Kolossense 3: Noempie, die pikkiewyn

Eendag lank lank gelede, soos alle goeie stories begin, was daar ‘n pikkewyn. Hierdie pikkewyn het regtig spoggerig gelyk met sy tuxedo pakkie en selfs nog met ‘n strikdassie om sy nek. Hierdie pikkewyn, kom ons noem hom Noempie, was deel van ‘n hele groot waggel pikkewyne, wat saam in die koue lekker vis gevang het en baie liedjies saam gesing het. Noempie het groot geraak en sy tuxedo al hoe mooier en mooier, soveel so dat die meisie pikkewyne al hoe meer aandag aan hom begin gee het.

Noempie swem toe op ‘n dag deur ‘n vuil poel olie wat ‘n groot skip gemors het in die see. Die olie het Noempie se spoggerige tuxedo bevlek en orals kolle gelos. Noempie het onsedelik begin leef, onrein en hy wou heeltyd slegte dinge doen, alles omdat hy baie selfsugtig geraak het. Hy het homself begin eerste stel, bo sy waggel maatjies en bo sy God.

Ons is baie keer soos Noempie die pikkewyn.

Ons besef wel nie dat omdat ons sondig, ons weer die ou lewe wat Christus in sy dood vir ons afgelê het, wel weer lewendig maak nie. Hierdie sondes wat genoem word, is meestal van seksuele aard, wat wys op hoe die sondes die wese van die mens indring.

Hoewel die sonde op seksuele gebied ook lei tot afgodsdiens, is dit veral gierigheid, selfsugtigheid, wat daardeur gekarakteriseer word. Waar selfsugtigheid is, daar kom al die ander sondes bymekaar en laat staan God nie meer op die eerste plek nie. Om aan selfsugtigheid toe te gee, beteken in werklikheid om ‘n afgod te dien. Om jouself bo God te stel.

Die sonde bring die oordeel van God omdat dit sy heiligheid en geregtigheid weerspreek. As ‘n gelowige se lewe die sondes van verse 5-9 vertoon, leef hy soos die kinders van die ongehoorsaamheid wat God se gesag en wil verwerp.

Die woorde “maar nou” waarmee vers 8 begin, dui op die nuwe lewenswandel wat teenoor die oue gestel word. En die woord wat vir “laat staan” gebruik word, sinspeel op die dinge wat soos klere uitgetrek kan word.

Dit gaan in vers 8 oor emosies wat op dade uitloop, waarvan “woede” waarskynlik die sterkste is. In wese dui dit op gesindhede wat menslike verhoudings versteur. Dit gaan hier oor die gesindhede van mense. Mense wat vanuit verkeerde gesindhede hulself bo ander plaas en uiteindelik bo God.

Die dag toe Noempie daardie groot vis gesien swem het, het hy geweet die vis swem naby aan die olierige water, maar Noempie het steeds daarin gaan swem agter die vis aan. Hy het geweet hy gaan vuil raak. Hy het geweet hy gaan nie maklik skoon kom nie. Maar wat hy nie geweet het nie, is dat daar ‘n besonderse marina bioloog was wat gewag het vir Noempie om hom skoon te was. Om al die olie van sy vuil tuxedo af te was.

Die uittrek van die ou klere, die ou mens, is eintlik baie meer as die uittrek van ‘n uiterlike kleed; dit is die mens self wat verander van sy ou lewenswandel. Die feit dat Paulus praat van die ou mens “en sy gewoontes” wil alleen sê dat hierdie ou mens homself in sy werke en gewoontes openbaar.

 

 

Vers 10 gaan voort en sê: “en leef nou die lewe van die nuwe mens”. Die woord wat vir “nuwe” gebruik word, is gewoonlik net ‘n tydsaanduiding, maar hier het dit ook ‘n kwalitatiewe inhoud. Die “aantrek” is dus die teenoorgestelde van die “uittrek” van die klere. Die proses van vernuwing word beskrywe.

