1 Johannes 5: Die geheim van die lewe…

Die geheim van lewe is ‘n tergende vraag wat mense deur die eeue heen bly boei het. Hoe kan ek lank, gesond en gelukkig bly leef? Die wat ouer word, wonder soms of daar dalk iewers ‘n ewige jeug te vinde is. Miskien is daar êrens selfs ‘n manier om aan die dood self te ontkom?

 

In ons dag is daar geen tekort aan antwoorde, rate en resepte vir ‘n gesonde lewe nie. Kry genoeg oefening. Drink baie water. Eet net vrugte. Koop net organiese kos. Probeer hierdie soort kruie. Drink hierdie soort tee. Beoefen joga vir ‘n soepel liggaam. Verminder stres deur meditasie. Dalk sal hierdie salf die plooie uitstel of wegsteek. En dan is daar botteltjies en botteltjies medisyne om reg te dokter waar ‘n kwaal ook al te vinde is.

 

Niemand sal seker stry daaroor dat water die fontein van lewe is nie. Water, so sou ‘n mens kon sê, is die geheim van die lewe. Sonder water is geen lewe moontlik nie. Ons eie liggame bestaan vir meer as 75% uit water. Sonder water verdor en verdroog alles. Psalm 1 wys ons daarop dat ‘n boom wat by waterstrome geplant is, se blare nie verdroog nie. Dit dra vrugte op die regte tyd.

 

Water het ook ‘n sleutelfunksie rondom reiniging. Ons was ons self, ons klere, ons skottelgoed, ons duur motors met water. Ons drink liters water om ons eie liggame skoon te hou. Soms probeer ons ons eie skuld afwas. Ander kere was ons ons hande in onskuld. Ons doop ons kinders met water om daarmee te sê dat hulle sonde deur die bloed van Christus afgewas word.

 

Die funksie van water om dinge skoon te maak, is natuurlik net moontlik as die water self skoon is. Vuil skottelgoedwater kan nie nog vuiler skottelgoed skoon kry nie. ‘n Mens kan nie besoedelde water drink en gesond bly nie. Waar kan ‘n mens water kry wat skoon genoeg is? Deur doodgewoon die kraan oop te draai? Hopelik ja. Maar dit is lank nie meer altyd die geval nie. Water word op talle maniere besoedel.

 

 

 

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde: Suid-Afrika is ‘n land met ‘n relatiewe skaarste aan water. Die gemiddelde reënval in Suid-Afrika is 470 mm/jaar teenoor die wêreldwye gemiddelde van 860 mm/jaar. Projeksies dui daarop dat Suider-Afrika teen 2025 ‘n absolute skaarste aan water sal ondervind. Samewerking en sekuriteit tussen lande soos Suid-Afrika, Lesotho, en Mosambiek berus in baie gevalle op ooreenkomste oor die gebruik van water.

 

Die totale gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Besproeiing (60.6%); munisipale en huishoudelike gebruik (17.8%); industrieë (11.3%); mynbou (3.3%); kragopwekking (4.3%); natuurbewaring (1.0%); ander (1.7%).

 

Die huishoudelike gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Tuine (35%); spoeltoilette (29%); badwater (19%); waswater vir skottelgoed en klere (14%); water vir drink en koskook (3%).

 

Water kan dus bespaar word deur 1) plante wat relatief bestand is teen droogte; 2) dubbelslag spoeltoilette; 3) gereguleerde stortkoppe. Baie Suid-Afrikaners kry skoon water om te drink, om mee te kook en om mee te was, heel gerieflik deur net die kraan oop te draai. Maar miljoene ander moet vroeg opstaan, kilometers ver loop na die naaste waterbron en met swaar houers terugkeer om water in die hande te kry.

 

Water word op een van twee manier besoedel: chemikalieë en klein lewende organismes wat siektes soos malaria, cholera en bilharzia kan veroorsaak. Chemikalieë lei tot waterbesoedeling as gevolg van insekdoders, swaar metale in industrieë en mynbou, petroleum produkte (oliebesoedeling en lekkasies van opgaartenks), chloor en wasmiddels (veral via papierverwerking en tekstielfabrieke); kunsmisstowwe en riool lei tot ‘n té hoë konsentrasie van sekere chemikalieë in die afvloeiwater.

