2 Timoteus 3: Die hele Skrif is deur God geïnspireer

Ek is Bob, die bouer van Extreme Makeover! Eintlik moet ek vandag sê: “Ek WAS Bob, die bouer van Extreme Makeover…”

 

Ek het die eerste dag, toe ons met die bouwerk begin het, na die bouplan van die huis gekyk en alles probeer onthou wat ek moes doen. Toe het ek begin bou, en nooit weer na die plan gekyk nie. Ek het my span opgedeel en elkeen van ons het aan ‘n deel van die muur begin bou, net soos Nehemia se span die muur rondom Jerusalem gebou het.

 

Vandag het ek agtergekom dat iets in die bouwerk nie reg lyk nie. Jerusalem se muur het mooi bymekaar gekom en daar was geen gapings toe hulle klaar gebou het nie. Die muur wat ons gebou het, het nie so mooi bymekaar gekom nie. Ek het vergeet wat die afmetings was wat op die plan gestaan het. Ek moes eintlik elke dag weer na die plan gaan kyk het. Ek is seker die baas van die Extreme Makeover-program, Meneer Pennington, gaan my nou enige oomblik bel en vir my sê: “Bob, vat jou gereedskap en loop!”

 

Bob se fout om nie gereeld na die bouplan te kyk nie, laat my dink aan die Jode wat in en om Jerusalem gewoon het. Hulle het lanklaas na God se plan vir hulle lewens gekyk. Hulle het vergeet hoe God wou hê dat hulle moes lewe. God se plan was geskryf in die wette wat die Here reeds baie jare gelede vir Moses in die woestyn gegee het.

 

Op 2 Oktober (op die vyf en twintigste van die maand Elul in 445vC) is die muur uiteindelik voltooi! Dit het Nehemia en sy bouspan net 52 dae geneem om die muur klaar te bou! Nehemia se vyande het besef dat God hulle gehelp het om die muur te voltooi. (Nehemia 6:15-16) Nou was die stad veilig teen die vyande van buite. Nehemia het ook gesorg dat dit beter gaan met die mense binne die stad omdat hulle begin het om vir mekaar om te gee.

 

Nie lank nadat die muur voltooi is en Nehemia die hekke gehang het nie, het die hele volk op ‘n groot oop stuk grond voor die Waterpoort bymekaar gekom. Die mans en vroue en al die kinders wat al oud genoeg was om te verstaan (omtrent so oud soos julle) het daar bymekaar gekom.

 

Die mense het vir Esra gevra om die wetboek waarin die bevele van die Here was, saam te bring. Nog voordat Nehemia uit Babel na Jerusalem gekom het, het koning Artasasta vir Esra, ‘n Joodse priester wat ook in Babel gewoon het, gestuur om te gaan kyk hoe dit met die Jode in Jerusalem gaan.

 

‘n Groot groep Jode, ook priesters en Leviete, tempelsangers en tempelwagte wat nie jare gelede saam met die eerste groep na Jerusalem toe teruggekeer het nie, het saam met Esra na Jerusalem vertrek. Die tempel van die Here was weer gebou, maar nou moes die volk weer geleer word hoe om as God se spesiale volk te lewe. Dit was nie ‘n maklike taak nie. Omdat hulle so lanklaas na die Here se bouplan vir hulle lewens gekyk het, het hulle baie sonde gedoen. Hulle het ‘n extreme makeover nodig gehad!

 

Esra het op ‘n houtverhoog geklim sodat al die mense hom mooi kon sien. Hy het die Here geprys en al die mense het gesê: “Amen! Amen!” Hulle het hulle hande na die hemel uitgestrek en daarna voor die Here gekniel en met hulle gesigte laag teen die grond neergebuig.

 

Toe Esra die wetboek van die Here oopmaak, het al die mense uit respek opgestaan. Hy het van die oggend tot die middag uit die wet van die Here voorgelees sodat hulle kon hoor hoe God wou hê hulle moes lewe. Die Leviete het langs Esra gestaan en vir die mense mooi verduidelik wat die woorde wat Esra gelees het, beteken.

 

Die mense het mooi geluister. Toe het hulle begin huil omdat hulle besef het hoe groot hulle sonde was. Nehemia, Esra en die Leviete het vir die mense gesê: “Julle moenie treur of huil nie. Vandag is ‘n spesiale dag wat aan die Here, julle God, gewys is.”

