brabbeltaal

As ek tik, tik ek gewoonlik klinies. Nie omdat ek dit intensioneel probeer doen om alle persoonlike voornaamwoorde te vermy of om enige iemand skade te vermy nie, maar eerder omdat dit is soos wat ek dink en doen.

Maar soms, soms raak ek emosioneel, dan is alles anders. Dan is dit asof iemand met ‘n bree rooi kwas oor my donkerblou canvas kom verf en so bietjie lewe gee. Dit gebeur min, en as dit gebeur geniet ek dit soveel dat ek in daardie tydelike emosie wil inklim en met my analitiese geaardheid wil ontleed om dit beter te verstaan en dan keer ek in daardie ontledingsproses weer terug na die diep donkerblou canvas sonder die rooi kwashale, amper soos Photoshop se undo knoppie.

Ekt al baie gewonder hoekom dinge in my so kontrasterend paradoksaal reflekteer, maar tot vandag kan ek dit nie verstaan nie. Dit is dalk hoekom die woorde bo aan die orakel se deur in die eerste Matrix fliek my steeds intresseer, dit se, “know thyself”, en dit is ‘n gedagte wat uit die ou griekse filosofie kom.

As jy jouself beter verstaan sal jy ook jou posisie in die groter samelewing beter verstaan. Daarom my beheptheid met die gedagte van identiteit. Ek wil alles van almal terugtrek na ‘n innerlike identiteit wat die uiterlike na vore bring.

Identiteit is so ‘n komplekse saak dat daar vir lank oor net een afdeling van dit gesels kan word. Dan is daar ook die vraag of identiteit regtig ooit vasgestel kan word? Omdat almal vooruitstrewend is en nie verkieslik die foute van hul verlede wil herhaal nie verander almal die heeltyd, daarvandaan die gesegde dat die enigste konstante verandering is. Dus met konstante verandering wat plaasvind is daar iets soos ‘n identiteit? Wat ewig waar kan/sal wees?

Net ‘n paar gedagtes wat ek in die kuberruim wil stoor om later te oordenk.

Geseende paasfees vir jou!

dit was sondag aand

dit is sondag aand,
die kerk is koud
die houtbanke hard
die glimlagte ingetoë
die oë moeg

dit is sondag aand,
die orrel trek
die dominee preek
die woorde steek

dit is sondag aand,
die vlamme brand
die boek met sy goue rand

dit is sondag aand,
die boek met sy goue rand, brand, nou my, verstand

dit was sondag aand.

– Francois van Dijk

waar was God?

in die tyd van Ahasveros
oor honderd sewe en twintig provinsies
van Indië tot Kus

koning Ahasveros het ‘n glasie wyn geniet
koninging Vasti het gewyer, kroon en al
koninging Vasti het gegaan, en hard geval
koning Ahasveros het ‘n glasie wyn geniet

elke man moet baas wees van sy huis
oor sy vrou inkluis

Mordegai voog
het dopgehou vir Ester met sy oog
Ester mooi
was koning Ahasveros se prooi

koning Ahasveros het ‘n glasie wyn geniet
Haman wou die Jode se bloed laat loop
Haman se woorde was soos stroop
koning Ahasveros het ‘n glasie wyn geniet

Mordegai het gerou
Haman het galg gebou
koningin Ester het geskink
koning Ahasveros het gedrink

Mordegai het regeer oor menigte
Haman het gehang aan sy eie handewerk
koninging Ester het haar volk bevry
koning Ahasveros het ‘n slasie wyn geniet

maar, waar was God?

– Francois van Dijk