Prediker 9:1-10

Ek het gewonder… As ek ‘n meisie sou ontmoet, sou sy mooi goue krulhare hê? Sou sy grappig saam met my ‘n staproete in die berge gaan doen? Sou ek vir haar koffie en ontbyt op ‘n vuurtjie kon maak? Sou ons verloof raak? Sou ons trou en die lewe saam geniet. En dan eendag oppad na haar werk verongeluk sy. Bring liefde regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek deel raak van die 5am club? Wat as ek vroeg opstaan, terwyl almal nog lê en slaap, en vooruit dink. Wat as ek vooruit dink, met die gaping wat ek in die mark gesien het, en my maatskappy kry daardie kontrak. Wat as ek deur daardie harde werk vir my vrou ‘n gemaklike lewe kan gee. Wat as ek deur my harde werk vir my kinders ‘n goeie geleerdheid kan gee? En een aand terwyl ek na-ure op kantoor steeds besig is kry ek die oproep van die onkoloog, die gewas is kwaadaardig, ek het kanker. Bring finansiële sekuriteit regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek terwyl ek jonk is ‘n huis in ‘n goeie woonbuurt koop en verhuur? Teen die tyd wat ek aftree is die huis afbetaal en baie werd. Ek sal goed geld gemaak het. Wat as ek dit regkry om my pension so te bestuur dat ek jaarliks oorsee by my kinders kan gaan kuier? En toe lees ek in die koerant dat die bank die rentekoers gaan verlaag, dat die rand weer gedegradeer gaan word, en dat my aandele nog minder werd is. Bring spaarsamigheid regtig geluk?

As ons so na ons lewens kyk, vorentoe vir ons wat jonk is, agtertoe vir die wat al gevorder het in jare, dan vra ons almal, is dit regtig die moeite werd om ’n goeie lewe te lei? Is dit regtig die moeite werd om wyse raad te volg?

Die Prediker het hierdie selfde eksistensiële vrae gevra iewers in die omgewing van 250vC. Die Prediker was waarskynlik deel van ‘n welgestelde gemeenskap wat hulle kinders na hom vir onderrig gestuur het. Daarom kan hy aan die kinders voorstel om mooi klere aan te trek en duur olies vir hul hare te gebruik, al kom dit tot niks.

In Prediker 9:1-6 word twee sake wat nou met mekaar verbind is, aan die orde gestel. Eerstens dat ‘n wyse man nie kan weet wat God weet nie, en dat dieselfde lot almal gaan tref. In vers 1 word verklaar dat God so oor die wyse regeer dat hy self nie weet wat hom gaan tref nie. God is in beheer van die tye en Hy sal sy plan sonder die medewerking van die mens laat realiseer.

Vers 2 en 3a beklemtoon weer dat dieselfde lot almal gaan tref. Ongeag regverdige of verkeerde optrede, gaan een en dieselfde lot almal tref.

Geen mens kan God se werke verstaan nie. Wat ons oor Hom sê, is altyd gebrekkig. Daarom kan ons die lewe, wat God se geskenk aan die mens is, nooit ten volle beskryf nie. Ons almal se bestaan word deur die eindigheid begrens. Hiermee moet ons vrede maak en saamleef.

In Prediker 9:3b lees ons van die mens se reaksie op die lot wat hom tref. Hy gee hom oor aan die boosheid en die kwaad. Dit maak nie eers meer saak hoe jy lewe nie, want ongeag jou lewenstyl, dieselfde lot tref almal.

In Prediker 9:4-6 gee die Prediker aandag aan sowel die lewe as die dood. Dit lyk of die Prediker in hierdie verse ‘n positiewe siening van die lewe voorstaan. Hy sê die lewendes het hoop. ‘n Hond wat lewe, is tog beter daaraan toe as ‘n dooie leeu; ‘n hondelewe is tog beter as geen lewe nie. Die Prediker sê dat die lewendes se voordeel bo die dooies is dat hulle weet hulle gaan sterf. (herhaal) So word die wat lewe se hoop, wanhoop.

Prediker 9:5-6 vertel van die lot van die dooies: Hulle weet van niks nie, daar wag geen beloning op hulle nie, niemand sal weer aan hulle dink nie en gelukkig vir hulle het hulle nie meer deel aan die smart hier op aarde nie.

