Hebreërs 3: ‘n Rustige hart oor die toekoms

Dit is ‘n nuwe jaar met nuwe dinge, ons is besig om ons Nuwejaarsvoorneme in die geheim te formuleer en saam te stel soos wat ons na die jaar se uitdagings kyk. Die meeste van ons gaan more amptelik terug werk toe, tog het die gedagte van werk al heelwat vroeër in ons agterkoppe kom lê. Dit en dat moet nog beplan word, dalk moet daar nog penne en potlode vir die nuwe skooljaar gekoop word. Boeke moet oorgetrek word. Skoene moet gepolitoer word. Hemde moet gestryk word. Gaan ons hierdie jaar probeer om te bid voor ons eet? Gaan ons dit dalk waag om te kyk of ons almal bymekaar kan kry vir huisgodsdiens om die etenstafel na aandete eerder as om so gou as moontlik te eet om die nuutste series te gaan kyk?

 

Dit is ‘n nuwe maar met nuwe dinge wat maar dieselfde is, die vraag is of ons dit dieselfde gaan hou en of ons iets daaromtrent gaan doen?

 

Die skrywer van die Hebreërs brief se doel is om gelowiges wat besig is om in die geloofstryd uit te sak, op te roep om in die geloof te volhard. Hy skryf aan tweede geslag Christene wat geestelike onvolwassenheid en verflouing in hulle geloof openbaar.

 

Met die jaar wat soos ‘n berg voor ons lê kan ons maklik vind dat die taak te groot is om die nuwe jaar anders as voorheen in te gaan. Dat die taak te groot gaan wees om nuwe gewoontes te kweek. Dat die taak te groot gaan wees buite myself ook nog na ander se welstand te kyk. Dat hierdie jaar eerder MY jaar moet wees as ONS jaar. Hierdie jaar kyk ek na myself.

 

Vandag skryf hierdie Hebreërs skrywer ook vir jou! Luister daarom na wat die Heilige Gees vir jou te sê het: Lees Hebreërs 3:7-19.

 

Vandag is hierdie gedeelte vir elkeen van ons net so gepas soos dit vir die Israeliete op trek was, soos vir die Jode in die Psalms, soos vir die vroeë Christene in die Hebreërs brief, so is dit gepas vir ons vandag. Ons moet daarom let op die geskiedenis, die verlede, sodat ons nie die foute van die wat voor ons was herhaal nie.

 

Daar is vandag ‘n oproep om na die stem van God te luister, oombliklik, en met oorgawe te luister.

Ons moet nie, soos ons voorvaders, hardkoppig wees nie. Daar lê ‘n stukkie hardkoppigheid in die meeste van ons, ons geskiedenis is vol daarvan. Wanneer ons nie met iemand saamstem nie, in plaas van verskil in vrede, plaas ons onsself teenoor die ander. Nie ryk en arm nie, maar eerder ryk of arm. Nie swart en wit nie, maar eerder swart of wit. Nie NGK en Shofar nie, maar eerder NGK of Shofar. Ons plaas onsself konstant teenoor mekaar oor klein verskille, vriendekringe breek op oor klein verskille.

 

Is jou finansiële status meer belangrik as die waardigheid en respek waarmee jy ander hanteer? Is dit reg dat jou velkleur die bepalende faktor raak in jou oordeel of jy aan ‘n toekoms in Suid Afrika gaan bou? Is daar slegs een manier om God te aanbid?

 

Of kan ons eerder met sagter harte mekaar ondersteun in finansiële moeilike tye, kan ons eerder met sagter harte, wat almal rooi bloed pomp, saam geweld beveg en bou aan die reënboog nasie, kan ons besef dat geloof in Christus die punt van samekoms is.

 

As Afrikaners is ons, is ek, ongelukkig baie hardkoppig. Ek kyk vas in werksgeleenthede wat weggeneem word, ek kyk vas in taalbeleide by Universiteite, ek kyk vas in erfenisterreine wat verwaarloos word. En dit maak my net meer hardkoppig om my eie te beskerm, om uit te sluit, om laer te trek en in my eie bubble te lewe. Maar is dit regtig ‘n lewe?

