekaar in liefde moet verdra…

Ons moet mekaar verdra deur geduldig te wees, deur vriendelik te wees, deur nie grootpraterig te wees nie, deur nie ons eie belange te soek nie, deur nie liggeraak te wees nie, deur boek te hou van die kwaad. Is dit hoe jy die mense om jou verdra, of bly jy net stil terwyl jy allerhande ander dinge dink?

Nadat Paulus ‘’n reeks deugdes gelys het sê hy dan dat die eenheid van die kerk nagestreef moet word deur in vrede met mekaar te leef. Hierdie maak dat in ons uitleef van ons roeping ons nie later mekaar te na kom om te leef nie. Vrede is dit wat ons bymekaarhou. As daar nie vrede is nie wil mense gewoonlik nie bymekaar wees nie.

Dink maar vir jouself, enige verhouding met drama wil mense vermy. Daai moeilike oom word vermy, of ons gaan nie daar rugby kyk nie, want daar baklei hulle altyd. Mense is geneig om na ander mense te soek met wie hulle in vrede kan leef. Daarom sê Paulus lewe jou roeping in vrede uit sodat jy daardeur die koninkryk van die Here vergroot.

Ons as kerk hier op aarde behoort eenheid na te streef omdat dit die presiese voorbeeld is wat die Here aan ons gee in Sy Drie-eenheid. Die eenheid wat daar tussen die Vader, Seun en Gees bestaan dien as voorbeeld vir hoe ons eenheid hier op aarde kan wees.

Die Goddelike eenheid is ‘’n eenheid in dat hulle almal saamwerk om in verhouding met ons mense te staan en so liefde heen en weer te laat vloei tussen mens en God. Die Drie-eenheid is ook elkeen op sy eie. Vader as Skepper, Seun as Verlosser en Gees as begeleier. So word hulle ook uitgebeeld reg deur die Bybel en ook hier in Efesiërs 4.

Hierdie eenheid wat daar bestaan tussen Vader, Seun en Gees moet as die basis dien vir die eenheid wat daar in die kerk behoort te wees. In die drie-eenheid het die Vader, Seun en Gees elkeen hul eie karakter en eie taak, hulle verskil en ook is hulle een. So kan ons as kerk, wat elkeen verskillend is saamwerk tot ‘’n gemeenskaplike doel. Elkeen met sy eie gawe, soos Paulus in vers 7 noem, moet saamwerk tot die eenheid in die gemeente deur sy/haar gawe te gebruik om eenheid na te streef.

Daar staan nie dat ons ons gawes behoort te gebruik om almal dieselfde as ons te kry nie, of om net mense wat reeds dieselfde as ons dink by ons eenheid in te sluit nie. Daar staan juis dat ons moet gebruik wat aan ons gegee is om so ander te bereik met die evangelie en aan hulle te vertel dat hulle ook kan gebruik wat aan hulle gegee is vir die koninkryk van God.

In 1999 het die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie die publiek gevra om ‘’n nuwe wapen vir die land te ontwerp. Na ‘’n lang proses is die ontwerp van Iaan Bekker gekies en is sy ontwerp ook die wapen wat op elke offisiële dokument van die land verskyn. Hierdie nuwe wapen is op Vryheidsdag, 27 April, 2000, onthul.

Hoekom ek vanoggend ons aandag op ons landswapen fokus is dat die onderste gedeelte veral belangrik is en ek wonder of ons al werklik besef het wat daar staan?

!KE E: /XARRA //KE

Vir party lyk dit soos rekenaartaal vloekwoorde, vir ander dalk ‘’n tikfout, die meeste Suid-Afrikaners sukkel om dit uit te spreek en ons leuse is in eenvoudige taal net vreemd.

Ons leuse is geskryf in die Khoisan taal van die /Xam mense, wat letterlik “diverse mense verenig”. Hierdie leuse spreek die feit aan dat elke individuele daad behoort by te dra tot eenheid in gedagte en daad. Op ‘’n kollektiewe vlak vra dit ‘’n nasie om saam te staan in ‘’n gemeenskaplike nasionale trots – ons eenheid in ons diversiteit.

As ek vir Paulus reg verstaan het hy die Efesiërs ‘’n hele paar jaar terug gevra om juis hierdie leuse uit te leef. Om in hulle diversiteit as eenheid te staan. Elkeen met sy roeping, soos die Here gawes aan elkeen gegee het behoort daardie roeping in oorstemming met lewenswandel uit te leef sodat daar eenheid tussen almal sal bestaan wat die Gees sal smee.

Ons sê ons is Christene, nou laat ons dit vir ander begin wys. Laat ons lewens in ooreenstemming wees met dit wat ons van God ontvang. Laat ons ons Godgegewe lewens gebruik om eenheid in die gemeenskap te bevorder. Laat ons in vrede saam met mekaar lewe.

Diversiteit kan maklik konflik veroorsaak, daarom skryf Paulus aan ons elkeen vanoggend: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.” Dit is nie nodig dat ek weer 1 Kor. 13 aanhaal nie, ons almal ken die gedeelte wat al by baie troues beskryf het wat presies die liefde is. In ons diversiteit, in ons andersheid, moet ons saam met mekaar in liefde leef. As ons op enige ander manier leef, sal daar nie vrede wees nie. Daar sal nie vrede in hierdie land wees totdat ons as nasie begin saamstaan nie.

Die /Xam mense se leuse het ons land se leuse geraak “diverse mense verenig”, saam met Paulus wil ek vanoggend bylas, “in liefde”.

Wat is jou lewensleuse?

Is dit “Ek sal my ding doen. Doen jy jou ding.”?

Of is jou lewensleuse “Diverse mense verenig, in liefde, sodat, ons God se fontein van liefde kan wees”?

Amen.