‘n Radikale Plan vir Oorlewing

Die nuwe benadering vir voorstanders van segregasie was om klem te le op kultuur en kulturele aanpassing. (Giliomee 2004:398)

 

In 1945 het Hofmeyr ‘n belangrike stap gedoen met sy toespraak getitel “Christian principles and race problems”. Hier het hy geloor teenoor vrees as die sentrale stryd aangedui. Hy het toegegee dat daar gronde is om swart oorheersing te vrees, veral as gedink word aan die groot swart getalsoorwig. Die regte benadering sou egter wees “to stand firm on principle” en “go forward in faith”. Dit was die twee klassieke liberale slagspreuke van Suid-Afrika se soort liberalisme. (Giliomee 2004:400)

 

Die term apartheid in sy moderne betekenis het die eerste keer in 1929 in druk verskyn. Na ‘n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk wat op Kroonstad gehou is, is ‘n boekie met die toesprake uitgegee: Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk. Ds. Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem se beskouing was dat apartheid nie op wit vooroordeel berus nie, maar “slegs ‘n ander woord is vir konsentrasie van alles wat die eie is, en alles wat die ‘selfsyn’ bevorder”. Du Plessis se “apartheid” was bedoel as ‘n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge, wat na sy mening bekeerlinge probeer kry deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots.

Die gedagte van ‘n eie of volkseie het lank tevore reeds bestaan. Die Kompanjiesbewind het die belangrikheid van die Hollandse taal en die Gereformeerde godsdiens as hoekstene van sy maatskaplike beleid beklemtoon. Hieruit het geleidelik die gedagte van ‘n volkskerk ontwikkel. In sy mees onomstrede sin beteken ‘n volkskerk dat die kerk die taalkundige, kulturele en maatskaplike karakter van sy lede in aanmerking moet neem. (Giliomee 2004:404)

 

Van ongeveer 1920 het die Engelse kerke in Suid-Afrika en in die buiteland egter bestendig begin wegbeweeg van die idee van aparte swart en wit ontwikkeling na die ideaal van ‘n “open society”, of gemeenskaplike samelewing. Dit het hierdie doel nagestreef deur onderwys en sendingstasies aan te bied wat die waardes van die Westerse kultuur, asook ‘n goeie beheer van die Engelse taal beklemtoon het. In teenstelling hiermee het Duitse sendelinge en die NG Kerk volgehou om ‘n spesiale ontwikkelingsgang vir swartes en die belangrikheid van inheemse gebruike en tale te beklemtoon.

Die idee van NG “dogterkerke” het ontwikkel. Sendelinge het in 1881 die eerste “dogterkerk” uit verskeie kleurlinggemeentes gevorm. Teen 1950 was ongeveer 30% van die kleurlingbevolking lede van die NG Sendingkerk.

Wat betref swart mense kon die NG Kerk teen 1930 wys op suksesvolle sendingwerk in plekke soos Rhodesie, Kenia, en Nigerie. Sy sendingwerk onder swart mense in Suid-Afrika het egter agtergebly. Die uitsondering was die swart NG Kerk in die Vrystaat. Onderrig en dienste moes in aparte geboue plaasvind en swart katkisante moes as assistente aangestel word. By die NG Kerk-lidmate was daar geen voorneme om saam met swart mense te aanbid nie. Teen 1910 het die NG Kerk in die Vrystaat 14 sendelinge in sy diens gehad. Daar was 40 sendinggemeentes met 6 839 lidmate. In daardie jaar het die Vrystaatse NG Kerk ‘n afsonderlike kerk vir sy swart lede gestig met die NG Sendingkerk as model.

In Transvaal was daar drie Gereformeerde kerke en die pogings om sendingwerk te bevorder het sterker teenstand ondervind as elders. Die Hervormde Kerk het geen sendingwerk gedoen nie en die Gereformeerde Kerk (Doppers) baie min. Die pogings van die NG Kerk is deur persoonlike verskille en ‘n gebrek aan bronne ondermyn. ‘n NG kerk vir swart mense is eers in 1932 in Transvaal gestig: Die Nederduitse Gereformeerde Bantoekerk.

Die NG Kerk se sending het primere onderwys aan swart kinders aangebied, maar geen sekondere onderwys nie. Politiek was die belangrikste rede waarom die NG Kerk agtergebly het wat sekondere onderwys betref. Die NG lidmate was sterk geneig om te glo dat opgevoede swart mense op gelyke maatskaplike en politieke regte met wittes sou aandring. Vir blankes in die Vrystaatse NG Kerk soos J.C. Du Plessis en J.G. (Valie) Strydom, NG sendingsekretaris, was sendingwerk en die maatskaplike orde ten nouste met mekaar verbonde. (Giliomee 2004:406-408)

 

