Die Gemaskerde Wonder…

Hierdie is vir my klasmaats, vir die wat nog optimisties is en heeltemal blind die bediening en hul studies ingaan. Dit is sinies, en brutaal eerlik geskryf deur ‘n dominee. Ja, jy wil ook ‘n dominee wees. Lees hierdie!

Dit is wat werklik in die bediening gebeur, dit is wat nie al ons dosente vir ons wil se nie. Ek weet dit gebeur. My pa is ook ‘n dominee! Hierdie is hard! Die bediening is hard! En ek wil nou vir julle se, as julle nie regtig diep in julle harte oortuig is dat julle moet aanhou met teologie nie, moet nie! Moet nie jouself verloen vir iemand anders se drome nie! Moet nie teologie swot, net omdat dit na ‘n edele beroep lyk nie! Jy, en jou vrou, gaan in julle hande huil as jy nie met ‘n diepe oortuiging weet dat die Here jou plaas waar jy moet wees nie! Luister na Sy stem! Raak stil vir ‘n oomblik, sommer baie lank, en luister mooi na Hom! Want sonder Hom sal jy nie kan nie! Daar gaan baie moeilike tye wees! Maar daar gaan ook wonderlike tye wees wat jy vir niks sal wil ruil in jou lewe nie! Die bediening IS wonderlik! Dit is regtig kosbaar, en daarom, vir sulke dinge soos wat die dominee hier oor skryf om jou nie te laat twyfel nie, moet jy ‘n diepe verhouding met die Here he!

 

Ons het vandag oor die titel gepraat waarop jy mense aanspreek en waarop ander jou gaan aanspreek en die gevolge daarvan. Ja, daar is gevolge as mense hoor jy is dominee. Noem my sinies, noem my realisties, noem my optimisties, noem my idealisties, noem my dominee, noem my Francois, solank jy dit net doen vanuit die grootte Liefde wat die Here in jou hart kom plaas het!

 

Ek hoop julle wat hierdie lees, sal nie in die moeilikhede van die bediening vaskyk nie, maar eerder wonder hoe jy jouself, saam met jou gesin, saam met die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, gaan posisioneer in jou bediening, wat dit ookal mag wees.

 

Toe ek klein was, was ek baie bang vir Dominees. Hulle het altyd in pakke klere rondgeloop, en Sondag het hulle so ‘n onheilspellende Batman- pakkie aangehad. Hulle kon ook in baie vreemde stemtone praat, maar darem “Jerusalem” so mooi in ronde letters sê. Hulle het altyd baie kwaai gelyk, seker maar oor al die sonde van die gemeentelede. Dit het ook nie gelyk of hulle vir ‘n grappie kan lag nie- dié wat hulle wel voor lag is heel simpel, soos die een van die wielspênner hy es nie…  Of dominees wat hel toe gaan en tacxibestuurders wat dadelik hemel toe gaan.

Groot was my skok en verbasing toe ek in Standerd 9 begin ervaar het dat die Here my ook roep vir diens as Dominee.  Wanneer ek die Bybel gelees het (en nog steeds vandag!) sien ek niks van titels en togas nie. Ek sien niks van Dominus- (Heerser in Latyn!) in die rol van ‘n predikant nie. Ek sien Jesus en ‘n groepie vissermanne wat saam om ‘n vuurtjie sit, en beplan om die wêreld met liefde te verander.  Dis die prentjie wat ek in my kop het van waarmee ek veronderstel was om besig te wees.

Toe ek op Universiteit kom, het ons dadelik met die groot Teologiese vakke begin worstel- Ou Testament en Nuwe Testament Teologie. Nog later sou goeters soos Dogmatiek en Kerkreg op die toneel verskyn.  Baie ingewikkelde goeters, ‘n mens het ses jaar nodig gehad op universiteit om slim genoeg te raak om in ‘n gemeente losgelaat te word…

So gedurende Universiteit het ek ‘n vreemde ding begin raaksien in die predikantekorps van die kerk. IEts wat my baie gepla het destyds. Wanneer daar gemeentelede naby is, het die manne (toe nog nie dames nie…) skielik ‘n masker opgehad. Stemtone het verander. Liggaamshouding was skielik meer dinamies, regop rug, glimlag om die mond want die lewe is mos altyd mooi, hande uit die sak uit, hemp mooi netjies ingesteek. Want sien- jy is immers ‘n pilaar waarop die gemeenskap gebou is. Mense kyk op na jou.  Hulle praat in ander stemtone as jy verbystap. Die goeie grappies droog op as jy by die skool se braaivleisvuur nader stap met jou stukkie chuck. En almal vertel die grappie van die wielspenner hy ês nie. En jy glimlag beleef, al het jy die grappie al 3000 keer gehoor…