In hierdie neerdrukkende omstandighede beveel die Prediker in vers 7 lewensvreugde as die hoogste goed vir hierdie lewe aan. Almal is na die sinlose dood op pad en daarom moet die lewe so lank as moontlik geniet word. Vir die Prediker kan die dood nie van die lewe losgemaak word nie, en niemand het ‘n sê daaroor nie. Die dood maak almal gelyk, of jy wys of dwaas is, almal sterf, sonder enige besittings. 6×6, dieselfde lot tref almal.

Spreuke sê:

Die lewe lê voor vir wie by die reg bly,
die dood wag vir wie aanhou kwaad doen. (11:19)
Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe
wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. (13:13)

Hierdie siening van die dood deel die Prediker nie, daarom hoor ons hom sê:
In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien:
‘n regverdige gaan onder al doen hy reg,
‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd (7:15)

Omdat die dood nie ontsnap kan word nie en ‘n plek is waar ‘n mens vergeet word en dit leeg en leweloos is, beveel hy vreugde aan: Geniet die lewe met al jou mag, want daar is slegs een lewe.

Nou mag jy dalk vra, nou maar hoe moet ek my lewe geniet as ek weet die dood wag vir my? Hier moet ons insien dat vers 7-10 ’n opdrag van die Prediker is. In hierdie laaste verse gee die Prediker as’t ware ’n opdrag vir die mens oor hoe om die lewe te geniet.

Hy sê: Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly en vrolike hart. Geniet die kos wat jou tafel laat kreun. En onthou: God knik sy kop instemmend. Moenie rouklere dra nie, maar dra wit klere. Wit is die kleur van vrolikheid en vreugde. Gaan na die ontwerpers toe en laat hulle spesiaal vir jou mooi klere maak. Trek dit aan en geniet die lewe. Geniet die lewe met die man of vrou wat jy lief het. In die vreugde van die liefde word die lewe gevier.

Al kom die lewe tot niks, is dit God se geskenk aan jou. Vers 9 sê dat ons moet onthou dat hierdie lewe ‘n geskenk van God is.

Daar is amper ‘n teenstrydigheid by die Prediker. Aan die een kant sê hy die lewe is sinloos, maar aan die ander kant moet ons dit tog ernstig opneem. Eers word gesê alles kom tot niks en dan weer volg die oproep om die lewe te geniet.

Vir die Prediker het die absurde van die lewe in die onbeheerbare dinge gelê. In dinge soos om gebore te word, oorlog, siekte, teleurstelling, rampe en uiteindelik die dood. Hieroor het niemand beheer nie. Elke mens is hieraan uitgelewer. ‘n Goeie lewe kon die teenspoed nie keer nie. Dit is waarom die Prediker keer op keer gesê het dat alles in die lewe tot niks kom.

Elke mens het die een of ander beperking, siekte, ouderdom, ongeluk, geldtekort, die lysie gaan aan, en dit kan alle lewensvreugde demp. Dit kan ‘n mens selfs knak. Maar teen alle hoop in en omring van sinloosheid het die Prediker nogtans nie die lewe prysgegee nie. Hy wil hê dat mense skeppend en opwindend lewe. Hulle moet drome droom en dit najaag. Hulle moet elke nuwe dag gryp en iets daaruit haal. Hulle moet hulle nuwe lewensmoontlikhede ontdek en verwesenlik. Leef voluit en geniet die lewe.

In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ouerword; is daar met die wins ook die verlies; is daar geboorte en ook die uitgerekte sterfbed. Om alles te vererger tref die ellende nie almal gelyk nie.

In wanhoop is daar nog hoop. In klag is daar lof. Al ervaar iemand geweldige laagtepunte, kan hy God nog loof. Gelowiges se lof tydens swaarkry is soms meer eg en dieper as in hulle voorspoed.

By die Prediker is daar ‘n dringendheid. Die lewe gaan gou verby en dit kom gou ‘tot niks’. Vandag is die tyd van liefde en die lewe moet hier en nou geniet word. Gryp die dag en leef! Die Prediker se raad aan ons is: Jy moet lewe, elke sekonde, met oorgawe. Om wys te leef is om alles wat jy doen met oorgawe en geesdrif te doen. Volg hierdie raad.

