1 Samuel 3:1-18

Ons skakel vanoggend in na kanaal 1792, en dit is tyd vir die nuus uit Israel. Ons verslaggewer staan gereed vir die nuutste gebeure vanuit die tempel.

V:         Eli, ons hoor dat jy vanoggend ‘n ontstellende profesie van jou mindere, Samuel die 13jarige seuntjie ontvang het. Hoe het jy gevoel toe jy die nuus ontvang het?
E:         Dit was maar ‘n ongemaklike situasie, want ek is gewoonlik die een wat die profesie vanaf die Here ontvang en nou het Samuel dit ontvang…
V:         Samuel, hoe het dit gevoel om vir Eli, wat heelwat ouer as jy is, hierdie slegte nuus te gaan vertel?
S:         Dit was ‘n ongemaklike situasie, Eli is gewoonlik die een wat vir my sê wat om te doen…
V:         Eli, hoe het dit vir jou gevoel om so ‘n profesie te kry van iemand wat jou mindere is?
E:         Ek was aanvanklik geskok gewees dat die jong seuntjie vir my sulke swaar en moeilike nuus kom vertel.
V:         Samuel, soos wat ek dit van die ooggetuies verstaan, kon jy aanvanklik nie die stem van die Here hoor nie. Hoe het Eli jou gehelp om te verstaan dat dit die Here is wat met jou praat?
S:         Eli het my deur die proses gementor en vir my uitgewys waarop ek attent moet wees wanneer die Here met my probeer praat. As dit nie vir Eli was nie, sou ek nie die stem van die Here herken het nie.

Iewers in ons lewens was ons almal al in Eli of Samuel se skoene. Eli het gereeld raad aan Samuel gegee oor hoe om ‘n goeie leier in die tempel te wees, oor hoe om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen. Eli het vir Samuel gementor in die weë van die Here. Samuel het weer op sy beurt mooi geluister na die raad wat Eli hom gegee het en dit getrou gevolg om sy werk na die beste van sy vermoë te doen.

Toe op ‘n dag besluit die Here om die rolle van mentor en mentee om te keer. Eli het al blinder en blinder geraak met die jare en Samuel moes hom meer en meer help met die daaglikse tempel take. Ons lees dat dit Samuel se werk was om die tempel se deure elke oggend oop te maak. Geleidelik het die twee mekaar al meer en meer begin vertrou in diens van die Here.

Dalk staan jy vandag in die skoene van Eli. Dalk is jy aan die stuur van ‘n groot besigheid, of het baie invloed onder mense of jy geniet ‘n senior posvlak as gevolg van al die jare se getroue diens… wat is die goed wat dit vir jou sal moeilik maak om die Here se stem te hoor by iemand wie jy as jou mindere beskou? Hoekom is jy versigtig om te luister na iemand met minder mag, ervaring, senioriteit of status as jy?

Hoekom luister ons so graag na die mans en vroue met die groot naam? Hoekom is ons geneig om die wat ons as ‘n mindere sien se opinie as ongeldig te ag?

Wanneer jy jouself vang die volgende woorde dink moet jy weet jy is op dun ys, woorde soos:
·      Jy is net ‘n laaitie, wat weet jy?
·      Jy het nog nie ervaar wat ek ervaar het nie…

Met hierdie tiepe gedagtes plaas ons onsself gewoonlik bo die ander, en net daar en dan besluit ons om nie verder te luister nie, want hy of sy weet tog nie regtig wat hy of sy sê nie.

Kom ons skuif die kollig vir ‘n oomblik na Samuel.

Samuel was waarskynlik 12/13 jaar oud toe hy die profesie van die Here ontvang. Hy het nie gevra vir die bonatuurlike insig nie. Die Here het dit aan hom geopenbaar en skielik weet hy iets wat Eli nie weet nie, skielik het hy in sy jeugdige ouderdom insig tot iets baie groter as hyself.

Hy besef die posisie waarin hy nou is. Hy wonder, hoekom het die Here nie direk aan Eli verskyn nie, hoekom aan Hom? Wat gaan hy nou hierdie nuwe insig maak? In effek het hy oor kennis beskik wat ‘n oorgang in mag aandui, hoe gaan hy nou hierdie oorgang maak?

