Ons leef in tye waar dinge vinnig verander. Ek kan Maandag my selfoon opgradeer, gaan ek ‘n nuwe beter, blinker selfoon op die rak uitkies? Vir wat? Is dit regtig nodig? Wat is die motivering agter hierdie neiging tot die nuwe?
So ook is daar selfs bekende predikers wat vandag op internasionale televisie verklaar dat briewe van 2000 jaar gelede nie meer relevant is om die lewe vandag te verduidelik nie. Dat al manier hoe ons regtig die lewe kan ken, is deur ons eie ervaring. Hoe ons voel is wat die lewe is, en dit is al wat die lewe is. Ons ervaring kry voorkeur bo enige ander kennis. Dit is tog presies wat die post-modernisme is. ‘n Revolusie teen die Moderne manier van doen, waar kennis seëvier en ook bepaal hoe opgetree moet word. In die post-modernisme is die eie ek baas. Niemand kan vir my sê wat ek doen is verkeerd nie, want dit is my lewe en ek moet self uitvind wat werk vir my. Wat vir my werk, werk hoef nie vir jou te werk nie. En hierin lê die kiem van hoekom mense begin dink dat briewe van 2000 jaar gelede irrelevant is.
Die brief van Johannes wat ons sopas gelees het is een van daardie briewe van 2000 jaar gelede. Johannes het die brief waarskynlik rondom 60 n.C. geskryf. Dit is presies 1955 jaar gelede. Nou moet ons hierdie gedeelte uit die Bybel skeer? Moet ons nie sommer die hele Bybel eenkant toe gooi nie? Dit is mos ‘n stokou boek… Ons wil mos ons ervaring van God eerste stel, en sommer onsself daardeur bo ander verhoog wat nie God soos ons ervaar nie. As jy nie God in ‘n vision, ‘n harde stem, of deur in tale te praat ervaar nie, dan ken jy nie regtig die Here nie…
Hierdie kwessie van hoe God geken kan word was 2000 jaar gelede op die tafel. ‘n Groep mense het hulself bo ander verhef en gesê dat die enigste manier om God te ken is om ‘n direkte ervaring van Hom te hê. Johannes skryf primer hierdie brief van hom om daardie mense verkeerd te bewys. Net so IS sy brief van 2000 jaar gelede juis relevant in ons post-moderne samelewing wat logiese denke afwys vir subjektiewe ervarings.
As die Bybel, die 2000 jaar oue dokument, sê God is liefde, beteken dit al sy aktiwiteite is liefhebbende aktiwiteite. Alles wat God doen is liefdevol. As Hy skep, skep Hy in liefde, as Hy regeer, regeer Hy in liefde, as Hy oordeel, oordeel Hy in liefde. Alles wat Hy doen is ‘n uitdrukking van Sy natuur, wat liefde is. Maar, voordat ons verder gaan in abstrakte terme, waartoe die woord liefde in taalkundige terme tot die abstrakte selfstandige naamwoord behoort, kom ons probeer eers bietjie nader kyk na wat die liefde is.
Kom ons probeer logies redeneer oor die irrasionele liefde.
God is liefde. Liefde kom van die Vader af, die Vader is die oorsprong van die liefde. Die Seun, Christus is die openbaring van daardie liefde wat van die Vader af kom. Ons, mense, is die realisering van die liefde wat van die Vader af kom, wat deur Christus geopenbaar is. So, eenvoudig gestel. Liefde is wat ons doen, en wie ons is, in die lewe saam Christus.
As jy nou nog nie deurmekaar is nie, kom ons gaan verder.
Die liefde van God, wat ons leef, behoort die Agape liefde te wees. Ja, daar is verskillende soorte liefde. In die Grieks, waarin die Nuwe Testament oorspronklik geskryf is daar hoofsaaklik drie woorde vir die liefde.
Agape, Fileo, en Eros. Eros kan ons almal aflei waarop dit sinspeel, die fisiese deel van die liefde. Fileo is weer meer ‘n vriendskap liefde. Agape is die liefde waarna ons moet streef. Dit is die liefde wat bly staan deur dik en dun. Dit is die liefde wat al is daar verskille tussen twee mense dit nie die verhouding afbreek nie, want die liefde, die agape liefde oorwin enige verskil.
So wat is die liefde waarvan hier in Johannes se brief gepraat word? Daardie Agape liefde, wat alles oortref. As ons ook mooi na hierdie stukkie gaan kyk sal ons sien dat die woordjie liefde in hierdie 14 verse 30 keer herhaal word. 30 keer in 14 verse word ons herinner aan die liefde wat God is, en in en deur ons wil wees.
So hoe ken ons God as ons gaan kyk na wat die Bybel vir ons sê? Of moet ons eerder maar gaan soek na persoonlike bonatuurlike ervaring waar ons God se stem helder hoor, of Hom in ‘n vision sien, en dit as die enigste weg tot God voorhou?
