Handelinge 19: God wil weet… Het jy die Heilige Gees ontvang?

Donderdag 5 Junie

 

God wil weet… Het jy die Heilige Gees ontvang?

 

Skriflesing: Handelinge 19:1-8

 

Paulus is in Efese. Daar kry hy hierdie groepie mense en hy vra vir hulle hierdie lewensbelangrike vraag: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hierdie vraag ontbloot die oorsaak waarom daar mense is wat aan die kerk behoort, lidmaatskap het, maar tog twyfel en afdwaal en werelds word en later alleen gelaat wil wees. Hulle is soos saad wat opgekom het, maar waarvan daar tog op die ou end nie ‘n oes van gekom het nie, of soos die kooltjie vuur wat eenkant toe gerol het en uitgedoof het.

 

Kom ons kyk na die klompie mense aan wie hierdie vraag gestel is: Wat het hulle geweet?

 

  1. Hulle het van bekering geweet, want Johannes die Doper het hulle gedoop toe hulle tot bekering gekom het.
  2. Hulle het geloof besit. Paulus vra uitdruklik: “…toe julle gelowig geword het.” Hulle het deur die prediking van Johannes die Doper tot geloof in Christus gekom en Sy volgelinge geword, maar hulle het nog nie ‘n pinksterondervinding gehad nie.

 

Paulus wou egter meer weet. Hy wou weet of hulle geloof eg is, of daar groeikrag is, of daar goeie werke is wat die geloof bevestig, of daar nuwe diepere lewe is, of hulle nie maar net vashou aan die uiterlike vorme van godsdienstigheid nie. Daarom vra hy die vraag: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

 

Wat hier gebeur in Handelinge 19:1-8 is dat Paulus doodgewoon besig was met huisbesoek aan sy lidmate wat in Efese gebly het. En die vraag wat hy vra, is ‘n baie slim een, want so sou hy kon sien hoe die stand van sake is by hierdie gelowiges.

 

Ten minste was hierdie lidmate eerlik. Hulle veins nie ‘n antwoord nie. Nee, hulle erken uitdruklik: “Ons het nie eens geweet dat die Heilige Gees al gekom het nie.” En so bewys hulle eintlik hulle onkunde. Met die antwoord se hulle vir Paulus “Daars werk” En dadelik het Paulus begin om hulle te katkiseer. Dit staan nie alles hier nie, maar toe Paulus klaar vir hulle geleer het oor die bestaan en werk van die Heilige Gees was hulle so oorstelp dat hulle in ‘n geestesvervoering geraak het en in tale gepraat het.

 

Oorwinning! Feestyd! Nou het hulle vir God drie-enig nog beter geken! Nou kan hulle hom nog beter dien!

 

Hoe is dit moontlik dat mense gelowiges genoem kan word sonder om die Heilige Gees te ken? Dit is baie moontlik, so moontlik dat daar in hierdie gebou mense is wat nog nie regtig die Heilige Gees leer ken het en Sy krag in hulle harte ondervind nie! Mense kan vir jare aan ‘n kerk behoort, vir jare, sonder om ooit regtig die Heilige Gees te ken!

 

Waar le die probleem dan? By God? Nee, die probleem le by ons! Want ons weerstaan die Gees. Ons wil Hom nie ken nie, wil nie toelaat dat Hy in ons lewe nie. Dis vir jou goed om in Jesus te glo, maar die Heilige Gees weerstaan jy. Ook, Hy moet net nie teveel karring nie.

 

Hoe werk die Heilige Gees? Kom ek vertel vir julle.

 

Wat doen die Heilige Gees met mense? Hy dring deur tot in die diepste dele van die mens, Hy maak die geslote hart oop. In jou wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak jou wil, wat dood was, weer lewend, wat sleg was, weer goed, wat onwillig was, gewillig, en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk jou wil, sodat jy soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

 

Maar! Jy kan die Heilige Gees weerstaan. Jy kan jou hart verhard en jouself nie tot sy beskikking stel nie. Jy kan hel toe gaan as jy wil?

 

Maar God wil dit nie he nie. Die Here wil he dat jy die volheidslewe sal smaak. Dat jy nuut sal dink, nuut sal leef, nuut sal wees!

 

Die vraag is duidelik: Jy wat al jare lidmaat is van die gemeente: Het jy al die Heilige Gees ontvang? Het jy Hom al ‘n kans gegee om jou lewe kragdadig te verander en nuut te maak? Het jy? Dit is die vraag!

 

Amen.

 

Ons bid nou die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap en krag van die Heilige Gees met julle sal wees en bly.