 

Nehemia het ook vir die mense gesê: “Gaan eet ‘n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met die mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ‘n dag wat aan ons God gewy is. Moenie teneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee sal julle krag wees” (Nehemia 8:9-10).

 

Dit was asof die mense vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer na God se bouplan vir hulle lewens gekyk het. Hulle het so lanklaas daarna gekyk dat hulle vergeet het hoe God wou hê dat hulle moes lewe. Nou het hulle hulle foute agtergekom en besef dat hulle al die tyd besig was om met sonde-bakstene te bou. Alhoewel die muur rondom Jerusalem regop gestaan het, was hulle lewens vol sonde-rommel.

 

Al was hulle hartseer oor hulle sonde het Nehemia hulle aangemoedig om bly te wees omdat hulle nou weer gehoor het hoe God wou hê hulle moes lewe. Dit sou hulle die krag gee om in die toekoms te doen wat reg is. Ons lees in Nehemia 8:12 “Die mense het toe weggegaan om ‘n feesmaal te eet en te drink en hulle kos met ander te deel. Hulle het goed verstaan wat voorgelees is. Dit het hulle baie bly gemaak.”

 

Die volgende dag het Esra, die ander priesters en die Leviete weer bymekaargekom en verder uit God se wetboek gelees. Terwyl hulle God se plan vir hulle lewens bestudeer het, het hulle besef dat hulle juis in daardie maand, in Oktober, die Loofhuttefees moes vier. God het lank gelede vir Moses verduidelik hoe hulle dit moes doen. Die fees moes hulle herinner aan die tyd toe God vir hulle in die woestyn gesorg het.

 

Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het hulle weer vir hulle huise uit olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en vyeboomtakke gebou. Hulle het vir sewe dae lank in hierdie takhuise gewoon. Hulle was baie bly om weer te doen wat die Here vir hulle gesê het om te doen! Esra het elke dag, vir sewe dae lank, uit die wetboek voorgelees.

 

Ons lees in Nehemia 9 en 10 hoe die volk hulle sondes bely het en belowe het om in die toekoms aan God se Woord gehoorsaam te wees. Hulle het ook belowe om mooi na God se tempel in Jerusalem te kyk.

 

 

 

 

 

Bob het nie gereeld na sy bouplan gekyk nie en toe het hy ‘n fout gemaak. Die Jode daar in Jerusalem het nie gereeld seker gemaak dat hulle nog God se plan vir hulle lewens volg nie en het toegelaat dat hulle lewens vol sonde-rommel raak. Dit kan maklik gebeur dat ek en jy, al is ons deel van God se Extreme Makeover-span, ook vergeet om seker te maak dat ons nog besig is om God se plan vir ons lewens te volg. Ons moet die Here se Extreme Makeover-plan gehoorsaam.

 

Nehemia en die volk het net ‘n gedeelte van die Ou Testament gehad om te lees om uit te vind wat God se plan is. Ons het vandag die hele Bybel waarin God se Extreme Makeover-plan neergeskryf is.

 

Hoe wonderlik is dit dat die Here nie sy Extreme Makeover-plan vir my lewe en vir die wêreld wat Hy so liefhet, geheim gehou het nie! Hy het sy plan neergeskryf sodat ek en jy dit vandag kan lees en presies kan weet hoe God wil hê dat ons moet lewe.

 

2 Timoteus 3:16 sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.” Sal jy jou Bybel gereeld lees sodat jy nie vergeet hoe die Here wil hê dat jy moet lewe en dat Hy jou roep om deel van sy span te wees nie?

 

Hallo Meneer Pennington. Ek is regtig jammer oor die skewe muur. Ek weet dit is my skuld, maar ek sal regtig in die toekoms meer gereeld na die bouplan kyk om seker te maak ek doen dit reg. Ja, Meneer, dankie, Meneer. Sien Meneer môre. Totsiens, Meneer.”

 

Ek is Bob, die bouer van Extreme Makeover!

 

Kom ons bid saam.

2 Konings 5: Waar sien jy die Here raak?

Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid begin meestal in ons gedagtes. Die maniere waarop ons oor die lewe dink, is die beginpunt van wat ons doen. Gehoorsaamheid aan God lyk dikwels anders as die manier waarop mense om ons leef. Dit vra dikwels dat ons ‘n keuse moet maak om anders as die normale moet optree. Dit vra dikwels dat ons ‘n keuse vir die heilige moet maak.