 

Wat my opval is dat hardkoppigheid in ons kop sit, en sodra ons afbeweeg na ons harte raak ons sagter. Wanneer ons afbeweeg en met sagte harte na ons wêreld kyk raak dit eers hartverskeurend, deels omdat dit so moeilik is om die werklikheid in die sig te staar en deels omdat daar so baie krake in ons potte is. En die krake is daar om die Lig deur te laat. Wanneer ons met sagte harte na die wêreld om ons kyk begin ons om eerlik met onsself en die om ons te wees.

 

Met ‘n sagte hart kom nederigheid, nederigheid om saam te werk. Nederigheid om nie te staan op ‘n taal nie, maar saam te streef na nuwe kennis, nuwe maniere van doen vir oplossings tot ou probleme. ‘n Sagte hart omarm, sluit in, doen saam, en vind dit moeilik om uit te sluit. Met ‘n sagte hart kan jy, ek, ons, net wees, sonder om te dink, sonder om te veg of te vrees. Met ‘n sagte hart kan ons rus, kan ons saam die ewige rus ingaan.

Die Farao was hardkoppig en het daarvoor sy eersgebore seun verloor, asook al sy manskappe toe die Rooisee om hulle toemaak en hulle in die water vergaan. Hierdie gedeelte in Hebreërs 3 haal Psalm 95 aan wat weer op sy beurt verwys na Eksodus 17 waar die volk in opstand teenoor Moses gekom het.

 

Die volk was op trek deur die woestyn en raak toe onrustig, of eerder ongelowig, sonder vertroue dat die Here aan hulle sal voorsien. Hulle het vergeet van die Rooisee, hulle het vergeet van die Manna en Kwartels, hulle het vergeet van die Wolkkolom in die dag en die Vuurkolom in die nag. En in hulle vergeetagtigheid raak hulle onrustig en later ongelowig oor die krag van God en dat Hy aan hulle water sal voorsien. Moses slaan toe teen die rots met sy staf by Massa en Meriba en daar stroom water uit.

 

Omdat die volk teen die Here in opstand gekom het by Massa en Meriba en Moses die rots moes slaan laat die Here hulle nou vir 40 jaar deur die woestyn trek sodat daardie hele generasie in die woestyn kan sterf sodat hulle nie die beloofde land sal sien nie. Van min of meer 2miljoen mense (600 000 mans) sien slegs 2 die beloofde land as gevolg van hul geloof, Josua en Kaleb. ‘n Reis van min of meer drie weke (400km) raak ‘n reis van 40 jaar as gevolg van opstand teen die Here in ongeloof.

 

Die Israeliete was vir 40 jaar letterlik op ‘n dwaalspoor, omdat hulle innerlik van die Here afgedwaal het. Hulle het hulle innerlike kompas verloor. Hardkoppigheid kan ons maklik op ‘n dwaalspoor plaas, waar ons dink ons weet beter as die Here.

 

Vers 13 herhaal die “vandag” woordjie vir ‘n tweede keer en wys vir ons hoe ons onsself teen hardkoppigheid kan beskerm. Vandag, omdat ‘n Nuwejaarsvoorneme nie more of as die skole begin, begin moet word nie, maar vandag.

 

Solank daar nog ‘n vandag is moet ons mekaar aanspoor sodat niemand van ons in die misleiding van die sonde verhard nie.

 

 

Dit is tyd dat ons mekaar aanspoor. Dat ons nie toekyk hoe mense om ons verkeerde besluite maak nie, maar hulle reghelp. Dit is tyd dat ons saamstaan en verby ons verskille kyk en saam dink oor hoe ons dit wat ons het kan gebruik ten bate van almal. Ons moet dit vandag doen want so ‘n geleentheid kan in ‘n oomblik vir ewig verby gaan. Deur gedurige sonde, deur gedurig nie op die Here te vertrou nie, word die mens verhard en gaan boosheid oor in ongeloof. Ons moet mekaar nou aanspreek om hierdie hardkoppigheid te stop.

 

Vers 15 bevestig wat reeds gesê is: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

 

Ons moet volhard in die geloof. Die Israeliete het mooi begin en Moses met vreugde deur die Rooisee gevolg toe die waters oopmaak. Hulle het die Here geprys. Maar toe die water opraak het hulle vergeet van hoe die Here vir hulle in die verlede gesorg het en het hulle teen Hom in opstand gekom.