 

Amen.

Markus 4: God wil weet… Wat is jou naam?

Woensdag 4 Junie

 

God wil weet… Wat is jou naam?

 

Skriflesing: Markus 4:35-5:20

 

Jesus het sopas sy mag getoon deur dat Hy die storm op die see stilgemaak het. In hierdie gedeelte bewys Hy sy almag deurdat Hy die storm in ‘n mensehart ook tot bedaring bring. Hy vra hier ‘n baie persoonlike vraag wat ‘n aaklige toestand aan die lig bring…

 

As ons kyk na hierdie man, dan sien ons sy adres is: Legio, die Kerkhof, Gesara. Verskriklik om aan te dink. ‘n Man vol duiwels, totaal onbeheers, oorgegee aan sy sondige drange en drifte, vol woede, agressie, dwalende, skreeuende tussen die grafte. Ons weet dat hy homself met klippe gekap en beseer het, dat niemand hom kon tem nie. Hy was uitgestoot, mense het hom soos ‘n pes vermy.

 

On sweet ook van hom dat hy vir Jesus bang was, want hy roep uit: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God?” Wat ons natuurlik opval is dat hy nie dadelik om redding smeek nie. Hy wil eintlik alleen gelaat wees. Tipies as die bose sy mag oor mense gooi: Hulle wil alleen gelaat wees. Nie die dominee, of ouderling, of diaken moet in die naam van Jesus Christus by hulle kom nie. Die mag van sonde is verskriklik, maar dit is Jesus wat self uit liefde en deernis met hierdie sondaar optree en Hy stel aan hom ‘n baie persoonlike vraag.

 

Wat is jou naam? Die vraag kon  netsowel gewees het, wat is jou toestand? ‘n Baie ontblotende vraag: Wie is jy? Wie is jy ten diepste? Hoe lyk jou hart?

 

Legio was die man se naam. Hy was genoem volgens ooreenstemming met sy aard: Hulle was baie duiwels in hom, Legio. As ons name moes kry volgens ons toestand van ons harte, wat sou ons name gewees het?

 

Annette die skinnertong, Paul die jaloerse, Piet die moordenaar, Ansie die selfsugtige, Ongelowige, Twyfelaar, Fariseer, Moeilikheidmaker, Grootprater…

 

Jesus kom staan voor jou en vra: Wie is jy ten diepste? Wat is jou naam? Antwoord op sy vraag! Nou! Maak jou hart oop! Wanneer laas het Jesus voor jou kom staan? Vir die mens wie  sy hart oopmaak voor Jesus kom daar wonderike woorde, Openbaring 3:20 se: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak sal Ek by hom ingaan en saam met hom ‘n feesmaal hou, en hy saam My. Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op die troon laat sit.”

 

Jy is nuutgemaak! Jy het die oorwinning behaal deur die beheer van jou lewe rustig in die hande van Jesus te plaas. Jy leef nie meer nie! Jesus Christus leef in en deur jou! Kyk bietjie na jouself: Kyk met nuwe oe na jouself:

  • Jy het van jou eie troon afgeklim en sit nou rustig by die voete van Jesus. Rustig praat jy met Hom, jy is veilig.
  • Jy het ander, nuwe, sigbare tekens, oorwinnaarsklere gekry. Mense sal nou met die eerste oogopslag kan sien dat j yonder Sy liefdevolle hande deurgegaan het.
  • Jy sal nie meer lee, hol, niksseggende lawaai maak nie, jy sal Jesus se woorde in jou mond he, en jy sal praat.

 

Jesus wil jou ‘n nuwe naam gee, ‘n nuwe identiteit. Wat sal jou naam wees? Hoe sal jy by jou werkers bekendstaan? By die rolbalklub? By jou vriende? Hoe sal jy bekendstaan? Jy sal se: “Ek is nou ‘n nuwe mens. Die oue het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” My naam is: Christen! Jesuskind!

 

Jy kry ‘n nuwe naam, identiteit, ‘n nuwe vriendekring. Jy kom tuis. Hemel kom aarde toe! ‘n Feesmaal saam met die lewende Jesus Christus!

 

Wat is jou naam? Wie is jy ten diepste?

 

Ek het die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” – Jes 6:8

 

Amen.

 

Ons bid nou dat die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle sal wees en bly.

 

Amen.

Matteus 9: God wil weet… Glo jy dat Ek kan?

Dinsdag 03 Junie

 

God wil weet… Glo jy dat ek kan?