Bly hy stil en laat Eli en sy familie doodgaan soos wat inelkgeval sou gebeur? Of gaan vertel hy aan Eli dat die Here besig is om met hom die pad as nuwe profeet van die tempel te stap en dat Eli se tyd besig is uit te loop?

Ongemak sit ‘n mens gewoonlik in ‘n veg of vlug situasie, gaan jy jou ongemak tegemoet of vlug jy van dit wat jou ongemaklik maak?

As Eli en Samuel van hulle ongemak gevlug het, sou Saul nooit deur Samuel as koning gesalf gewees het nie, sou Salomo nie koning gewees het nie, sou Dawid nie koning gewees het nie. Dit kon alles moontlik gebeur het as Eli besluit het om nie na Samuel te luister nie, en hom laat doodmaak het omdat hy gedink het dat Samuel sy mag probeer oorneem met ‘n slim truuk.

Jou ego bepaal gewoonlik of jy gaan veg of vlug teen jou ongemak wanneer jou mindere betrokke is. Gaan jy toelaat dat jou ego jou beroof van wysheid of gaan jy jou ego opsy skuif en bereid wees om na jou mindere te luister?

Kom ons doen ‘n oefening:

1.     Dink aan iemand wat jou mindere is, waarmee jy in die laaste jaar kontak gehad het, wat dit regkry om voluit te lewe.
2.     Dink aan iets wat hy/sy doen wat jy bewonder, respekteer of ook sou wou doen. Wat kry hy/sy reg?
3.     Nou, vra jouself af, wat sou jy kon doen sodat hy/sy dit vir jou kan leer?

Om by mekaar te leer is daar brûe tussen ons nodig. Watter brûe bestaan reeds tussen jou en jou mindere? Watter brûe sal jy tussen julle moet versterk? Watter brûe sal jy tussen julle nog aan moet bou?

Eli en Samuel se brug was vertroue en respek vir mekaar, terwyl hulle hulle ego uit die tempel gehou het en dit het dit moontlik gemaak dat hulle saam voor die aangesig van God in Sy diens kon staan. Die oomblik wanneer ons besef dat ons lewe voor die aangesig van God verander ons houding en perspektief gewoonlik.

Om dit op ‘n eenvoudige manier uit te beeld, die oomblik wanneer die dominee in ‘n vertrek instap verander die woordeskat van die grappe dadelik. In die kerk probeer ons mekaar help, in die kerk maak ons vir mekaar plek, in die kerk… Wanneer besef ons dat God nie net in die kerk is nie, maar ook by die werk, ook by die braaivleis, ook by die huis? Wanneer besef ons dat ons lewe voor die aangesig van God?

Wat keer jou dat jy saam met die Samuel of Sarika in jou, voor die aangesig van God, kan diens doen?

Samuel het, al was hy bang, oop kaarte met Eli gespeel, hy het hom alles vertel en niks weggesteek nie. En Eli, met die besef dat hy onderdanig aan God is, vir Samuel gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.” Hy het Samuel nie verdink van een of ander slinkse planne nie, maar in vertroue en respek steeds eer aan die Here gegee. Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.

Is jy bereid om soos Eli na Samuel of Sarika, jou mindere, te luister?

Is jy bereid om soos Eli, met al jou mag, gesag, aansien en geld, jouself ondergeskik te stel aan die Woord van die Here?

1 Samuel 17: Dawid en Goliat

Vandag wil ek julle ‘n ou ou storie vertel. ‘n Storie van wonder. ‘n Storie van twee volke wat teen mekaar oorlog gemaak het. ‘n Storie van ‘n magtige koning wat bang was. ‘n Storie van ‘n pa se opdrag. ‘n Storie van agt boeties. ‘n Storie van ‘n spotter. En, die storie van God.

Lees 1 Samuel 17:31-51.