 

Dit is vandag die jaar 2018, dit is die nuwe jaar.

 

Die realiteit is die water is min. Die son brand warm. En die jaar lê nog voor. Laat hierdie gedeelte VANDAG vir jou bemoediging bring.

 

Hy het die volk deur die woestyn gely en hulle het die land van melk en heuning beleef.

 

Die Here belowe rus vir die met sagte harte. Die Here belowe rus vir die wat glo. En dit beteken ook ‘n rustige hart oor die toekoms.

 

Mag jy 2018 ingaan met ‘n sagte en rustige hart.

 

Amen.

Hebreërs 11: Om te glo is…

Hebreërs 11:1 vertel vir ons dat, om te glo, is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

Maar wat beteken dit om te glo? Is dit ‘n sekere manier van leef? ‘n Sekere soort gevoel? Is dit iets wat ek moet doen? En wanneer kan ek seker wees dat ek glo?

 

In Hebreërs 11 gee die skrywer vir ons ‘n reeks goeie voorbeelde uit die tyd van die Ou Testamente van wat dit beteken om te glo, of gelowig te wees.

 

  • Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain.
  • Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het.
  • Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kan word nie.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat die beloof het, getrou geag het.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan.
  • Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
  • Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.
  • Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.
  • Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.
  • Omdat Moses geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was.
  • Omdat Moses geglo het, het hy die Pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.
  • Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met die wat aan God ongehoorsaam was nie.

 

Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

 

By elkeen van hierdie voorbeelde van geloofsgetuies laat die skrywer ons iets sien wat die geloofsgetuie gedoen het. Ons sien vir Noag en sy ark, ons sien vir Abraham en Sara wat sukkel om kinders te kry, ons sien vir Moses wat sy kierie oor die Rooisee uitsteek, ons sien die vir Ragab die prostituut met haar rooi tou, ons sien die Israeliete wat om Jerigo se mure stap.

 

Waarom is sien en dalk meer spesifiek nie-sien-nie op die voorgrond wanneer ons oor geloof praat? En hoe dit verband met mekaar?

 

Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om te weet dat dit wat belowe is sal gebeur. Die reën sal kom. Die kind sal kom. Die see sal oopgaan. Die mure sal val. Geloof is om oortuig te wees dat die dinge wat belowe is sal gebeur.

 

Die ander vraag is natuurlik, wil jy hê die dinge moet gebeur of wil God hê dat die dinge moet gebeur? En wat sê dit van jou geloof?

 

Geloof en vertroue gaan baie naby saam met mekaar. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here die beste vir hom of haar wil hê nie sukkel. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here se beloftes die beste vir hom of haar is nie gaan sukkel. Daarom vra geloof om verby jouself te kyk en om raak te sien wat die Here sien, om raak te sien wat eintlik die beste is.

 

Romeine 10:8-10 sê die volgende: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

 

Geloof is iets wat nie net in ons koppe aangaan nie, maar ook iets wat in ons monde gaan lê om te vertel van dit wat gebeur het, van dit wat jy gesien het. Geloof is ook iets wat verder afsak na ons harte toe, iets wat ons aanvoel. Wanneer jy, sonder dat jy kan verduidelik, weet jy is op die regte plek in jou lewe, is jy besig om te glo vanuit jou hart.

 

Jakobus 2:14 en 21-22 sê: “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep…Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”

 

Nou gaan Jakobus ‘n stappie verder en sê dat die geloof wat in ons gedagtes, monde en harte is verder moet gaan na ons hande en voete toe. Dat die wat gelowig is dit moet doen wat hulle glo. Ons kan nie net Sondag na Sondag luister na mooi boodskappies en nie toelaat dat dit ons leefwyse verander nie.

 

As ons nie anders begin leef as gevolg van dit wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons voel nie, glo ons nie regtig wat ons lees nie. As ons nie doen wat die woord sê nie, bedrieg ons onsself. Dan kyk ons oor en oor na onsself in die spieël en elke keer wat ons wegdraai van die spieël vergeet ons dadelik wat ons gesien het.

