Theodor Adorno (1903-1969) : Musiek en die Samelewing

Inleiding

Aangesien hierdie verhandeling hoofsaaklik oor die denke van Theodor W. Adrono se Estetiese Teorie sal handel wil ek graag ‘n paar biografiese punte uitlig oor Adorno self voordat ek verder gaan.
Theodor Ludwig Wiesengrund is gebore op 11 September 1903, hy was die enigste seun van ‘n Duitse wynhandelaar, van geassimileerde Joodse agtergrond en ook ‘n musikant van Katolieke afkoms. Adorno het filosofie onder Hans Cornelius gestudeer asook musiek onder Alban Berg. Hy het sy Habilitationsschriftoor die Estetika van Kierkegaard gedoen in 1931 onder die Christin sosialis Paul Tillich.
Na twee jaar as dosent was hy landuit verban deur die Nazis. Jare later het hy sy naam verander deur sy van as middel naam te gebruik en sy moeder se nooiensvan as sy eie van.
Dit is ook van uiterste belang om te noem dat hy homself by die Frankfurt Instituut vir Sosiale Navorsing aangesluit het in 1949 waar hy ‘n leidende rol gespeel het in die filosofie departement.
Adorno se Estetiese Teorie wat dan hoofsaaklik in hier sal bespreek word het in 1970 verskyn na sy dood. Hy het regdeur die 1960’s aan hierdie magnum opus gewerk. Adorno is op 6 Augustus 1969 oorlede aan ‘n hartaanval, ‘n maand voor sy 66ste verjaarsdag. (Zuidervaart, 2007)
Deel 1

Musiek as kommoditeit

Musiek vir Adorno het in die meganistiese samelewing ‘n baie sombere ondertoon gekry omdat musiek nie meer gesien was as ‘n manier om waarheid oor te dra op ‘n manier wat woorde transendeer nie maar dat musiek eerder gesien was as ‘n kommoditeit.
Musiek se waarde, wat die waarde van die kommoditeit bepaal, is bepaal deur die mark. Hier het die groot breek te voorskyn gekom. Omdat musiek al hoe meer gemeganiseerd geraak het het die eiesoortigheid daarvan begin verdwyn. Die waarheids karakter van musiek het begin vervorm in ‘n wat-wil-die-publiek-hoor-karakter en die essensie van musiek het begin verdwyn.
So die waarde van die musiek is dus bepaal deur die mark vir wie die musiek geskik is. Hierdie mark is egter weer ondergeskik aan wat ek sal noem die verbruikerselement. Sonder verbruikers wat in transaksie tree met die musiek is daar egter nie ‘n mark wat waarde kan heg aan die musiek nie. Dus sonder ‘n gehoor is die musiek dan nutteloos in die verbruikers samelewing.
Musiek het as sulks uitgesterf, omdat musiek nie meer kan bestaan net vir die estetiese waarde daarvan nie, maar musiek moet en kan slegs nou bestaan as daar ‘n verbruiker van die musiek is wat sodoende waarde kan heg aan die musiek wat dit sal legitimeer.

Die sosiale verantwoordelikheid van musiek

Met die bogenoemde in gedagte kan daar gesien word dat die sosiale verantwoordelikheid van musiek van musiek self weggeneem is en in die hande van die samelewing geplaas wat musiek as dissipline onder die illusie van isolasie deur die samelewing plaas. Met die gevolg dat musiek die verwronge beeld van binne probeer herstel omdat daar gedink is as gevolg van hierdie isolasie moet musiek iewers ‘n tree in die verkeerde rigting geneem het om homself te isoleer van die samelewing.
Dit alles geskied heeltemal onbewus van die sosiale impak op musiek. Die beeld van musiek het egter nie verander oor die musiek nie, maar oor die samelewing wat verander het en sekere waarde van musiek verys en as dit nie daartoe leun nie, dan word dit op die periferie geplaas.
Dus het die sosiale verantwoordelikheid van musiek verdwyn onder die besitlike fetisjisme van musiek.