Die punt is: baie dominees ontwikkel ‘n masker- die beeld wat hy voorhou vir die gemeente. Dit gaan altyd goed met hom. Alles lo0p altyd reg in sy huwelik en met sy kinders. Hy het al die antwoorde vir al die vrae- hoekom gaan kinders dood, hoekom verloor goeie mense hulle werk, hoekom werk die meeste huwelikke nie uit nie… Altyd met ‘n vriendelike glimlag op sy gesig-  ”Ek is in beheer, volg my…”

Ek sien dieselfde broers en susters op die predikante wegbreke. En in die aande rondom die vure by die Sinodeas ons daar in ons karavane kamp. Ek sien die seer van wat mense aan pastoriegesinne doen. Die onrealistiese verwagtinge. Die eis dat Dominee altyd perfek moet wees. Dat sy vrou altyd goed geklee sal wees, en sal lei wat die Vrouediens aanbetref. Sy kinders kry dit van voor by die skool, hulle moet altyd soet wees want hulle pa is mos die dominee…

Ek het my voorgeneem om nie eendag met maskers in die bediening rond te loop nie. Ek het probeer eg wees in my menswees- soos ek by die braaivleisvuur Vrydagaand met ‘n glasie Camerca in die hand is, net so wou ek graag op die kansel wees, net so wou ek wees as mense my op straat raakloop.  Ek weet ek kom uit ‘n industriële dorp uit, ek weet my Afrikaanse gebruik is soms effens grof met stoute en donker woordjies in. Ek sê soms poepol en bliksem op my blog- en vir sommige mense is dit ‘n duidelike teken dat ek van die wa af is. Ek weet ek lag saam vir die stoute grappie langs die braaivleisvuur.  En ek is lief vir motorfietse en motorfietsryers, al suip hulle soms en al gaan dit soms woes op die rallies. Ek wou so graag daar wees, sout vir die wêreld wees en lig vir die aarde waar dit nodig is. As ekself. As kind van God. Nie as die een met die titel en die toga nie.  Net ‘n dissipel van Jesus soos elke ander gelowige veronderstel is om te wees, niks meer as dit nie.

Na 19 jaar op die platteland moet ek dit vir myself begin erken: ek het ook maar ‘n masker begin ontwikkel. Ek glimlag ook maar liefies en probeer doen wat almal graag wil hê ek moet doen. Ek probeer ook maar almal tevrede hou, netnou raak die ou kwaad en betaal nie meer sy dankoffer nie, dan is my salaris in gedrang, hoe sorg ek dan vir my gesin?

Die probleem met die masker is: verskillende mense hou van verskillende maskers. Die jongmense hou van die masker van ‘n nar, wat hulle entertain. Die ou mense hou van die masker van ‘n wyse man, wat diep en innig saamstem met hulle lewensfilosofie. Die armes hou van die masker van iemand wat saam met hulle sukkel, die rykes soek die masker van iemand vir wie hulle darem nie te skaam hoef te wees as die grênd mense groot funksies hou nie.   Jy moet darem lyk asof die Here jou seën met al die voorspoed wat daardie manne op TBN se kanaal verkondig, die mooi boodskappe van rykdom en seën wat reeds oormatig geseëndes so graag na luister.

Toe ek jonger was het ek naiewelik geglo die Here roep my tot die bediening net soos ek is.  Dat ek maar net myself mag wees, wat van nature graag vir mense omgee en hulle wil help.

Waar kom hierdie skrywe vandaan?

Ek het ‘n Admin bedieningsvergadering gemis, omdat ek verpligtinge by die skool gehad het- ek dien op die Beheerliggaam in die portefeulje: kultuur. Dit was groentjiekonsert, en dit gee my altyd geleentheid om bietjie met die ouers te gesels en verhoudinge te bou.

Na die tyd het die terugvoer van die vergadering gekom.

1. My facebookgebruik is kommerwekkend.  Dalk hierdie blog wat ek soms na my facebook toe link, waar ek wel al ‘n donker woord of twee gesê het.  MAar ek weet regtig nie- die persoon wat gekla het het niks vir my ooit gesê nie. Dit word net op kommissievergaderings bespreek.

