Eendag lank lank gelede, soos alle goeie stories begin, was daar ‘n pikkewyn. Hierdie pikkewyn het regtig spoggerig gelyk met sy tuxedo pakkie en selfs nog met ‘n strikdassie om sy nek. Hierdie pikkewyn, kom ons noem hom Noempie, was deel van ‘n hele groot waggel pikkewyne, wat saam in die koue lekker vis gevang het en baie liedjies saam gesing het. Noempie het groot geraak en sy tuxedo al hoe mooier en mooier, soveel so dat die meisie pikkewyne al hoe meer aandag aan hom begin gee het.
Noempie swem toe op ‘n dag deur ‘n vuil poel olie wat ‘n groot skip gemors het in die see. Die olie het Noempie se spoggerige tuxedo bevlek en orals kolle gelos. Noempie het onsedelik begin leef, onrein en hy wou heeltyd slegte dinge doen, alles omdat hy baie selfsugtig geraak het. Hy het homself begin eerste stel, bo sy waggel maatjies en bo sy God.
Ons is baie keer soos Noempie die pikkewyn.
Ons besef wel nie dat omdat ons sondig, ons weer die ou lewe wat Christus in sy dood vir ons afgelê het, wel weer lewendig maak nie. Hierdie sondes wat genoem word, is meestal van seksuele aard, wat wys op hoe die sondes die wese van die mens indring.
Hoewel die sonde op seksuele gebied ook lei tot afgodsdiens, is dit veral gierigheid, selfsugtigheid, wat daardeur gekarakteriseer word. Waar selfsugtigheid is, daar kom al die ander sondes bymekaar en laat staan God nie meer op die eerste plek nie. Om aan selfsugtigheid toe te gee, beteken in werklikheid om ‘n afgod te dien. Om jouself bo God te stel.
Die sonde bring die oordeel van God omdat dit sy heiligheid en geregtigheid weerspreek. As ‘n gelowige se lewe die sondes van verse 5-9 vertoon, leef hy soos die kinders van die ongehoorsaamheid wat God se gesag en wil verwerp.
Die woorde “maar nou” waarmee vers 8 begin, dui op die nuwe lewenswandel wat teenoor die oue gestel word. En die woord wat vir “laat staan” gebruik word, sinspeel op die dinge wat soos klere uitgetrek kan word.
Dit gaan in vers 8 oor emosies wat op dade uitloop, waarvan “woede” waarskynlik die sterkste is. In wese dui dit op gesindhede wat menslike verhoudings versteur. Dit gaan hier oor die gesindhede van mense. Mense wat vanuit verkeerde gesindhede hulself bo ander plaas en uiteindelik bo God.
Die dag toe Noempie daardie groot vis gesien swem het, het hy geweet die vis swem naby aan die olierige water, maar Noempie het steeds daarin gaan swem agter die vis aan. Hy het geweet hy gaan vuil raak. Hy het geweet hy gaan nie maklik skoon kom nie. Maar wat hy nie geweet het nie, is dat daar ‘n besonderse marina bioloog was wat gewag het vir Noempie om hom skoon te was. Om al die olie van sy vuil tuxedo af te was.
Die uittrek van die ou klere, die ou mens, is eintlik baie meer as die uittrek van ‘n uiterlike kleed; dit is die mens self wat verander van sy ou lewenswandel. Die feit dat Paulus praat van die ou mens “en sy gewoontes” wil alleen sê dat hierdie ou mens homself in sy werke en gewoontes openbaar.
Vers 10 gaan voort en sê: “en leef nou die lewe van die nuwe mens”. Die woord wat vir “nuwe” gebruik word, is gewoonlik net ‘n tydsaanduiding, maar hier het dit ook ‘n kwalitatiewe inhoud. Die “aantrek” is dus die teenoorgestelde van die “uittrek” van die klere. Die proses van vernuwing word beskrywe.
Christus is die Middelaar wat die nuwe lewe, die nuwe klere, skep en ook bring, deurdat Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes. Christus is ook nie alleen die Middelaar nie, maar as die Beeld van God is Hy ook die Middelaar by die HERskepping van die mens.
