Handelinge 1:1-11

Vandag herdenk ons die hemelvaart van Jesus wat ‘n hele paar jaar gelede gebeur het. Lukas vertel vir ons van hierdie gebeurtenis in die brief wat hy aan Teofilus skryf. Waar die Lukas evangelie oor die lewe van Jesus gegaan het, gaan die Handelinge van die apostels oor wat die dissipels nou gaan maak met alles wat hulle by Jesus geleer het.

Vandag se storie speel op die Olyfberg, so kilometer buite Jerusalem af. Jesus se dissipels vra Hom of dit nou die tyd is dat Hy die koninkryk van Israel gaan oprig. Hy antwoord hulle dat dit nie vir hulle is om te weet wanneer die tyd is nie. Wat hulle wel mag weet is dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en dat hulle Sy getuies moet wees. Nie net in Israel nie, maar tot in die uithoeke van die wêreld.

Nadat Hy dit gesê het vaar Hy toe op na die Hemel en die dissipels staar Hom agterna. Hulle kyk en hulle kyk, so soos ‘n groep mense by die see wat kyk hoe die son sak oor die water.

Hoekom staan hulle net daar en kyk hoe Jesus op die wolke verdwyn? Wat dink jy gaan deur hulle koppe terwyl hulle daar staan? Wat dink hulle? Hulle kon dalk gedink het dat Jesus weer, met groter heerlikheid, gaan terug kom uit die wolke soos in Lukas 9:28-36. Dalk was hulle baie hartseer en onseker oor hoe hulle nou op hulle eie moet aangaan? Of was hulle dalk net heeltemal deurmekaar oor wat alles voor hulle afspeel? Een oomblik kry hulle ‘n opdrag om getuies regoor die wêreld te wees en die volgende oomblik verdwyn Jesus, hoe gaan hulle dit sonder Hom regkry?

Vers 10 en 11 verhelder letterlik die dissipels se situasie. Skielik verskyn daar twee engele langs hulle. Die sê toe vir hulle: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk?” Die engele se vraag maak dit duidelik aan die dissipels dat hulle nie met groot oë na die hemel hoef te kyk nie. Hulle hoef nie dat hulle vrese en vraagtekens die oorhand oor hulle kry nie. Die Here het hulle nie bymekaargeroep om almal net die heeltyd daar op een plek te staan nie. In dieselfde asem kan hulle rustig en vol vertroue wees, dat die Here Jesus weer terugkom.

Met hierdie vraag en vertroosting van die engele kom die dissipels in beweging, en hulle begin die een voet voor die ander te sit om by Jerusalem uit te kom, om daar te gaan wag en te volhard in gebed.

Die dissipels het ‘n sekere verwagting gehad van wie Jesus vir Israel sou wees en wat Hy vir Israel sou doen. Hulle het gedink dat Hy die een sou wees wat op ‘n kragtige perd, vanuit die Ooste, die stad sou inry en alle magte sou verower soos Dawid van ouds. Toe gebeur die teendeel, hy kom op ‘n donkie die stad vanaf die Weste kant ingery en word gekruisig soos ‘n misdadiger.

Ons het dalk soms soos die dissipels sekere verwagtinge van wie Jesus is en wat Jesus vir ons behoort te wees. Ons dink dalk aan die Here as ‘n Kersvader wat net lekker en gemaklike dinge vir ons gee. Wanneer ons só dink, moet ons onthou dat Jesus ‘n moeilike opdrag aan sy dissipels gegee het nie. Dat Hy hulle gevra het om hulle lewe op te offer vir Sy Naam. Gemak was verseker nie deel van die pakkie nie.

Verlede week is ek op pad terug huis toe vanaf die skool toe val ek in die middel van ‘n gesprek op RSG in. Hulle is toe besig om oor ‘n kwaliteit lewe te gesels. ‘n Man bel in en vertel dat hy langs die pad vroue, al laggend, gesien hout bymekaar maak het. Seker vir die aand se vuurtjie. Hy wonder toe by homself, wat is beter, is ‘n gemaklike of ‘n gelukkige lewe?

Iets gebeur wat jou destabiliseer, wat jou ontwrig, gaan jy laat dit jou tot stilstand ruk, of gaan jy juis dit gebruik om jou in beweging te bring?

Die kerk leef vandag in die tyd tussen die hemelvaart en die belofte in vers 11 dat Jesus weer gaan terugkom. Dit is ‘n tyd vir die kerk om die opdrag van vers 8 uit te voer: “Om Sy getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Ons leef vandag met hierdie opdrag van God, om Sy getuies te wees orals waar ons gaan. Is ons Sy getuies? Leef ons soos ‘n getuie van Jesus Christus in alles wat ons doen?

Hoe lyk ‘n getuie van Jesus Christus?

‘n Getuie van Christus is iemand wat geregtigheid, justice, regverdigheid vir almal najaag. ‘n Getuie is iemand wat sy of haar vyande lief het. ‘n Getuie is iemand wat omgee vir die op die randte van die samelewing, die uitgeworpenes. ‘n Getuie van Christus is iemand wat nie daardie gewaagde epos aanstuur nie, is iemand wat besigheid op ‘n eerlike manier doen. ‘n Getuie van Jesus Christus is iemand wat alles in sy of haar mag doen om soos Jesus te leef.

Is jy ‘n getuie van Christus wat besig is om die hemel af te bring aarde toe, of staar jy nog na die wolke?

Die versoeking is baie keer daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik gereageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Ek doen dit baie. Ek lees my Bybel en leer by Jesus soos die dissipels, maar wanneer dit by die doen deel kom staan ek stil. Ek wil net nog ‘n bietjie lees en leer voordat ek gaan en doen. Ek wil net ‘n bietjie meer elke maand verdien voordat ek daardie EFT opstel vir my maandelikse dankoffer. Ek wil myself net bietjie meer bekwaam voordat ek op daardie uitreik gaan. Ek wil… Ek wil… Ek wil… Waar is God se wil? Waar is die ruimte vir die Heilige Gees as ek so in beheer wil wees die heeltyd?

Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of eers net daardie laaste dinge klaar te maak nie, maar juis om terug te keer na ons konteks, ons Jerusalem, ons huise, ons werke, ons vriende en ons families, om dáár en verder te gaan vertel van wie die Opgestane Jesus is.

Die troos in dit alles is dat ons dit nie alleen doen nie.

Nadat die engele met die dissipels in vers 11 gepraat het, reageer hulle en gehoorsaam Jesus se opdrag in vers 4, en gaan terug na Jerusalem, gehoorsaam aan die Here.

Ons moet mekaar se engele wees.

Ons moet mekaar herinner om nie net stil te staan en na die hemel te staar nie. Ons moet mekaar in beweging bring om uit te gaan en te vertel van Jesus, by die huis, by die werk, by die braaivleisvuur, oral waar ons gaan. Jesus moet op ons lippe wees.

Ons moet mekaar se engele wees, ons moet mekaar in beweging bring. Saam is ons beter, saam in beweging kan ons ‘n reuse verskil maak.

Handelinge 2: Die allerbeste, die Liefde

Het jy al ooit nagedink oor die boek Handelinge se titel: “Die Handelinge van die Apostels”? Hierdie mans en vroue was swak en onvolmaakte mense net soos ons is; party het selfs soos vis geruik. Tog, die Handelinge boek het al die gebeure van hoe Jesus se volgelinge, deur die krag van die Heilige Gees, die goeie nuus oor Hom versprei het.

 

Wanneer ons die handelinge van die apostels lees dink ons somtyds aan hulle as helde. Ons maak hulle selfs partykeer heiliges, en verhoog hulle ver bo enige iets wat ons ooit sal kan bereik, geniet, of beleef. Dit was egter nie hulle slimgeid, hulle intelektuele vermoens of adminstratiewe genie wat veroorsaak het dat hulle mense suksesvol gelei het na ‘n nuwe wereld van die goeie nuus nie. Dit was slegs deur die krag van die Heilige Gees wat deur hulle gewerk het. Vandag is daardie selfde Heilige Gees gereed om Christus se liefde, genade en krag in elke gelowige te openbaar.

 

Kom ons lees Handelinge 2:1-21

 

Op die dag van die Pinksterfees was almal op een plek bymekaar. Pinksterfees is 50dae na paasfees gevier. Vandaar die naam “pinkster” afgelei van die Grieks se “pentekoste”, die vyftigste dag. Jesus is met die paasfees gekruisig en het volgens Handelinge 40 dae later na die hemel opgevaar. Die Heilige Gees is 50 dae na die kruisiging en 10 dae na sy hemelvaart oor die gelowiges uitgestort.