Ons leer by die Prediker om sin te vind in die alledaagse dinge. As ‘n mens gestroop is, vind jy die sin in die byna vanselfsprekende. TT Cloete het die wyse gedagte in sy gedig Uitgedun verwoord, so ook het Koos du Plessis dit gedoen in ‘n ongetitelde gedig in sy bundel, Om jou verlaas te groet.

TT Cloete skryf:

Ek dank U dat ek Heer
soos van ouds vanoggend weer
my baard mag skeer.
Vroeër was ek gesteld
op geweld
en eer en geld.
Nou is ek goedkoop
gesteld op bloedsomloop
en brood en stroop.

Koos du Plessis dig:

Eenvoud is die vreugde van die lewe:
dis gee en neem net wat daar is;
dis dankbaar eet van elke skewe
snytjie brood wat liefde is.

Emmanuel Levinas sê dat ons die sin van die lewe in die ander vind. Liefde gee sin aan my lewe. Liefde wat sin aan my lewe gee, vra van my aandag vir die ander. Hierdie liefde beteken dat ek myself vir ander oopmaak. As die ander sien en ervaar, sien en ervaar ek dit ook. Vir Levinas is die ander ook ‘n gekwalifiseerde ander: die arme, die vreemdeling, die weeskind. Aan die ander moet ons gasvryheid toon.

Die ontmoeting met die ander is ‘n insny in die daaglikse gang van sake. Hierdeur word die ‘ware self’ wakker geroep. Om mens te wees, beteken om aan verhoudings met ander mense te bou. Die goeie lewe van ‘n mens is ‘n lewe tussen ander mense. Ons sien die plooie van tyd op die ander. Dit wek by ons deernis, vir onsself, en vir die ander. En in hierdie deernis vir die ander vind ons ruimte vir onsself en vir die ander. Dit alles maak die lewe sinvol.

En onthou wat die Prediker sê:

Eet jou brood met vreugde!
Drink jou wyn met ‘n blye gemoed!
Dra wit kleure!
Versorg jou hare met olie!
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet!
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen!

Lap oor kansel, broodplank, brood, wynglas, skink wyn…

Ek eet my brood, ek drink my wyn, ek dra my feestelike klere. Ek geniet die lewe saam met my vrou, ek doen alles wat my hand goed vind om te doen. Maar dit maak my nie gelukkig nie…

Voordat jy nie besef dat soos jy eet en drink jy nie jou eie lewe vier nie. Maar die Een vier wat lewe aan jou gegee het, jy die Een vier wat die graan vir die broodjie laat groei het, jy die Een vier wat die druif vir die wyn laat swel het. Voordat jy nie besef dat jy in jou vrolikheid, in jou liefde, in jou sekuriteit, in jou spaarsamigheid, jou Skepper behoort te vier nie, sal jy nie werklik gelukkig wees nie.

Gryp die lewe! Carpe Diem! Gryp die lewe met al twee hande aan, saam met die Here, want Hy is die een wat die vreugde in jou lewe sit!

Gryp die lewe, saam die Here!

Amen.

Prediker 4: Herman en Maria-Helena

Dominee Jan het beplan om ‘’n paartjie te trou aan die einde van die erediens. Na die dankoffer het Dominee Jan beplan om die paartjie vorentoe te roep vir ‘’n kort huwelik seremonie voor die hele gemeente. Omdat Dominee Jan al redelik oud was, kon Dominee Jan nie die name van die paartjie onthou wie hy nou wou trou nie. Dominee Jan sê toe: “Sal die wat wil trou asseblief vorentoe kom.” Onmiddellik het daar, 9 enkellopende dames, 3 weduwees, 4 wewenaars en 6 enkellopende mans na vore gekom.

Daarmee wil ek graag namens Herman en Maria-Helena, baie welkom sê aan elkeen wat vanmiddag hier saam met ons is om hierdie mooi geleentheid te vier!

Herman, Maria-Helena, ja hierdie is julle dag! Maria-Helena, jy lyk pragtig! Eks seker Herman is baie trots om jou aan sy sy te hê!

Kom ons bid saam.

Kom ons sing nou saam Amazing Grace soos aangedui op julle kaartjie. [staande]

Ek lees vir ons voor uit Prediker 4:9-12.