2. Ek het op oujaarsdag saam met ‘n kerkraadslid na ‘n dorp in ons ringsgebied gery, en terwyl hy met sy besigheid besig was, het ek vir twee ure by die dominee daar gaan kuier. En ek het nie verlof ingesit daarvoor nie. My verlofbestuur is onder verdenking. Wel, die situasie was dat die vriend se vrou ernstig seergekry het in ‘n motorongeluk, net voor ons op vakansie weg was. Hierdie was die eerste geleentheid om hulle te gaan besoek en te bemoedig.  Die feit dat ek saam met ‘n kerkraadslid gery het, het my ‘n rit gespaar, en geleentheid gegee om lekker met die kerkraadslid te gesels langs die pad.  Ek het gedog dit is koninkryksake. Lyk my ek was verkeerd, ek sal maar ‘n verlofvorm gaan voltooi.

3. Ek het fiets gery tussen 11 en 1 een dag, en iemand kon my nie op die telefoon in die hande kry nie.  Wel, dié betrokke oggend moes ek iemand voor die 09h00 Bybelstudie sien, ek het Bybelstudie gehad tussen 09h00 en 10h00, daarna in die kerkkantoor gaan draai, en toe 11 uur gou 30 km gaan fietsry.  Ja, miskien het gemeentelede my “in werkstyd” op my fiets gesien. Daardie gemeentelid sou 16h00 lekker huis toe gaan vir die res van die dag. Ek het daardie dag van 15h00-21h30 huisbesoek gedoen.   Bestuurders moet altyd beskikbaar wees op hulle fone. Wel- as ek huisbesoek doen is my foon af. As ek siekebesoek doen, of iemand met seer sien, is my foon af. Ek bel altyd terug so gou ek kan.

4. As ‘n mens stad toe gaan om siekebesoek te gaan doen, dan sê ek op facebook ek het ook gaan boeke koop, en iets geëet daar, en soms gaan fliek ook. Hoe regverdig ‘n mens ‘n 15 minute siekebesoek in die stad  dan as werkstyd?

As iemand siek genoeg is om voor stad toe te ry, dan doen ek dit.  Dit kos my 300 km se ry en 6 tolhekke. Ongeveer R500 se koste aan petrol, tolgeld en slytasie.  Ek kry nie ekstra vervoertoelaag om stad toe te gaan nie. Een stadstrippie is dadelik 1/5 van my maandelikse kilometers daarmee heen. Ek vra niks ekstra daarvoor nie, as iemand my nodig het, ry ek. Maar as ek stad toe gaan, moet ek die geleentheid gebruik ook. Ek kry nie al die klere/parte vir voertuie/ boeke vir my werk in ons dorp nie.  Gewoonlik is daar meer as een persoon êrens in verskillende hospitale- om van Montana na Pretoria-Oos na Unitas toe te gaan, neem baie tyd in beslag. EN ja, ek raak soms honger ook- en dan is Food Lovers Market se R45 hamburger darem baie lekker.  Fliek? EK kry nie meer tyd daarvoor op ‘n dag in die stad nie. DIe enigste kere wat ek in die fliek was verlede jaar was toe ek Skyfall saam met my vrou gekyk het toe ons kind in die hospitaal was, buite besoekure.

Ek weet nie meer hoe om op te tree nie. Ek weet nie meer wanneer ek verlof moet insit vir wat nie. Ek weet nie meer wanneer mag ek fietsry dat iemand êrens nie dalk dan vir my gaan nodig hê vir wie my kollega nie net so goed sou kon help nie.  Ek weet nie meer wat ek op my blog mag skryf nie, dalk is hierdie nog ‘n spyker in my eie kis. Sela.

Ek weet nie meer watter masker om op te sit vandag nie. My masker het gisteraand geval. Ek gaan nou in werkstyd fietsry. Dan gaan ek my verlofvorm vir vandag voltooi. Dan gaan ek soek na ‘n geskikte nuwe masker om aan te sit, om te lyk of ek werklik uitermatig gelukkig voel.

Erens, eendag lank lank gelede, het ‘n Man saam met ‘n klomp vissermanne om ‘n vuurtjie gesit en droom van ‘n wêreld wat met liefde verander word… ‘n wêreld sonder maskers. Maranatha.