 

Skriflesing: Matt 9:27-31

 

As ons na hierdie gedeelte kyk, dan val drie dinge ons dadelik op;

  • Blindes het ‘n verwagting aangaande Jesus gehad.
  • Hulle het aanhoudend, dringend, en hard geroep.
  • Jesus wys hulle op hulle geloof. Glo julle dat ek kan?

 

As ons dit deur trek na ons situasie vandag… Wat verwag ons van Jesus? Ons verwag dat Hy sal luister as ons praat. Ons verwag dat Hy vir on sons redding bewerk. Ons verwag dat Hy ons sal liefhe. Ons verwag baie van Hom. Die punt is: Ons het sekere verwagtings van Jesus!

 

Maar hoe min verwag ons nie! Baie keer is ons verwagting van Jesus so verskraal. Met ons gaan dit soms soos met ‘n man en vrou met huweliksprobleme, die man verwag van sy vrou om sy klere te was en te stryk, of dit te laat doen, om sy kamer netjies te laat hou en om sy kos vir hom te gee op vasgestelde tye. Die vrou verwag van haar man om geld te gee aan die einde van die maand, om vir haar vervoer te voorsien, ‘n huis te gee, ‘n mate van sekuriteit.

 

Maar. Daar is in so ‘n verhouding geen in diepte kennis nie, geen gehoorsaamheid nie, geen ware liefde nie, bloot net ‘n koue samewerkingsooreenkoms.

 

Daar bestaan tussen ons en Jesus baie keer net ‘n koue samewerkingsooreenkoms. Wat ‘n verskriklike toestand vir Christene om in te wees. Dat Christene se ‘huwelik’ met Jesus Christus so teruggeskaal het dat daar geen warm liefde meer is nie.

 

Is dit met jou vandag die geval? Maak dan soos die blindes. Kom onder die diepte indruk van jou toestand en praat met Hom self! Gaan soek hulp by die Enigste Een wat kan! Wend jou tot Hom! Roep hard en aanhoudend. Maak ‘n appel op Jesus se aandag, sy tyd! Vertel vir Hom van jou geestelike toestand. Bespreek die hele aangeleentheid met Hom. Wys vir Hom waar jy dink die probleme le. Se vir Hom van jou gejaagde lewe, jou gebrek aan tyd, jou posisie in die samelewing, jou doodsheid, jou lewensmoegheid… Se vir Hom vandag nog!

 

Se vir Hom vandag nog!

 

En Hy sal ook vandag vir jou se: “Glo jy dat ek kan? Glo jy regtig dat ek jou kan maak dit wat jy eintlik al lankal is: ‘n Jubelende, liefdevolle, kalme, vredevolle kind van God wat leef en werk onder sy beskermende vlerke?”

 

Glo jy dat ek jou kan nuut maak?

 

Jesus het die blindes op hulle geloof laat fokus. Kyk bietjie na jou eie geloof. Wat glo jy? Onthou: die duiwels glo ook, en hulle sidder van angs! Geloof in Jesus en in Jesus se krag, sy vermoens, dit is wat Hy by jou soek.

 

Die toetsvraag is: Glo jy dat Hy dit kan doen? Jy wat ‘n behoefte het aan Jesus en sy teenwoordigheid in jou lewe. Glo jy dat Jesus ook jou kan verander van ‘n onsiende na ‘n siende? Glo jy dat Hy jou nuut kan maak? Die blindes het gese: “Ja Here!” Geen ‘asse’ of voorwaardes nie. Sterk en beslis se hulle: “Ja Here!”

 

EN TOE HULLE JA SE, TOE…

 

En toe kom die Goddelike aanraking: “Toe raak Hy aan hulle oe en se: Wat julle glo sal gebeur.” Sien, wees die verwagting.

 

Wat jy glo sal gebeur, sal gebeur. Glo dat jy sal kan verander, en jy sal verander. Glo dat jy ‘n sukses is, en jy sal een wees. Glo dat jy iets sal kan regkry, en jy sal dit regkry. Met die Goddelike aanraking.

 

Die toetsvraag bly steeds: Hoeveel geloof het jy in Jesus en Sy vermoens om jou deur ‘n Goddelike aanraking weer ‘n nuwe mens te maak met nuwe moontlikhede, nuwe gesindhede, nuwe geloof, nuwe lewe! ‘n Ander vraag is natuurlik: “Wil jy verander, ‘n nuwe mens word met nuwe moontlikhede, wil jy?”

 

God wil weet… Glo jy dat ek dit kan doen?

 

Amen.

 

Ons bid nou die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, met ons sal wees.

 

Amen.