1 Timoteus 6: Vlug van alle begeertes wat tot sonde lei

Paulus is `n ou man in die tronk en nou skryf hy vir die jong Timoteus. Dit is nou Paulus se laaste woorde aan die jonge Timoteus.

 

Skriflesing:  1 Timoteus 6:11-21   Teksvers:  1 Timoteus 6:12

 

Paulus sê in vers 11: “Maar jy, man van God …” Paulus praat dus met `n gelowige. `n Mens kan dink dat Paulus hier vir hom sou sê: “Storm, ou maat, veg, baklei en onthou alle krag is tot jou beskikking.” Maar dit is nie die eerste ding wat Paulus sê nie. Nee, hy sê vir Timoteus in vers 11: “Jy moet van dié dinge af wegvlug.”

 

Vlug:  As hy sê jy moet van hierdie dinge af wegvlug, van watter dinge praat hy dan? Vers 3 – valse leer;  vers 4 – twisvrae en stry oor woorde, afguns, beledigings en verdagmakery; vers 5 – moenie godsdiens van geld maak nie. Kortom: “Vlug weg van enige versoeking af.”

 

Andrew Fuller skryf dat die beste manier waarop die Christen vir die sonde kan wegvlug, is deur die “Opposite principle”. Hy verduidelik dit so: As jy vuur wil doodmaak, kan jy dit met jou hande probeer doen, maar jy gaan jou arms stompies toe brand. Hy sê, gebruik liewers die “Opposite principle” en gebruik water. As jy vuilgoed in jou tuin wil wen, kan jy jou hande eelte en knoppe werk en dit gaan dalk vir ’n ruk werk of jy kan die bedding toe plant met goeie plante en dan word die onkruid minder. Net so met sonde – jy kan dit op jou eie krag probeer oorwin deur jou aanmekaar daaraan bloot te stel of jy kan ander goeie goed beoefen in die plek daarvan.

 

Jesus voel so sterk hieroor dat Hy by geleentheid sê: “As jou oog jou laat struikel, ruk hom uit. Beter om met een oog in die hemel te kom as met twee oë in die hel. Kap jou hand af as jy struikel, beter met een hand in hemel as twee in hel.”

 

Iemand het eendag gesê: “Dapperheid is nie om te veg tot die dood toe nie. Dapperheid is om die balans te ken tussen veg en vlug. Vlug nou want dan kan jy kans kry om later weer te veg en om dan selfs beter planne te beraam om die vyand uit te oorlê.”

 

Dit werk in die geloof ook so. Paulus sê dat dit nie slim is om betrokke te raak by die versoekings en dit dan te probeer oorwin. Nee, vlug en word eers weer sterk om teenstand te kan bied. In vers 20 sê hy dit weer, anders: “Vermy die dinge, anders kan jy sterf.”

 

Veg: Die tweede ding wat Paulus vir Timoteus sê, is om te veg. Die nuwe Afrikaanse Vertaling het die Grieks in vers 12 vertaal met: “In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.” Mens kan die vers ook vertaal met: “Jy moet met al jou krag veg in die goeie stryd van die geloof.”

 

Paulus sê dus vir Timoteus om te veg. In vers 12b sê Paulus vir Timoteus: “Daartoe het God jou geroep.”  Dit is dus nie sommer `n mak ding dié nie. Dit is nie een of ander mensgemaakte idee nie. Nee, dit is God wat jou daartoe geroep het, om te veg. Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het gesê wat Paulus jare gelede al gesê het: “Wanneer God jou roep, dan roep Hy jou om te kom sterf.”

 

Oorlogvoering het `n wetenskap geword. Daar is `n magdom dinge wat jy moet onthou en aan dink tydens `n oorlog. Daar is minstens drie aspekte van oorlogvoering wat belangrik is: (a)  leer jou vyand ken; (b)  beraam jou planne en oefen dit en  (c) ken jou eie wapens goed.

 

Wie is ons vyand? 1 Petrus 5:8 sê: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos `n brullende leeu op soek na iemand om te verslind.” Dit is skrikwekkend hoe baie soldate gedurende oorlogvoering sneuwel as gevolg van die sogenaamde “friendly fire”. Dit beteken dat die mense hulle eie mense per ongeluk doodskiet.

 

Die tragedie is dat dieselfde verskynsel ook in die kerk voorkom. Paulus sê in Galasiërs 5:15: “Julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ons is net baie gesofistikeerd – ons gebruik “Bible bullets” en dan skiet ons mekaar morsdood. Ek het `n beter versie as jy en so “skiet” ons mekaar.

 

Timoteus veg.  Daar is ongelukkig iets soos “friendly fire”. Baklei tot die einde toe want dit is `n lewensfeit: Elke paradys het ’n slang.