 

Dan is daar ook die omskrywing wat die Heidelbergse Kategismus (een van ons belydenisskrifte vanuit die Reformasietyd, 1563) van geloof gee:

 

Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

 

As ons nou terugkyk sal ons sien dat geloof vertroue (in my hart), kennis (in my verstand/hoof), woorde (in my mond) en dade (my hande/voete/lewe) is. Wanneer een van hierdie elemente ontbreek, raak ons geloofslewe eensydig en arm.

 

  • wanneer my geloof kennis kortkom – dit wil sê los raak van die Skrif – loop dit gevaar om te begin verdwaal in allerlei onbybelse sieninge.
  • wanneer my geloof vertroue kortkom – dit wil sê los raak van ‘n persoonlike verhouding met God – loop dit gevaar om koud, rigied en liefdeloos te raak.
  • wanneer my geloof woorde kortkom – dit wil sê nooit van gesê of getuig word nie – loop dit gevaar om in myself toegesluit te raak en te sterf.
  • wanneer my geloof dade kortkom – dit wil sê nooit sigbaar en konkreet gedoen word – loop dit gevaar om maklik skynheilig en selfsugtig te raak.

 

Wat sou ek kon doen om in my geloof – in al vier aspekte – te groei?

 

Om jou Bybel gereeld te lees sal jou help om nie te verdwaal nie. Om gereeld tyd saam met die Here te spandeer, deur stiltetyd sal jy nie koud en liefdeloos raak nie. Om te getuig van hoe Hy met en in jou lewe werk sal keer dat jy in jouself toegesluit raak. Deur gereeld te doen wat jy glo sal keer dat jy skynheilig en selfsugtig raak.

 

Sola Fide: Deur geloof alleen kan ons dink oor, vertrou op, praat met en doen saam met God, die Vader, Seun en Heilige Gees.

Hebreërs 11: Geloof

’n Klein seuntjie

‘n Sekere klein seuntjie was nie op sy mond geval nie. Daar kuier familie by hulle toe sy ma hom vir ete roep. “Onthou om jou hande te was,” sê sy, “en was al die kieme lekker af.”

Skaars beginne hy sy hande te was, of ma roep: “Kom, kom Jannie, gou maak! Pa wil al ogies maak om vir Jesus dankie te sê vir ons kossies.”

“By elke ete hoor ek ook net van kieme en van Jesus, kieme en Jesus, kieme en Jesus,” brom die klein rakker toe hy aan tafel kom. “En om te dink ek het nog nie een van die twee gesien nie!”

Om Jesus te sien

Die Johannesevangelie vertel van Tomas se behoefte om Jesus te sien. Hy kon nie glo God het Jesus werklik uit die dood opgetel nie. Jesus verskyn toe aan Tomas. Toe Tomas sien, toe glo hy. Waarna Jesus die betekenisvolle woorde sê: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29)

Johannes gebruik die insident om die evangelie te skryf: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31)

Dis duidelik dat sien en glo vir Johannes verband hou. Die oorvertel van Jesus se woorde en dade skep geloof in mense, wat hulle help om Jesus te sien met oë van geloof.

Sien en glo

Ons teksgedeelte werk vandag ook met die verband tussen sien en glo. As jy by sien begin, gaan jy dit moeilik vind om te glo. Maar as jy by glo begin, gaan jy verstom raak oor wat jy kan sien. Geloof werk soos ‘n lens wat jou vermoë om te sien opskerp. Sodat jy kan sien waaroor dit werklik gaan.

Vir moderne mense is sien een van die hoekstene waarop ons kultuur gebou is. Die opkoms van moderne wetenskap is gebou op die behoefte om dinge waar te neem. Om dinge te sien met behoorlike fisieke waarneming, sodat ons dit kan verstaan, en dit kan gebruik.

Niemand kan ontken dat wetenskaplike waarneming geweldige seën inhou nie. Dink net aan die mediese wetenskap wat soveel siektes genees. Dink aan elektrisiteit in ons huise, rekenaars op ons lessenaars, yskaste, vrieskaste en water (warm water!) in ons krane.

