2 Samuel: As jy dink jy is ‘n held, pasop!

Ons lees vroer dat die Filistyne hulle weermag begin oproep het om teen Israel oorlog te maak. Die Filistyne het kamp opgeslaan by Sunem. Saul het in daardie tyd die hele Israel bymekaar geroep en kamp opgeslaan by Gilboa. In 1 Samuel 28:5 lees ons dat Saul die kamp van die Filistyne gesien het en toe raak hy bang en sy hart het benoud begin klop.

 

Onthou julle vir Dawid en Goliat? Saul was in dieselfde situasie met Goliat, ‘n Filistyn. Goliat het Saul se manskappe bedreig. Saul die koning van Israel was toe stil. Toe kom die klein mannetjie van die skaap kampies, die herder, en oorwin vir Goliat deur die krag van die Here.

 

Met Saul wat vir ‘n tweede keer bang en benoud na die Filistyne kyk volg hy hierdie keer ‘n ander padjie. Hy gaan na die heks by En-Dor, En roep die gees van Samuel op.

 

Ons is vandag drie hoofstukke verder. Saul het pas op die Gilboa berge gesterf. Nie net Saul nie, maar ook al sy seuns, Jonatan inkluis.

 

Kom ons lees 2 Samuel 1:17-27.

 

Met die wapen in die hand het hulle omgekom… Hoe het die helde geval? Hierdie gedagte word drie maal in hierdie gedeelte herhaal, hoe het die helde geval?

 

Die opskrif vertel vir ons dat hierdie ‘n klaaglied oor die dood van Saul en Jonatan is. Dawid sing hier vir Saul en sy seun. Dawid sing hier ook vir sy beste vriend, Jonatan. Terwyl Dawid hier staan en sing, hoe hartseer hy ookal is, staan hy op die drumpel van koningskap. Dit na ‘n lang en bloedige tydperk waarin Saul stadig maar seker van sy troon afgeval het.

 

Dawid moet sy woorde mooi kies en sy balans hou tussen duidelikheid en misterie. Dawid moet polities korrek optree, en tog wil hy sy mees intieme emosies laat uitkom in hierdie begrafnislied.

 

Israel lê op die berge verstrooi, verslaan, vernietig. Die Filistyne het hulle dorpies ingeneem en Israel laat vlug. Hoe het die helde geval?

 

Dawid noem die Gilboaberge, daar waar die oorlog plaasgevind het, Offerland. ‘n Baie subtiele manier om te sê dat Saul moes sterf vir die sondes wat hy gedoen het. Hy was ongehoorsaam aan die Here, en uiteindelik lei die sonde, ‘n verset teen die Here, tot die dood. Hoe het die helde geval?

 

Dawid noem dat Saul se sklid nie met olie ingesmeer was nie, maar eerder met die bloed en vet van die gesneuweldes. Dawid probeer weer subtiel te sê dat Saul se geweld nie deur die Here goedgekeur was nie. Saul het in stryd met die Here opgetree. Hoe het die helde geval?

 

Dawid sing verder, al meer vervoer deur hierdie booglied, en prys Saul en Jonatan. Geliefde mense wat nie van mekaar geskei kon word nie. Pa en seun, saam deur dik en dun. Hulle was vinniger as arende en sterker as leeus.

 

Dawid laat die Israelitiese dogters oor Saul huil, want hy wil nie. Dawid se aandag is by sy goeie vriend Jonatan. ‘n Vriend vir wie hy sy lewe te danke het. ‘n Vriend wie hy meer lief gehad het as enige vrou. Dawid is bedroef oor Jonatan. Jonatan was naby aan sy hart. En met hierdie trane vlak in sy oë moet hy nou verder gaan met die politiese speletjie om almal tevrede te hou.

 

Hy kan nie homself ten toon stel nie, want net nou net sien die mense teveel van hom. Net nou net hou die mense nie van wie hulle sien nie, en dan is daar weer onstabiliteit in die reik en stort dinge verder ineen.

 

So baie soos wat hierdie lied sê oor Saul die koning wat teen God se wil opgetree het, so baie soos wat hierdie lied sê oor Jonatan wat Dawid se geliefde vriend was, so baie sê dit ook oor die een wat nie in die lied genoem word nie. Die een wat hier die lied sing word ook geopenbaar in dit wat nie gesê word nie.

 

Hoe dikwels skuil ons self nie agter ons eie gebede nie? Hoe dikwels skuil ons self nie agter die liedjies wat ons so gemaklik saam sing nie? Hoe dikwels sal ons eerder besig bly as om saam met iemand stil te sit?

 

Dawid is besig om te sing, maar dit wat hy regtig voel wil hy nie sê nie, dit wat hy regtig voel wil hy nie voor almal sing nie. Hy is bang vir wat die mense gaan sê.