 

Jy moet oefen en planne beraam. Wat ook al die strategie, jy moet oefen. Hier het die Here vir ons wonderlike beloftes gegee. In 2 Samuel 22:35 sê God vir Israel dat Hy hulle persoonlik sal afrig en help: “Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span.” Openbaring 12:11 sê: “Die kinders van die Here het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

 

Jy moet jou wapens baie goed ken. Die derde ding van `n soldaat is dat hy sy eie wapens ken. Die kerk, kinders van God: het twee wapens. Die Woord van die Here en gebed. Dit klink darem lekker “boring”; Bybel lees en bid.

 

In die fliek “Karate Kid” vra Daniel dat Mister Miagi om vir hom karate moet leer. Dan sê Miagi hy moet die heining verf, op en af. Nadat hy daarmee klaar was, moes hy drie ou kar wrakke politoer – heen en weer.  Dit het hom letterlike dae geneem en hy het moedeloos geraak. Wat help dit? Dit leer hom niks van karate nie. Waarop Mister Miagi so `n hou na hom mik en hy dit met die vryfbeweging afkeer. Toe Miagi na hom skop, keer hy dit met die ander vryfbeweging af. Daniel het toe geleer dat as jy `n goeie vegter wil wees jy somtyds die “boring” goed oor en oor moet doen, want juis daarin lê jou krag en oorwinning.

 

Is dit nie dalk die rede hoekom die kerk dag na dag aangekla word dat ons nie `n verskil kan maak in die wêreld nie? Bybel lees en bid het vir ons net eenvoudig te vervelig geraak. Ons soek ligte, musiek en net die beste sprekers. Maar juis daarin lê ons krag.

 

So baie hoor ek mense sê: “Ons moet leef soos die Bybel vra.” Natuurlik, maar daar is mense wat bomme plant en sê hulle leef volgens Bybelse riglyne. Wat beteken dit as jy sê jy leef volgens die Bybelse riglyne? Ek het `n skitterende opmerking gelees.  Die persoon skryf: “It is safe to say that a Biblical view is one that makes you love Jesus, one that makes you soft on people, but hard on sin in your own life.”

 

Is dit waar van ons as gemeente? Kan ek dit van myself en van my mense sê? Hulle is lief vir Jesus. Hulle is sag met mense en hulle is hard met die sonde in hulle eie lewens?

 

Volg: Paulus sê vlug en veg. Die laaste ding wat hy sê, is om te volg. Dit is eintlik ook heel logies. Geen soldaat veg sonder `n doel nie. Daar is iets of iemand waarvoor hy of sy veg. As `n soldaat nie weet vir wie, of vir wat hy of sy veg nie, is hulle bloot misdadigers.

Vers 15-16 sê: “Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag!”

 

Dit is skrikwekkend wat Tony Compolo vertel. Hy was by geleentheid in die Weste om te preek. Hy het daar prentjies van Jesus gesien en gevra: “Hoe lyk die Westerse Jesus?” Lang blonde hare en blou oë, `n tipiese Westerse mens. Hy is toe China toe om daar te gaan preek en was uiters verras. Hy het gevra: “En hoe lyk die Chinese se voorstelling van Jesus? Kan jy jouself `n “Chinese Jesus” voorstel? Hy maak dan die opmerking: “Dit gebeur so maklik dat ons Jesus definieer en ons definisie van Hom begin aanbied vir die waarheid.”

 

Ons aanbid nie die definisie wat ons van Jesus gemaak het nie, maar die Jesus van wie die Bybel getuig.  Wie is dit? Die een wat vra: “Kom neem jou kruis op en volg my.” Die een wat sê: “As jy jou lewe vir jouself wil hou, sal jy dit verloor.”

 

Donald Wildmon skryf: “I want no part of the Christian message which does not call me to involvement, requires of me no sacrifice, takes from me no comfort, and requires of me less than the best I have to give. The duty of a Christian is to be faithful, not popular or successful.”

 

Paulus sê vir Timoteus dat ons dié God moet volg. Is ons bereid om hierdie God te volg wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun gestuur het om in ons plek swaar te dra sodat ons sonder las kan rondloop. Is ons werklik bereid om ons lewe aan Hom toe te wy?

 

As ek hierdie stryd waartoe God ons roep reg verstaan, dan is dit so dat dit nie altyd net lekker gaan wees nie, en dat dit ook nie sonder lewensverlies gaan wees nie. Maar daar kom `n tyd van vreugde. Vers 14 sê dat God weer kom. Ons gaan die oorwinnaarskroon ontvang om ewig by God te wees. In Jesaja 54:17 kry ons die belofte: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg.”

 

Paulus sê vir die jong Timoteus: “Dit is die moeite werd – vlug vanaf alle begeertes wat tot die sonde lei, veg die sonde met alles in jou en volg My met jou hele lewe, die Koning van die Konings. Ek kom as oorwinnaar op die wit perd. Weet die oorwinning is reeds bekend – ons gaan saam wees”. Kom ons vlug weg van die sonde, kom ons veg die goeie stryd van die geloof en kom ons volg die Koning van die Konings.

 

Amen.