Dit is vir my regtig lekker om vanoggend hier te wees. Ons het die mag om die wêreld te verander. Ek sê dit nie om cliché te wees nie, ons het regtig die mag om die wêreld te verander. Diep binne elkeen van ons het ons die kragtigste ding bekend tot die mens. En dit is ‘’n idee. ‘’n Enkele idee vanuit ons gedagtes, kan ‘’n aardbeweging veroorsaak, dit kan ‘’n blits vir ‘’n beweging wees en dit kan inderwaarheid ons toekoms herskryf. Maar ‘’n idee is magteloos as dit binne ons bly.
Baie van ons het oor die naweek gebraai… ‘’n Sosatie, ‘’n tjoppie, dalk ‘’n T-bone… Saam met lekker aartappelslaai. Met ‘’n glas in die hand staar ons na die vlamme, ons kyk hoe die hout brand, hoe dit later kole raak, ons hou ons hande oor die vlamme om te toets of dit die regte temperatuur is sodat daardie uitgesoekte vleisie op die rooster kan val.
Aan wie dink jy as jy na ‘’n vuur staar? Terwyl die vlamme die een na die ander flikker en dans, waaraan dink jy? Sien jy daardie vuur in jou geestesoog? Aan wie dink jy nou?
Deur al die jare het vuur ‘’n sentrale rol gespeel in elke huishouding, van die grotman tot die grootwildjagter. Vuur beteken lewe.
Vuur gee lig,
vuur beskerm,
vuur maak kos gaar,
vuur fassineer elkeen wat daarna staar.
As jy weer vuurmaak wil ek hê jy moet vandag onthou.
Vuur, vlamme en braai,
as jy daaraan dink, dink aan vandag.
Kom ons blaai saam na Eksodus 3.
Ons lees van ‘’n gewone mens, ‘’n man, ‘’n skaapwagter, wat letterlik opsoek was na groener weivelde. Moses was ‘’n skaapwagter van sy skoonpa Jetro se skape. In die woestyn is dit droog, daar lewe nie baie nie, as Moses nie die skape gereeld genoeg rondskuif nie, kan die bietjie land wat wel weiding het oorbewei raak en in nuttelose bossies verander. Die gesoute skaapboer wat Moses is, gaan soek hy na groener weivelde…
Is jy dalk vandag op ‘’n punt in jou lewe waar jou lewe oorbewei voel? Waar jy voel jy kan niks meer uit jou huidige omstandighede put nie? Voel jy dalk vasgedruk in ‘’n groot woestyn van stilte?
Moses het gesoek na groener weivelde en terwyl hy daarmee besig was, aan die voet van die berg Horeb het hy ‘’n bossie gesien wat brand. As boer, as jy sien jou weiding brand dan is jou aandag dadelik op die brand gevestig. So was Moses se aandag dadelik op daardie brandende bos gevestig. Hy kyk en hy kyk weer, maar die bos brand nie uit nie, die vuur versprei ook nie. Dit bly op een plek aan die brand.
Hoe attent is jy op jou omgewing? As jy iets anders sien, gaan jy dadelik sonder ondersoek, dit wil blus, of gaan jy versigtig ondersoek instel, want net dalk is dit juis die groener weivelde waarna jy soek?
Vers 3: “En Moses sê vir homself: ‘Ek wil tog ‘’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?’”
Wat vir Moses begin het as net nog ‘’n normale dag het uitgedraai om ‘’n dag te wees gevul met vol verwondering. Versigtig, het Moses nader aan hierdie brandende doringbos gegaan, totdat Hy ewe skielik ‘’n stem gehoor het. “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.”
Die Here het toe vir Moses gesê: “Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê die Here: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
Met hierdie woorde kom ‘’n eerste karaktereienskap van die Here na vore: God se Getrouheid. Die God van Eksodus hou Sy beloftes. So word die gebeure in Eksodus gekoppel aan die beloftes wat die Here met die aartsvaders gemaak het.
Die Here het in Genesis 12:1-3 aan Abram gesê: “Trek uit jou landuit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘’n man van groot betekenis maak en jy moet tot ‘’n seën wees. Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”
Dit is hier in Eksodus 3 al ‘’n hele paar jaar na Genesis 12. Die afstammelinge van Abram het in Egipte baie geraak en gaan nou deur die doen en late van Moses die beloofde land binnegaan. Al het geslagte gekom en gegaan het die Here steeds Sy belofte onthou en sal daarby hou. Hy is geloofwaardig en betroubaar.