Die opskrif van hierdie gedeelte sê dadelik vir ons dat twee beter as een vaar. Al lyk hierdie soos algemene kennis vir ons, leef ons eintlik vandag presies die teenoorgestelde.

Ons dink ons kan alles self doen, as ek genoeg geld het, dan doen ek dit self. Ook, ek doen dinge self sodat ek in beheer van dinge kan wees. Ek doen dinge self sodat ek vir almal kan vertel, “kyk wat het ek gedoen…” So hierdie gedeelte is eintlik vandag teen die kultuur, waar al hoe minder mense voor die Here vir mekaar belowe dat hulle saam bymekaar sal staan, in die goeie sowel as die slegte.

Herman en Maria-Helena kon netsowel aangehou saambly het en gewoon aangegaan het met hul lewens, maar hulle het nie. Hulle het juis vandag gekies om voor die Here ‘’n belofte te maak dat hulle vir altyd saam met mekaar sal staan. Deur die goeie tye, sowel as die uitdagende tye.

Hierdie gedeelte begin deur vir ons te sê dat twee beter as as een vaar, en dit is waar. Die volgende sinnetjie sê “hulle inspanning kom tot iets” eintlik sê dit dat twee wat saam werk meer bereik, en dit makliker bereik, as een wat alleen alles moet doen.

Voorbeelde volg dan om vir ons beter te verduidelik hoekom twee beter as een vaar.

As die een val, kan die ander een hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom of haar op te help nie. Hy of sy gaan net daar bly lê waar geval is, seer. Soos die man wat aangeval was op sy donkie op pad na Jerusalem deur rowers ‘’n barmhartige Samaritaan nodig gehad het, so het Herman en Maria-Helena mekaar nodig, so het ons mekaar nodig wanneer die lewe ons omslaan.

As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Rut, die Moabitiese vrou het langs Boas gaan inkruip. Saam het hulle warm geslaap. Saam het hulle ‘’n nuwe lewe geskep en mekaar omhels in vreugde elke dag soos hulle al nader aan mekaar gegroei het soos die jare aangestap het.

Een kan alleen oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. Moses se opdrag om die volk uit Egipte te lei het hom oorweldig, hy het iemand gekort om hom daarmee te help. Toe gee die Here vir hom Josua. Saam was hulle nie oorweldig deur die groot taak om ‘’n nuwe bestaan in ‘’n onbekende land te gaan maak nie.

Nou moet ook onthou word, soos julle seker ook weet, is die meeste van die gedeeltes in die Ou Testament gerig op mense wat op trek is, mense wat heeltyd aan die gang is, mense op reis. Hierdie gedeelte dieselfde, dit is nie ‘n gedeelte vir mense wat stilsit nie, dit is bedoel vir reisgenote.

Ons almal wat vandag hier is weet dat Herman en Maria-Helena besig is om gereed te maak om na Windhoek te verhuis. Dit is ‘’n baie groot stap wat hulle saam neem. Dit is ‘’n stap wat saamgaan met moeilike Visums, police clearance en werkspermitte. Dit is ‘’n gespanne pad wat hulle aanpak.

Maria-Helena, Herman. Vandag wil ek vir julle gerusstel en sê dat in elke angstige situasie is die Here saam met julle. Onthou julle het mekaar om mekaar te ondersteun. Moet nie in die gespanne situasie vir mekaar kwaad raak as iets anders julle ontstel het nie. Dra mekaar se laste. Saam kan julle weerstand bied.

Help mekaar op soos die barmhartige Samaritaan, sonder om iets terug te verwag, gee aan mekaar in oorvloed. Hou mekaar warm en beskerm mekaar teen gevaar soos Boas en Rut saamgeleef het. Bied saam weerstand teen die moeilike wêreld en strewe saam na nuwe hoogtes in onbekende terrein soos Moses en Josua. Die Here was saam met al hierdie mense, so sal Hy ook saam met julle wees, oral waar julle gaan.

In hierdie saam reis is daar geen plek vir selfsugtigheid of selfgerigtheid nie. Werk saam. Wanneer julle saamry moet julle saam na die Kaart kyk, saam die Bybel lees, julle vreugdes en hartseer deel, en ook mekaar waarsku as die een dalk iets of iemand in die pad of agter ‘n bossie sien (soms met ‘’n blou en wit lig op die dak) wat dalk die reis kan belemmer.