Die marina bioloog het vir Noempie heeltemal skoon gewas, dat sy tuxedo sommer weer soos nuut gelyk het. Die marina bioloog het nie net vir Noempie skoongewas nie, maar ook al die ander seediere wat vuil was van die olie. Hy het nie onderskeid getref tussen pikkewyn of walrus nie, nie tussen groot of klein nie. Hy het almal wat vuil was, heeltemal skoon gewas.
Daarom omdat daar nuwe mense na die beeld van God leef moet en mag hulle ook nie onderskeid onder mekaar tref nie, omdat God nie onderskeid oor hulle getref het nie. Christus het vir almal se sondes gesterf en daarom moet ons streef om soveel meer na die beeld van Christus te leef. Deur geloof in Christus is gelowiges saamgebind tot ‘n eenheid wat die wêreld se onderskeidinge en skeidinge oorbrug.
Met hierdie opmerkinge wil Paulus nie beweer dat die nasionale, sosiale en rasseverskille opgehef is nie, maar dat dit wel oorbrug en oorwin is. Mense van verskillende herkoms, ras en sosiale stand word deur hulle verbintenis met die een Here tot eenheid in Christus saamgesnoer.
Wanneer Paulus sê: “Christus is alles en in almal.” Wil hy eintlik sê dat Christus, is al wat saak maak. Hy is die finale norm vir al ons verhoudinge. En daarom kan die wonderlike voorbeeld van Christus nie by die self bly nie en moet dit uitkring na die gemeenskap.
Daarom omdat ons die uitverkore volk van God is, wat aan Hom behoort en wie Hy baie liefhet, moet ons die voorbeeld van Christus uitleef. Juis omdat ons God se soekende liefde ondervind het, word van ons geëis om iets van daardie liefde teenoor mekaar te openbaar.
Daarom, omdat Noempie die pikkewyn skoongewas was deur die marina bioloog, moes hy ook ietsie van daardie onvoorwaardelike liefde sonder perke aan sy pikkewyn gemeenskap openbaar.
Omdat ons almal deel is van een liggaam, eis Paulus van ons almal om mekaar onvoorwaardelik in en deur geloof te vergewe, al voel iemand veronreg. Soos die Here ons vergewe het, moet ons ook mekaar vergewe.
Bo dit alles moet ons mekaar liefhê. Weereens, sonder perke, sonder voorwaardes, oor grense, oor nasionaliteite en ook oor kulturele grense. Die liefde vir mekaar staan boweal. Dit is soos die strikdassie van Noempie. Wat sy tuxedo mooi saamvat en laat uitstaan. Die liefde wys vir almal dat Christus heers in jou gesindheid, teenoor jou naaste asook jou vyand.
Hierdie goeie gesindheid van die nuwe lewe, wat deur Christus aan ons gegee is, moet ook op ‘n vredevolle manier geskied. Omdat ons geroep is om as een liggaam in Christus te funksioneer, moet die vrede ons lewens karakteriseer. Dit moet in ons lewens sigbaar wees, die vrede moet beheer uitoefen oor alles wat ons dink en doen. Sodat ons nie sal reageer op ons passies soos Noempie nie. Sodat ons nie in die olierige water sal inspring agter groot aanloklike visse aan nie, maar eerder vanuit selfbeheersing deur die Gees die regte besluite neem.
Paulus sluit af deur sê:: “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Hiermee, beklemtoon Paulus dat daar geen plek in jou lewe mag wees waar jy as gelowige nie die Here Jesus moet bely nie.
Noempie die pikkewyn het vir die res van sy lewe al sy pikkewyn maatjies vanuit liefde gehelp, sonder om iets terug te verwag, net soos wat die liefdevolle marina bioloog hom gehelp het deur hom heeltemal skoon te was.
Jou hele lewe moet deurdrenk wees met Christus. Jou lewe moet ‘n lewende getuie wees van Christus wat jou uit genade vrygekoop en skoongewas het van al die sonde. Maak nie saak wat jy ry, waar jy bly en wie jou vriende is nie, die Here Jesus Christus het gekom om vir JOU die nuwe lewe te gee!
Gaan leef daarom in dankbaarheid die NUWE LEWE!
Amen.