Man tot man

| my seun
| noudat jy vier is
| is dit tyd om te praat

| oor die dinge wat ‘n boerseun raak

| ja, Pa het ook rugby gespeel
| twee armbreuke vir die eer van die skool

| en ja, Pa was in die army
| maar hulle het gesukkel om ‘n man van hom te maak

| askies, maar Pa kan nie sy dop soos ‘n man vat
| die buurvrou vry
| en die kaffers op hulle plek hou nie

| maar kom kniel hier by my
| ek leer jou bid
| ek leer jou lees uit ‘n boek
| hoe om die ganse wêreld
| in ‘n korreltjie sand
| te soek

| – Prevot van der Merwe (1952 – 2004)

Genesis 9: Ontdek die reënboog

Daar is liedjies en stories en fabels oor reenboë.  Die bekendste sekerlik dat daar ’n goudpot aan die einde van die reënboog is.  Koos du Plessis sing mos die liedjie:

As die reën van stof en roet verby is, en die rook verdwyn,
sal daar in die sterrelose hemel ‘n neonboog verskyn,
en kyk maar goed, want as jy hom vind
vertel ek vir jou ‘n sprokie my kind,
van ‘n skatkis met ou kettings gebind
aan die neonboog se punt.
As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt,
dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ‘n brokkie son.

Die verhaal van Noag en die reënboog is natuurlik nie ’n sprokie nie, ons sal ook nie ’n goudpot aan die punt van die reënboog vind nie, maar miskien kry ons vanmôre iets veel meer waardevol by die reënboog se punt.

Nou vriende, dink jou net vir ’n oomblik weer in Noag se skoene in.  Na ’n jaar in die ark swaai die deure toe uiteindelik oop.  En dit is ’n nuwe begin vir Noag en al die diere saam met hom!  Alles is droog en groen en die wêreld is vir ’n slag rustig.  Maar toe wonder ek, hoe het ou Noag gevoel toe hy sy voete op die droë grond sit?  Het hy nie maar by homself gewonder: Sê nou dit gebeur weer?  Ek dink hy het seker die heeltyd die weer dopgehou.  En elke ou wolkie het hom herinner aan die ergste wat kan gebeur.  Hy kon seker ly aan post-traumatiese stres, want elke keer as daar ‘n storm losbars, of as die weerlig slaan, was dit ’n herinnering aan die vorige katastrofe.  So miskien was daar in sy hart opgewondenheid oor die toekoms, maar ook ’n stuk huiwering en bekommernis oor dit wat voorlê en dalk nog kan gebeur.

En is dit nie maar dieselfde gevoel wat ons het so aan die begin van ’n nuwe jaar as die deure oopswaai nie?  Ja, daar is opgewondenheid oor ’n nuwe begin.  Opgewondenheid oor nuwe uitdagings en nuwe geleenthede en miskien nuwe fases in jou lewe of die lewe van jou kinders.  Aan die een kant is daar die opwinding en avontuur, maar aan die ander kant is daar is tog ook die huiwering en bekommernis.  Gaan ek weer so ’n jaar hê soos verlede jaar?  Gaan die storms maar weer woed?  Gaan ek dit regkry om weer kop bo water te hou?  Jy sou die lysie van twyfel en bekommernis natuurlik self kon aanvul.

En dan kyk Noag op en sien die reënboog.  Noag hier is die teken van My genade!  Noag, Ek kom verbind My opnuut weer aan mens en dier.  Noag, Ek belowe, Ek sal nooit weer uitwis en vernietig nie.  Trouens die reënboog is vir julle ’n teken van hoop, want wanneer die wolke oor die aarde saampak sal die reënboog verskyn en sal julle weet dat Ek aan julle dink (Gen. 9:12,16).  Vriende, dit is tog interessant dat Noag hierdie teken juis sal sien wanneer daar ’n storm woed.  Want ons sien ook tog maar God se genade die duidelikste wanneer dit donker is en die lig daarop val!

Calvyn skryf op ’n plek dat die reënboog soos ’n sakrament is.  Soos wat die sakramente van die doop en die nagmaal ons herinner aan God se genade en goedheid, so gee die Here die reënboog om ons te verseker van sy liefde en trou en om daardeur ons geloof te versterk.  Juis sodat ons kan weet; wanneer die onweerswolke saampak sal ons hierdie wonderlike teken in die lug sien wat ons daaraan herinner dat God genadig is!   En dink net watter wonderlike troos en versekering was dit vir Noag en sy mense toe hulle kon opkyk en weet, geen storm sal ons weer platslaan nie!  Geen orkaan sal ons lewe vernietig nie, want God is genadig!  Daar is weer vir ons hoop!