 

Daarom moet ons eers luister na God en die Bybel om te weet wat God van ons vra. Die woord “gehoorsaamheid” help ons hiermee. Ons moet eers God “hoor” en dan “saam” met die Heilige Gees dit doen. Gehoorsaamheid is nie ‘n voorwaarde om God se genade te verdien nie, maar is ‘n spontane reaksie of keuse in antwoord tot God se liefde.

 

In hierdie verhaal in 2 Konings ontmoet ons vir Naaman, die hoof van die leër, ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet, ‘n dapper soldaat. Ons ontmoet ook ‘n dogtertjie wat ontvoer is uit haar land wat as bediende vir Naaman se vrou werk. En ons hoor van Elisa, die profeet van Israel.

 

Elisa het baie wonders gedoen. Hy het giftige water drinkbaar baar gemaak. Hy het olie laat vermeerder sodat ‘n weduwee haar man skuld kan afbetaal. Hy het ‘n vrou se kind uit die dood laat opstaan. Hy het ‘n giftige bredie eetbaar gemaak en ook brood laat vermeerder sodat ‘n honderd mense kos gehad het.

 

In hierdie storie oor Naaman gebeur dit dat hy, die gesiene soldaat, melaatsheid opdoen. Hy word siek, en toe van alle mense, vertel die ontvoerde dogtertjie hom van die profeet Elisa in Israel wat hom sal kan genees. Onthou, Naaman en sy vrou bly in Aram, saam met die dogtertjie wat sy soldate ontvoer het uit Israel.

 

Naaman gaan toe na sy koning om hom verlof te vra om na die koning van Israel te gaan sodat hy genees kan word. Sy koning gee toestemming en stuur hom met ‘n brief vir die koning van Israel. Toe hy by die koning van Israel aankom skeur die koning sy kleure en sê tereg aan Naaman: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee?” En met die woorde is hy weg van die koning na die profeet Elisa.

 

Toe hy by die tempel aankom opsoek na Elisa, stuur Elisa vir hom ‘n boodskap: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond en rein wees.” Hy was nie baie gelukkig met hierdie boodskap nie. Hoekom het Elisa nie self met hom, die gesiene soldaat kom praat nie, hoekom moet hy hom in die Jordaan gaan was terwyl die Damaskus, Abana en Parpar riviere daar is wat baie mooier en skoner is?

 

Hy is daar weg sonder om die opdrag van die profeet uit te voer. Terug by die huis het sy amptenare mooi met hom gepraat en hom probeer oorreed om die eenvoudige opdrag van die profeet uit te voer.

 

Hy gaan toe af na die Jordaan rivier, was hom sewe maal, en sy vel het soos die van ‘n klein seuntjie geword, en hy was rein, genees van alle melaatsheid.

 

Met die storie kan ons onsself vra met wie in die storie assosieer ons?

 

Naaman die gesiene soldaat opsoek na genesing? Die naamlose ontvoerde dogtertjie in ‘n vreemde land? Een van die konings? Dalk een van Naaman se amptenare? Waar plaas jy jouself in die storie? Of dalk die dieper vraag, wie is jy voor God?

 

Wat verras in hierdie verhaal is dat die ontvoerde dogtertjie eintlik die een is wat die bevelvoerder van die soldate wat haar ontvoer het se lewe red. As uitgebuite, as gemarginaliseerde, as ontneemde klein dogtertjie gee sy steeds raad vir haar eienaar sodat sy lewe gered kan word. Hoekom? Hoekom laat sy hom nie eerder sterf om ‘n kans te kry om te ontsnap nie?

 

Hierdie verhaal is vol gemengde emosies, maar twee emosies wat duidelik hier uitstaan is die van trots en nederigheid.

 

 

 

 

Naaman het duidelik vanuit sy trots desperaat opgetree en dadelik na die konings gegaan. Manne van sy statuur. Manne in beheer van sake wat vinnig dinge sal kan regruk. Die koning van Israel dwing hom egter om te gaan kennis maak met Elisa. Hy kom daar aan en Elisa kom nie eers uit sy huis nie, Elisa stuur net ‘n boodskap. Hierdie maak die trotse, gesiene soldaat kwaad. Waar is die aanroep van die Here se Naam, waar is die profeet se hande wat oor sy melaatsheid moet beweeg, in kort waar is die ding wat iemand anders moet doen om my te genees?