 

Skielik terwyl die baie mense vir die fees bymekaar was, waarskynlik in die tempel, was daar ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind. In Lukas 21:25 word die selfde woord as stormwind gebruik vir die gebruis van die golwe van die see.

 

Ook op ‘n keer het iemand anders in die Ou Testament ‘n boodskap van God nodig gehad. Daar was ook ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur. Maar God se boodskap is in ‘n sagte fluistering aan hom oorgedra. Ja, God werk soms in dramatiese maniere, soos hier in Handelinge, en soms praat Hy in ‘n fluisterstem met jou. Wees geduldig, ondersoek die Bybel en luister altyd goed, sodat jy Hom kan hoor.

 

By die geluid van hierdie geweldige stormwind word ‘n sigbare verskynsel gevoeg. Hulle het iets soos vuur gesien.

 

‘n Derde teken is ook gegee om aan te dui dat die Gees werklik gekom het, en dit was dat hulle in ander tale begin praat het, soos die Gees dit aan hulle gegee het. Wat hier onthou moet word is dat die inhoud van wat hier gepraat word, belangriker is as die manier waarop dit gese word. Die toets van wat gese word is of dit werklik getuienis aangaande Christus lewer.

 

Wat ons kan aflei uit die verskillende tale wat hier gepraat word saam met die mense wat van verskillende herkomste hier vir dieselfde fees bymekaar was, is dat die Christendom nie beperk is tot enige ras of groep nie.

 

In vers 11 kan ons ook aflei wat die inhoud was wat gese is; Verras en verbaas het hulle gese “Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” Die groot dade in hierdie geval, alles wat God in Christus gedoen het, met die uitstorting van die Heilige Gees as hoogtepunt.

 

Vers 12 sluit by vers 7 aan en praat weer van verbasing van die hoorders. Hulle verkeer in onsekerheid en weet nie wat hulle van die verskynsel moet maak nie. Vers 13 is dan die draaipunt in hierdie verhaal. Soos dit maar gewoonlik is, is daar ‘n groepie mense wat nie logies kan verstaan wat hulle sien nie, en probeer dit op ‘n manier verduidelik deur die spot te dryf en te se dat dat mense wat so in tale praat dronk is.

 

Die kollig skuif, weg van die skare spottende mense, na Petrus.

 

Petrus was nie ‘n baie standvastige leier nie, hy het selfs ontken dat hy vir Jesus ken. Christus het hom egter na sy verloening herstel, en hier sien ons ‘n nuwe Petrus.

 

Petrus en sy mede-apostels kom uit die gelowiges na vore en spreek die mense toe. Petrus staan wanneer hy praat, terwyl dit gebruiklik was om te sit wanneer iemand onderrig gegee het. Petrus staan en praat met erns en begin deur die verkeerde opvatting wat sommige in verband met die gebeure gehad het, reg te stel.

 

Verder vertel Petrus wat nou werklik hier voor hulle oe afgespeel het deur die profisie van Joel vir hulle te vertel. Die profisie van Joel kom voor in ‘n tyd na ‘n sprinkaanplaag, waar die profeet ‘n tyd van vrugbaarheid en voorspoed aankondig. Daarna sal die Here sy Gees uitstort oor die hele volk.

 

Dit is belangrik om hier te sien dat almal in aanmerking kom vir die gawe van die Gees, en almal, sonder onderskeid, mag deel wees van hierdie genadegawes. Met Pinkster het die Heilige Gees na die hele wereld gekom, na mans, vroue, seuns, dogters, Jode, nie-Jode. Vir die Jode van die eerste eeu was dit ‘n revolusionere gedagte en in die opsig is die boodskap van die evangelie inderdaad revolusioner. Dat die goeie nuus, nie net vir ‘n uitgesoekte groepie hoog geplaasdes is nie, maar vir almal, elke geslag, en elke ras.

 

In vers 21 word die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees aangedui, dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered sal word.

 

Waarvan wil jy gered word?

 

Wil jy gered word van jou pa wat op jou ma skree en haar slaan? Wil jy gered word van jou man wat dronk by die huis aankom? Wil jy gered word van jou slegte gewoontes? Wil jy gered word van jou depressiewe emosies?

 

Jesus Christus red ons deur die krag van die Heilige Gees. Hy het sy apostels belowe dat sy Vader die Gees aan ons sal gee as Hy nie meer op die aarde saam met hulle is nie. Vandag herdenk ons presies die vervulling van daardie belofte. Die uitstorting van die Heilige Gees.

