Genesis 9: Ontdek die reënboog

Daar is liedjies en stories en fabels oor reenboë.  Die bekendste sekerlik dat daar ’n goudpot aan die einde van die reënboog is.  Koos du Plessis sing mos die liedjie:

As die reën van stof en roet verby is, en die rook verdwyn,
sal daar in die sterrelose hemel ‘n neonboog verskyn,
en kyk maar goed, want as jy hom vind
vertel ek vir jou ‘n sprokie my kind,
van ‘n skatkis met ou kettings gebind
aan die neonboog se punt.
As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt,
dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ‘n brokkie son.

Die verhaal van Noag en die reënboog is natuurlik nie ’n sprokie nie, ons sal ook nie ’n goudpot aan die punt van die reënboog vind nie, maar miskien kry ons vanmôre iets veel meer waardevol by die reënboog se punt.

Nou vriende, dink jou net vir ’n oomblik weer in Noag se skoene in.  Na ’n jaar in die ark swaai die deure toe uiteindelik oop.  En dit is ’n nuwe begin vir Noag en al die diere saam met hom!  Alles is droog en groen en die wêreld is vir ’n slag rustig.  Maar toe wonder ek, hoe het ou Noag gevoel toe hy sy voete op die droë grond sit?  Het hy nie maar by homself gewonder: Sê nou dit gebeur weer?  Ek dink hy het seker die heeltyd die weer dopgehou.  En elke ou wolkie het hom herinner aan die ergste wat kan gebeur.  Hy kon seker ly aan post-traumatiese stres, want elke keer as daar ‘n storm losbars, of as die weerlig slaan, was dit ’n herinnering aan die vorige katastrofe.  So miskien was daar in sy hart opgewondenheid oor die toekoms, maar ook ’n stuk huiwering en bekommernis oor dit wat voorlê en dalk nog kan gebeur.

En is dit nie maar dieselfde gevoel wat ons het so aan die begin van ’n nuwe jaar as die deure oopswaai nie?  Ja, daar is opgewondenheid oor ’n nuwe begin.  Opgewondenheid oor nuwe uitdagings en nuwe geleenthede en miskien nuwe fases in jou lewe of die lewe van jou kinders.  Aan die een kant is daar die opwinding en avontuur, maar aan die ander kant is daar is tog ook die huiwering en bekommernis.  Gaan ek weer so ’n jaar hê soos verlede jaar?  Gaan die storms maar weer woed?  Gaan ek dit regkry om weer kop bo water te hou?  Jy sou die lysie van twyfel en bekommernis natuurlik self kon aanvul.

En dan kyk Noag op en sien die reënboog.  Noag hier is die teken van My genade!  Noag, Ek kom verbind My opnuut weer aan mens en dier.  Noag, Ek belowe, Ek sal nooit weer uitwis en vernietig nie.  Trouens die reënboog is vir julle ’n teken van hoop, want wanneer die wolke oor die aarde saampak sal die reënboog verskyn en sal julle weet dat Ek aan julle dink (Gen. 9:12,16).  Vriende, dit is tog interessant dat Noag hierdie teken juis sal sien wanneer daar ’n storm woed.  Want ons sien ook tog maar God se genade die duidelikste wanneer dit donker is en die lig daarop val!

Calvyn skryf op ’n plek dat die reënboog soos ’n sakrament is.  Soos wat die sakramente van die doop en die nagmaal ons herinner aan God se genade en goedheid, so gee die Here die reënboog om ons te verseker van sy liefde en trou en om daardeur ons geloof te versterk.  Juis sodat ons kan weet; wanneer die onweerswolke saampak sal ons hierdie wonderlike teken in die lug sien wat ons daaraan herinner dat God genadig is!   En dink net watter wonderlike troos en versekering was dit vir Noag en sy mense toe hulle kon opkyk en weet, geen storm sal ons weer platslaan nie!  Geen orkaan sal ons lewe vernietig nie, want God is genadig!  Daar is weer vir ons hoop!