 

Hierby kan baie van ons aansluit. Baie van ons, veral ons mans, maar ook van die dames, loop met hope trots in ons opgesluit. Ons dra ons seer stil stil binne in ons. Tot die dag wat dit nie meer anders kan nie, tot die dag wanneer die seer binne ons buite ons begin wys. ‘n Humeur wat dalk nie meer ingehou kan word nie, ‘n skuinskyk, ‘n te vinnige opmerking. Of dalk begin die seer slapelose nagte veroorsaak, sakke onder die oë, moeilike dae.

 

En eers wanneer dit begin wys begin ons daaraan dink om na iemand te gaan om ons te genees van ons seer sonder dat ons regtig op ‘n dieper vlak met ons seer vrede maak. Naaman was trots, en die profeet wou hom nie gesond maak nie.

 

Elisa stuur wel die boodskap aan Naaman om homself in die Jordaan te gaan was. ‘n Eenvoudige boodskap. Maar trotse Naaman wil dit nie doen nie. Dit is benede hom om hierdie eenvoudige dingetjie te doen en iets groot daarvan te verwag.

 

Hy ry terug huisstoe en daar gesels hy met sy amptenare, waarskynlik in tipiese braaivleisvuur styl, “Kan jy glo die man vra dit van my, weet hy wie ek is?”

 

En is hier waar die Gees reeds oorneem in Naaman se lewe. Vir een of ander onverklaarbare rede luister hy die gesiene soldaat na die raad van amptenare. Hy gaan toe af na die Jordaan en was hom sewe maal daarin. Hy word toe genees van sy melaatsheid en sy vel raak soos die van ‘n klein seuntjie.

 

Wat in hierdie verhaal belangrik is om raak te sien is baie, verskillende karakters se verskillende emosies en optrede, maar vandag veral Naaman en die klein dogtertjie.

Naaman moes uiteindelik sy trots laat staan om in nederigheid letterlik af te daal na die Jordaan rivier en die eenvoudige en dalk snaakse ding te doen om homself sewe keer in die Jordaan rivier te was.

 

Hoe baie staan ons trots nie tussen ons en die opdragte van die Here nie? Wat gaan mense van my dink as ek na hulle toe stap en vertel dat die Here vir hulle baie lief is, dat Hy omgee oor hulle gesondheid, en dat hy hulle gesond wil maak? Trots vra altyd: “Wat gaan die mense sê?” God vra: “Petrus, is jy regtig lief vir my?”

 

In hierdie verhaal is die klein dogtertjie die eerste een om te praat. Sy neem die inisiatief om haar meester tot genesing te help, al is sy hulle slaaf, al het sy rede om kwaad te wees, is sy steeds die een wat genesing aanbied.

 

Hoe bereid is jy om opdragte van die Here uit te voer? Is jy die klein dogtertjie wat in jou ongemak steeds sonder huiwer die Here se liefde aan almal oordra, of is jy Naaman wat eers deur jou seer of siekte geraak moet word voordat jy na die stem van die Here luister?

 

Ek sluit af.

 

Om gehoorsaam te wees moet ons kan luister. Hoe goed luister jy? Wanneer iemand iets vir jou vandag sê, vra: “Hoor ek jou reg as jy sê…” en herhaal wat gesê is in jou eie woorde om dit te toets. Gehoorsaamheid vra dat ons hoor wat God sê sodat ons vorentoe saam kan wees.

 

Waar praat God met jou? Waar sien jy die Here raak? Waar hoor jy Hom?

 

Naaman het God gevind toe hy na ‘n klein dogtertjie geluister het. Naaman het God gevind toe hy na sy amptenare geluister het. Naaman het God gevind in die geringstes, die sonder aansien.

 

Amen.

Liturgical Space: A Very Weird Message

Liturgical Space: A Very Weird Message
Gary Ball Gary Ball is church planter and rector of Redeemer Anglican Church in Asheville, NC. Gary graduated from Trevecca Nazarene University, in Nashville,…

November 14, 2017 at 04:21PM
via Instapaper http://ift.tt/2yzt1Zn