Ons weet nou dat God liefde is. Dat die Vader die liefde gee, die Seun die liefde openbaar en die liefde leef. Ons weet daar is verskillende soorte liefde, waarvan die Agape liefde die eintlike liefde is wat jy wil uitleef wat alles oortref en bedek.
Maar hoe leef ons daardie Agape liefde uit?
Kortliks is daar vyf verskillende maniere hoe ons liefde betoon, julle weet seker al goed hiervan, maar dis die moeite werd om dit te herhaal. Liefde kan gewys word op vyf maniere: deur geskenke, deur woorde, deur dade, deur tyd, en deur die fisiese. Hierdie vyf maniere is alles maniere hoe ons vir iemand anders die liefde kan wys wat God aan ons kom wys het.
As ons na die Bybel kyk vir antwoorde, vir hoe God homself aan ons openbaar, sal ons sien dat ons juis God leer ken deur die liefde wat Hy aan ons openbaar deur ander mense. In vers 19-21 wys God juis vir ons dat ons Hy ons lief het deur ons naaste en ons Hom lief het deur ons naaste. As ons die mense naaste aan ons nie met liefde kan behandel nie, dan het ons nie die liefde nie. Hierdie is ‘n belangrike punt. As die liefde dan juis tot sy beste kom in ons naaste, is die omgekeerde ook waar, as liefde vir ons naaste ontbreek, beteken dit dat ons liefde vir God afwesig is… Harde woorde, maar waar woorde.
In hierdie liefde vir ons naaste, in hierdie liefde vir God, is dit egter nie altyd vir almal ewe maklik om lief te hê nie. Al is die liefde ontwerp om maklik te wees, dit is immers hoe die aarde en ons elkeen ontstaan het, uit liefde, is dit soms moeilik om lief te hê want ons het sonde binne in ons. Maar! Maar ons kan hierdie sonde deur die liefde vir God oorwin.
Joh 4:18 sê vir ons dat waar daar liefde is, is daar nie vrees nie. Dat die liefde alle vrese oorwin. Maar hoe is dit moontlik? Ons is dan tog almal sondig, hoe gaan ons dit regkry om hierdie volmaakte, vreeslose liefde te ervaar en uit te leef sodat ander ook God kan ervaar?
Die antwoord is so eenvoudig dat dit so mooi getuig van die eenvoud van die liefde. Liefde as ‘n abstrakte selfstandige naamwoord kom word ‘n eienaam. ‘n Eienaam is nie abstrak nie, dit is waar, ons kan ‘n eienaam sien, voel en hoor. Hierdie eienaam is Jesus, Jesus Christus. Jesus Christus het die sonde kom oorwin die dag toe Hy vir ons sonde, uit liefde, aan die kruis kom sterf het, en weer opgestaan het. Deur Jesus se daad van onvoorwaardelike liefde, liefde vir ons almal, kom maak Hy dat ons almal kan liefhê, dat ons almal kan deel in die liefde van God, dat ons almal God kan ervaar.
Ons ken God deur die liefde te ervaar wat sy enigste Seun vir ons kom moontlik maak het.
Verder moet onthou word dat van al die toetse of ‘n mens werklik uit God gebore is, vir God ken, in God is en bly, is die toets van naasteliefde die toets. Daar is ander toetse: of iemand die Gees het (13); of iemand bely dat Jesus die Seun van God is (15); of hy vreesloos is vir die oordeelsdag (17,18), maar die toets bo alle toetse is of jy jou naaste met konkrete, tasbare, dade lief het.
So in tye wat vinnig verander, waar mense vir ons sê dat wat in die Bybel staan irrelevant is, kan ons met selfvertroue antwoord dat die Bybel nog net so relevant vandag is, soos wat dit 2000 jaar gelede was. God se liefde wat Hy vir ons moontlik gemaak het deur sy seun Jesus Christus is vandag nog net so relevant en nodig soos 2000 jaar gelede. Sonder liefde vir ons naaste is daar regtig geen punt aan die lewe nie, die lewe gaan om te deel in God se liefde deur dit uit te leef saam met ons naaste, en so God se naam te verheerlik.
Al die tale, profesieë, met die tyd gaan dit verby. Net die liefde, die volmaakte, kom en sal vir altyd bly. Want geloof gee troos en rigting; na die toekoms reik die hoop. Liefde is en bly die grootste: Liefde sluit die lewe oop!
Mag jy vandag opnuut God se liefde ervaar. Mag jy vandag daardie liefde wat jy ervaar met jou naaste deel. Mag jy vandag besef, dat om deel te wees van God se fontein van liefde, juis beteken om soos ‘n borrelende fontein heeltyd verfrissende liefde met ander te deel, want so deel jy God.
Amen.