Fetisjisme van musiek

Die probleem wat musiek duidelik in die gesig staar is die fetisj karakter daarvan wat die samelewing daaraan toe eien. Musiek het hierdie karakter gekry juis vanuit die persepsie dat musiek besit kan word en daardeur kan daar sekere riglyne daarvoor voorgeskryf word om dit in te perk in dit in die bepaalde gehoor se smaak te hou. Daardeur verloor musiek juis wat eie tot dit was, waarheid.
Om ‘n oplossing tot hierdie probleem van die fetisjisme te vind is dit belangrik om buite die probleem te staan. Musiek kan nie in sy huidige situasie gemeet word nie, want dit is ‘n ‘produk’ van daardie situasie. Musiek is ten diepste ‘n sosiale en ‘n historiese ‘produk’. Om ‘n oplossing te vind moet daar buite die huidige bewussyn gesoek word na antwoorde.

Psigiese dryfkrag

Soos in die bogenoemde bespreek is die waarheidselement in musiek die rede waarom musiek in die eerste plek bestaan. Die waarheidselement word verkry deur ‘n dieperliggende dryfkrag in alle musiek, naamlik ekspressie.
Vir die individu om hom/haarself uit te druk moet die persoon alle bande met die huidige sosio historiese omstandighede losmaak om as ware buite die hede te funksioneer, maar ook daarbinne. Die gevolg hiervan is ‘n duidelike dissonansie.
Adorno het homself so ver moontlik probeer uitdruk deur sy musiek ‘n atonale aard te gee sodat die hoorder heeltyd gekonfronteer word met die musiek en nie gemaklik raak en patrone daarin herken nie.
Deur die voorbeeld van Adorno se atonale musiek kan daar gesien word dat uitdrukking/ekspressie slegs in die konkrete vergestalt kan word, slegs volgens dit wat uitgedruk is, die ekspressie self.

Lyding

Met al die vereistes van die samelewing wat op musiek geplaas word om voor te bestaan as dissipline, is dit dan moontlik vir musiek om deur die fiktiewe substrates te breek?
Kan hierdie psigiese dryfkrag inherent in alle musiek gebruik word om die lyding in mense uit te lig en dit te deurbreek? Aangesien soveel van die lyding net ‘n illusie is wat die samelewing op die individu plaas om hom te onderdruk en te beheer vanuit ‘n magsposisie.
“by expressing the misery – or the vileness – of the individual without abandoning him to his isolation, but rather by objectifying this misery, music turns in the final analysis against the order of things within which it has its origens as such, just as does the expressed individual have his roots as an individual, but which in music attains to consciousness of itself and of its despair.” (Adorno, 2002)

Reproduksie van musiek

Die reproduksie van musiek is nie bemoei met gehalte musiek of om ‘n sekere luisteraar te bevredig nie (direk), maar eerder om seker te maak dat musiek ooreenstem met die historiese situasie. Dit is ‘n gegewe dat musiek verander met die tyd, maar dit moet in gedagte gehou word dat musiek nie verander vir musiek se ontwil nie, maar omdat die historiese konteks verander wat musiek forseer om te verander. Die hoorder kan dus kies of hy saam met die spreekwoordelike historiese stroom wil swem en of hy nie dit wil doen nie, elkeen natuurlik met sy gevolge.
“The interpreter has only the choice between two demands of rational character; either he must limit himself strictly to the realization, at most to the decoding, of the exact language of musical signs, or he must adjust to the demands which society as market makes upon him and within which the configuration of the work perishes.” (Adorno, 2002)
Daar moet dus gesien word vanuit hierdie histories kritiese agtergrond dat die individu homself in die musiek soek. Hy wil met dit kan identifiseer, hy wil van homself daarin raaksien. Dus verheug die samelewing bewustelik oor die musiek, maar onbewustelik oor die samelewing self, wat die eintlike doel is van die meganistiese samelewing.
Deel 2

Die meganistiese aard van populêre musiek

Adorno is van mening dat populêre musiek meganisties is van aard omdat dit niks nuut doen nie en bloot ‘n resep volg van ‘goeie’ musiek wat in die verlede gewerk het en dit naboots om dieselfde gevolge te verkry.
Hierdie resep het te make met die onderbou van die liedjie. Die ritme, toonaard, styl, ens. Die kunstenaar poog om hierdie elemente na te maak in ‘n nuwe baadjie en hoop dan dat dit sal verkoop en dus waarde verkry onder die publiek. Waarde nie omdat dit goeie musiek is nie, daar is min tot geen waarheids elemente in so nagemaakte liedjie nie, maar waarde wat dit publiek daaraan heg deur dit weereens in ‘n kommoditeit te verander met die kapitale etiket gekoppel aan die liedjie se sukses.