Die eerste vraag wat ek myself afgevra het toe ek die storie gelees het was, hoekom het die twee volke vir 40dae lank net teenoor mekaar gestaan? Hoekom het hulle nie mekaar dadelik aangeval toe hulle mekaar gesien het nie. Was hulle tog nie gereed vir oorlog die dag toe hulle uit hulle stad die vlaktes ingetrek het nie? Vir 40 dae lank staan hulle in die oggende vroeg op om net vir mekaar te kyk. Dit is baie vreemd.

Wat ook vir my vreemd was, was dat koning Saul nie vir Goliat tegemoet gaan nie. Hy is tog die koning van die Israeliete, as daar iemand is om die volk se eer te beskerm, dan is dit tog die koning self. Hy is aangestel om oor die volk te regeer, en as daar moeilike gevegte na vore kom is dit hy wat vreesloos na vore moet tree, maar hy doen nie. Hy sit gemaklik in sy tent met sy raadgewers en drink die een koppie wyn na die ander terwyl die res van die volk elke oggend vroeg opstaan gereed vir oorlog. Hy gee ook nie eers die bevel om die Filistyne aan te vat nie. Hy doen net mooi niks nie. Die koning van die Israeliete is stil.

In hierdie veertig dae op die oorlogsveld raak die soldate natuurlik ook honger, nes ek en jy, en hulle het kos nodig. Drie van Isai, die Efratiet uit Betlehem in Juda, se seun is betrokke by hierdie oorlog. Isai stuur dan sy jongste seun Dawid, die skaapwagter, om vir sy broers gebraaide koring en brood te vat. Sonder vrae doen Dawid dit dadelik vroeg die volgende oggend. Hy doen dit so vroeg dat hy reeds by die oorlogsveld aankom die oggend terwyl die manne regmaak om vir die res van die dag vir mekaar te kyk met lelike gesigte. Om mekaar uit te daag oor ‘n afstand.

Dawid kom daar aan en los sommer dadelik die kos by die bode wat daarna sal kyk en sal sorg dat elkeen kry wat aan hom toekom. Hy hardloop om die aksie van nader te bekyk. Tussen die reuk van rokerige vure, modder, en sweet hoor hy skielik hoe iemand gewelddadig skree. Met daardie aaklige skreeugeluid ontmoet Dawid vir Goliat. ‘n Reus in die oë van die volke, 3meter lank, ‘n bronshelm op sy kop, ‘n harnas met skubbe wat 57kg weeg, bronsskerms voor sy bene, met ‘n spies waarvan die lem 7kg weeg. Die gevreesde Goliat aan die skree teen die volk Israel.

Dawid begin dadelik so onder die soldate rondvrae wie hierdie Goliat is. Wie is hierdie man dat hy die linies van die lewende God verkleineer? Soos Dawid nog nuuskierig aan die rondvrae is hoor een van sy broers dat hy in die kamp is. Eliab, Dawid se oudste broer vererg hom toe vir Dawid. Dawid wat nie eers by die oorlog betrokke is nie, kom nou sommer van die kant af en begin vrae te vrae oor die oorlog asof hy weet wat oorlog behels, terwyl hy die heeltyd lekker in die lang gras lê en na sy skapies kyk. So asof Eliab nou kwaad is omdat Dawid vrae begin vrae, waaraan hy as oudste broer nog nie eers gedink het nie. Dawid antwoord sy broer en vrae hom of wat hy gedoen het nie belangrik is nie?

In die eerste plek het Dawid vir sy broers die nodige kos gebring sodat hulle verder kan veg. Maar belangriker as dit, was Dawid die eerste Israeliet in daardie oorlog wat vir die naam van die Here opgestaan het. Nie eers koning Saul het geroer al word sy God gespot deur ‘n reus nie. En hier kom Dawid die kleine skaapwagter en vra wie is hierdie Filistyn wat die enigste ware God so loop en spot.

Die storie begin onder die manskappe versprei van hierdie klein mannetjie wat vrae vrae oor die reuse Goliat. Koning Saul laat haal toe hierdie nuuskierige skaapwagter. Vinnig vind Saul uit dat hierdie skaapwagter nie onderskat moet word nie. Met heldemoed is hy bereid om teen die reus te veg. Dawid verduidelik vir Saul van die leeu en die beer, stories van integriteit. Want as skaapwagter, as ‘n leeu of ‘n beer die skape kom pla het en hy nie teen hulle geveg het nie, hy self die skape moes vervang. Hy was gewoond om teen groot en gevaarlike vyande te veg. Sy wapen van keuse, die slingervel. Eenvoudig van leer, amper soos ‘n kettie.

