Oorlog met Osmer: Die Normatiewe Taak: Profetiese Onderskeiding

Die normatiewe taak veronderstel wat moet gebeur. Wat moet gebeur moet volgens praktiese teologie deur drie filters gaan voordat dit goedgekeur kan word om te gebeur. Hierdie drie filters is onderskeidelik, teologiese refleksie, etiese refleksie, en wat goeie handeling veronderstel. 

Profete word gesien as God se boodskappers, en daarom moet die boodskapper die boodskap verstaan en ook in verband kan bring met ander kennis wat die ontvanger mag besit. Die profetiese stem is juis die Woord van God aan ‘n spesifieke gemeenskap in ‘n spesifieke tyd en plek. Profetiese onderskeiding het te make met Goddelike onhulling en die menslike vormgewing van God se woord. Die profeet maak gebruik van teologiese tradisies of populere sowel as offisiele teologie te kritiseer asook die lewenswyse wat hierdie teologie regverdig. Hierdie teologiese refleksies word dan teologies spesifiek geinterpreteer vir die sosiale kondisies, gebeure, en keuses wat die gemeenskap voor staan.

‘n Treffende gedeelte in Osmer is die sinnetjie: “…Jesus does not merely serve as the messenger of God’s words; he is God’s Word.” Hierdie bevestig op ‘n meer teologies akademiese manier die stelling van Marshall McLuhan in die 1960’s van dat die medium ook die boodskap is. Dit is presies wat hier aan die gebeur was en is.

Onderskeiding is daardie aktiwiteit waar gesoek word na God se leiding in elke omstandigheid, gebeurtenis, en lewensbesluit. Om te onderskei beteken om te sif en uit te sorteer, dit beteken ook om die bewyse te weeg voordat daar by ‘n besluit gekom word.

Bonhoeffer se manier van onderskeiding staan vir my uit, hy het twee stappe gevolg in onderskeiding:

1. Erken jou onkunde/onkundigheid.

2. Soek na God se wil, wat wil God hê?

2.1 Gaan kyk na wat die Woord sê.

2.2 Wat sê die belydenisskrifte asook radikale waarheid vanaf vriende.

2.3 Onderskeiding moet altyd vanuit liefde geskied, vir liefde.

Die normatiewe taak van praktiese teologie is gegrond in ‘n spiritualiteit en beoefening van onderskeiding.

‘n Etiese refleksie is belangrik om ‘n persoon te help om die regte riglyne en reels te kies vir die lewe. Sulke norme speel weer ‘n belangrike rol in die besluite wat mense neem en die dinge wat mense doen.

Toepassing van die teologiese sowel as die etiese dimensie begin nie aan die einde van die interpretasie nie, maar gedurende die interpretasie moet die teologiese sowel as die etiese ‘n invloed uitoefen. Toepassing van interpretasie begin verder wanneer daar ‘n dimensie van problematiek in die huidige ontstaan.

‘n Refleksie op goeie handeling het die gevolg dat maniere van hervorming vir ‘n gemeente kan gevind word. Dit genereer ‘n nuwe verstaan van God, die Christelike lewe, en sosiale normes verder as dit wat deur die geskiedenis oorgedra word. Goeie handeling kyk na die verlede en hede om die normatiewe vir die toekoms te bepaal. Om nuut te dink oor goeie handeling vra ‘n refleksiewe benadering, eerder as voorskriftelik. In dialoog moet daar tot ‘n nuwe praktiese wysheid gekom word. Transformerende handeling genereer nuwe kennis, dit is georienteerd tot menslike vryheid en liefde, en veg om strukture van dominasie te oorkom. Transformerende handeling ontbloot God, en bied sy transendensie aan alle mense in ons samelewing, vandag.

Oorlog met Osmer: Die Interpreterende Taak: Wysheid

Die taak van interpretasie, moet met wysheid onderskeid tref tussen watter bril die meeste sal help om mense deur ‘n onbekende terrein die weg te wys. Gemeentes soek leierskap wat hulle help om sin te maak van hulle omstandighede en lewens. Die spiritualiteit van sulke leiers voldoen gewoonlik aan drie karaktereienskappe; deurdagdheid, teoretiese interpretasies, en wyse oordeel.

Wanneer mens as deurdagd gesien word is een van, of albei, van twee dinge teenwoordig; mens is bedagsaam in hoe mens ander hanteer, of insiggewend oor alledaagse dinge.

Teoretiese interpretasie is die vaardigheid om deur middel van teorie van die kunste en wetenskap te verstaan en te reageer op spesifieke situasies en kontekste. ‘n Teoretiese interpreterende persoon moet ook leer om met onsekerhede te leef, want met meer kennis kom ook die wete dat die mens regtig min weet.

Wyse oordeel is die kardinale element in goeie leierskap. Wyse oordeel is die kapasiteit om situasise en kontekste te interpreteer aan die hand van drie samehangende elemente; om die bydraende elemente van ‘n situasie of konteks te kan identifiseer, om die morele waardes op die prys te kan onderskei, en om te kan bepaal wat is die effektiewe manier om met die inagenome beperkinge vorentoe te kan beweeg.

Oorlog met Osmer: Die Beskrywende-Empiriese Taak: Priesterlike Luister

Om priesterlik te luister is ‘n aktiwiteit van die hele gemeenskap, nie net die ouderlinge nie. Om ‘n spiritualiteit van teenwoordigheid te handhaaf beteken om na ander se persoonlike verhoudings om te sien, asook om omstandighede en kulturele kontekste in ‘n meer formele en sistematiese manier te ondersoek.

Dit help om die verhouding tussen ‘n spiritualiteit van teenwoordigheid en die beskrywend-empiriese taak te konseptualiseer.

1. Informele teenwoordigheid het met alledaagse lewe te doen.

2. Semi-formele teenwoordigheid behels die gebruik van spesifieke metodes en aktiwiteite wat struktuur en reelmatigheid aan teenwoordigheid bied.

3. Formele teenwoordigheid het te make met situasies en kontekste deur empiriese navorsing.

Dus word gese dat daar op verskeie maniere geluister moet word na “wat is aan die gang?”.

Leierskap in ‘n gemeente wat konflik ervaar sal baat vind daarby om te probeer verstaan watter tiepe gemeentelike model die meeste in die gemeente aangehang word. Die leierskap het ‘n moeilike taak om die verskillende perspektiewe te verenig en steeds verstroue en respek te bou oor die hele spektrum.

Plek van aanbidding; So ‘n gemeente word primer as ‘n plek gesien waar die geestelike groei van die individu op die prys gestel word. Min klem word op gemeenskapsontwikkeling geplaas. Die ampsdraers en ‘n handjievol mense is in beheer van die gemeente.

Familie gemeente; ‘n Sterk klem word om familie bediening geplaas, en so moet daar ook ‘n gevoel van behoort geskep word. Kennis van hoe die gemeente funksioneer word deur die hele gemeente gedeel.

Gemeenskapsgemeente; ‘n Sterk klem word hier op die gemeenskap geplaas. Om ‘n diverse gemeenskap te verenig in die gemeente, beteken dat ‘n gevoel van gemeenskap belangriker is as kerklike tradisies. Klem word geplaas op deelname en toe-eiening van die gemeentelike programme en aksies.

Leierskapsgemeente; Hier bestaan die gemeente om ‘n impak in die gemeenskap te maak, eerder as om ‘n gevoel van gemeenskap te koester. Die dominee is gewoonlik op al die belangrike rade van die gemeenskap en speel die politieke spel om te verseker dat die gemeente invloed in die gemeenskap uitoefen.