Saam met die klem op sien, het twyfel ook ‘n belangrike rol in ons lewens begin speel. Dis hoe wetenskaplike denke werk. Ons aanvaar nie dat dinge is soos dit op die oppervlak lyk nie. Ons wil dieper kyk, dieper grawe, sodat ons agter die dinge kan kom. Dinge is nie soos dit met die eerste oogopslag lyk nie. Ons hou nie van eenvoudige antwoorde nie.

 

‘n Baie klein wêreldjie

Sê nou maar net mens kan nie alles ken deur dit fisies waar te neem nie? Sê nou daar is aspekte van klippe, bosse, berge, diere en mense wat meer is as wat ons onder ‘n mikroskoop, in ‘n proefbuis, of onder helder ligte kan vasvang?

Is sien die enigste betroubare bron van kennis?

Sê nou maar daar is dinge wat nie gesien kan word nie? Dinge wat nie deur rasionele denke ontbloot kan word nie?

Baie mense is oortuig dat die enigste realiteit die sigbare is. Daar is nie meer ruimte vir God, engele, die geesteswêreld en vir openbaring as betroubare bron van kennis nie. Al wat is, is dit wat ons kan sien.

Daar is nie ‘n God nie. Daar is nie ‘n Skepper, Verlosser en Voleinder nie. Daar is nie ‘n skare van verlostes voor God se hemeltroon nie. Daar is nie boosheid en vernietiging nie. Daar is net die dinge wat ons kan sien.

Daar is ook nie wonderwerke nie. God het nie Jesus van Nasaret gestuur om ons nuut te maak nie. Jesus is nie uit die dood opgewek nie. God het nie die Heilige Gees as Here en lewend maker uitgegiet nie. God is nie Koning nie.

Daar is net ons en die dinge rondom ons.

‘n Klein wêreldjie inderdaad.

‘n Groot wêreld        

Hebreërs 11 stel ‘n groot wêreld aan ons bekend. Dit is ‘n wêreld waar:

  • Die sigbare dinge hulle ontstaan aan God te danke het: die sigbare het ontstaan uit iets van ons nie sien nie (1)
  • Mense se diepste sekerheid gebore word uit die hoop wat God in ons harte geskep het (1)
  • Waar ons hoop gebore word uit God se beloftes oor die toekoms (10).

Hierdie wêreld is groter as die sigbare dinge. Dit is ‘n wêreld waarin ons vashou aan God en aan God se beloftes. Daarom glo ons en leef ons anders. Deur geloof sien ons God se beloftes en rig ons lewens daarvolgens in.

 

 

 

 

Die lang lys voorgangers in geloof, wat hier genoem word, het almal anders geleef en opgetree omdat hulle deur geloof wêreld kon sien wat mens sonder geloof nie kan sien nie. Die bril van geloof het hulle verander:

  • Abel se opregtheid is deur geloof bevestig (4);
  • Henog het deur geloof geleef soos dit God behaag het (5);
  • Noag het die ark op droë grond gebou op grond van God se belofte dat hy uit die komende oordeel gered sal word (7);
  • Abraham het op grond van die belofte van ‘n land alles verlaat, getrek sonder om te weet waar hy sou eindig, en na die beloofde land gereis onderweg na God se stad met vaste fondamente (8);
  • Abraham het deur geloof, as ‘n ou man, die ontvanger van ‘n talryke nageslag geword (11-12).

Wat geloof doen

Dit is duidelik dat geloof ‘n enorme impak op mens se lewe het. Die rede hiervoor kry ons in Hebreërs 11:1 wat begin met “Die geloof dan is….” Vers 1 kan letterlik só vertaal word: “Nou, geloof is die dinge waarop ons hoop, die bewys van dinge wat ons nie sien nie.”

Wat geloof doen, is om ons aan God te verbind, en aan ons die sekerheid te bevestig van God se beloftes van die heerlike bestemming waarop die lewe van geloof uitloop.

Op reis met God

‘n Lewe deur geloof is ‘n reis saam met God. ‘n Reis waarin die eindbestemming reeds vas staan. ‘n Reis waarin die beloftes van God ons vorentoe trek op die pad van gehoorsaamheid. ‘n Reis waar ons nou reeds, uit die vêrte, juig oor die wonderlike beloofde toekoms van God.