ken jou drome!

Ek het sopas een van die mees invloedrykste boeke van my lewe klaar gelees. Dit het my lank gevat. As ek reg onthou het ek een vakansie in my pa se studeerkamer se stofrakke op die boek afgekom, waarskynlik in my eerste of tweede jaar op universiteit. Die boek se naam is The Drifters, dit is deur James Michener geskryf.

Hierdie boek het as’t ware gedien as ‘n persoonlike reis deur my varsity lewe. Dit het my gegryp omdat dit handel oor ‘n klomp jongmense wat anti-establishment is, ‘n soort rebellie, maar nie ongegrond nie. Elkeen in die groep het rebelleer teen iets in sy of haar samelewing wat verkeerd of ongegrond was. Hierdie gedrag vind ek by aanklank, om nie net deur die lewe te gaan sonder om vra te vrae oor dit wat gedoen word nie.

Die boek het vir jare op my rak gestaan en was ook afgewissel met ander boeke om die ritme so nou en dan te onderbreek, maar ek het altyd terug gekeer daarna.

Die boek sluit af met ‘n pragtige stukkie wysheid; Een van die karakters, ‘n meisie van Noorwee het die eer om die verhaal af te sluit met die woorde wat mens verder laat wonder. Sy sluit af met die gedagte dat mens jou drome moet ondersoek, sodat jy hulle ken vir wat hulle is. Profound. Hierdie drome kan natuurlik verskillende vorme aanneem en soms hulself ontmasker as nagmerries.

Hierdie gedagte wat dan ook die boek opsom sluit aan by die Sokratiese wysheid van ouds: “The unexamined life is not worth living.”

Vandag se datum wil ek dus opteken sodat dit nie verlore sal gaan nie.

Vir vorentoe, bestudeer, ondersoek, gaan geniet hierdie lewe met nuuskierigheid!

ambivalensie?

Die groot Griekse filosoof Aristoteles het gemeen dat alles na ‘n doel neig, ‘n telos. Ek wonder of sy denke vandag sou aanvaar word deur die deursnee mens? Met ‘n eksistensieele inkrimping wat wereldwyd plaasvind is dit vir my al hoe vreemder dat daar nog mense is wat kan indink dat daar ‘n doel in hulle immanente selfgerigte lewens is. Maar hierdie bietjie filosofie is sommer om nie eintlik te se wat in my binneste heers nie. Filosofie is mos die maklike manier om slim te klink deur nie jou ware self te verklap nie. Die manier om persoonlik onpersoonlik voor te kom vir die ongeoefende luisteraar. So nou vir die eintlike onderwerp onder die oppervlak van die duve.

 

Vra is baie, en antwoorde minder. Hoekom is die waai van die winde mooier in teenwoordigheid van gebrek? Hoekom is daar ‘n kommunale kamer in my drome waarheen ek keer as ek breek vat van die harwar in my drome? Onbewus, in rus, aan die slaap, het ek ‘n kamer wat oor en oor gebruik word in gange van my gedagtes… Waar kom die kamer vandaan? Hoe en hoekom is die kamer geskep? Geleerdes se dat kinders van diere, en volwassenes van mense droom. My drome is leeg. Gewoonlik wandelend, tussen mooi natuurtonele, of geboue wat deur top argitekte ontwerp is. Maar hierdie droomkamer is ‘n vreemde verskynsel. Dit vra verdere studie. Onbewus, wakker, skryf, slaap. Die ander vraag is natuurlik hoe is die droomkamer gekoppel aan omstandighede in my bewuste lewe, of eerder, my realiteit onder beheer. Want drome gebeer sonder beheer. Drome is net. ‘n Kreatiewe skeppende proses van die brein sonder dat enige ander invloede van buite die proses inperk.

 

Alles los gedagtes, of dalk nie, maar nou is dit eers tyd vir rooiwyn en sjokoladekoek. Want dit reen, en die wind waai, en in my hart brand ‘n vuur vir jou.