Het jy al agtergekom dat jy nog weer oor Nuwejaar gevoel het soos toe jy 16jaar oud was nie? Toe alles nog nuut was, toe jy saam jou vriende tot middernag gesit en kuier het en saam afgetel het en met vreugde die Nuwejaar ingegaan het.
Nou is jy ouer: 18, 21, 23, of 33 jaar oud, 43 of 66. So baie hartseer dinge het al met jou gebeur – jou pa en ma baklei gedurig, jy gaan dikwels huil-huil bed toe, dit gaan moeilik op finansiële gebied, jy is gedurig siek, jy het 6 operasies in 6 jaar ondergaan.
En nou is dit die Nuwejaar! Diep in jou hart dink jy: “Ag, niks verander tog regtig met die Nuwejaar nie. Ons eet die braaivleis, ons skiet die klappers, ons drink die sjampanje en later breek ons die Kers boompie af en pak die blink balletjies weg… maar my lewe word nie helderder of blyer nie. Om die waarheid te sê, dit word elke jaar moeiliker. En ek? Ek word elke jaar ‘’n bietjie stiller, ‘’n bietjie meer traag, ‘’n bietjie moedeloser. Hoe meer Nuwejare ek beleef, hoe minder sien ek dat ek beter word. Omdat ek so swaar kry, omdat alles so teen my is, moet ek my eintlik elke jaar meer inspan om darem die Nuwejaar uitdrukking op my gesig te kry.
Want daar is dinge wat my Nuwejaar vreugde wegneem. My pa en ma gaan tog skei, my vriendin se kanker neem my Nuwejaar vreugde weg. My verswakkende oë maak dat ek nie meer die Nuwejaar ster kan of wil sien nie. Die politiek het my gelate en dof gemaak. Ek ly aan depressie en die geboorte van Jesus Christus, 2000 jaar gelede, kan niks aan my toestand doen nie…
So voel ons almal…
En tog staan daar in 2 Kor. 3:18 ‘’n verstommende uitspraak: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe? Die heerlikheid wat uitstraal van my pa wie se begroting nie meer wil klop nie, neem steeds toe? Die heerlikheid wat uitstraal van ons wat so onseker is van die toekoms, neem steeds toe?
Is dit nie maar net vroom Bybel woorde nie? Want dikwels voel dit vir ons asof ons jaarin en jaaruit hierdie aaklige lewe moet leef, asof niks ooit weer lekker sal word nie, asof ons pyn en hartseer en ons siektes en ons skoolvakke en al die probleme wat ons met mense het, ons oorweldig…
As dit is hoe jy diep in jou hart voel, dan moet ons vandag aan die ware verhaal van twee broers dink. Aaron, die oudste broer, het iewers lank gelede vasgeval tussen ‘’n klomp klaende, vraende, neulende mense. “Kom ons maak vir ons ‘’n god dat hy ons kan lei”, het hulle gesê. “Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”
Aaron het teen mense vasgekyk, hy het bly staar na hulle ontevredenheid en hulle probleme. Toe help hy hulle om ‘’n goue kalf te maak, hy help hulle met ‘’n tydelike blymaakding en sy gesig raak al hoe meer soos die van ‘’n mens wat die Here nie ken nie. Jy sal saamstem: Aaron was op daardie oomblik so vêr van God en van Sy wil af, dat sy gesig al hoe dowwer moes geword het, al hoe meer afwesig, al hoe meer fronsend en met ‘’n bitter trek om die mond. Tydelike blymaakgoed werk nie.
Sy broer Moses was intussen op die berg by God. Hy het gesien hoe God die 10 gebooie met sy vinger op die kliptafels skryf en hy het noukeurig geluister wat God hom alles beveel. En toe hy van die berg afklim, was sy gesig so blink dat die mense hom nie in die gesig kon kyk nie.
Dit is die verskil. Die een broer het besig gebly met mense, met aardse dinge, met oorbelle, ringe en goed wat tydelik blymaakgoed is. En sy gesig het dof geword. Ja, solank ons besig bly met begrotings en kredietkaarte, geld om geskenke te koop, solank ons besig bly met partytjies, braaivleis en boeremusiek, gaan ons gesigte dof bly.
Eers wanneer ons stil na die Here gaan sit en luister soos Moses, eers wanneer ons alleen met Hom is en aandagtig oplet na wat Hy vir ons sê, eers dan gaan daar op ons gesigte ook so ‘’n glans soos die van Moses sin kom. Ja, al het ek selfs kanker, kan daar so ‘’n glans op my gesig wees, al het ek my lewensmaat verloor, die glans kan daar wees. Te midde van politieke onsekerheid, finansiële swaarkry, die glans moet daar wees.
Miskien vra jy nou in jou gedagtes: “Wie sê die glans moet daar wees?” Dan vra ek jou: “Hoe is God? Is God soos ‘’n uitgebrande ster –is God kragteloos, moedeloos en dof en so dat niemand Hom meer raaksien of vrees of in aanbidding voor Hom wil neerval nie?”
Natuurlik nie. God is lig, God is so Heerlik dat die engele uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die almagtige Hy wat was en wat is en wat kom!”
En hoe is die mens wat God gemaak het? In Gen. 1 staan daar: “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld…”
As ek dus met verloop van tyd al hoe dowwer, al hoe meer onvergenoegd word, as ek al hoe meer baklei, al hoe meer afgunstig word, al hoe minder belangstel in die preke wat ek Sondae hoër, al hoe minder belangstel in ander mense… Dan lyk ek nie soos God se verteenwoordiger en beeld nie. Dan lyk en tree ek op soos Aaron 2x.
En dis waarvoor Jesus die eindelose vêr pad van die hemel na die aarde kom aflê het –sodat ek en jy kan verander, sodat ons elke dag, hoe ouer ons word en hoe swaarder ons kry, al hoe mooier en sagter en blinker kan word.
As jy besig is om dowwer te word in die lig van die Nuwejaar ster, is jy met verkeerde dinge besig. Dan is jy nie genoeg met Jesus, die lig van die wêreld, wat alle mense verlig, besig nie. Dan is die TV, nuus, politiek, die verf van die huis dalk vir jou belangriker as die Lig van die wêreld, die blinkende môrester.
As Christene moet ons mekaar vandag uitdaag om vandag ‘’n besluit te neem om in te gryp in hierdie selfvernietigende pad wat ons met onsself loop, hierdie pad wat ons al dowwer en dowwer maak. Wil jy ‘’n aansporing hê voordat jy die finale besluit neem?
Luister dan hierna: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs die wat geen geld het nie, kom koop en eet. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Geen aandag en kom na My toe, luister en julle siel sal lewe.” (Jes. 55:1)
Kom dowwe Aaron, wees ‘’n kind van die Ster, ‘’n kind van die Lig. Want eers dan is jy ‘’n blinkende Nuwejaar mens. AMEN.