Verskillende genres

“Listening to popular music is manipulated not only by its promoters, but as it were, by the inherent nature of this music itself, into a system of response-mechanisms wholly antagonistic to the ideal of individuality in a free, liberal society.” (Adorno, 2002)
Uit die bogenoemde aanhaling uit Adorno se Essays on Music kan daar duidelik gesien word dat die aard van die musiek klaar die reaksionêre ontvangs situasie van die musiek in sigself inbed. As daar na ‘n genre musiek geluister word, is daar sekere sosiaal aanvaarbare norme om op te tree in respons soos die musiek. Hierdie gedrag geskied onbewustelik en die luisteraar is totaal onbewus dat vryheid op groot skaal prysgegee word in ruil om ‘deel’ te wees van ‘n sekere sosiale groep.

Industrieel teenoor individualisties

Daar is egter steeds ‘n klein silwer randjie vir populêre musiek volgens Adorno; Hy is van mening dat populêre musiek industrieel van aard is in gereproduseerde vorm, maar steeds ‘n individualistiese karakter het in sosiale vorm.
Hier is dit duidelik dat die uitdrukkings karakter van musiek vir Adorno van groot belang is dat hy selfs vir populêre musiek die agterdeur ooplaat om as kuns gesien te word mits dit in sy sosiale vorm is, wat homself uitleen aan die uitdrukkings karakter.

Resep tot populariteit

Met die meganistiese in gedagte is dit duidelik uit die bogenoemde dat daar vir kunstenaars ‘n duidelike resep tot sukses is.
Die kunstenaar sal sy liedjie skryf en nou by die riglyne en bepalinge hou wat die sisteem uitgewys het wat werk. Deur by die resep te hou wat almal by hou beteken dat die kunstenaar hom skaar by al die ander suksesvolle kunstenaars en sodoende konformeer tot die standaard wat gestel word. Met die standaard gestel en vele kunstenaars wat dieselfde formule volg tot sukses ontstaan daar maatskappye wat die kunstenaars verteenwoordig. Met die gevolge dat daar weereens ‘n monetêre waarde aan die musiek geheg moet word om die enigsins ‘n waarde te gee.
Mens kan jouself dan afvra, is die liedjieskrywer dan regtig ‘n kunstenaar of hy/sy bloot ‘n goeie kok wat die regte bestanddele kan saamvoeg vir die regte produk?
Die ware kunstenaar het een van twee opsies om van te kies;
1. Stimuleer ‘n gehoor en laat die waarheidselement na vore kom in ware nuwe musiek, of
2. Bevredig die standaard, verloor die waarheidselement en doen bloot wat soveel voorheen alreeds gedoen het.
 
Deel 3

Repetisie

Die resep tot sukses is in eenvoud ‘n herhalingsproses. Herhaling lui tot herkenning en herkenning weer tot aanvaarding. In hierdie proses van populêre musiek is daar min tot geen aanduiding van die ‘nuwe’ nie omdat alles bloot ‘n herhaling is van wat al gewerk het met die hoop dat dit weer sal werk in ‘n anderse vorm. Die herhaalde vorm word die aanvaarde vorm wat dit baie moeilik maak vir iets nuuts om na vore te tree.
Juis hierin, die verhouding tussen die ‘bekende’ en die ‘nuwe’ is waar die spanning lê in populêre musiek. Herkenning word gesien as ‘n doel in sigself eerder as ‘n metode tot iets groter. Die erkende kan homself bloot oorgee aan die sisteem en is gewaarborg van sukses, waar die nuwe hard moet werk om sukses of enige erkenning te ontvang. Wat weer bydrae tot die vinnige pas en druk wat die kapitalistiese sisteem op die kunstenaar in die spesifieke en op die mens in die breë plaas.

