Die Eensaamheid Epidemie

Ek het onlangs op hierdie onderhoud afgekom wat Matt D’Avella met Johann Hari gevoer het oor sy boek “Lost Connections: Why You’re Depressed and How to Find Hope“. In hierdie onderhoud raak hulle aan vele punte wat so in ons hedendaagse samelewing ingegrein is dat dit soms vreemd is om te dink daar is ou oplossing vir hierdie nuwe probleme van ons tyd.

Wat helder uitstaan, en ook die onderliggende toon is, is dat mense mekaar nodig het. Die mensdom het die slimste en sterkste spesie geraak omdat die mens geleer het om saam te staan deur moeilike tye. Die probleem is egter dat in die afgelope paar jaar het die mens hom en haarself al meer probeer individualiseer en onttrek van die samelewing in die bree. Al meer dinge kan afgelewer word en sonder veel moeite.

Depressie is ‘n siekte wat al meer mense elke jaar byt en dit lyk asof die oplossing gedeeltelik is om by mense uit te kom en die te isoleer nie. Johann noem dat in die Weste as iemand hartseer is en gelukkig wil wees doen hulle iets vir hulself, en in die Ooste as iemand hartseer is en gelukkig wil voel doen hulle iets vir iemand anders. Die Ooste se depressie vlakke is heelwat laer as die in die Weste.

Luister gerus na die onderhoud en dink self verder oor wat dit in jou los maak…

Dit het my laat besef dat alleenheid of die beter woord, eensaamheid ‘n ding is! Volgens Thrive Union sê 40% van mense vandag dat hulle eensaam is, teenoor slegs 20% in die 1980’s. Engeland het ‘n Departement van Eensaamheid in hulle parlement gestig. Eensaamheid is ‘n indikator van die mens wat die behoefte na gemeenskap of sosialisering uitdruk. Thrive Union lig in hulle video van dieselfde redes uit wat die toename in eensaamheid aanhelp; tegnologie en individualisme. Deur in goeie verhoudings te belê kan die gevolge van eensaamheid merkwaardig verminder en selfs verwyder. Wat ook interessant is, is dat verhoudings wat eensaamheid teenwerk nie eenrigting verhoudings is waar daar net gekry word nie, maar verhoudings is wat wederkerig is, ja, waar daar gekry word, maar ook waar daar ruimte is om te gee.

Die Engelse posdiens het ‘n kreatiewe manier gekry om eensaamheid aan te spreek. Ek dink graag saam met julle… Hoe gaan ons eensaamheid in ons gemeenskappe aanspreek? Wat kan jy in jou onmiddelike omgewing doen om eensaamheid aan te spreek?

 

Is jy wat jy tweet?

Ten spyte van die toenemende gebruik van Twitter, is daar min navorsing oor die verband tussen Twitter en persoonlikheid van die gebruiker. Druk verbruikers hulle persoonlikheid op sosiale media uit? Kan daar akkurate persoonlikheidsoordele gevel word op grond van die persoon se Twitter profiel? Twitter as mikroblog kan as ‘n goeie medium dien om die verband tussen mikroblog en persoonlikheid te sien. Deur die mikroblog, in die geval Twitter, te bestudeer sal ons sien hoe persoonlikheid uitgedruk word in geskrewe vorm. Die doel van die studie is dus om die verhouding tussen persoonlikheid en Twitter te peil. 

Ja, die verhouding kan gepeil word, baie abstrak en soms wuspelturig, maar met die behulp van tegnologie wat woorde analiseer is dit tog moontlik. Daar kan veral verskille in geslag, ouderdom, en lokaliteit ontleed word deur te kyk na woorde eie tot die bepaalde groep mense. So ook kan daar deur ‘n analise van positiewe en negatiewe, asook persoonlike en onpersoonlike woorde gesien word of die persoon meer geneig is om ‘n ekstro of introvert te wees.

So daar is tog ‘n merkbare eie karakter van elke persoon se mikroblog te siene op die Twitter webwerf. Maar wat sal nou met daardie inligting gedoen word? Vir bemarkingsdoeleindes is daar vele opsies, maar wat my betref wonder ek oor die geloofsaspek van die bevindinge. Hoe kan hierdie navorsing in verhouding staan met die kerk? Hoe kan die kerk dit gebruik? Moet die kerk al meer kompartemente skep in die samelewing of moet die samelewing juis bymekaar gebring word in die kerk, met al sy verskillende fassette?

Wat Jeugbediening betref is die vraag weer op die tafel oor intergenerasionele bediening… Moet kinderkerk buite die kerk geskied in die saal of moet dit in die hoof erediens geskied? En as dit in die hoof erediens geskied, hoe akkommodeer jy van jonk tot oud in een erediens?

Van wat ek op ‘n onwetenskaplike manier kan aflei deur blote observasie van die sosiale media, van facebook en twitter, is dat hierdie vorme van sosiale media juis besig is om die mure van die samelewing af te breek. Sosiale media skep juis die ruimte dat almal by almal kan leer, veral in die geval van twitter.

As God dit is wat in die Skrif van Hom geopenbaar is, is Hy net dit?

As die kerk is wat sy verkondig, is sy net dit?

As jy is wat jy tweet, is jy net dit?