Met die uitstorting van die Heilige Gees ontvang ons elkeen gawes tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan die ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die een Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profiteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te le. Al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil. – 1 Kor 12:7-11.

 

Deur hierdie gawes wat ons ontvang van die Heilige Gees kan ons deur die Heilige Gees die lewens van baie mense red. Deur die Gees kan ons help dat daar nie meer onmin tussen man en vrou is nie, deur die Gees kan ons help dat ons kinders gelukkige lewens leef. Deur die gawes van die Heilige Gees kan ons bydra tot ‘n gesonde samelewing, ‘n samelewing van genesing, ‘n gelukkige samelewing.

 

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het…Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitle? Le julle toe op die beste genadegawes. – 1 Kor 12:27-31.

 

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste genadegawe is: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

 

In die Naam van Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees wat sy gawes aan jou skenk, gaan red jou huis, gaan red jou skool, gaan red jou werk, sodat elkeen die Naam van die Here sal aanroep en gered sal word!

 

Amen.

Handelinge 1: Om te wag op God se belofte

Die Handelinge is deur dieselfde Lukas geskryf as die Lukas van die evangelie. In die evangelie is die onderwerp alles wat Jesus begin doen en leer het tot by sy hemelvaart, terwyl dit hier in Handelinge gaan om die voortsetting van sy werk op aarde deur die Heilige Gees, wat Hy in en deur die apostels en ons, sy liggaam, werk.

 

Die evangelie het Jesus as voorbeeld vir ons voorgehou. Ons het verlede Donderdag Sy hemelvaart gevier in Lukas 24. Daar het ons gelees dat Hy sy dissipels vir nog 40dae onderrig het voordat Hy opgevaar het na die hemel. Nou is hulle geskool in sy Woord, en hulle wag op die krag van die Heilige Gees…

 

Lees Handelinge 1:1-8

 

Wat vir Johannes Calvyn uitgestaan het rondom die hemelvaart van Christus is dat Hy nie net weg gegaan het nie, maar moeite gedoen het om eers die wie Hy uitgekies het te versorg. Voordat Jesus in die hemel opgeneem is het Hy deur die Heilige Gees aan die wie Hy gekies het bevele gegee. Hy het hulle nie net verlaat en op hul eie laat aangaan sonder enige leiding nie. Deur die Gees het Hy hulle bemagtig.

 

Hy het ook iets vir sy dissipels geleer wat ek dink baie van ons vandag kan aanleer… Geduld. Hy het vir sy dissipels gevra, nee, beveel om in Jerusalem te wag. Gemaklik op ‘n keer toe hulle saam aan tafel was, het Hy hulle beveel “…bly wag op die gawe wat die Vader belowe het…”

 

In vers 6 vra die dissipels vir Jesus of dit nou die tyd is wat Hy weer die koninkryk van Israel gaan oprig. Die dissipels het hier waarskynlik nog nie die insig gehad dat Jesus ‘n baie groter visie gehad het nie, en dat Sy koninkryk baie groter as net Israel strek. Hoe baie kyk ons ongededuldig in ons eie koninkryke vas sonder om die groter koninkryk van God raak te sien?

 

Jesus antwoord hulle ook op hulle vraag deur hulle te vertel dat dit nie in hulle mag is om te weet wanneer die koninkryk in sy volle gestalte sal verskyn nie. Daardie mag behoort aan die Vader, Hy sal bepaal wanneer wat gebeur. Die Vader het die tye in sy mag, of onder sy beheer, geplaas. Die Vader alleen stel die toekomstige tye vas en die tyd waarop hulle in vervulling gaan. Die Here sal aan ons antwoorde gee presies op die regte tyd, Hy weet wanneer is die regte tyd.

 

Die apostels moes wag vir die regte tyd, wanneer daardie tyd sou wees mag hulle nie geweet het nie, hulle moes egter sorg dat hulle reg sou wees wanneer daardie tyd kom.

 

Hulle mag wel geweet het dat hulle krag van die Heilige Gees sou ontvang, en dat hulle dan getuies van Jesus Christus moes wees. Hulle mag geweet het wat hulle taak vir die toekoms was, maar wanneer hulle daardie taak moes uitvoer, daarvoor sou hulle moes wag.