Christus is die Middelaar wat die nuwe lewe, die nuwe klere, skep en ook bring, deurdat Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes. Christus is ook nie alleen die Middelaar nie, maar as die Beeld van God is Hy ook die Middelaar by die HERskepping van die mens.

Die marina bioloog het vir Noempie heeltemal skoon gewas, dat sy tuxedo sommer weer soos nuut gelyk het. Die marina bioloog het nie net vir Noempie skoongewas nie, maar ook al die ander seediere wat vuil was van die olie. Hy het nie onderskeid getref tussen pikkewyn of walrus nie, nie tussen groot of klein nie. Hy het almal wat vuil was, heeltemal skoon gewas.

Daarom omdat daar nuwe mense na die beeld van God leef moet en mag hulle ook nie onderskeid onder mekaar tref nie, omdat God nie onderskeid oor hulle getref het nie. Christus het vir almal se sondes gesterf en daarom moet ons streef om soveel meer na die beeld van Christus te leef. Deur geloof in Christus is gelowiges saamgebind tot ‘n eenheid wat die wêreld se onderskeidinge en skeidinge oorbrug.

Met hierdie opmerkinge wil Paulus nie beweer dat die nasionale, sosiale en rasseverskille opgehef is nie, maar dat dit wel oorbrug en oorwin is. Mense van verskillende herkoms, ras en sosiale stand word deur hulle verbintenis met die een Here tot eenheid in Christus saamgesnoer.

Wanneer Paulus sê: “Christus is alles en in almal.” Wil hy eintlik sê dat Christus, is al wat saak maak. Hy is die finale norm vir al ons verhoudinge. En daarom kan die wonderlike voorbeeld van Christus nie by die self bly nie en moet dit uitkring na die gemeenskap.

Daarom omdat ons die uitverkore volk van God is, wat aan Hom behoort en wie Hy baie liefhet, moet ons die voorbeeld van Christus uitleef. Juis omdat ons God se soekende liefde ondervind het, word van ons geëis om iets van daardie liefde teenoor mekaar te openbaar.

Daarom, omdat Noempie die pikkewyn skoongewas was deur die marina bioloog, moes hy ook ietsie van daardie onvoorwaardelike liefde sonder perke aan sy pikkewyn gemeenskap openbaar.

Omdat ons almal deel is van een liggaam, eis Paulus van ons almal om mekaar onvoorwaardelik in en deur geloof te vergewe, al voel iemand veronreg. Soos die Here ons vergewe het, moet ons ook mekaar vergewe.

Bo dit alles moet ons mekaar liefhê. Weereens, sonder perke, sonder voorwaardes, oor grense, oor nasionaliteite en ook oor kulturele grense. Die liefde vir mekaar staan boweal. Dit is soos die strikdassie van Noempie. Wat sy tuxedo mooi saamvat en laat uitstaan. Die liefde wys vir almal dat Christus heers in jou gesindheid, teenoor jou naaste asook jou vyand.

Hierdie goeie gesindheid van die nuwe lewe, wat deur Christus aan ons gegee is, moet ook op ‘n vredevolle manier geskied. Omdat ons geroep is om as een liggaam in Christus te funksioneer, moet die vrede ons lewens karakteriseer. Dit moet in ons lewens sigbaar wees, die vrede moet beheer uitoefen oor alles wat ons dink en doen. Sodat ons nie sal reageer op ons passies soos Noempie nie. Sodat ons nie in die olierige water sal inspring agter groot aanloklike visse aan nie, maar eerder vanuit selfbeheersing deur die Gees die regte besluite neem.

Paulus sluit af deur sê:: “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Hiermee, beklemtoon Paulus dat daar geen plek in jou lewe mag wees waar jy as gelowige nie die Here Jesus moet bely nie.

Noempie die pikkewyn het vir die res van sy lewe al sy pikkewyn maatjies vanuit liefde gehelp, sonder om iets terug te verwag, net soos wat die liefdevolle marina bioloog hom gehelp het deur hom heeltemal skoon te was.