 

 

Tot 12 miljoen kinders sterf elke jaar in die wêreld as gevolg van besoedelde water. Ook in Suid-Afrika is daar 12 miljoen mense wat nie toegang het tot water wat skoon en veilig is om te drink nie. ‘n Mens kan nie meer aanneem dat rivierwater skoon genoeg is om te drink nie.

 

Sien u die probleem? Vuil water is ‘n simptoom van ‘n siek samelewing. En met vuil water kan ‘n mens nie ‘n siek samelewing reinig nie. So beland ons in ‘n bose kringloop. Daarvoor het ons ‘n meer radikale oplossing nodig.

 

Miskien kan ‘n mens vir ‘n oomblik bloed oorweeg. Immers, soos die spreekwoord sê, bloed is dikker as water. Die bloed wat in ons are vloei, dra suurstof en lewe tot in die fynste aartjies van ons liggaam. Bloed red lewens, adverteer die bloedoortappingsdiens gereeld.

 

Maar nou weet ons ook dat ons bloed grootliks ook maar uit water bestaan. En die water is besoedel. My bloed dra dan nie net suurstof nie, maar ook gif tot in elke aartjie van my liggaam. Waterbesoedeling kan alleen maar tot bloedvergiftiging lei.

 

Waar in ‘n besoedelde wêreld kan ‘n mens dan die fontein van lewende water vind? Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 is ook op soek na ‘n antwoord op hierdie vraag. Dit oorweeg al die beskikbare getuienis. Eerstens roep dit water as ‘n getuie. Die water is hier die reinigingswater van die doop. Tweedens roep dit bloed as ‘n getuie. Vreemd genoeg is dit die laaste sterwensbloed van Jesus wat op die grond drup wat hier as getuie van die bron van lewe dien. Derdens roep dit die Gees as getuie. Die Gees staan hier vir waarheid, vir diepere insig, vir die onderskeidingsvermoë wat die regter nodig het.

 

Die gevolgtrekking waartoe die teksgedeelte kom, is dat al drie hierdie getuienisse met mekaar ooreenstem op één punt. Al drie wys vir ons heen na Christus. Jesus is met water uit die Jordaan gedoop. Jesus se bloed het op Golgota gevloei. Jesus se hele bediening op aarde vind deur die krag van die Gees plaas.

Daarom, volgens die teksgedeelte, is lewe alleen deur die Seun te vinde. Alleen die wat in die Seun glo, het die lewe. Trouens, God gee aan hulle nie net lewe nie, maar inderdaad die ewige lewe.

 

Maar kan ‘n mens dit regtig glo? Is dít die geheim van lewe? En watter verskil kan dit nou eintlik maak aan my lewe, aan ‘n gesonde lewe hier en nou op aarde, aan ‘n siek wêreld vol besoedelde water? Watter invloed kan die bloed van Jesus van Nasaret op die gehalte van my eie lewensbloed hê?

 

Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 wil ons juis help om dit te glo. As water, bloed en Gees nie genoeg getuienis is nie, dra ons ook die getuienis in ons eie hart (vers 10). Meer nog, dit is die getuienis van God self (vers 9). Dit is dan ook die doel vir die skryf van die brief self: dat ons seker kan wéét dat ons alreeds die geheim van die lewe, die ewige lewe gevind het (vers 13). En die geheim is bekend: dit is Jesus, die Christus.

 

Vir hulle wat dit nie glo nie, maak dit geen sin nie. Daarom het hulle ook nie die lewe nie (vers 12). Hulle mis dit heeltemal. Hulle is, sê Psalm 1, soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. Vir hulle verwelk die lewe vinnig. Hulle is soos gras wat in die môre nog groen is, maar as dit afgesny word, is dit in die aand reeds verlep en verdroog (Ps 90:6).