Koning Saul laat Dawid toe toe om teen die Filistyn te gaan veg, met die wete as Dawid verloor, verloor hy wat koning is ook die oorlog. Hy ag dit so belangrik dat hy sy eie koninklike uitrusting vir Dawid gee om aan te trek. Maar dit is ongemaklik en swaar vir Dawid, hy kies om dit te los, want hy sê hy is nie daaraan gewoond nie. Hy gaan soek vir hom vyf spoelklippies in die rivier en met sy slingervel stap hy op die Filistyn af.

In hierdie storie vind ons ‘n dapper seun wat bereid is om sy lewe te waag vir die naam van die Here. Hy kan dit nie aanvaar dat daar iemand is wat openlik die spot dryf met die Here en sy volk nie. Dawid word op ‘n manier die verteenwoordiger van God op daardie oorlogsveld. Die Filistyn oortree die derde gebod en gebruik die naam van die Here ydellik asof dit sommer niks is nie. Hierdie gedrag kan nie toegelaat word nie. Iemand moet daarteen optree en Dawid is daardie persoon.

Dawid tree ook op vanuit sy menswees met sy eenvoudige slingervel en klippie, dinge wat hy ken en verstaan. Deur slegs bereid te wees om vir die naam van die Here op te staan en geloof die vyand die veg aan te sê gebruik die Here die eenvoudige en verander dit in die verstommende wanneer Dawid die reus met slegs ‘n enkele klippie oorwin.

Dawid het die reus tegemoet gehardloop, en hy was seker bewerig terwyl hy dit gedoen het, maar hy het na die reus toe gehardloop en nie weg van hom soos die res van die Israeliete nie. Hierin word Dawid ook ‘n geloofsheld vir al die Israeliete wat hierdie konfrontasie tussen skaapwagter en reus aanskou. Dawid word ‘n voorbeeld vir die volk van wat dit beteken om vanuit geloof te leef. Hy word ook ‘n voorbeeld van wat moontlik is as daar vanuit geloof gelewe word. As daar vanuit geloof gelewe word, word die onmoontlike moontlik. Dit wat aanvanklik reusagtig lyk, word ontmasker vir wat dit regtig is. Goliat was niks meer as ‘n lompe reus wat stadig beweeg het nie. Goliat se sig was ook nie baie goed nie, want hy het dit nie gewaag om sy spies na Dawid te gooi nie. Goliat moes staatmaak op skilde, helms en harnasse.

Dawid aan die ander kant was rats, klein, en vol energie. Dawid het nie vir 40 dae in oorlogs omstandighede geleef nie. Nee, Dawid was vars vanaf die huis waar hy lekker geëet het en sy kragte opgebou het. Dawid was opgelei om wilde diere te kan verslaan met slegs sy slingervel in tye van nood en kon daardie opleiding gebruik om die reus die stryd aan te sê. Buiten al hierdie menslike dinge, het Dawid slegs die moed gehad om die reus aan te sê omdat hy vanuit geloof gelewe het. Dawid het sy krag in die Here gevind. Hy gee ook die krediet vir die leeu en die beer aan die Here, nie uit sy eie krag nie, maar deur die krag van die Here het hy die wilde diere oorwin. So ook is hy nie bang vir die reus nie, want hy weet soos die Here met hom was met die wilde diere sal die Here soveel te meer met hom wees as hy veg teen een wat die naam van die Here bespot.

 

Daarom, mag ons almal met die geloof van Dawid leef. Mag ons almal soldate vir God wees. Mag ons almal besef dat ons, nie deur ons eie kragte nie, maar deur die heilige krag van die Here, die teenstanders in ons lewe die stryd kan aansê. Mag ons almal besef dat deur aan die kant van die Here te wees daar niks is om te vrees nie.

Amen.