Jou hele lewe moet deurdrenk wees met Christus. Jou lewe moet ‘n lewende getuie wees van Christus wat jou uit genade vrygekoop en skoongewas het van al die sonde. Maak nie saak wat jy ry, waar jy bly en wie jou vriende is nie, die Here Jesus Christus het gekom om vir JOU die nuwe lewe te gee!

Gaan leef daarom in dankbaarheid die NUWE LEWE!

Amen.

Deuteronomium 8: Leef in oorvloed

  • God lei Sy mense die beloofde land binne, nadat hulle vir 40jaar in die woestyn rondgetrek het. Nadat God hulle vir 40jaar in die woestyn onderrig het in Sy wil
  • Eerste word al die wonderlike waters genoem wat die Here hulle gee, in kontras met die droë woestyn. Die land is ook oorvloedig in koring, gars, wingerde, vyebome, granate, olyfolie en heuning. Hulle kon regtig lekker toebroodjies gemaak het. ‘’n Lekker broodjie met olyfolie en dalk bietjie vye of druiwe konfyt. Hulle het geleef in oorvloed!
  • In al hierdie lekkerte moet hulle nie vergeet om vir God dankie te sê nie. Dankie, te sê vir Hom wat alles vir julle gegee het nie.

 

  • Om God te vergeet is gevaarlik! Die essensie van vergeetagtigheid word hier in vers11 uitgedruk as om nie God se voorskrifte en bepalings te onderhou nie.
  • Om vergeetagtig te wees is nie maar net om te vergeet nie, dit is om buite die wil van God te leef.
  • In veiligheid van hoë mure en rustigheid van genoeg om te eet, is dit baie maklik om van die werklikheid van God te vergeet, want alles is nou reg, ons het Hom nie nou nodig nie. Ons gebruik Hom mos net as ons in die moeilikheid is.
  • Die gevaar van vergeet was daar, daarom waarsku Moses: “Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet.”

 

  • Die verwagting van die goeie was vir Israel ‘’n bron van hoop terwyl hulle in die woestyn was. Maar nou, nou kan selfs die beloofde land vir hulle ‘’n plek van beproewing raak.
  • Hulle het genoeg kos gehad en het ook nie meer in tente gebly nie, maar huise. Hulle het vee, klein en groot, gehad asook goud en silwer. Hierdie was alles seëninge van God af, wat goed is, maar wat ook versoeking bring.
  • Die versoeking van hierdie goeie dinge lê daarin om te dink dat jy, mens, dit uit jou eie krag bekom het, sonder God.
  • Omdat die Israeliete die beloofde land gekry het vanuit al die hardheid van die woestyn, was dit vir hulle maklik om dit te onthou. Maklik om te onthou hoe hulle daarvoor geveg het. Maar ook maklik om te vergeet dat die beloofde land ‘’n geskenk van God was. Dat die militêre sukses alles te danke is aan God se teenwoordigheid.

 

 

  • Welvarendheid, met ander woorde, kan baie maklik lei tot trots. Om trots te wees, is om te dink dat jy, mens, alles uit eie krag bereik het.
  • Daar volg ‘’n reeks beelde van God:
    • Die Here jou God wat jou uit Egipte, die land van slawerny bevry het. /Bevryder/
    • Dit is Hy wat jou gelei het deur die groot en gevaarlike woestyn. /Leier/
    • Hy wat water uit klipharde rots laat vloei het. /Versorger/
    • En wat jou in die woestyn manna laat eet het. /Versorger/

 

  • Die doel van al die beproewing was soos in vers16 om aan hulle, jou en my, ons, om aan ons goed te doen.
  • Die einde van die hoofstuk dra ‘’n verdere waarskuwing teen vergeetagtigheid. Wanneer God nie meer op die voorgrond van ons lewens is nie, word dit maklik om ander gode te volg. En sodra dit gebeur verbreek ons die eerste gebod.