Hoe getrou is jy aan die beloftes wat jy aan ander maak? Is jou woord nog jou woord? Kan mense op jou staatmaak as jy gesê het jy gaan ‘’n ding doen?
Al het daar so baie gebeur tussen Genesis 12 en Eksodus 3 het die Here steeds by Sy woord gestaan. Hy het steeds gedoen wat Hy belowe het.
In vers 7 kom ‘’n tweede karaktereienskap van die Here na vore: God se meegevoel. God se openbaring aan Moses wys nie net dat God na die mens gekom het nie, maar dat hy dit in verhouding tot die menslike lyding gedoen het. Die Here se heilige optrede is direk gekoppel aan die mens se noodroep. Die Here het homself aan Moses openbaar omdat Hy na die hulpkreet van Israel geluister het.
Een van die merkwaardigste openbarings van die Here kom voor in die gedeelte “Ek het hulle leiding ter harte geneem.” Die Hebreeuse werkwoord hier (yada ‘om te ken’) wys na iets baie meer as kognitiewe kennis. Dit wys op ‘’n deelname in en ervaring van dit wat geken word. God openbaar ‘’n heilige keuse van Sy kant af om in die ervaring van die Israeliete in te gaan, God kies om saam met die Israeliete hulle leiding ervaar.
Het jy al ooit daaraan gedink? Dat wanneer jy in verhouding met die Here staan en jy leiding ervaar dat die Here intieme kennis van jou leiding het. Wat jy voel, voel die Here! Wat jy voel terwyl jy verslae na jou vuur staan en kyk, die Here voel dit ook.
Dit sê iets van God wat bereid is om saam met Sy volk deur ‘’n moeilike tyd te gaan. Dit is die begin van die Bybelse getuienis van leiding vir Christene. ‘’n Getuienis wat uiteindelik gestalte vind in Jesus Christus wat saam met die mense gely het. Jesus wat aan die kruis, ten volle mens, elke bietjie emosionele en fisiese pyn beleef het. Verlate en vol gate gesteek, daar het Jesus gehang vir ons seer.
Wanneer mense naby aan jou seer het, of deur ‘’n moeilike tyd gaan, waar is jy? Dra jy saam met hulle die seer, dra jy saam met hulle die pyn, of is jy eenkant? Help ons mekaar deur moeilike tye of staan ons op ‘’n afstand en kyk hoe die een na die ander onder gaan?
Die Here het opgetree in solidariteit met die wat swaarkry om ‘’n nuwe toekoms te skep.
‘’n Derde karaktereienskap van die Here kom na vore in vers 13 wanneer Moses vir die Here vra: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”
In die antieke wêreld, was om iemand ‘’n naam te gee ‘’n daad van intimiteit wat ‘’n verhouding bevestig het. Om iemand se naam te ken beteken dat jy toegang tot daardie persoon het, julle kan kommunikeer en met mekaar in verhouding staan.
Die Here openbaar hier die diepste van Homself aan Moses wanneer Hy sê: “Ek is wat Ek is.” Om die Naam van die Here te ken maak dit vir iemand moontlik om God te eer en in ‘’n dieper verhouding tot Hom te staan. God openbaar hier Sy heiligheid.
So leer ken ons drie eienskappe van God terwyl Moses, en ons, na die vuur staar. God is Getrou, Hy voel saam met ons, en Hy is heilig.
Daarom, gaan, sonder om bekommerd te wees oor jou vermoëns, want God is met jou. Soos Hy met Abraham, Isak, Jakob en Moses was, so is Hy vandag ook met jou, met ons. Hy is ons God en ons is Sy kinders. Hy voel saam met ons waardeur ons gaan. Terwyl jy na die vuur staar ken Hy jou diepste gedagtes en gevoelens. Hy is Heilig en sy lig sal nooit ophou brand nie.
Met die uitstorting van die Heilige Gees was daar vlammetjies op al die mense se koppe, daardie vlammetjies het in hul harte inbeweeg en brand vandag steeds voort in ons harte. Die God van Abraham, Isak, Jakob en Moses is by ons. Hy voel saam met ons. Hy is soos ‘’n vlam warm in ons harte.
As Hy na ons roep… Gaan ons, soos Moses, antwoord: “Hier is ons!”?
As jy weer na jou braaivleisvuur staar, terwyl jy dink, “Waarheen tog nou Here?”
Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, gebruik my.”?
Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, gebruik wie ek is en wat ek het.”?
Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, stuur my.”?
Gaan ons antwoord, “Hier is ons, Here, gebruik ons.”?
Amen.