Wat uitstaan uit die bogenoemde is dat die Afrikaanse en Engelse kerke van mekaar begin skei het vanwee hulle beleid oor onderwys, waar die Afrikaanse kerke meer onder die invloed van die Politiek was, soos toegegee aan die NG Kerk, as die Engelse kerke wat primer sowel as sekondere onderwys aan swartes verskaf het. Die Hervormde en Gereformeerde kerke se houding teenoor sending is ook weerspielend van die gesindheid wat geheers het in die Transvaal en ook meer algemeen oor die Afrikaner wat eiesinnig is in sy manier van aanbidding. Wat mooi is van alles hier, is dat die Vrystaat wel leiding geneem het deur ruimte te skep vir swart onderwys waar dit nie teenwoordig was in die ander sinodes nie. Daarvoor kan die Vrystaatse sinode van 1910 geprys word, dat hulle in daardie opsig wel gesorg het vir hulle broers en susters in Christus. Omdat die sendingwerk van die NG Kerk en die politieke maatskaplike beleid so na aan mekaar verbonde was, is dit egter hartseer dat dit die NG Kerk terug gehou het om slegs primere onderwys en nie ook sekondere onderwys aan swart kinders te gee nie. Wat getuig van die draadjie wat reg deur die geskiedenis loop, gelykstelling, hoe die vrees daarvoor selfs tot binne die kerk ingedring het wat juis die baken van liefde moet wees wat die vrees verdryf.

 

Op die sinode van 1931 het die kerk verklaar dat die swart mense dieselfde einddoel as blankes het, naamlik om “’n groot en edel nasie in Gods koninkryk te word”. Onderwys moet hulle geskik maar vir hul “land en volk”. Dit waarsku teen gelykstelling, wat tot verbastering en denasionalisering sal lei, en ook teen “gelyke kanse” en “gelyke regte”. Die swart mense kan dit wel eis in hul eie streke soos Zoeloeland en Transkei, maar nie in “die gebied wat meer besonder in dei besit van die blankes is nie”. Dit is die begin van wat kerkleiers gou die beginsel van “vertikale skeiding” sou noem.

Soos Johann Kinghorn tereg in die werk ‘Die NG Kerk en apartheid’ aandui, is hier verskeie aspekte wat nuut is. Vir die eerste keer word gepraat van kleurlinge, net soos in die geval van swart mense, as ‘n aparte volk. En die kerk laat nou die klem val op die gelykwaardigheid van alle selfrespekterende volke en nie die individue nie. In die verklaring van 1935 is daar geen poging om die uitsprake skriftuurlik te grond nie. Die “tradisionele” van die Afrikaner is die norm.

Predikante en mense in die NG Kerk wat oor sendingstrategie gedink het, was die heel eerste in die Afrikanergemeenskap wat die ideologie van apartheid geformuleer het. (Giliomee 2004:410)

 

Al hoe meer NG predikante het geglo dat aparte wit woonbuurte noodsaaklik is om die toenemende klasseverskille in die Afrikanergemeenskap te oorkom en om aan sy armer lede hul waardigheid terug te gee. (Giliomee 2004:411)

 

In 1940 het ds. William Nicol van Johannesburg gepreek, hy het gese dat hy hom beywer “vir die aparte voortbestaan vir di Boerenasie”. Hy sou egter verkies dat die volk onder ander nasies verdwyn eerder as dat dit voortbestaan “sonder God en Sy geregtigheid”.

Op ‘n kongres tussen kerkkringe wat in 1944 gehou is het J.D. Du Toit, as digter bekend as Totius en ook professor in die teologie op Potchefstroom, een van die eerste sistematiese teologiese regverdigings van apartheid gegee. Vir du Toit was die les in die storie van Babel dat God die “skeiding-maker” is: Dit wat Hy geskei het, moet geskei bly en daar mag geen gelykstelling of verbastering wees nie. Hoewel D.F. Malan teologies ‘n liberaal genoem kan word, het ook hy aan hierdie ou vertolking van die toring van Babel vasgeklou in ‘n poging o apartheid teologies te regverdig. (Giliomee 2004: 412-413)

 

Christelik Nasionale Onderwys is wel in swart skole ingevoer. Aan die vooraand van die verkiesing van 1948 het sommige kerkleiers en opvoedkundiges begin wonder of dit verstandig van die NG Kerk is om soveel van sy hulpronne aan buitelandse sendingwerk te bestee. Die Broederbond het ‘n bespreking geinisieer. Op hierdie tydstip was 175 predikante lede en het hulle op een na die grootste professionele groep in die organisasie uitgemaak. (Giliomee 2004:417)

 

Na die verkiesing van 1948 het Z.R. Mahabane, president van die Interdenominational African Ministers’ Federation, ‘n insiggewende opmerking gemaak. Volgens hom het apartheid enersyds gespruit uit ‘n vreeskompleks en andersyds uit ‘n meerderwaardigheidskompleks. Die vreeskompleks het hom laat geld in die voortdurende bekommernis oor oorlewing, die meerderwaardigheidskompleks in die konstante rassistiese verwysing op grondvlak na “Kaffers, Hotnots of Koelies” as lede van ‘n ras wat nog nie sy kinderskoene ontgroei het nie. Geoff Cronje se geskrifte verskaf ‘n illustrasie van Mahabane se treffende waarneming. (Giliomee 2004:420)

 

In die vier of vyf jaar voor die verkiesing van 1948 het die gedagtes oor kleurbeleid binne die NG Kerk en die NP begin saamvloei. In 1947 het dr. D.F. Malan teenoor ‘n afvaardiging van Transvaalse kerkleiers verklaar: “Nie die Staat nie, maar die Kerk het die voortou geneem op gebied van apartheid met seenryke gevolge. Die Staat volg die beginsel van segregasie deur die Kerk neergele op onderwysgebied vir naturel, kleurling en Asier. Resultaat: wrywing is uitgeskakel. Die Boerekerk staan bo alle kerke in die wereld uit wat sendingywer aangaan. Dit is die gevolg van apartheid.”