 

  • Opgesom

 

  • Leef in oorvloed! Maak lekker toebroodjies.
  • Moet nie vergeet nie.
    • wat jy het, is ‘’n geskenk.
    • leef uit dankbaarheid.
    • leef in afhanklikheid.

Deuteronomium 8: Onthou

Agtergrond van Deuteronomium

  • In Deut. bestaan daar ‘’n spesiale band tussen God en mens deur die verbond wat gesluit is. Meer spesifiek tussen God en Sy uitverkore volk Israel.
  • Sentraal tot hierdie spesiale band tussen God en Sy uitverkore volk, hierdie verhouding tussen God en mens, is die gedagte van liefde. Liefde is nie ‘’n eensydige ding nie, soos ons almal weet. God wil iets terug hê van die mens. Die Here wil ‘’n antwoord hê vanaf die mens.
  • Hierdie liefdes verbond tussen God en Sy mense is nie ‘’n dooie stel reëls nie. Dit is iets lewendig. Hierdie verbond lewe in die mense self. Die mense se antwoord tot God is om hierdie verbond deel te maak van hul lewens.

 

  • Verder ‘’n baie belangrike ding om te verstaan is dat geskiedenis in Deut. glad nie gesien was soos wat ons vandag geskiedenis sien nie. Dit is nie ‘’n sosiologiese studie van potskerwe of rituele gebruike nie, ook nie ‘’n filosofiese studie na die soeke van sin in die lewe nie. Nee, geskiedenis in Deut. moet verstaan word as die wil van God. As mens terug kyk in Deut. sien jy wat God vir sy mense gedoen het. Hoe Hy hulle deur Sy hand onderhou het. Geskiedenis in Deut. is die openbaring van God se liefde.
  • As Moses hier vir die volk laat terug kyk in die verlede is dit sodat hulle hul verlede kan sien ja, maar ook sodat hul kan sien waarheen hulle op pad is. Die geskiedenis werk dus in ‘’n vreemde manier hier. Dit kyk gelyk terug en vorentoe om nou anders te leef.
  • ‘’n Wete van die verlede en die toekoms bied dus vir die Israeliete ‘’n raamwerk vir hoe om in die hede, in die nou, te lewe.
  • En sodra mens bewus raak van jou geskiedenis, raak jy ook bewus van hoe dinge nou is. Dit skep ‘’n dringendheid, ‘’n sensitiwiteit vir wat nou aan die gebeur is. En hierdie sensitiwiteit is orals te siene in Deuteronomium.

 

  • En nou waar daar ‘’n spesiale band tussen Vader en seun is, tussen God en Israel, gemeng met ‘’n sensitiwiteit vir die geskiedenis, dit wat reeds gebeur het, daar, daar is plek om te leer. Om te leer van die Vader, om te leer van God.

 

Onthou jou wildernis.