 

Vir die wat die geheim van die lewe egter van binne uit ken, spreek dit vanself. Vir hulle maak dit die wêreld se verskil. En daarom kan hulle ook aan die wêreld ‘n verskil maak. Hulle is, so sê Psalm 1, soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Hulle blare verdroog nie. Hulle dra op die regte tyd gesonde vrugte vir die wêreld om van te eet. Trouens, volgens die boek Openbaring dra die boom van die lewe twaalf keer per jaar vrugte. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies (22:2). Dit bring genesing vir ‘n siek en besoedelde, vir ‘n dor en verdroogde wêreld.

 

 

Soos ‘n boom wat by waterstrome geanker is, só bied die regverdige ‘n teken vir die hele wêreld van waar die fontein van die lewe is. Bied jy ‘n teken sodat die wêreld kan glo? Dan kan hulle kom drink uit die fontein, met die water van die lewe – verniet (Op 21:6).

 

Amen.

 

1 Johannes 5: Valse Gerugte Versprei

Johannes skryf hierdie brief omdat daar mense in die omtrek was wat valse gerugte versprei het. Mense wat nie die volle waarheid ken nie, of nie die waarheid wil glo nie. Die Johannes brief in die breë gaan daaroor om die gemeenskap te oortuig dat Jesus Christus wel Seun van God was, dat Hy self ten volle God was en ook ten volle mense was. Daarmee saam maak Johannes ook erns met die feit dat geloof in Christus kardinaal is vir die lewe en ook so vir ’n lewe van liefde.

Christus se identiteit was bevraagteken. ’n Groep mense binne die gemeenskap het begin twyfel oor wie hierdie Jesus man nou regtig is. Dink bietjie daaroor hoe jy sal voel as jy vir jou vriende vertel van die wonderlike persoon wat jy ontmoet het en hulle glo jou nie. Hulle glo jou nie dat jy die persoon ontmoet het wat jy beskryf nie. Jou vriende begin jou woorde te bevraagteken, hulle vrae jou allerhande vragies oor wie hierdie persoon nou regtig is sodat hulle self kan gaan Facebook wie hierdie persoon regtig is, eerder as om jou op jou woord te vat.

Johannes se mense het net so Christus se bestaan bevraagteken. Hulle het gewonder of Hy net ’n mens was, of dat Hy soos ’n spook op aarde was, dat Hy eintlik net ’n geestelike wese was. Ander mense het weer gesê dat Hy eers God geword het toe Hy gedoop is en toe Hy sterf aan die kruis nie meer God was nie.

In hierdie kort gedeelte word uitdruklik gepraat van God die Vader, Jesus die Seun van God en van die Gees.

Ook wat party Sondae heeltemal verby sommige van ons gaan is ons belydenisskrifte… Deesdae, om iemand se aandag te kry is om die woord “Belhar” te sê, daaroor het almal ’n opinie.

’n Ander belangrike belydenis skrif wat uitdruklik oor Jesus se identiteit praat is die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat ons so pas opgesê het. Die geloofsbelydenis bestaan uit twaalf artikels, van die twaalf artikels is presies die helfte, ses artikels gewy aan wie Jesus is. Dit wil vir ons sê dat wie Jesus is nogal belangrik is. Ons moet weet wie Hy is.

 

 

 

Ons glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is

en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader

van waar hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ons glo in Jesus wat ons Here is, wat mens geword het, wat gekruisig is, wat opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Jesus wat die dood oorwin het. Jesus wat ten volle mens was en ten volle God was.

Wanneer ons as kerk vanuit ons belydenisse sê dat Jesus as Christus, “Verlosser”, die dood oorwin het, die wêreld oorwin het, beteken dit dat ons as die kerk moet wys hoe en waar dit gebeur, omdat ons glo en bely van hoe en waar dit reeds gebeur het.

Dit wat ons glo, oorwin die wêreld. Om te glo, is ’n manier van bestaan, of nog beter, ’n manier van lewe!

Nou is die vraag, kan ons geloof die wêreld oorwin? Kan jou geloof die wêreld wen?

So as jou vriende jou nie wil glo oor die persoon wat jy ontmoet het nie, dan sal dit waarskynlik slim wees om vir jou vriende te wys watter invloed die persoon op jou lewe het. Jy kan nie aangaan om dieselfde te lewe as jy iemand nuuts ontmoet het nie, die persoon verander hoe jy na die lewe kyk.