Eienaarskap van musiek

‘n Histories korrekte sosiale waarde word in ‘n populêre liedjie ingebou wat inherent die gevolg het dat die gekose gehoor aanklank vind by die liedjie en sodoende eienaarskap van die liedjie vat.
Die liedjie word sodoende geëtiketteer deur die bepaalde sosio gemeenskap wat aanklank vind by die liedjie en verkry later kultus status onder hierdie groep mense wat die gevolg het tot ‘n kollektiewe eienaarskap van die liedjie.
Die luisteraar voel dus goed omdat hy/sy deel aan ‘n kollektiewe besitting, wat dan uiteindelik lei tot die illusie van waarde. Die illusie van dit wat jy besit bepaal wie jy is.

Musiek en gesag

Herkenning as metode tot sukses vir populêre musiek is egter net effektief as dit ondersteun word deur gesaghebbende figure of entiteite.
Wanneer ‘n klavier herhaaldelik dieselfde liedjie speel sal dit later mense tot irritasie dryf, maar wanneer dieselfde liedjie egter oor die radio herhaaldelik gespeel word sal almal daarvan hou. Want psigologies dra die radio meer gesag as die individu en sodoende word outonoom aanvaar dat die liedjie wat op die radio speel reeds ‘n sukses op sy eie is. Dit sluit by die herhalingselement van populêre musiek, waar herhaling voorkom word populariteit aanvaar in sigself.
Kevin Allocca getuig ook hiervan in ‘n onlangse studie wat hy gedoen het oor hoekom YouTube videos sukses bereik en een van die algemene faktore wat hy noem is die van gesag. Waar ‘n bekende figuur ‘n eenvoudige Tweet uitstuur oor ‘n sekere video op YouTube en net met daardie paar woord bereik die video grootskaalse sukses. Justin Bieber is hiervan ‘n voorbeeld, hy was voorheen nêrens bekend nie, maar oornag het hy bekendheid verwerf via YouTube en vandag beleef hy ‘n suksesvolle loopbaan volgens die kapitalistiese sisteem omdat hy binne die formule van sukses gebly het. Hy het getuig van ‘n sekere waardesisteem in die samelewing en dit in sy liedjies ingewerk, dit op YouTube gelaai waar sy teikenmark gemaak het dat hy oornag herhaaldelik na geluister geword het, wat gemaak het dat hy ‘n standaard geskep het en sodoende ‘n mark vir homself, en almal wou deel hê aan Justin Bieber en so het sy sukses begin, deur massa herhaling en ‘n illusie van waarde. (Allocca, 2011)
Deel 4

Gevolgtrekking

As daar in geheel samevattend oor die aspek van Adorno estetiese teorie gepraat moet word is dit vir my merkwaardig om te kan sê dat hierdie teorie wat Adorno in die 1960’s ontwikkel het steeds relevant is vandag en ook op die beeld gemeenskap van toepassing gemaak kan word wat veel weier strek as die klank.
Die invloed van die kapitalistiese sisteem was nooit deur Adorno onderskat nie en hy het homself daartoe geywer om dit ten diepste uit te lig op elke vlak wat hy in staat was. Hoe kapitalisme ‘n kringloop veroorsaak het sonder enige egte waarde.
Adorno se insig oor hoe die samelewing ‘n bepalende dryfkrag agter alles was en spesifiek musiek is verstommend tot in die fynste detail neergepen. Hy was in staat om atonaal en dissonant met sy omgewing om te gaan deur daarin te wees en ook daarbuite te dink.  
 
Bibliografie
Adorno, T.W., (2002). ‘Music and Mass Culture’. In: Leppert, R. (ed),Essays on Music. 1st ed. California: University of California Press.
Allocca, K. (2011). Why videos go viral. [ONLINE] Available at: http://www.ted.com/talks/lang/en/kevin_allocca_why_videos_go_viral.html. [Last Accessed 2012/03/01].
Zuidervaart, L. (2007). Theodor W. Adorno. [ONLINE] Available at: http://plato.stanford.edu/entries/adorno. [Last Accessed 7/26/2011].

Leave a Reply

Your email address will not be published.