Vriende, interessant van hierdie belofte is dat dit nie in die eerste plek gaan oor dit waaraan die reënboog ons herinner nie, maar eintlik gee die Here die reënboog as ’n reminder vir Homself!  Genesis 9:15 en 16: ”Wanneer …die reënboog verskyn …sal Ek dink aan my verbond met julle … Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond…”  Daarom vriende, herinner die reënboog God gedurig aan sy genade-glimlag oor die mens.  En kan ons leef met die wete: God dink aan ons, selfs al dink ons nie aan Hom nie!

So kom gee die Here hierdie teken om Homself en vir ons te herinner, dat daar hoop is omdat daar genade is!  En hoop en genade word die duidelikste sigbaar wanneer die lig skyn op die onweerswolke wat saampak.

Jy kan dalk vanmôre hier sit en sê: dit is nou goed en weer ’n mooi reënboog-storie vanmôre.  Maar vriende, baie mense sukkel om die reënboog raak te sien.  Sukkel om te sien dat God genadig is, sukkel om te sien dat Hy nie net wil platslaan en vernietig nie.  Baie ander is in situasies en omstandighede vasgevang, ja selfs so aan die begin van die jaar na ‘n vakansie, waar dit baie moeilik is om reënboë van hoop te sien in die donker onweerswolke.  Mense wonder waar hulle hierdie tekens van God se hoop en genade prakties in hulle eie lewens kan sien en ervaar.

Judy Garland sing in The Wizard of Oz:

“Somewhere over the rainbow, way up high,

there’s a land that I heard of once in a lullaby.

Somewhere over the rainbow, skies are blue,

and the dreams that you dare to dream really do come true. 

 

ʼn Lied oor hoop en drome. Maar way up high is nie veel troos vir iemand wat way down low is nie!  Hierdie jaar gaan vir die meeste van ons nie ’n wiegeliedjie wees nie.  Hier waar ons in Afrika leef, pak die onweerswolke gereeld saam en sukkel ons somtyds om deur al die donderstorms en druppels reenboë van hoop te sien.

En toe lees ek die aangrypende verhaal wat prof Daniel Migliore van die Princeton Universiteit in die VSA vertel.  Die verhaal speel af in die middestad van Trenton in New Jersey waar die moeilik was om deur al die rook en hoë geboue enigsins die lug of wolke dop te hou.  Hy sê: ”Eendag was dit my taak om ‘n klein klas van nege en tienjariges te leer. Toe die einde van ons tyd saam aanbreek, het drie van die kinders my gevra om ‘n Bybelstorie vir hulle te lees. Ek het die storie van Noag en die reënboog gelees. Toe ek klaar was met die storie, het ek gevra: ‘Waar kyk julle om ‘n reënboog te sien?’ ‘Op die strate,’ het een geantwoord. Omdat ek gedink het dat hulle my verkeerd verstaan, het ek die vraag herhaal. ‘Op die strate,’ het die antwoord weer gekom. ‘Jy kan reënboë sien in die oliekolle in waterplasse in die strate en parkeergebied’  Dan merk die ou professor op:  ’These Trenton children had found God’s promise of new life not up in the sky, not way up high . . . instead, they had found the sign of God’s promise way down low, in the grimy puddles of their city streets’ (Princeton Seminary Bulletin XIV/1 1993).

Jy sien vriende, om die reënboog van God se genade en sy sorg en sy trou en sy glimlag raak te sien, vra dat ons miskien op vreemde plekke daarvoor moet gaan kyk.  Ja, daar is sulke goeie tye in ons lewens waar ons rustig die reënboog kan bewonder en God se goedheid raaksien.  Maar somtyds vra geloof daarna om reënboë te ontdek in die oliekolle in die waterplasse van die strate waar ons daagliks loop.  En daarom vriende, selfs al gaan ons dalk hierdie jaar somtyds sukkel om ons koppe op te tel en op te kyk, kan ons weet, selfs in elke olierige waterpoel, of miskien meer bekend, olierige slaggat, is daar ’n reënboog van hoop!  Die son sal altyd vir die Here se kinders weer deurbreek, want geen storm duur meer vir ewig nie! In elke storm is daar ’n reënboog as die son daarop skyn!

Koos Dup sing:

As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt, 

Mag jy in die jaar wat voorlê ook die voorreg hê om in die geloof die reënboog van God se genade dag vir dag te ontdek.  Ja, somtyds bo in die lug, ander kere onder in die olierige waterpoele.

Amen