Niemand, nie een van ons, wie sê dat ons in Jesus Christus glo kan aangaan om in die sonde te lewe nie. Wie in Jesus glo is dood vir die sonde. Wie Jesus ontmoet het, kan nie steeds aangaan soos hy aangegaan het nie. Anders gaan mense nie jou glo oor wie hierdie Jesus persoon is nie. Omdat jou geloof jou ’n nuwe persoon laat ontmoet het, moet jy vanuit jou geloof die wêreld anders hanteer. Moet jy vanuit geloof anders leef in die wêreld. Moet jy vanuit geloof die wêreld verander.

Nou hoe doen jy dit?

Hoe lewe jy anders? Jy het vir Jesus ontmoet en jy wil nou hê jou vriende moet jou glo oor hierdie Jesus persoon wat jou lewe heeltemal verander het, wat jou lewe nuut gemaak het. Hoe moet jy lewe?

’n Besondere kenmerk van die nuwe lewe, is die onlosmaakbare koppeling van liefde en gehoorsaamheid. Wie Jesus lief het, onderhou Sy gebooie en ook sonder liefde in ’n verhouding is die geringste versoek ’n irritasie of las.

Die nuwe lewe word gekenmerk deur ’n lewe van liefde. Nie deur liefde vir jouself en al die gemaklike dinge by jou huis nie.

Nee, liefde, soos God se gebooie ons leer, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Liefde is juis iets wat na buite gerig is, liefde is nie iets wat binne kan bly nie. As jy lief het, wil jy dit deel, liefde kan nie stilbly nie, liefde kan nie stilsit nie. Liefde het oop arms. Liefde het oop hande. Liefde het oop monde. Liefde het oop ore. Liefde het oop oë. As jy werklik hierdie Jesus persoon ontmoet het, is dit jou opdrag om Sy liefde te deel. Jy mag dit nie vir jouself hou nie, as jy werklik lief het, sal jy dit nie vir jouself kan hou nie.

Omdat ons Jesus ken, omdat ons Jesus ontmoet het, is dit ons opdrag om Hom aan ander mense te gaan bekend maak, sodat hulle ook kan glo dat Jesus bestaan. Sodat hulle ook kan deel in die wonderlike liefde wat Hy met ons elkeen kom deel het. Sodat, deur die getuienis van ons wat Jesus ontmoet het, ons die wêreld kan oorwin, omdat Christus reeds die dood oorwin het.

Die vraag, kan jou geloof die wêreld wen?

Die antwoord, met jou lewe in, deur en van liefde, kan jy saam met Jesus die wêreld wen!

1 Johannes 4: Lewe jy soos ‘n fontein van liefde?

Ons leef in tye waar dinge vinnig verander. Ek kan Maandag my selfoon opgradeer, gaan ek ‘n nuwe beter, blinker selfoon op die rak uitkies? Vir wat? Is dit regtig nodig? Wat is die motivering agter hierdie neiging tot die nuwe?

So ook is daar selfs bekende predikers wat vandag op internasionale televisie verklaar dat briewe van 2000 jaar gelede nie meer relevant is om die lewe vandag te verduidelik nie. Dat al manier hoe ons regtig die lewe kan ken, is deur ons eie ervaring. Hoe ons voel is wat die lewe is, en dit is al wat die lewe is. Ons ervaring kry voorkeur bo enige ander kennis. Dit is tog presies wat die post-modernisme is. ‘n Revolusie teen die Moderne manier van doen, waar kennis seëvier en ook bepaal hoe opgetree moet word. In die post-modernisme is die eie ek baas. Niemand kan vir my sê wat ek doen is verkeerd nie, want dit is my lewe en ek moet self uitvind wat werk vir my. Wat vir my werk, werk hoef nie vir jou te werk nie. En hierin lê die kiem van hoekom mense begin dink dat briewe van 2000 jaar gelede irrelevant is.

