ken jou drome!

Ek het sopas een van die mees invloedrykste boeke van my lewe klaar gelees. Dit het my lank gevat. As ek reg onthou het ek een vakansie in my pa se studeerkamer se stofrakke op die boek afgekom, waarskynlik in my eerste of tweede jaar op universiteit. Die boek se naam is The Drifters, dit is deur James Michener geskryf.

Hierdie boek het as’t ware gedien as ‘n persoonlike reis deur my varsity lewe. Dit het my gegryp omdat dit handel oor ‘n klomp jongmense wat anti-establishment is, ‘n soort rebellie, maar nie ongegrond nie. Elkeen in die groep het rebelleer teen iets in sy of haar samelewing wat verkeerd of ongegrond was. Hierdie gedrag vind ek by aanklank, om nie net deur die lewe te gaan sonder om vra te vrae oor dit wat gedoen word nie.

Die boek het vir jare op my rak gestaan en was ook afgewissel met ander boeke om die ritme so nou en dan te onderbreek, maar ek het altyd terug gekeer daarna.

Die boek sluit af met ‘n pragtige stukkie wysheid; Een van die karakters, ‘n meisie van Noorwee het die eer om die verhaal af te sluit met die woorde wat mens verder laat wonder. Sy sluit af met die gedagte dat mens jou drome moet ondersoek, sodat jy hulle ken vir wat hulle is. Profound. Hierdie drome kan natuurlik verskillende vorme aanneem en soms hulself ontmasker as nagmerries.

Hierdie gedagte wat dan ook die boek opsom sluit aan by die Sokratiese wysheid van ouds: “The unexamined life is not worth living.”

Vandag se datum wil ek dus opteken sodat dit nie verlore sal gaan nie.

Vir vorentoe, bestudeer, ondersoek, gaan geniet hierdie lewe met nuuskierigheid!

verbeeldingsaktivis

Vanoggend sit ek en dink, en heel uit die blou kom die gedagte na my toe. Die mens is mens, omdat hy die vermoe het om te kan dink, en nie net te dink in die sin van die mooi planne beraam om die beste resultate die vinnigste te kan kry nie, nee. Die mens is anders omdat die mens nie deur konkrete trail-error voute hoef te leer nie, maar het ‘n verbeelding gekry om daardie voute te maak.

Die verbeelding onderskei die mens, dink ek, van alle ander bekende wesens, in die sin dat die verbeelding dien as ‘n denkbeeldige sandput waar planne reeds uitgespeel kan word sonder om enige konkrete vorm daaraan te gee. In die verbeelding kan die kok homself indink hoe die spesifieke dis gaan proe as hy sekere bestandele saamvoeg, die predikant kan rofweg vastel hoe sy gehoor gaan reageer op die boodskap wat hy wil bring, die verbeelding maak ons as mens anders.

Party se abstrakte vermoens is wel beter ontwikkel as ander, of dalk is party se vertolking van verbeelding beter, hoe om daardie abstraksie te konkretiseer.

In my huidige studies werk ek heelwat op die digitale wereld. Ek het nou gewonder of die digitale wereld nie moontlik die rol van verbeelding begin inneem nie? Waar die digitale die verbeelding word, waar scenarios nou in algoritmes ingevoer en uitgespoeg word, waar instrumente saamgevoeg word om te luister hoe dit lewendig gaan klink.

Of hierdie digitale verbeelding ‘n gevaar of geleentheid is, is ek nog nie seker nie, moontlik albei, soos alles maar is. Ek wonder net of dit nie moontlik mense dommer, stomper, stiller, luier, maak nie, omdat die rekenaars nou al die werk doen wat die mens voorheen gedoen het. Wat gaan oorbly vir die mens om daadwerklik te doen? Wat gaan die mens op die einde die mens maak?

Vrye wil? Google is klaar besig om jou voorkeure aan te leer en jou voorstelle te gee in lyn met jou voorkeure, jy kies dan immers wat vir jou voorgese word. Hoe gaan die mens nog werklik lewe? Lewe in ‘n selfstandige vorm, nie afhanklik van tegnologie nie, waar verbeelding nog seevier bo digitale sandputte. Waar die mens die werk doen en masjien slegs opdragte uitvoer, in plaas daarvan waar die masjien nuwe opdragte voorstel en die mens uitvoer.

Daarom sal ek myself vandag ‘n verbeeldingsaktivis noem, want met die afskeep van die verbeelding gaan die digitaliseerde lewe oorneem en uiteindelik mag ‘n dooie lewe moontlik gelei word…