In 1944 het die Transvaalse NG sinode aanvaar dat die kerk se beleid gegrond is op die beginsel van “rasse-apartheid en voogdyskap”. In 1948 het die sinode verklaar dat “die verskeidenheid van rasse en volke hul grond vind in die voorbestemming van God,” dat apartheid “uitstrek” oor die hele gebied van die volkslewe en dat God se seen op die “eerbiediging van apartheid” rus. Dit het die gelykenis van die toring van Babel, die geskiedenis van Israel in die Ou Testament en die 1935-sendingbeleid as regverdiging gebied.

In 1949 het die Kaapse NG sinode apartheid op effens versigtiger wyse as die Transvaalse sinode goedgekeur. Die kerk se hoofargument was egter bepaalde historiese presedente: die sinodebesluit van 1857 om aparte aanbidding, en die kerk se sendingbeleid van 1935. (Giliomee 2004:428-429)

 

Ben Marais en Bennie Keet, professore in die teologie in Pretoria en Stellenbosch onderskeidelik, het nou met hul eensame stryd teen die kerk se regverdiging van apartheid begin. By die Transvaalse sinode van 1948 het Marais gewaarsku dat die kerk hom begeef het op ‘n pad wat tot sy toenemende isolasie sou lei. Hy het die sinode se Skrifuitleg verwerp. Nerens was daar sprake dat Israel hom op enigiets anders as godsdienstige gronde van die omringende volke bestaande uit heidene moet afsonder nie. Bowendien was hierdie Jode en die heidense volke van dieselfde ras, te wete Semiete. (Na sy toespraak in die sinode van 1948 het ‘n ouderling aan hom gese dat deur sy verwerping van die Bybelse gronde vir apartheid hy die algemene verkiesing van daardie jaar “befoeter” het.) In dieselfde jaar het Marais gewaarsku dat apartheid ‘n enorme prys het indien dit behoorlik uitgevoer word. Negentig persent van die ondersteuners van apartheid sou dit teenstaan.

Keet het geprotesteer teen die arbitrere gebruik van Bybelse tekste buite verband. Hy het betoog dat segregasie in die kerk sedert 1857 vrywillig en met wedersydse toestemming gebeur het en nie kon dien as regverdiging vir apartheid nie. Sy grootste aanklag was dat daar “wensdromery aan die gang is wat die probleem op die maklikste manier wil oplos omdat dit ‘n onmoontlikheid is”. Hy vervolg: “Die onmoontlike is die maklikeste omdat niemand hom daaroor hoef te bekommer nie; hy droom maar net daarvan.”

Die mees kompromislose stem was die van James Oglethorpe, ‘n Stellenbosse student wat gestudeer het om sendeling te word. In 1947 het hy in ‘Die Stellenbosse Student’ geskryf dat dit in die lig van die swart getalsoorwig begryplik is dat die Afrikanervolk die segregasiebeginsel wil gebruik as die laaste wapen om sy reg om te kan voortbestaan te verdedig. Die kerk kan egter nie hiermee saamgaan nie. Die kerk moet heel eerste die beginsels van “liefde en die broederskap van nasies” nakom. Doen hy iets anders, is “die tragiese feit dat die Kerk sy kosbaarste besitting, sy geloof, prysgegee het”.

Alan Paton, ‘n gelowige Christen, het aan die New York Times gese: “We in South Africa also have a conscience. But our fears are so great that our conscience is not so clearly apparent.” Hoewel Paton nie hierdie vrese gedeel het nie, het hy sy wit landgenote goed geken en hy was nooit iets anders as ‘n Suid-Afrikaner nie. (Giliomee 2004:428-430)

 

Teen die vroee 1950’s het Ben Marais en Bennie Keet, die twee vernaamste kritici van die NG Kerk se pogings om apartheid Bybels te regverdig, besluit dat die idealistiese projeksie van apartheid nie langer geloofwaardig is nie. In 1952 het Marais se boek Colour: Unsolved Problem of the West verskyn. In 1956 het Bennie Keet se Suid-Afrika – waarheen? Gepubliseer, waarin hy ook al die praatjies van totale apartheid bevraagteken het. Keet se pleidooi was hoofsaaklik ‘n morele pleidooi. Dit was asof Keet in sy godsdienstige idealisme gedink het dat die hele stryd tussen wit en swart die gevolg van ‘n gebrek aan broederlike liefde is. (Giliomee 2004:435-436)

Leave a Reply

Your email address will not be published.