Die brief van Johannes wat ons sopas gelees het is een van daardie briewe van 2000 jaar gelede. Johannes het die brief waarskynlik rondom 60 n.C. geskryf. Dit is presies 1955 jaar gelede. Nou moet ons hierdie gedeelte uit die Bybel skeer? Moet ons nie sommer die hele Bybel eenkant toe gooi nie? Dit is mos ‘n stokou boek… Ons wil mos ons ervaring van God eerste stel, en sommer onsself daardeur bo ander verhoog wat nie God soos ons ervaar nie. As jy nie God in ‘n vision, ‘n harde stem, of deur in tale te praat ervaar nie, dan ken jy nie regtig die Here nie…

Hierdie kwessie van hoe God geken kan word was 2000 jaar gelede op die tafel. ‘n Groep mense het hulself bo ander verhef en gesê dat die enigste manier om God te ken is om ‘n direkte ervaring van Hom te hê. Johannes skryf primer hierdie brief van hom om daardie mense verkeerd te bewys. Net so IS sy brief van 2000 jaar gelede juis relevant in ons post-moderne samelewing wat logiese denke afwys vir subjektiewe ervarings.

As die Bybel, die 2000 jaar oue dokument, sê God is liefde, beteken dit al sy aktiwiteite is liefhebbende aktiwiteite. Alles wat God doen is liefdevol. As Hy skep, skep Hy in liefde, as Hy regeer, regeer Hy in liefde, as Hy oordeel, oordeel Hy in liefde. Alles wat Hy doen is ‘n uitdrukking van Sy natuur, wat liefde is. Maar, voordat ons verder gaan in abstrakte terme, waartoe die woord liefde in taalkundige terme tot die abstrakte selfstandige naamwoord behoort, kom ons probeer eers bietjie nader kyk na wat die liefde is.

Kom ons probeer logies redeneer oor die irrasionele liefde.

God is liefde. Liefde kom van die Vader af, die Vader is die oorsprong van die liefde. Die Seun, Christus is die openbaring van daardie liefde wat van die Vader af kom. Ons, mense, is die realisering van die liefde wat van die Vader af kom, wat deur Christus geopenbaar is. So, eenvoudig gestel. Liefde is wat ons doen, en wie ons is, in die lewe saam Christus.

As jy nou nog nie deurmekaar is nie, kom ons gaan verder.

Die liefde van God, wat ons leef, behoort die Agape liefde te wees. Ja, daar is verskillende soorte liefde. In die Grieks, waarin die Nuwe Testament oorspronklik geskryf is daar hoofsaaklik drie woorde vir die liefde.

Agape, Fileo, en Eros. Eros kan ons almal aflei waarop dit sinspeel, die fisiese deel van die liefde. Fileo is weer meer ‘n vriendskap liefde. Agape is die liefde waarna ons moet streef. Dit is die liefde wat bly staan deur dik en dun. Dit is die liefde wat al is daar verskille tussen twee mense dit nie die verhouding afbreek nie, want die liefde, die agape liefde oorwin enige verskil.

So wat is die liefde waarvan hier in Johannes se brief gepraat word? Daardie Agape liefde, wat alles oortref. As ons ook mooi na hierdie stukkie gaan kyk sal ons sien dat die woordjie liefde in hierdie 14 verse 30 keer herhaal word. 30 keer in 14 verse word ons herinner aan die liefde wat God is, en in en deur ons wil wees.
So hoe ken ons God as ons gaan kyk na wat die Bybel vir ons sê? Of moet ons eerder maar gaan soek na persoonlike bonatuurlike ervaring waar ons God se stem helder hoor, of Hom in ‘n vision sien, en dit as die enigste weg tot God voorhou?

Ons weet nou dat God liefde is. Dat die Vader die liefde gee, die Seun die liefde openbaar en die liefde leef. Ons weet daar is verskillende soorte liefde, waarvan die Agape liefde die eintlike liefde is wat jy wil uitleef wat alles oortref en bedek.

Maar hoe leef ons daardie Agape liefde uit?

Kortliks is daar vyf verskillende maniere hoe ons liefde betoon, julle weet seker al goed hiervan, maar dis die moeite werd om dit te herhaal. Liefde kan gewys word op vyf maniere: deur geskenke, deur woorde, deur dade, deur tyd, en deur die fisiese. Hierdie vyf maniere is alles maniere hoe ons vir iemand anders die liefde kan wys wat God aan ons kom wys het.