  • Israel word aangesê om die tyd van die wildernis te onthou en God se teenwoordigheid daar. God het sy mense vir 40jaar lank deur die woestyn gelei. Hy het hulle van die een na die ander plek laat trek. Hulle het dalk verdwaal gevoel in hierdie tyd, maar God het ‘’n plan met hulle gehad. Hy het hulle immers nie net in die woestyn losgelaat nie, maar hulle in die woestyn gelei.
  • Terwyl Israel heeltemal verdwaal gevoel het, het God sy plan met hulle gehad. Hy wou hulle meet en hulle dissiplineer soos jy jou seun sal dissiplineer omdat jy vir hom lief is en die groter prentjie sien wat hy nog nie kan sien nie.
  • Hy wou sien wat hulle dink, die ou vertaling sê dit baie mooi, hy wou sien wat in hulle harte omgaan. In daai tyd het mense gedink hulle dink met hulle harte, vandag weet ons ons harte is ‘’n baie belangrike oorgaan, maar ons dink nie daarmee nie. Tog koppel ons vandag emosie aan ons harte. Ek (hartjie) jou, beteken gewoonlik ek het jou lief. Die dinge wat belangrik is vir ons assosieer ons met ons harte. God wou dus sien wat is belangrik vir sy kinders. Wat lê naby aan hulle harte.
  • God het sy kinders in die woestyn op baie maniere in die woestyn getoets. Een manier wat ons hier raaklees was om hulle weg te neem van al die liggies van Egipte. Om hulle in die stille woestyn te laat trek. Hy hulle het hulle weg gevat van al hulle dinge van gemak. Hulle sagte banke, hulle groot TV’s, hulle kredietkaarte, Hy het hulle weg gevat van alles wat hulle van Hom wegvat. In die stille woestyn moes hulle weer leer om God se fluisterstemmetjie te hoor in die wind. Hulle moes leer om weer op God staat te maak.
  • ‘’n Woestyn is nie ‘’n maklike plek nie, dit maak of breek selfs die sterkste manne. Dink maar aan jou eie woestyn hier in Bloemfontein. Jou werk, jou huis, jou skool, jou TV, jou rekenaar… Daar suil allerhande snaakse slange op die woestynsand en orals kruip skerpioene met hul gifsterte weg. Maar jou woestyn kan ook jou sterk maak.
  • Jou woestyn kan jou sterk maak sodra jy besef dat jy jou woestyn oorleef, nie uit jou eie krag nie, maar deur te weet dat God saam met jou in jou woestyn is.

Onthou jou brood.

  • Toe die volk honger was, het God vir hulle manna gegee. Iets heeltemal nuut vir hulle. Nie hulle of hulle ouers het dit geken nie. God kom werk op nuwe maniere in hulle lewens, maniere wat hulle nie eens geweet het bestaan nie.
  • God het nie vir hulle manna gegee om net hulle honger mae stil te maak nie, maar ook om hulle iets groters te leer. Hy het hulle manna gegee om hulle te leer dat hulle nie net van brood alleen lewe nie, maar afhanklik is van elke woord wat Hy sê. Dit beteken dat daar in tye van nood na die stem van God gesoek en geluister moet word en as Hy praat moet daar vertrou word in Sy woorde. Om nie jou hoop in die klokkies van die Casino te plaas nie, maar in God. Het julle gehoor? Het julle geluister?
  • Daar is vir ons ‘’n woestyn voorbeeld, in die Bybel, wat getuig van vertroue. Jesus self was ook getoets in die woestyn. Hy was versoek om klippe in brood te verander. Maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het geweet sy Vader sal hom onderhou. Hy het geweet Hy kan Sy vertroue in Sy Vader plaas.
  • Om afhanklik te leef is glad nie maklik nie en gewoonlik baie moeilik. Vandag amper meer as in daardie dae. Vandag is versoeke orals. Versoeke om nie met God se wil in gedagte te leef nie. Hierdie versoeke is naby aan jou. Hulle kruip in jou TV en rekenaar se skerm weg. Hulle is in jou huis saam met jou.

 

Onthou jou krag.

  • Juis hier in jou grootste tyd van versoeking, in jou woestyn, ons elkeen het ons woestyn. Hier word ons getoets, getoets deur ons Hemelse Vader. Hier word ons geleer om afhanklik te leef, om afhanklik van elke woord van God te wees. Om nie op ons eie kragte staat te maak nie, maar op God.
  • Om weer te dink aan die beeld van ‘’n Vader wat sy kinders onderrig. In hierdie woestyn periode was Israel soos moeilike tieners, waar hulle deur hulle eie ervarings moes leer om volgens die wil van God te leef.
  • Tiener wees is moeilik ja, maar in hierdie moeilike tye lê juis die belofte dat dinge sal beter gaan. As jy luister na jou pa, dan sal dinge beter gaan, hy weet gewoonlik wat is beter vir jou. Hy leer jou uit liefde uit. Uit daardie vertrouensverhouding wat julle het.

Onthou opsommend.

  • onthou wie jy is.

 

  • onthou wie God is.

 

  • onthou waarheen jy en God op pad is.