Vriende, interessant van hierdie belofte is dat dit nie in die eerste plek gaan oor dit waaraan die reënboog ons herinner nie, maar eintlik gee die Here die reënboog as ’n reminder vir Homself!  Genesis 9:15 en 16: ”Wanneer …die reënboog verskyn …sal Ek dink aan my verbond met julle … Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond…”  Daarom vriende, herinner die reënboog God gedurig aan sy genade-glimlag oor die mens.  En kan ons leef met die wete: God dink aan ons, selfs al dink ons nie aan Hom nie!

So kom gee die Here hierdie teken om Homself en vir ons te herinner, dat daar hoop is omdat daar genade is!  En hoop en genade word die duidelikste sigbaar wanneer die lig skyn op die onweerswolke wat saampak.

Jy kan dalk vanmôre hier sit en sê: dit is nou goed en weer ’n mooi reënboog-storie vanmôre.  Maar vriende, baie mense sukkel om die reënboog raak te sien.  Sukkel om te sien dat God genadig is, sukkel om te sien dat Hy nie net wil platslaan en vernietig nie.  Baie ander is in situasies en omstandighede vasgevang, ja selfs so aan die begin van die jaar na ‘n vakansie, waar dit baie moeilik is om reënboë van hoop te sien in die donker onweerswolke.  Mense wonder waar hulle hierdie tekens van God se hoop en genade prakties in hulle eie lewens kan sien en ervaar.

Judy Garland sing in The Wizard of Oz:

“Somewhere over the rainbow, way up high,

there’s a land that I heard of once in a lullaby.

Somewhere over the rainbow, skies are blue,

and the dreams that you dare to dream really do come true. “

 

ʼn Lied oor hoop en drome. Maar way up high is nie veel troos vir iemand wat way down low is nie!  Hierdie jaar gaan vir die meeste van ons nie ’n wiegeliedjie wees nie.  Hier waar ons in Afrika leef, pak die onweerswolke gereeld saam en sukkel ons somtyds om deur al die donderstorms en druppels reenboë van hoop te sien.

En toe lees ek die aangrypende verhaal wat prof Daniel Migliore van die Princeton Universiteit in die VSA vertel.  Die verhaal speel af in die middestad van Trenton in New Jersey waar die moeilik was om deur al die rook en hoë geboue enigsins die lug of wolke dop te hou.  Hy sê: ”Eendag was dit my taak om ‘n klein klas van nege en tienjariges te leer. Toe die einde van ons tyd saam aanbreek, het drie van die kinders my gevra om ‘n Bybelstorie vir hulle te lees. Ek het die storie van Noag en die reënboog gelees. Toe ek klaar was met die storie, het ek gevra: ‘Waar kyk julle om ‘n reënboog te sien?’ ‘Op die strate,’ het een geantwoord. Omdat ek gedink het dat hulle my verkeerd verstaan, het ek die vraag herhaal. ‘Op die strate,’ het die antwoord weer gekom. ‘Jy kan reënboë sien in die oliekolle in waterplasse in die strate en parkeergebied’  Dan merk die ou professor op:  ’These Trenton children had found God’s promise of new life not up in the sky, not way up high . . . instead, they had found the sign of God’s promise way down low, in the grimy puddles of their city streets’ (Princeton Seminary Bulletin XIV/1 1993).

Jy sien vriende, om die reënboog van God se genade en sy sorg en sy trou en sy glimlag raak te sien, vra dat ons miskien op vreemde plekke daarvoor moet gaan kyk.  Ja, daar is sulke goeie tye in ons lewens waar ons rustig die reënboog kan bewonder en God se goedheid raaksien.  Maar somtyds vra geloof daarna om reënboë te ontdek in die oliekolle in die waterplasse van die strate waar ons daagliks loop.  En daarom vriende, selfs al gaan ons dalk hierdie jaar somtyds sukkel om ons koppe op te tel en op te kyk, kan ons weet, selfs in elke olierige waterpoel, of miskien meer bekend, olierige slaggat, is daar ’n reënboog van hoop!  Die son sal altyd vir die Here se kinders weer deurbreek, want geen storm duur meer vir ewig nie! In elke storm is daar ’n reënboog as die son daarop skyn!

Koos Dup sing:

As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt, 

Mag jy in die jaar wat voorlê ook die voorreg hê om in die geloof die reënboog van God se genade dag vir dag te ontdek.  Ja, somtyds bo in die lug, ander kere onder in die olierige waterpoele.

Amen