 

Hoe eerlik en eg is ons in die openbaar, daar waar ons werk, waar ons leer, waar ons speel? Hoe eerlik en eg is ons om die braaivleisvuur? Praat ons gemaklik saam oor hoe die land op ‘n afdraende pad is? Of erken ons aan mekaar dat ons meer kan doen om die land ‘n beter plek te maak?

 

Daar moet ook na die ander kant van die muntstuk gekyk word. Gun ons vir mekaar die ruimte om eerlik en eg te wees? Of het ware eerlikheid iets geraak wat deur ongemaklike stiltes gevolg word? Is ons bereid om in ongemaklike eerlikheid na mekaar se stories te luister?

 

Dawid was ‘n held gewees in die oë van die Israeliete, hoe sou dit gelyk het as die held se trane begin loop het, terwyl hy aan die sing was? Hoe sou dit gelyk het as die held gesê het, ouens, my vriend, my beste vriend is oorlede omdat hy getrou was aan sy pa wat nie na die Here geluister het nie. Hoe sal dit lyk as ons helde die Here se motiewe begin bevraagteken?

 

Hoe sou dit gelyk het as dieselfde Dawid wat Psalm 22:2 geskryf het daardie woorde in hierdie lied gebruik? Hoe sou dit lyk as die held Dawid hierdie lied ‘n ekstra vers bygegee het? Vers 27: “Hoe het die helde geval? Met die wapen in die hand het hulle omgekom! My God my God, waarom het U Israel verlaat en bly U ver as ons om hulp roep?”

 

 

 

Laat ons vir mekaar ruimte in die kerk om so eerlik te wees dat ons selfs ons diepste twyfelvrae met mekaar kan deel?

 

Ek het lank oor hierdie vraag gedink… “Laat ons vir mekaar ruimte om in die kerk eerlik te wees oor ons diepste onsekerhede?” In onlangse navorsing het ‘n studie gewys dat alhoewel die oorgrote meerderheid van jongmense in die NGK positief is oor die kerk en haar toekoms voel slegs 40% van die respondente dat die kerk ‘n plek is waar sondaars kan veilig voel. Ons almal is sondaars. So statisties is 60% van ons vanoggend op ons senuwees dat iemand dalk mag uitvind oor wat regtig in ons lewens aangaan…

 

Laat ons vir mekaar ruimte om eerlik te wees oor ons diepste onsekerhede, oor dit waaroor ons twyfel, laat ons vir mekaar ruimte om eerlik te wees oor ons sondes?

 

Ek het regtig lank hieroor gedink.

 

Die kerk is in die fixing business, die kerk wil genees, maar partymal moet dit wat verkeerd of gebreek is eers ‘n tydjie gelaat word voordat dit reggemaak word.

 

Die meeste van julle weet dat ek bosluiskoors gehad het. Ekt ‘n rofie op my been gehad daar waar die luis my gebyt het. Die oomblik toe ek die rofie aftrek, en my seer begin oopstaan, sodat die wereld dit kan sien, sodat die wereld kan sien wat fout is, toe het my wond begin genees. Toe dink ek, dalk moet ons partymal ons wonde laat oopstaan sodat die wereld dit kan sien voordat dit werklik sal genees…

 

As kerk wil ons baie vinnig plysters plak en die wond toemaak en dit wat seer is wegsteek. Ek wonder of daar nie dalk waarde daarin is vir ons wonde om oop te staan nie? Deur ons wonde te laat oop staan vir genesing, sal ons nie dalk vir ons mede kerkmense wys dat dit ok is om seer in ons te dra nie, dat dit ok is om oor ons sondes met mekaar te praat nie?

 

So sal ons dan dalk ook agterkom dat met oop wonde is ons afhanklik van God vir genesing, die enigste ware geneesheer. Plysters kan geplak word, stories kan stilgehou word, maar totdat jy nie vir God toelaat om jou wonde te genees nie, sal dit nie werklik genees nie.

 

Dawid sing bedroef, maar moet die beeld hou van die sterk leier terwyl sy beste vriend onregverdig dood is tussen bloed, spies en swaard. Dawid vra drie maal “Hoe het die helde geval?” Dalk probeer Dawid hier vir die volk sê dat die held in ons elkeen juis moet val sodat God ons kan optel.

 

Dalk moet ons elkeen besef dat ons as helde moet val, en deur ons wonde te laat oopstaan vir genesing, sal God ons kom genees, en ons saam met Hom laat opstaan. As helde moet ons val sodat die lig kan skyn op die ware Helde.

 

God die Vader, die Algmagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here, en die Heilige Gees.

 

As jy dink jy is ‘n held, pasop, jy gaan val.

 

En weet dat terwyl jy val sal God steeds by jou wees, Hy het jou reeds vergewe vir dit wat jy gedoen het, en Hy wil vir altyd ‘n verhouding met jou hê!

 

Amen.