 

Deur die krag van die Heilige Gees sou hulle dinge doen waarvoor hulle vroer nie kans gesien het nie. Hulle sou getuies van Jesus wees! As jy die krag van die Heilige Gees gehad het, wat sou jy doen waarvoor jy nie nou kans sien nie? Alles wat die apostels sou doen en se sou saamgevat kon word as “getuies van Jesus Christus”. Is alles wat jy doen ‘n getuienis van Jesus Christus?

 

Die inhoud van die apostels se getuienis sou nie hulle eie ervarings wees nie, maar alles wat Jesus gese en gedoen het en wat met Hom gebeur het. In vers 8 is die gedeelte “en julle sal my getuies wees” sowel ‘n profetiese uitspraak as ‘n bevel. Dit is ook Lukas se formulering van ‘n sendingopdrag. Die apostels sou dus die krag ontvang om Sy getuies te wees. In en deur die krag van die Heilige Gees sou hulle in diens van die Koninkryk staan.

 

Die oomblik wanneer die apostels die Heilige Gees ontvang, kom die einde van die aarde aan die orde. Die wereld is nou die arbeidsveld waarin die koninkryk van God opgerig word en nie langer alleen die Joodse volk soos vroeer nie.

 

In vers 8 word ook vertel oor hoe daar getuig moet word. Om naby te begin en al verder te gaan getuig soos wat die geleenthede oopgaan om te getuig.

 

So die eenvoudige vraag van die apostels in vers 6 word deur Jesus self in drie dele beantwoord.

 

Eerstens, vra hulle vir die Here of dit nou die tyd is. Wil julle weet wanneer die geskikte tyd is? Wag op die Here! Wag in die stilte op sy stem. Moet niks waag doen sonder dat julle ‘n duidelike opdrag van die Here deur sy Gees ontvang het nie. As julle iets vanuit julself probeer doen gaan dit nie werk nie. ‘n Plan sal slegs suksesvol wees wanneer die Here daardie plan aan jou openbaar en jou die opdrag gee om dit uit te voer, wanneer Hy se jy dit moet uitvoer.

 

Oor wanneer daar vir die Here gewerk moet word moet ons wag, wag en luister na Sy stem.

 

Tweedens, hulle vra Hom of dit nou die tyd is wanner Hy die koninkryk gaan vestig. Hulle wil weet wanneer Hy gaan werk. Hy antwoord hulle weer persoonlik deur dit aan hulle duidelik te maak dat Hy hulle sal bemagtig deur die Gees om self die koninkryk te vestig. Hulle gaan dit doen deur die werking van die Heilige Gees. Ons word beveel om die koninkryk te vestig deur die gawes wat die Here aan ons gee deur die Heilige Gees.

 

Dit is dus ons verantwoordelikheid laat die koninkryk kom. Ons sal krag ontvang wanneer die Gees oor ons kom. Ons sal Sy getuies wees. Ons sal ook nie ons eie verhale vertel nie, maar ons sal soos sy apostels getuig van wat Hy gese en gedoen het. Hy is die perfekte voorbeeld om oor te getuig.

 

Derdens, hulle vra wanneer Hy die koninkryk vir Israel gaan oprig. Hy antwoord hulle dat die koninkryk anders as wat hulle gedink het, vir baie meer as net Israel bedoel is. Dit is feitlik vir almal bedoel. Hy illustreer hierdie feit aan hulle, deur hulle te wys dat hulle moet begin getuig in Jerusalem, dan na Judea, dan Samaria en aanhou tot die uithoeke van die wereld. Met ander woorde die apostels moes getuig deur hulle gawes van die Gees aan die hele wereld van die getuienis van Jesus Christus.

 

Ons getuienis moet dus nie net gebeur sodat ons eie koninkryk gevestig word nie. Ons getuienis moet juis gebeur sodat almal in die hele wereld deel kan wees van dieselfde koninkryk, sodat my koninkryk jou koninkryk kan wees, en sodat ons koninkryk die ewige koninkryk van God kan wees.

 

So met vandag se teks waar die apostels moes wag op die belofte van God word drie dinge duidelik.

 

Ons moet luister na die tyd van die Gees, ons moet bereidwillig wees om self die werk van die Gees te doen en ons moet ons opdrag van die Gees nie beperk tot ons eie gemaksones nie.

 

Die Here Jesus Christus belowe ons elkeen: “Ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom, en ons sal deur daardie krag getuies wees tot in die uithoeke van die wereld.”

 

Moenie haastig weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader jou belowe!

 

Amen.