Daar gaan vinnige afdraandes op hierdie pad wees, spoedhobbels, kronkelpaaie, ompaaie, stadige bulte, sirkels, reguit paaie, lang paaie, maar onthou deur dit alles, dat julle saam, met God, op pad is die toekoms in. Saam, met God, is julle toekoms.

Daarom, onthou, in die reis wat die lewe is, vaar twee beter as een, saam met God. ‘’n Driedubelle tou breek nie maklik nie.

Herman, as hoof van die huis moet jy vir Maria-Helena beskerm en altyd laat veilig en geliefd voel. Maria-Helena as vrou vir Herman moet jy hom liefhê met jou hele hart, maak julle huis ‘’n sagte omgewing waar julle saam mekaar kan geniet. En saam, moet julle, Herman en Maria-Helena, die Here in dankbaarheid dien.

Van vandag af, eet dus julle brood met vreugde, drink julle wyn met ‘’n blye gemoed, God het lankal reeds goedgekeur wat julle doen. Dra wit klere, geniet die lewe waarin die Here julle vir mekaar gegee het. En onthou, God is met julle waar julle ook al mag gaan.

Amen.

 

Huweliksbevestiging.

Seënbede

YOLO so uit die Bybel.

Ek het lanklaas iets van waarde getik, hierdie behoort waarskynlik ook snert te wees. Ekt nie rooiwyn in my hand, geen nuwe ervaring onlangs gehad, slegs ek. En dalk juis daarom is dit tyd om weer aan die skryf te raak, bloot vir die genot van skyf. Ek hou steeds van skryf, om my gedagtes op ‘n manier te karteer deur tyd en ruimte.

Eks tans eintlik onder heavy akademiese druk wat hopelik in die volgende drie weke ligter op my skouers sal druk indien ek die mas suksesvol sal opkom, wat ek sal. Dis nou daai oomblik wanneer die kar so vinnig ry dat die lewe ‘n tonneltjie voor jou raak en alles om jou blur net in strepies… Ek hou nie hiervan nie. Ek kan nie kwaliteit werk produseer in min tyd nie. Wel, as ek baie tyd het, doen ek net die heeltyd navorsing en gaan kyk in elke hasegat wat daar aangaan voordat ek verder beweeg. Dis my probleem met akademie, en wil heeltyd breer gaan, terwyl dit beter is om dieper te gaan.

Ek het nie iets filosofies om vanaand te se nie. Ek lees nog heel week Prediker, die afgelope twee weke eintlik. Eks nou ietwat van ‘n kenner op die gebied van Prediker vir die volgende week totdat ek dit weer vergeet. Die prediker se boodskap is eintlik heel postmodern, so uit die Bybel. Hy voer aan dat die lewe geniet moet word vir wat dit nou is, want niemand kan weet wat more inhou nie, daarom geniet nou vir wat dit is. Dit is ook al sin wat hy in die lewe insien, vreugde is die toppunt en die enigste punt van die lewe vir hom. ‘n Weergawe van YOLO so uit die Bybel! Wie sou dit nou kon raai?

 

In ander nuus. Ekt myself gevang ‘n voicemail save. Dit was van ‘n ou vriendin met wie ek al ‘n lang pad saam kom. Dit was so lekker om haar stem weer te hoor. Daar is steeds iets omtrent haar wat my laat dink aan die Athena van Coelho se Witch of Portabello. Sy is so freespirit op haar eie mission en put altyd die meeste en beste uit die lewe en maak dit ook ‘n beter plek vir almal rondom haar. Sy is aansteeklik, eenvoudig gestel. Dit is maklik om die wereld deur haar oe te aanskou, te bewonder, te geniet. Sy is soos ‘n rooi rok wat om ‘n kampvuur dans… Haar stem dra ook hierdie eerlike gemaklike toon wat mens innooi in haar wereld in. Sy is betowerend.

 

Voordat ek in ‘n normale dagboek inskrywing verval en my binneste aan die wereld vertel in die narratief wat my lewe probeer wees sal ek dit hier kortknip met die glimlag wat nou oor my lippe gly.

Totsiens vreemdeling!