Het ons vloeibare besluite in ‘n digitale era nodig?

As daar gekyk word na JAvdBerg se navorsing oor besluitneming in die digitale era sal gesien word dat die mens al meer digitaal (en mobiel) begin leef, tot ‘n so mate dat daar gepraat word van die digitalisering van die self. Die digitale wereld se wese is vinnig en daarom word daar van die digitale self vereis om vinnige besluite te kan neem. Hierdie besluite wat uit die aard van die saak vele kante het moet vinnig onder druk geneem word en ook toegepas word anders val die persoon uit die nuwe (digitale) wereld wat geskep is. Daarom vra Van den Berg tot hoe ‘n mate beinvloed die persoon se geloofslewe sy besluitnemingsproses in hierdie digitale snelweg?

Van den Berg noem dat besluite vloeibaar geword het, om in pas met die digitale tydsgees te wees. Of hierdie ‘n goeie of slegte ding is, is natuurlik onder bespreking en sal nog lank wees. Daar is positiewe gevolge, maar ook so is daar negatiewes.

Daarom is my vraag, of ons vloeibare besluite nodig het in hierdie digitale era? Veral waar die kerk een van die wagte van die samelewing behoort te wees saam met die pers en die gereg onder andere. Het ons nie dalk eerder besluite nodig wat nie vloeibaar is nie?

As daar na populere media gekyk word keur mense al hoe meer terug na aardse modes, stadige maniere van kos maak, om gebruik te maak van herwinbare bronne, om self hulle kos te groei met hulle hande in die grond. Is hierdie nie dalk tendense wat vir ons se dat mense na standvastigheid soek, veral te midde van hierdie spoedige samelewing nie?

God is standvastig. Sy besluite staan virewig. Hy is die een onveranderlike in ‘n veranderende wereld. Moet wat die kerk verkondig nie God weerspieel nie? Daarom met my respons op ‘n vloeibare besluite sal ek vra of besluite moet vloeibaar wees, of moet die vertolking van standvastige besluite eerder vloeibaar wees?

Is jy wat jy tweet?

Ten spyte van die toenemende gebruik van Twitter, is daar min navorsing oor die verband tussen Twitter en persoonlikheid van die gebruiker. Druk verbruikers hulle persoonlikheid op sosiale media uit? Kan daar akkurate persoonlikheidsoordele gevel word op grond van die persoon se Twitter profiel? Twitter as mikroblog kan as ‘n goeie medium dien om die verband tussen mikroblog en persoonlikheid te sien. Deur die mikroblog, in die geval Twitter, te bestudeer sal ons sien hoe persoonlikheid uitgedruk word in geskrewe vorm. Die doel van die studie is dus om die verhouding tussen persoonlikheid en Twitter te peil. 

Ja, die verhouding kan gepeil word, baie abstrak en soms wuspelturig, maar met die behulp van tegnologie wat woorde analiseer is dit tog moontlik. Daar kan veral verskille in geslag, ouderdom, en lokaliteit ontleed word deur te kyk na woorde eie tot die bepaalde groep mense. So ook kan daar deur ‘n analise van positiewe en negatiewe, asook persoonlike en onpersoonlike woorde gesien word of die persoon meer geneig is om ‘n ekstro of introvert te wees.

So daar is tog ‘n merkbare eie karakter van elke persoon se mikroblog te siene op die Twitter webwerf. Maar wat sal nou met daardie inligting gedoen word? Vir bemarkingsdoeleindes is daar vele opsies, maar wat my betref wonder ek oor die geloofsaspek van die bevindinge. Hoe kan hierdie navorsing in verhouding staan met die kerk? Hoe kan die kerk dit gebruik? Moet die kerk al meer kompartemente skep in die samelewing of moet die samelewing juis bymekaar gebring word in die kerk, met al sy verskillende fassette?

Wat Jeugbediening betref is die vraag weer op die tafel oor intergenerasionele bediening… Moet kinderkerk buite die kerk geskied in die saal of moet dit in die hoof erediens geskied? En as dit in die hoof erediens geskied, hoe akkommodeer jy van jonk tot oud in een erediens?

Van wat ek op ‘n onwetenskaplike manier kan aflei deur blote observasie van die sosiale media, van facebook en twitter, is dat hierdie vorme van sosiale media juis besig is om die mure van die samelewing af te breek. Sosiale media skep juis die ruimte dat almal by almal kan leer, veral in die geval van twitter.

As God dit is wat in die Skrif van Hom geopenbaar is, is Hy net dit?

As die kerk is wat sy verkondig, is sy net dit?

As jy is wat jy tweet, is jy net dit?

Summary, Theoretical signposts for tracing spirituality within the fluid decision-making of a mobile virtual reality

Inleiding: Virtuele realiteit en die deugde van realiteit

In die woorde van Sean Parker van The Social Network: “Ons het in die platteland gewoon, ons het in die stad gewoon, nou sal ons in die internet woon.” Hierdie woorde merk die skuif wat besig is om plaas te vind reg oor die wereld van fisies na digitaal. ‘n Ander skuif wat ook besig is om plaas te vind is op grond van besluitneming. Om besluite te neem in die digitale era gekenmerk deur sy vloeibaarheid het besluite al meer vlugtig gemaak as gevolg van die vinnig veranderende wereld waar kommunikasie tegnologie koning kraai.

Beweging na praktyk: Virtuele realiteit (en daarna?)

Tans vind die mens homself in ‘n wereld gekarakteriseer deur ‘n nuwe sosiale struktuur van die informasie era, wat gevolglik ‘n globale virtuele kultuur na vore gebring het, wat tyd en ruimte transendeer. Meer en meer mense is nou in staat om mekaar reg oor die wereld te ontmoet. Hierdie vloeibare wereld vorm die dramatiese verhoog vir die soeke na verbeterde besluitnemings moontlikhede. Sweet noem dat Maslow se hierargie van behoeftes verander moet word na asemhaal, voedsel, water, en selfone. Hierdie nuwe hierargie van behoeftes dui pertinent op die mobiele globale gemeenskap wat na vore tree.

Beweging na teorie: Deugde van realiteit

Praktiese teologie het belange in die praktiese aard van die teologie, en ook in ‘n sin is alle toelogie prakties. Hierdie teologie of eendersyds beliggaamde spiritualiteit word dan sigbaar in besluitnemings strategiee. Die vraag is presies dit, tot hoe ‘n mate, indien wel, beinvloed die geloofsaspek van die mobiele lewe die besluitnemingsproses.

Tegnologie konfronteer nie alleen die toenemende beperkinge van die menslike brein en liggaam nie, maar verander ook die strukture van die lewe en samelewing vanuit ‘n ekologiese oogpunt gesien.

Die biografiese kant van die sosiale media sal al hoe meer prominent na vore tree soos die status van ‘n persoon al meer ‘n lewensverhaal begin vertel. Hierdie status updates sal ‘n argievering van die lewe van die persoon word, en sodoende sal ‘n eie handelsmerk geskep word met ‘n positiewe of negatiewe beeld vir die wereld van die sosiale media. Die fokus skuif al meer na die individu in die digitale ruimte, die individu word verheerlik vanuit ‘n pseudo-gemeenskaplike terrein.

Met hierdie skuiwe wat besig is om plaas te vind kan daar gepraat word van ‘n digitalisering van die self. Dit kan nie ontken word dat nuwe tegnologië nie die self beinvloed nie. Dit beinvloed die diepste wese van die self, dit vorm denkwyses van die self, die ander, en die wereld.