As ons na die Bybel kyk vir antwoorde, vir hoe God homself aan ons openbaar, sal ons sien dat ons juis God leer ken deur die liefde wat Hy aan ons openbaar deur ander mense. In vers 19-21 wys God juis vir ons dat ons Hy ons lief het deur ons naaste en ons Hom lief het deur ons naaste. As ons die mense naaste aan ons nie met liefde kan behandel nie, dan het ons nie die liefde nie. Hierdie is ‘n belangrike punt. As die liefde dan juis tot sy beste kom in ons naaste, is die omgekeerde ook waar, as liefde vir ons naaste ontbreek, beteken dit dat ons liefde vir God afwesig is… Harde woorde, maar waar woorde.

In hierdie liefde vir ons naaste, in hierdie liefde vir God, is dit egter nie altyd vir almal ewe maklik om lief te hê nie. Al is die liefde ontwerp om maklik te wees, dit is immers hoe die aarde en ons elkeen ontstaan het, uit liefde, is dit soms moeilik om lief te hê want ons het sonde binne in ons. Maar! Maar ons kan hierdie sonde deur die liefde vir God oorwin.

Joh 4:18 sê vir ons dat waar daar liefde is, is daar nie vrees nie. Dat die liefde alle vrese oorwin. Maar hoe is dit moontlik? Ons is dan tog almal sondig, hoe gaan ons dit regkry om hierdie volmaakte, vreeslose liefde te ervaar en uit te leef sodat ander ook God kan ervaar?

Die antwoord is so eenvoudig dat dit so mooi getuig van die eenvoud van die liefde. Liefde as ‘n abstrakte selfstandige naamwoord kom word ‘n eienaam. ‘n Eienaam is nie abstrak nie, dit is waar, ons kan ‘n eienaam sien, voel en hoor. Hierdie eienaam is Jesus, Jesus Christus. Jesus Christus het die sonde kom oorwin die dag toe Hy vir ons sonde, uit liefde, aan die kruis kom sterf het, en weer opgestaan het. Deur Jesus se daad van onvoorwaardelike liefde, liefde vir ons almal, kom maak Hy dat ons almal kan liefhê, dat ons almal kan deel in die liefde van God, dat ons almal God kan ervaar.

Ons ken God deur die liefde te ervaar wat sy enigste Seun vir ons kom moontlik maak het.

Verder moet onthou word dat van al die toetse of ‘n mens werklik uit God gebore is, vir God ken, in God is en bly, is die toets van naasteliefde die toets. Daar is ander toetse: of iemand die Gees het (13); of iemand bely dat Jesus die Seun van God is (15); of hy vreesloos is vir die oordeelsdag (17,18), maar die toets bo alle toetse is of jy jou naaste met konkrete, tasbare, dade lief het.

So in tye wat vinnig verander, waar mense vir ons sê dat wat in die Bybel staan irrelevant is, kan ons met selfvertroue antwoord dat die Bybel nog net so relevant vandag is, soos wat dit 2000 jaar gelede was. God se liefde wat Hy vir ons moontlik gemaak het deur sy seun Jesus Christus is vandag nog net so relevant en nodig soos 2000 jaar gelede. Sonder liefde vir ons naaste is daar regtig geen punt aan die lewe nie, die lewe gaan om te deel in God se liefde deur dit uit te leef saam met ons naaste, en so God se naam te verheerlik.

Al die tale, profesieë, met die tyd gaan dit verby. Net die liefde, die volmaakte, kom en sal vir altyd bly. Want geloof gee troos en rigting; na die toekoms reik die hoop. Liefde is en bly die grootste: Liefde sluit die lewe oop!

Mag jy vandag opnuut God se liefde ervaar. Mag jy vandag daardie liefde wat jy ervaar met jou naaste deel. Mag jy vandag besef, dat om deel te wees van God se fontein van liefde, juis beteken om soos ‘n borrelende fontein heeltyd verfrissende liefde met ander te deel, want so deel jy God.
Amen.