Sterker as Darwin en Feuerbach

Die mens wat God na sy beeld gemaak het – dit wil sê in vryheid gemaak het – is die mens wat uit die aarde geneem is. Sterker as dit kon selfs Darwin en Feuerbach nie praat nie. Die mens is uit die aarde, die mens is ‘n stuk aarde. Sy aardverbondenheid is deel van hom. Die aarde is sy moeder, hy het uit haar skoot voortgekom. Maar die aarde waaruit die mens geneem is, is die aarde voor die vloek, is nog geseënde grond. Dit is die aarde van God waaruit die mens geneem is. Van die aarde is sy liggaam. Sy liggaam is deel van sy wese. Sy liggaam is nie maar ‘n kerker, ‘n omhulsel of ‘n uiterlike nie, sy liggaam is hy self. Die mens “het” nie ‘n liggaam en “het” nie ‘n siel nie, hy “is” liggaam-en-siel. Die mens van die skepping is in werklikheid sy liggaam soos Christus geheel en al sy liggaam is, soos die kerk die liggaam van Christus is. Die mens wat hom van sy liggaam distansieer, distansieer hom van sy bestaan voor God, die Skepper. Dit is die erns van die menslike bestaan: sy gebondenheid aan die moederaarde, sy liggaamwees. Die mens se bestaan is ‘n bestaan-op-aarde, hy het nie van bo gekom as een wat deur ‘n wrede noodlot na die aardse wêreld uitgedryf is en daaraan verkneg is nie, maar hy is uit die aarde – waarin hy sluimerend dood was – verwek deur die Woord van God, die Almagtige; hy is ‘n stuk aarde, maar aarde wat deur God tot menswees geroep is. “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Efesiërs 5:14). So het Michelangelo dit ook gesien: Adam rus teen die jong aardbodem aan, so vas en innig daarmee verbonde dat hy self in sy dromende bestaan hoogs uitsonderlik is, hoogs wonderbaarlik is, maar tog nog ‘n stuk aarde is, en juis in die volledige verbondenheid aan die geseënde grond van die skeppingsaarde word die volle heerlikheid van die eerste mens sigbaar. En in hierdie rus teen die aarde aan, in hierdie diepe skeppingslaap word die mens lewend deur die liggaamlike aanraking van die vinger van God. Dieselfde hand wat die mens geformeer het, raak hom nou soos uit die verte liggies aan en wek hom tot lewe. Die hand van God hou die mens nie meer vas nie maar stel hom vry, en die skeppende krag word die liefde van die Skepper wat na die skepsel uitreik. Die hand van God  op hierdie beeld in die Sixtynse Kapel bevat meer kennis van die skepping as menige diepversende bespiegeling.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *