Hoe om ons skuldlas te verwerk.

Hoe om ons skuldlas te verwerk

As ons van ’n skuldlas praat, moet ons ’n onderskeid tref tussen die staat van skuld en die gevoel van skuld.

Die staat van skuld.

• Sosiale skuld: Numeri 5:6 “wanneer iemand, man of vrou, ’n medemens benadeel…is hy skuldig.”
• Statutêre skuld: Romeine 13:5 sê ons moet ons onderwerp aan die owerhede, “nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ’n gewetensaak is.”
• Morele skuld: 1 Johannes 3:4 sê: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God.”

’n Oortreding skep altyd ’n skuldlas. Dit is die staat van skuld.

Die gevoel van skuld.

In Psalm 38:5 sê Dawid: “Ja, my ongeregtighede het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is.” Die oorsaak van baie van ons emosionele probleme is ons gevoelens van skuld. Soms raak dit ons fisies (byvoorbeeld ’n onvermoë om te slaap), ander kere raak dit ons emosioneel.

Vier moontlike toestande van skuld
• Onderdrukte skuld: As ons skuldig is, maar ons voel nie skuldig nie.
• Erkende skuld: As ons skuldig is en ons voel skuldig.
• Valse skuld: As ons nie skuldig is nie, maar ons voel skuldig.
• Geen skuld: As ons nie skuldig is nie en voel ook nie skuldig nie.

Onderdrukte skuld
• Rasionaliseer oortreding deur te sê dat ons almal maar sondaars is.
• Nog ’n manier om ons skuld te onderdruk is om iemand anders te blameer.
• Sommige probeer ons skuldgevoelens te onderdruk deur dit as normaal te regverdig.
• Hoor wat Dawid ervaar het voordat hy sy sonde bely het: “Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.” – Psalm 32:3-4.
• As ons voortgaan om ons skuldgevoelens te onderdruk, sal ons uiteindelik ons gewete vernietig. In 1 Timoteus 4:2 lees ons van “skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.”

Erkende skuld

• Daar is net een manier om skuld te delg en dit is om die skuld te betaal.
• Sosiale skuld: ’n Opregte verskoning.
• Statutêre skuld: ’n Boete of tronkstraf.
• Morele skuld: Die ewige hel en verdoemenis.
• 1 Petrus 2:24 “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.”
• Jesus het ons morele skuld betaal, ons moet egter self ons sosiale en statutêre skuld betaal.

Wat van ons skuldgevoelens?
Soos ons sien sal betaling die staat van die skuld verwyder. Dit verwyder egter nie die gevoel van skuld nie. Die skuldgevoel sal slegs verdwyn wanneer die vereffening van die skuld aanvaar word.

Valse skuld

Waar kom valse skuld vandaan?
• Wettiese teologie waar die klem val op die dinge wat ons moet en nie moet doen nie.
• Wanneer ons terugkyk op ’n situasie en dan onsself onredelik die skuld gee. “Ek moes…” of “As ek maar net…”

Oorkoming van valse skuld

• Het ek ’n mens-gemaakte “wet” oortree?
o “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.” – Galasiërs 5:1.
• Was die valse skuld as gevolg van emosionele manipulasie?
o “Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie… Die Here se oordeel oor my is al wat saak maak.” – 1 Korintiërs 4:3-4.
• Was dit vanweë onvolmaaktheid?
o “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” – Filippense 1:6.

Mag jy weier om jouself te belas met valse skuld. Jy mag spyt wees oor dinge wat in jou lewe gebeur het, maar jy hoef nie gebuk te gaan onder die swaar las van valse skuld nie.

Handhaaf jou verhouding met die Here deur enige sonde wat die Gees onder jou aandag bring, onmiddellik te bely en reg te stel. Geniet dan jou “Geen Skuld”

Ons posisie in Christus.

Ons posisie in Christus

1.) Wat bepaal ons optrede?
• Suksesvolle mense teenoor mense waarmee alles skeefloop
• Selfbeeld bepaal baie
• ’n Gedragsiklus word gekweek
• Ons moet onsself sien soos die Here ons sien

2.) Ons sondige mens is gekruisig.
• Rom 6:6 “…sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.”
• Die probleem is ons glo dit nie en laat die sonde steeds ons gedrag beïnvloed.
• Rom 7:6 “Ons is nou vrygemaak van die wet wat ons gebind het.”
• Ons moet optree asof ons sondige natuur dood is, dan sal ons agterkom dat die sonde se, mag inderdaad gebreek is.

3.) Ons is verseël met die Heilige Gees.
• Ef. 1:13 “Ons is verseël met die Heilige Gees.” Ons is Syne, ons behoort aan die Here.
• Soos ’n verloofring is die seël van die Heilige Gees.
• Ons beminning, ons liefde, moet eerste op God toegespits wees.

4.) Ons is geroepe o heilig te wees.
• Waaraan laat die woord “heilige” of “saint” jou dink?
• Die Bybel se definisie: Rom 1:7 “geroepe heiliges”
• ’n Heilige is iemand wat weer deur die Gees gebore is.
• Dit is iets wat jy reeds is. Jy is reeds ’n heilige.
• Ef. 4:1 “…laat julle lewe in ooreenstemming wees met julle roeping wat julle van God ontvang.”

5.) Heilige optrede.
• As ons geroepe is om heiliges te wees, hoe moet ons optree?
• Gal 6:22-23 “…liefdevol, vreugdevol, vredeliewend, geduldig, vriendelik, goedhartig, getrou, nederig, selfbeheersd…”
• As heiliges het ons dieselfde versoekings en frustrasies as almal anders, maar as heiliges probeer ons om op ’n positiewe manier op die lewe se beproewings en moeilike omstandighede te reageer.